[SIERBOME] LES 15 – Wat sierboompies by jou moet leer

Daar is ’n paar areas waar sierboompies hulle ouers se doelgerigte begeleiding nodig het.

Om realistiese standaarde vir hulleself en ander te hê

Wees op die uitkyk vir onrealistiese doelwitte. Sierboompies kan maklik perspektief verloor, en byvoorbeeld besluit hulle gaan hulle punte in ’n vak met 20% opstoot in een kwartaal of in ’n bepaalde taak 100% behaal.

As hulle nie daarin slaag nie, gaan hulle verpletter wees. Leer hulle om babatreetjies te gee. Sê iets soos: “Ek weet dat jy jou beste gaan doen. Ek dink ’n verbetering van 10% sal alreeds fantasties wees. As jy beter as dit doen, is dit ’n bonus. Sterkte! Onthou ons is lief vir jou ongeag wat jou punte is.”

Sierboompies is baie krities. As jou sierboompie vol openlike kritiek vir ander is, moet jy ingryp en sulke geskinder of swartsmeerdery verbied. Sierboompies verander baie maklik in suurboompies!

Wanneer hulle iets negatiefs oor iemand sê, kan jy hulle op daardie persoon se sterk punte wys en hulle herinner dat ons almal foute en talente het en dat die verskille daarin deel is van die Here se plan. Elkeen het ’n ander roeping en daarom ander gawes. Ons mag nie op iemand neersien net omdat hulle nie ons vermoëns of eienskappe deel nie.

Om negatiewe gedagtepatrone stop te sit, en om te keer

Sierboompies kan al hoe suurder word as ons hulle nie van kleins af hierdie belangrike vaardigheid leer nie. (Ek wens ek het dit as kind geleer, want dit word al moeiliker om gedagtes te vernuwe. Ons oefen afwaartse gedagtespirale in, en dan word dit baie moeilik om af te leer.)

Sierboompies beleef ’n teleurstelling en begin dan met hulleself daaroor praat: “As ek maar net … Dit is nou weer net ek wat … Niemand sal my seker wil help nie. Ek weet nou al hoe dit gaan eindig. Ek het geweet dit gaan gebeur.”

Hierdie string gedagtes trek hulle al dieper in ’n kolk van selfbejammering, moedeloosheid en soms woede in. Ons kan hulle egter leer om anders en nuut oor slegte gebeure te dink. Oefen saam met jou kind om die situasie om te keer. ’n Kind se verbeelding is hier baie nuttig.

Laat jou kind rustig met toe oë sit. Sy moet nou die nare ding wat gebeur het as ’n stil foto sien in plaas van ’n “film wat aanhou draai”. So kies sy dus een “raampie”. Dit gee vir haar ’n gevoel van beheer wanneer sy die herinnering kan laat “vries.”

As sy oud genoeg is, laat haar die kleur ook uit die prentjie haal sodat die “foto” net swart en wit is. Dit is wat sy dan in haar gedagtes sien. Sy kan dit selfs teken.

Laat haar nou vir elke persoon in die foto nuwe woorde gee om te sê as dit hulle woorde is wat haar seergemaak het. (Die maatjie wat geskree het: “Ek wens jy val en breek jou nek!” kan nou net sê: “Ek is kwaad vir jou, maar ek sal beter word.”) As die woorde vreeslik erg was, kan sy ook net die woorde heeltemal uit die foto wegneem.

Laat haar nou die prentjie ver­ander soos wat sy wil – iemand wegneem of bysit, byvoorbeeld. As sy haar kan verbeel dat haar pa daar was, en haar hand vasgehou het terwyl alles gebeur het, voel sy dalk veiliger. Sy mag die gesigsuit­druk­kings verander as dit haar beter sal laat voel.

Laat haar nou die “nuwe” situasie beskryf soos die prentjie nou daaruit sien. As sy genoeg verbeelding het, kan sy nou weer die prentjie laat “aandraai” deur ’n ander aanloop, verloop of einde soos ’n film in haar verbeelding te laat “af-speel”.

Dr. Tony Fiore beveel aan dat ons speletjies met kinders speel waarin hulle die verband tussen hulle gevoelens en gedagtes kan leer ken.

