Wanneer jy jou sierboomkind se gedrag wil verander is die volgende beginsels belangrik:
Herhaal die reël en bevestig dat dit steeds geldig is
Wanneer ’n sierboompie aan ’n grens of reël herinner word, is dit gewoonlik genoeg om onmiddellik die gewenste gedrag terug te bring. ’n Onemosionele: “Maar jy mag mos nie op die bed spring nie!” is heeltemal genoeg vir ’n tipiese sierboompie. Dit sal nie eers verbasend wees as ’n inskiklike antwoord terugkom nie: “O-ja, ’skuus Mamma.”
Die wet self tug ’n sierboom, kan ’n mens maar sê. Omdat sierboompies reëls aanvaar, hoef jou gesag nie met soveel mening soos met byvoorbeeld ’n roosboompie afgedwing te word nie. Die reëls staan as ’n hele weermag van amptenare in jou plek. Wys jou sierboompie net weer op hulle, en daar kom meestal gou weer goeie orde.
Wys wat die logiese gevolge van optrede of versuim is
Omdat sierboompies so graag die regte ding reg doen (volgens hulle eie persepsie natuurlik), moet ons hulle kans gee om verkeerdhede self reg te stel. Hulle het soms ’n oordrewe sin vir die regverdige.
Ons kan dit voordelig gebruik deur regverdige, logiese gevolge te gebruik om hulle te dissiplineer. Ons het al sulke voorbeelde genoem. As ’n sierboompie byvoorbeeld nog nie haar vuil bakkies, bekers of borde teruggebring het kombuis toe nie, sal sy dit moet doen voordat sy weer ’n eet- of drinkding kan kry.
Hoe langer ons met die taak van dissipline besig is, hoe beter sal ons word met die raaksien van natuurlike, logiese gevolge.
Gee gereeld opregte en duidelik verwoordbare aanmoediging
Wanneer hulle presteer of iets doen wat jou plesier, moet jy aan jou sierboompies erkenning gee op hulle manier – ’n private eerder as publieke beloning. Sierboompies smag nie na die verhoog en applous nie. Hulle wil eerder die sterretjies of mooi opmerkings in hulle skoolboeke tel as om voor die hele skool met ’n akademiese medalje beloon te word.
Sierboompies is skaam wanneer ons hulle voor ander aanprys, maar waardeer dit wanneer ons alleen vir hulle in die oë kyk, en met nadruk iets sê soos: “Ek sien regtig raak hoe jy jou beste doen. Dit is ’n baie mooi eienskap wat jou ver gaan bring in die lewe! Hou so aan!”
Maak beslis gebruik van puntesisteme en beloningskaarte
Sierboompies se geaardheid maak dat hulle waarskynlik die beste van al die boomsoorte op beloningskaarte reageer. Bring dit in hulle kamers teen die muur of binnekant van die deur aan waar dit nie te publiek is nie, en beloon hulle daar sigbaar met sterre of punte.
Moet egter nie negatief op sulke kaarte werk soos om sterre af te trek of punte te kanselleer nie. Laat hulle na groter belonings toe werk deur punte op te hoop.
As hierdie soort sisteem vir jou te moeilik is om in stand te hou, gebruik ’n 5-puntstelsel. Een punt elk vir tande borsel word byvoorbeeld toegeken vir self onthou, deeglik gedoen, doppie op tandepaste teruggesit, wasbak netjies gelos en ’n mooi gesindheid.
Jy sê net elke keer byvoorbeeld: “Mooi so! Dit was ’n vier. Onthou die doppie.” Jou kind gaan teken dan self die punt aan.
Enige takie kan so in vyf stukkies detail verdeel word. Dit help ook die sierboompies wat vergeetagtig kan wees om elke keer seker te maak hulle het vyf dingetjies onthou. Neem as nog ’n voorbeeld toiletgewoontes. Die vyf punte gaan vir deur toemaak, toiletpapier gebruik, spoel, die sitplek laat sak (vir seuntjies) en hande was.
Kies noukeurig die verlies of vermeerdering van voorregte
Die voorregte wat vir sierboompies van betekenis is, hou verband met hulle behoefte aan privaatheid, kreatiwiteit, orde en stilte. Hulle word dalk die beste beloon deur hulle alleentyd in hulle kamer te gun, terwyl tyd alleen in die kamer ’n palmboompie baie jammer vir homself sou laat voel!
Om iets te kry wat hulle nie hoef te deel nie, is vir ’n sierboompie wonderlik. Om ’n nuwe CD, ’n stel kunspotlode, ’n sketsboek of ’n eie radio in die kamer as beloning aan te bied, spreek tot die kunssinnige sierboompies. Wanneer hulle weet dat swak gedrag gaan beteken dat hulle daardie voorregte verloor, kom hulle gou terug op die nou paadjie.
