Hier volg nog ’n paar lewensbeginsels wat spesiaal aandag moet kry wanneer dit by sierboomkinders kom.
Om mense wat anders dink en doen te aanvaar
Sierboompies sien dinge gewoonlik wit of swart. Hulle kan rigied wees en glo dat net hulle manier, hulle perspektief en hulle metode reg is. Sierboompies word dikwels wettiese grootmense as hulle nie vroeg geleer word om hulle oogklappe effens na buite te draai nie.
Sierboompies dink eng en meet almal aan hulle eie standaarde. Hulle moet daarom van jongs af blootgestel word aan soveel diversiteit moontlik sodat hulle uit hierdie engheid kan breek, anders word hulle al hoe onverdraagsamer met die ouderdom.
Neem hulle na ander gemeenskappe, ander kerke en ander kultuurgroepe. Gee vir hulle boeke om te lees oor mense uit ’n ander sektor van die samelewing of uit ’n ander kultuur. Wanneer hulle begrip vir ander leer, kan hulle van die deernisvolste mense op aarde word! Hulle het groot kapasiteit om ander te dien, mits hulle hierdie kritiese houding kan oorwin.
Om te vergeet en opreg te vergewe
Ongelukkig hou sierboompies outomaties boek van die kwaad. Niemand kan ’n ou koei so vinnig soos hulle opgrawe nie. Soms kom die ou emosies ook sommer saam terug en dan voel dit vir ons ons het terugbeweeg in tyd.
Sierboompies leef in die verlede en in die toekoms. Hulle wroeg oor die verlede en bekommer oor die toekoms. As hulle dus nou oor iets kwaad is, kan hulle maklik al die soortgelyke situasies uit die verlede in die oomblik bysleep en sommer lekker huil oor wat hulle dink nog in die toekoms ook verkeerd sal gaan.
’n Sierboompie sal maklik sê: “Eina! Dis altyd ek wat seerkry. Gister het net ek by die skool gehuil. En môre kom maatjies kuier wat my ook altyd seermaak!”
Ons het hier te make met ’n karakterfout wat ons sierboompies baie ongewild kan maak en ook kan voorkom dat hulle mooi verhoudings kan handhaaf. Min mense kan lank in ’n verhouding uithou waarin hulle foute nooit vergewe en vergeet word nie.
Ons moet dus van jongs af weier om na ou stories terug te keer. Sê eenvoudig: “Ons het daardie dag daardie dinge hanteer en ons gaan dit nie weer doen nie. Ons gaan vandag net oor vandag se dinge praat totdat jy vir my sê ons is klaar daarmee.”
Dit is terloops baie belangrik om te besef iets is eers opgelos wanneer die sierboompie sê dit is! Wanneer julle dus iets uitgemaak het, maak seker dit is regtig verby deur te vra of daar nog iets is wat pla.
Leer jou sierboompie die volgende dinge oor vergifnis deur voorbeelde uit julle lewe te noem:
Om hulp te vra en behoeftes uit te spel
Sierboompies voel maklik hulpeloos en sukkel ongelukkig daarby om hulp te vra. Ons moet die hulpelose bondeltjies selfbejammering leer om gereeld te vra: “Kan jy my asseblief help?”
En om die vraag te antwoord: “Hoe kan ek jou help?” Hulle dink aan die een kant dat elkeen sy eie probleme alleen moet oorwin, maar voel gelyktydig dat iemand hulle behoort te help, al vra hulle nie daarvoor nie. Wat ’n kombinasie vir hopeloosheid.
Elke keer wanneer ons sierboompie bekommernis of moedeloosheid uitspreek (en dit is baie gereeld) het ons geleentheid om hulle op die Here se liefde, sorg en teenwoordigheid te wys.
Sê van kleins af elke keer vir hulle dat die Here by hulle wil wees, hulle stemmetjies kan hoor, hulle graag wil help, hulle met sy engele oppas, weet hoe hulle voel, hulle nooit sal los nie, ensovoorts.
Laat hulle Bybelversies hieroor memoriseer en selfs opplak waar hullle dit gereeld kan sien. Verseker hulle hiermee saam van jou gewilligheid om te help. Verduidelik mooi dat mense net kan weet dat jy hulp nodig het wanneer jy dit sê, en dat hulle baie bereid is om dit te gee.
Wanneer hulle moedeloos en hulpeloos voel, moet ons hulle ook daaraan herinner dat daar baie mense om hulle is wat vir hulle omgee, want hulle vergeet dit maklik. ’n Sierboompie sal in haar kamer sit en huil omdat sy nie haar skoene uitgetrek kry nie en verlate voel, terwyl haar ma maar te graag sou help, as sy geweet het haar dogtertjie sukkel.
Om ander te dien, help en by te staan
Sierboompies kan gelyktydig geweldig selfsugtig en selfopofferend wees. Hulle maak soms as volwassenes wonderlike versorgers en vrywillige gemeenskapswerkers as hulle uitgedaag word om buite hulle gemaksone te lewe.