Vra jou kind byvoor­beeld hoe ’n mens sal voel wanneer jy dink “Ek is niks werd nie. Niemand sal met my speel nie. Niemand wil my help nie. Dit gaan nooit beter word nie. Daar is niks wat iemand kan doen om my te help nie.”

Help hulle om in te sien dat die negatiewe gedagtes die emosies erger maak. Hy beveel aan dat ons hierdie verband tussen gedagtes en gevoelens modelleer deur ons eie ervarings te verwoord:

“Ek wonder waarom is ek nou so woedend. Dis seker omdat ek gedink het hierdie ou wat so stadig voor my ry gaan my laat maak. Dan gaan die dokter kwaad wees omdat hy vir my moet wag, en ek gaan skaam wees wanneer sy ontvangsdame voor die ander mense in die wagkamer gaan vra hoekom ek laat is. Dit is seker waarom ek sommer wou skree dat ’n slak soos hy nie op die pad hoort nie.”

Gesels dan verder oor die geldigheid van al jou gedagtes en gevoelens. Die “slak” sou jou seker nie meer as ’n minuut later gemaak het nie. Die dokter is bes moontlik self agter skedule. Daar is nie noodwendig ander mense in die wagkamer nie. Daar kom elke dag mense laat vir doktersafsprake – dis niks om oor skaam te wees nie.

Dr. Fiore stel ’n gedagtevangspeletjie voor. Wanneer jou kind baie sleg voel, vra vir haar wat sy vir haarself sê. Wat sê sy byvoorbeeld wanneer sy slegte punte kry? Wanneer ’n mens vir jouself sê: “Sjoe, dit was seker moeiliker as wat ek gedink het”, sal die emosies baie minder intens wees as wanneer ’n mens sou sê: “Ek is nog dommer as wat ek gedink het!”

Help jou kind om nou beter verduide­likings vir die slegte gebeure te vind, byvoorbeeld “Ek het nie my tafels goed genoeg geken nie.”

Help haar ook om te sien waarom haar oorspronklike gedagte nie akkuraat was nie. As sy byvoorbeeld al baie beter gedoen het, is sy mos nie dom nie. (Onthou om hierdie gesprekke te hê nadat die emosie reeds oorgewaai het!)

Leer jou kind ook dat min dinge so erg is soos wat ons vrees. Dr. Fiore stel dit so: “Teach your child to ‘decatastrophize’ the situation” Vertel van jou onge­gronde vrese vir situasies wat uiteindelik goed uitgewerk het, byvoorbeeld:

“Ek het gedink hulle gaan my toesluit oor daardie verkeerskaartjies wat ek nie kon betaal nie. Toe ek by die hof kom, was daar ’n klerk wat daarna gekyk het, en omdat ek skuld erken het, die boetes met meer as die helfte verminder het. Ek kon dit betaal en my hele rekord is nou skoon. Ek het so verlig gevoel toe ek daar uitstap!”

Nog ’n metode wat met ouer kinders werk, is om hulle te leer om positiewe selfspraak te gebruik. Hulle moet ’n paar frases leer wat hulle vir hulleself kan herhaal elke keer wanneer negatiewe emosies hulle insuig.

Verduidelik vir jou kind dat gedagtes soos trappies is. Elke keer wat ons ’n gedagte dink, klim ons een trappie op of een trappie af. Wanneer ons ’n negatiewe gedagte dink, klim ons af, en dit word al donkerder; wanneer ons positief dink, klim ons een trappie nader aan die sonlig.

As hulle vooraf vir hulleself ’n “stel trappies” boontoe kan bou, is dit soos brandtrappe wat hulle in noodsituasies na ’n veiliger plek kan neem. Myne is onder andere die volgende, en ek sê dié wat my in die situasie help om bo te bly, totdat ek beter voel:

  • Onthou hoe lief die Here, jou man en jou kinders jou het.
  • Toe jy leer bestuur het, het dit ook onmoontlik gelyk. Alles wat nuut is, lyk erger as wat dit is.
  • Daardie mens se woorde tel nie. Net die woorde van die mense wat jou liefhet, maak saak.
  • Moet vir niemand gratis parkeerplek in jou kop gee nie! As hulle optrede of woorde jou ontstel, skop dit uit jou kop.

