Speeltyd

“It takes courage to say yes to rest and play in a culture where exhaustion is seen as a status symbol.”

– Brene Brown

Kinders van alle tale, kulture en rasse speel. Dit is belangrik vir ontwikkeling en leer. Daar word dikwels gesê: “Speel is kinders se werk”, maar om een of ander rede glo ons dit nie. Ons as ouers meen dikwels dat ons kinders op ’n konstruktiewe manier gestimuleer moet word. Ons ry hulle van die een aktiwiteit na die ander aan met die hoop dat hulle vaardighede ontwikkel sal word.

Speel is gratis! Dit ontwikkel jou kind se kreatiwiteit, kritiese denke en veerkragtigheid baie beter as enige stimuleringsklassie.  Daar is vaardighede wat kinders ontwikkel wanneer hulle speel wat van onskatbare waarde is. Lekker rof speel met Pappa, buite in die sand speel, fantasiespel, kamma-kamma-speel en konstruksiespel is uiters belangrik vir kinders van alle ouderdomme – of jou kind nou ’n peuter, kleuter of tiener is.

In die 21ste eeu heg gesiene besigheidsmanne en bestuurders waarde aan werkers wat vindingryk is, in ’n span kan werk en probleme kan oplos. Daar is min ander dinge wat hierdie vaardighede so ontwikkel soos wanneer kinders speel.

Die navorsing toon dat wanneer ouers saam met  hulle kinders speel , verhoudings versterk word en kinders beskerm word teen die negatiewe gevolge van stres en trauma.

Wanneer ons met ons kinders speel, word ons voelgoedhormone vrygestel wat ons stres sal verminder en ons gemoed sal opkikker. In sy boek Playful Parenting beskryf Lawrence Cohen dit mooi: “Play can be the long-sought bridge back to that deep emotional bond between parent and child. Play, with all its exuberance and delighted togetherness, can ease the stress of parenting. Playful parenting is a way to enter a child’s world, on the child’s terms, in order to foster closeness, confidence, and connection.”

As kinders speel, en meer spesifiek as ons saam met ons kinders speel, hou dit die volgende voordele in:

  • Dit bou en versterk die verhouding tussen jou en jou kind en ook tussen broers en susters.
  • Dit help kinders om stres beter te hanteer en traumatiese ondervindings te verwerk (of dit nou ’n hondjie is wat dood is, ’n trek na ’n nuwe dorp en skool, ’n egskeiding of lewensbedreigende siekte).
  • Dit verminder uitdagende gedrag soos aggressie, angs en vrese.

3 Dinge wat kinders van speel af weghou:

  1. Die verhoogde akademiese druk wat heers in skole.
  2. Buitespeel-areas wat kleiner en onveiliger is.
  3. Besige en uitgeputte ouers wat nie die tyd of energie het om met hul kinders te speel nie.

 

 

Hoekom werk speel so goed?

 

As jou kinders vra dat jy saam met hulle moet speel, doen dit. En as jy moeg by die huis kom, roep jou kinders nader en begin speel. Die verstommende ding is dat hierdie tipe speeltyd eintlik nooit vreeslik lank hoef te wees nie. Tien minute van speeltyd is soms al wat ’n kind en jy nodig het.

Positiewe sosiale interaksies, soos wanneer ons saam met ons kinders speel, stimuleer die vrystelling van oksitosien – ’n voelgoedhormoon wat stres verlaag, groei bevorder en herstel bewerkstellig. Spel stimuleer kinders se breinontwikkeling en kan hulle help om traumatiese ondervindings te verwerk.

Kinders gebruik spel ook om “groot” emosies te verwerk, soos angs (ek is bang vir die donker), jaloesie (ek wil ook met daardie karretjie speel), vernedering (ek het van my fiets afgeval voor al my maats), teleurstelling (my Lego het gebreek) en frustrasie (ek wil nog speel, maar Mamma sê ek moet oppak).

Wees doelgerig en maak tyd vir jou kind om te speel. Nog beter – speel saam met jou kind. ’n Langtermynstudie waarin 14 000 gesinne wêreldwyd oor 25 jaar gevolg en bestudeer is, het bevind die gelukkigste gesinne is dié waar gesinslede tyd saam deurbring en – luister hierna – waar daar saam kaart- en bordspeletjies gespeel word.