’n Kweekplan vir ’n sierboompie: praktiese planne met dissipline
Wanneer ek praatjies oor die boomsoorte gee, neem ek dikwels vier jong boompies saam en dan pak ek ook ’n klomp tuingereedskap en ander snoeigereedskap uit: ’n kettingsaag, ’n byl, ’n figuursagie, ’n snoeiskêr, ’n tang, ’n tweezer en ’n stompuntnaelskêrtjie.
Dan verduidelik ek dat die eerste klomp gereedskap heeltemal te gevaarlik is vir die kweek van sierboompies. ’n Mens het amper nie iets anders as die doringtangetjie en die naelskêrtjie nodig nie, want gewoonlik is daar min gedrag om “af te sny” of “uit te kap”.
Sierboompies is nie regtig ’n dissiplinêre uitdaging nie en hulle ouers dink gewoonlik meer van hulle eie vaardighede as ouers as wat hulle verdien om te dink! Hulle kyk na die stouter kinders om hulle en wonder wat die ander ouers verkeerd doen.
Die emosionele uitdaging verbonde aan die kweek van sierboompies is egter reusagtig. Hulle is nie ’n hand vol nie; eerder ’n hart vol. Ons bekommer oor hulle selfbeeld, nie hulle punte nie en oor hulle vrese, nie hulle vriende nie.
Ons wonder hoe om nie hulle lang tone raak te trap nie en wens ons kon met hulle praat sonder dat al die kraantjies (of sluise!) oopgedraai hoef te word.
As ons self nie gemaklik is met ons eie emosies nie, kan hulle emosies ons heeltemal radeloos maak. Wanneer ’n sierboompie se emosies, gekerm of selfbejammering ons onder kry, reageer ons gewoonlik ook met meer as die nodige dosis emosie en dan word die situasie baie gou bloederig.
Ons belangrikste stap in die kweekplan vir ons sierboom is om te weet dat ons nie met emosie – hulle s’n of ons s’n – iewers gaan kom nie. Ons moet ’n kalmte skep of afwag voordat ons kan vorder.
Sierboompies wat met kettingsae en byle benader word, oorleef gewoonlik nie dissipline in hulle ouerhuis nie. Emosionele en fisieke geweld vernietig hierdie sensitiewe boompies. Ons kweekplan gaan dus bes moontlik min na geen pak slae (onthou: dis onwettig in jou eie huis!), sagte woorde en ander onemosionele benaderings insluit.
Ons moet egter ook soms straf. Dit is baie moeilik met sierboompies wat oorsensitief is – en baie van hulle is. As ons dit egter nie doen nie, leer hulle om hulle emosies doelbewus te gebruik om ook ander te manipuleer sodat hulle met wangedrag en verskonings kan wegkom.
Kliek hier vir jou uitdrukbare praktiese plan vir dissipline.
Hoe moet ons met ons sierboompies praat?
As ons werklik tot ’n sierboompie wil deurdring, moet ons die volgende riglyne volg:
Wanneer ons sê “Dis goeie punte hierdie, maar dit lyk my jy het verlede kwartaal nog beter gedoen,” hoor hulle net “Jy het al beter gedoen.” Gee jou kompliment en weerstaan die versoeking om die klein bietjie kritiek daarby aan te las. Hanteer die kritiek later sensitief, as jy moet.
My sierboompie is glad nie ’n kind wat goed breek of beskadig nie, maar toe sy vier was, het sy op ’n dag vertikale vensterblinders stukkend gesny – elkeen ’n ander lengte! Ek het woedend gereageer. Dit het eers baie later uitgekom dat sy gedink het dit gaan mooier wees as elke paneeltjie ’n ander lengte is.
Waarom het ek sommer aanvaar sy was stout? As ek kalm gevra het hoekom sy dit gesny het, sou ek dadelik besef het dit was ’n groot fout wat sy in kinderlike onskuld begaan het. Sy het gedink sy is besig met binneversiering! Noudat sy ouer is, sien ek elke dag tekens van hierdie kunstige, kreatiewe inslag!
Selfs om hard te skree, is te erg vir hulle sisteempies. Hulle ervaar die aggressie daarvan dieselfde as wat hulle fisieke geweld sal ervaar.
Kry jouself minstens sover om te sê: “Ek sal later vir jou sê hoe ek voel, gee my net tyd.” Dit help hulle om te wag vir die waarheid en nie so op hol te gaan nie. Dit leer hulle ook ’n manier om hulle reaksies uit te stel totdat hulle minder emosioneel is.
Hoe kan ons beter na ons sierboompies luister?
Pasop om nie deur jou wenkbroue te lig, te frons of te sug nie-verbaal sulke negatiewe terugvoering te gee terwyl hulle praat nie. Gee maar kans tot dit jou beurt is om te praat en reageer dan versigtig.