Slaap en jou kind

Hoeveel slaap benodig jou kind?

Genoeg slaap is belangrik vir optimale ontwikkeling en ’n gesonde brein. Babatjies onder een jaar se slaappatrone verskil nogal baie. Jou kind kan van 10 tot 18 of selfs 20 uur ’n dag slaap. Dit is eers as jou baba ’n jaar oud is dat dinge meer voorspelbaar raak.

Kinders van 1 tot 3 jaar benodig 12-14 uur per nag.

’n Voorskoolse kind (3-5 jaar) benodig 11-13 uur per nag.

’n Laerskoolkind (5-10 jaar) benodig 10-11 uur per nag.

Jong tiener (11-14 jaar) benodig ten minste 10 uur.

Tieners (15-19 jaar) benodig 9-10 uur per nag.

Ons kan al van baie vroeg af goeie slaapgewoontes kweek. Dit sluit in om te kyk na wat ons doen voor ons gaan slaap. Wat ’n kind deur die loop van die dag doen wanneer hy wakker is, bepaal grotendeels die kwaliteit en die kwantiteit van sy slaap. Dit is veral die paar uur voor slaaptyd wat in ag geneem moet word.

Wenke vir gesonde slaapgewoontes

  1. Aktiwiteite

Besluit op ’n reeks aktiwiteite wat julle tydens bedtyd gaan volg. Dit is nie nodig om die aktiwiteite altyd volgens die horlosie te laat verloop nie (alhoewel jy dit ook so kan doen as dit vir julle as gesin werk), maar besluit op ’n paar goed wat julle gaan doen voor slaaptyd. Doen dit dan konsekwent elke dag. Jou bedtydroetine kan so lyk:

  • Badtyd
  • Masseertyd
  • Storieleestyd
  • Bedtyd

Navorsing toon dat voorskoolse kinders wat voor slaaptyd gemasseer word, minder probleme het om aan die slaap te raak en beter slaappatrone het. Die doel van ’n bedtydroetine is om jou kind se lyf en brein reg te kry vir slaap. Skakel alle elektroniese en visuele toestelle 1½ uur voor slaaptyd af.

Dit wil sê, geen TV, geen iPad en geen PlayStation vir ten minste een tot twee uur voor slaaptyd nie. Ons weet dat die blou lig wat die skerms uitstraal en die dopamieneffek (die brein wat deur die programme en speletjies gestimuleer word) voortduur in die brein al is die skerm af. Bedtyd beteken ook geen skerms in slaapkamers nie. Daar behoort geen skerms in jou kind se kamer te wees teen hierdie tyd nie. Geen kinderkamer behoort ooit ’n TV-stel in te hê nie. So ook nie ’n rekenaar of selfoon of tablet wat nie uitgeneem kan word nie.

  1. Interaksies

Maak seker dat jou interaksies met jou kind rustig, stadig en ontspanne is. Praat minder, maak jou stemtoon dieper en gebruik minder intonasie in jou stem. Gebruik ook minder handgebare en verminder jou gesigsuitdrukkings. Maak seker daar is tyd vir fisiese aanraking tydens die bedtydroetine. Sit styf langs jou kind as julle die bedtydstorie lees. Gee stywe drukkies. Vryf jou kind se rug of sy voete. Gee vir hom ’n handmassering.

  1. Omgewing

Skep ’n omgewing wat rustig en ontspanne is en die brein vir slaap sal regkry. Maak seker die omgewing is:

  • veilig, voorspelbaar en snoesig; sodoende voel kinders veilig
  • donker; sit die hooflig af en skakel die nagliggies of dowwer ligte aan, want dit sal die slaaphormoon, melatonien, aktiveer
  • ’n gemaklike kamertemperatuur – tussen 16 en 20 °C

sonder enige elektroniese en visuele toestelle.