Om hulle emosies en gevoelens te verwoord

Wanneer ons sierboompies oorweldig is deur emosie, kan hulle nie altyd verduide­lik wat hulle voel of waarom hulle so voel nie. Ons moet hulle probeer help om hulle emosies te verstaan, omdat dit ’n voorwaarde is vir hulle oorwinning daaroor.

Wanneer ons die tegnieke gebruik wat ek vroeër genoem het, kan ons hulle emosies op een van hierdie maniere reflekteer: “Ek sien jy is teleurgesteld.” of “Jy lyk vir my baie kwaad.” of “Dit lyk asof jy baie gefrustreerd is.” of “Dit is seker vernedering wat jou vandag so laat huil.”

Wanneer ons nie die emosie reg opsom nie, sal ons sierboompie waarskynlik reageer met iets soos: “Nee, dis nie dit nie.” of “Jy verstaan nie.” of “Ek weet nie wat gaan met my aan nie.”

Bly dan net stil sodat hy of sy kan probeer verduidelik. Wanneer ’n sierboompie dan niks verder sê nie, moet ons dit aanvaar en net iets sê soos “ek kan sien dis vir jou sleg en ek hoop jy kry dit uitgewerk”, en dit daar laat.

As sierboompies al kan skryf, vind hulle dit dikwels baie makliker om neer te skryf wat hulle voel. Moedig jou sierboompie aan om ’n dagboek (journal) te hou. Wanneer hulle ’n paar bladsye geskryf het, kom daar gewoonlik uit die warboel van gedagtes en emosies ’n sentrale gevoel of klagte na vore.

So kry hulle ’n greep op wat dit is wat hulle so ongelukkig gemaak het en leidrade oor hoe om dit te hanteer.

Leer hulle ook die tegniek wat Gary Smalley “emosionele woordprentjies” noem. ’n Kind wat hierdie tegniek leer gebruik het, het verdui­delik dat hy voel soos ’n ou lap wat onder ’n wasbak weggegooi is, en waarop water stadig drup sodat hy nou oortrek is met mufkolle.

Die emosie het dalk nie ’n naam nie, maar ons verstaan mooi hoe dit moet voel, nie waar nie? Dit is ’n waardevolle ma­nier vir enige mens om iemand te laat verstaan hoe diep hulle seer is.

Om hulleself te troos met tegnieke in privaatheid

Sierboompies ervaar ons pogings om hulle te troos dikwels as afkeuring of verwerping van hulle en hulle gevoelens. Hulle dink ons wil net hê hulle moet ophou huil.

Onthou dat begrip vir die diepte van hulle intense emosies vir hulle baie belangriker is as om gehelp of getroos te word. Hulle wil deernis hê, nie oplossings nie. Dalk wil hulle huil!

Eintlik kan net hulle hulleself troos. Hulle moet gehelp word om uit te vind watter selftroostegnieke vir hulle die beste werk.

Party moet hulleself lekker in hulle kamer uithuil of buitentoe gaan, en gaan stap. Ander moet musiek aanskakel of ’n gunstelingteddiebeer gaan vashou. Ons moet ons kinders probeer help om die tegniek te vind wat die beste vir hulle werk sodat hulle dit later self kan gebruik.

Om mense die voordeel van die twyfel te gee

Sierboompies glo eerste die slegste in elke situasie. Hulle raak maklik selfbejam­merende slagoffers. Wanneer iemand hulle seermaak, glo hulle dit was aspris. Wanneer iemand vergeet om hulle iets te vertel, glo hulle dis omdat die persoon nie meer van hulle hou nie.

Hulle lees iets agter elke negatiewe ding, en raak maklik agterdogtig. Wanneer iemand fluister, glo hulle dis kwaadpratery agter hulle rug. Dit kan ’n baie negatiewe eienskap word as ons nie ons sierboompies leer om voorkeur aan feite te gee nie.

Sierboompies sien hulleself as baie rasioneel maar eintlik trek hulle emosies hulle ’n streep en maak hulle dikwels verkeerde aflei­dings uit konfliksituasies. Hulle moet leer om reguit te vra of daar iets verkeerd is en of hulle die situasie reg lees.

Selfs klein kindertjies kan geleer word om eenvou­dig te vra: “Is ons nog maatjies of is jy kwaad vir my?” eerder as om net te aanvaar die maatjie wil nie meer met hulle speel nie, omdat die maatjie pouse nie eers hallo gesê het nie.