Hulle vind baie persoonlike vervulling in sulke dienswerk. Hulle moet egter van jongs af blootgestel word aan die nood van ander. Dit klink soos die verkeerde ding om te doen met kinders wat reeds so sensitief en emosioneel is, nie waar nie?
Wanneer sierboompies depressief raak, kyk hulle al dieper na binne, verdrink in donker emosies en word so swartgallig dat hulle vir niemand iets kan beteken nie.
As hulle in daardie toestand egter iemand teëkom met wie dit ook sleg of selfs slegter gaan, gebeur iets wonderliks – hulle kyk buitentoe en terwyl hulle iemand anders versorg, word hulle eie seer beter.
’n Jong sierboompie met terminale kanker se ouers het hierdie eienskap van hulle kind verstaan en vir haar ’n babahondjie gekoop. Die versorging van hierdie hulpelose dingetjie het haar in staat gestel om weg te kyk van haar eie hulpeloosheid. Die hondjie was tot op die einde ten spyte van sy swakheid vir haar ’n groot bron van sterkte.
Wanneer ons sierboompies dus deur donker tye gaan, moet ons ook vir hulle ’n plekkie soek om van hulleself vir iemand anders te gee.
En selfs al is ons sierboompies vrolik en gelukkig, moet hulle geleenthede hê om te dien, soos om ’n oumens te besoek, vir iemand in die hospitaal te gaan kuier, saam met Mamma iets te bak vir die bure wat die hond in die vakansie kos gegee het of om selfs net klere en speelgoed uit te soek wat na minderbevoorregtes aangestuur kan word.
As ons van kleins af ons kinders leer om op eenvoudige maniere, sonder groot koste aan tyd of geld, vir ander iets te beteken, vernietig ons in hulle die kiem van apatie voordat dit in ’n terminale siekte kan oorgaan.
Om te rus en ontspan sonder skuldgevoel
Baie sierboompies is alewig ernstig en effens gespanne. Hulle moet geleer word om bekommernis en werk eenkant toe te skuif, al is dit net ’n paar minute lank. Soms help dit hulle om iets simbolies eenkant toe te skuif.
Ons het op kerkkampe soms dinge wat ons pla op ’n papiertjie geskryf en dit aan die voet van ’n houtkruis neergesit en dan almal saam ’n groot kampvuur gemaak en gekyk hoe ons hartseer saam met die hout verbrand.
Sierboompies kan deur sulke sentimentele, simboliese aksies dikwels regtig verligting beleef. Miskien kan hulle eenvoudig voor slaaptyd in ’n dagboek alles neerskryf wat hulle bekommer oor môre en pla oor vandag en gister.
Wanneer hulle dan die boek toemaak, kan hulle visualiseer hoe ’n deur toegaan tussen hulle en daardie dinge sodat hulle rustig kan slaap. Daar is baie boeke oor ontspanningstegnieke.
Elke sierboomouer of ouer met ’n sierboompie behoort so ’n boek te lees en van die tegnieke vir hulle sierboompies te leer.
Om hulleself te leer ken en verstaan
Sierboompies wil so graag ander tevrede stel, volgens die reëls speel en alles perfek doen, dat hulle baie maklik hulle hele lewe vir ander leef sonder om ooit te vra: “Waarvan hou ek? Wat wil ek graag doen?” Kort voor lank kan hulle met een vraag bly sit: “Wie is ek?”
Help hulle om daardie vraag te beantwoord deur hulle fyn en so objektief moontlik dop te hou en terugvoering te gee oor wat jy sien: “Ek sien jy geniet die perdry selfs wanneer jou perd die dag halstarrig is.”
Of “Al is jy so goed met klavierspeel, sien ek nie dat jy dit baie geniet nie. Is dit regtig vir jou lekker?” of “Dit lyk vir my wanneer dit vakansie is, is jou gunsteling tydverdryf verf of teken.”
Deur hierdie opmerkings kan sierboompies uit die gietvorm van ander se verwagtings breek om te wees wie hulle regtig is en te word wat hulle bestem is om te word.
Om te gee en te deel wat hulle het
Sierboompies se groot persoonlike ruimte en behoefte aan privaatheid strek verder as hulleself. Dit sluit ook al hulle besittings in. Hulle hou nie daarvan wanneer iemand aan hulle goed vat nie. Van al die boompies leer hulle die moeilikste om te gee en te deel.
Ons moet aanvaar dat hulle altyd een of twee gunstelingspeelgoed, -kledingstukke of -besittings gaan hê wat min of meer heilig is, en ons behoort hulle nooit te dwing om dit te deel of weg te gee nie. Hulle moet egter geleer word om op ander maniere te gee en te deel.
Ons sierboompies leer die beste wanneer …