Sierboompies het soos ons almal spesifieke dinge nodig om te floreer.
Daaglikse versekering van ons liefde, respek en aanvaarding
Sierboompies is die mees emosionele van die vier boompies en is ongelukkig daarmee saam baie sensitief. Hulle onthou die negatiewe dinge wat ons vir hulle sê baie lank, maar vergeet gou die mooi woorde.
Ons moet elke dag vir hulle vertel hoe lief ons vir hulle is, hoe baie ons van hulle hou, hoe trots ons op hulle is, hoe gelukkig hulle ons maak en enige ander mooi ding waaraan ons kan dink.
Hulle floreer hierop wanneer ons dit in opregtheid vir hulle sê terwyl ons net op hulle fokus. Hierdie versekering van ons liefde vir hulle is veral nodig wanneer hulle stout was, misluk het of ons op enige ander manier teleurgestel het.
Wanneer hulle seergekry het of beledig is, moet ons ook seker maak dat ons liefde swaarder weeg as daardie seer. Ouer sierboompies kan geleer word wie se woorde vir hulle moet tel: “Wat die Here oor jou sê en hoe lief Hy jou het en wat ons van jou dink en vir jou voel, tel baie meer as enige opinies of woorde van ander mense.”
Konstante aanmoediging en ondersteuning wat uitbranding keer
Sierboompies raak gou moedeloos wanneer hulle nie ondersteuning en aanmoediging het nie. Hulle kan verskriklik hard en aanhoudend werk omdat hulle altyd hulle beste wil doen, maar kan dan skielik in ’n hopie as verander. Ons aanmoediging kan keer dat hulle so uitbrand.
Hulle wil nie deur ’n skare met toeters en vlae aangehits word nie. Hulle wil net kort-kort hoor dat ons sien hoe hard hulle werk, in hulle glo en daar wil wees wanneer hulle ons hulp nodig het.
Een van die lekkerste dinge vir ’n sierboompie is om toevallig te hoor hoe ons by iemand anders oor hulle spog. Maak seker jy “skinder” mooi dinge oor jou sierboompie, sonder om stroperig te wees.
Omdat sierboompies altyd na die negatiewe soek, en dít eerder hoor en sukkel om ’n reguit kompliment of aanmoediging hulle eie te maak, moet ons soms ’n briefie of kort nota los wat so eensydig positief is dat die sierboompie eenvoudig die bemoediging daaruit moet haal – iets soos: “My liewe kind, jy is my trots. Altyd lief vir jou, Mamma.”
Hulp met prioriteite en wat werklik belangrik is
Alles is vir sierboompies ewe belangrik – lewensbelangrik. Hulle raak oor kleinighede geweldig gespanne. Wanneer hulle taak een bladsy langer of korter is as wat die onderwyser gesê het dit moet wees, wanneer hulle een van hulle legkaartstukkies nie kan kry nie, of wanneer hulle ’n maand voor die eksamen nog nie hulle finale rooster ontvang het nie.
Daar is altyd iets om oor te bekommer. Wanneer sierboompies deur ’n druk tyd gaan, sien hulle net donkerte want elke stukkie detail ding mee vir hulle aandag. Hulle kan so verstrengel raak in ’n klein probleempie dat hulle heeltemal perspektief verloor.
Hier moet ons hulle help om die groter prentjie te sien, sonder om hulle spanning en erns af te lag. Soms help eenvoudige vragies hulle: “Watter werkie gaan die langste neem om klaar te maak? Watter taak moet eerste in? Wat kort jy om daardie werkstuk klaar te maak? Wie kan jou hiermee help? Wat dink jy is die eerste stap in hierdie opdrag?”
Duidelike, konsekwente reëls en uitgespelde verwagtings
Sierboompies is die boomsoort wat wel van reëls hou. Wanneer die reëls nie uitgespel is nie, vra hulle dikwels vrae totdat hulle weet wat van hulle verwag word. Selfs voor elke onskuldige speletjie wil hulle eers die reëls uitgespel hê. Hulle gee ook nie om hoeveel reëls daar is nie – hoe meer hoe beter.
Sonder grense is hulle baie onseker en verward. Hoe meer besonderhede hulle het, hoe veiliger voel hulle. Dis doodreg as iemand anders die reëls maak en hulle is gewoonlik baie geneë om saam te werk. Hulle bevraagteken selde die status quo. Hulle is konformeerders eerder as baanbrekers.
Hulle raak baie ongelukkig wanneer die reëls verander word, nie deurgevoer word nie, nie vir almal geld nie of nie deur almal ernstig opgeneem word nie.
Dis gewoonlik sierboompies wat vir ons ons eie woorde aanhaal: “Maar Pappa het gister gesê niemand swem voordat die maksimumtemperatuur 25 grade is nie, en dit is vandag 24, so Boetie mag nie swem nie! Hoekom het Pappa nou ja gesê? Dis nie regverdig nie.”
Hulle tree ook graag as tweede-in-bevel op deur almal aan die reëls te herinner wanneer die ouers of onderwysers weg is. Hulle voel dit is hulle plig om as wetstoepassers op te tree.
Geleenthede om op te maak vir foute
Sierboompies het van jongs af ’n baie sensitiewe gewete. Hulle voel opreg jammer wanneer hulle verkeerd was en partymaal selfs wanneer iets nie hulle skuld was nie.
Omdat hulle so maklik hulleself blameer, straf hulle hulleself vreeslik deur so kwaai met hulleself te praat dat ons dit amper nie hoef te doen nie! Ons moet hulle help om hulleself te vergewe. Al manier waarop hulle dit kan doen, is deur te probeer opmaak vir hulle foute.
Wanneer hulle gemors het, moet hulle toegelaat word om self te probeer skoonmaak; wanneer hulle om verskoning vra moet ons dit in liefde aanvaar en nie hulle verskoning in hulle gesiggies teruggooi nie. Hulle berou is gewoonlik opreg en intens.
Voorafkennisgewing van veranderings en groot gebeurtenisse
Sierboompies staan soggens op met ’n tydrooster in hulle koppies oor wat vandag moet gebeur en wat hulle alles wil doen. Soms is dit soos ’n kaarthuisie. Wanneer ons skielik die normale roetine ontwrig, stort die kaarthuisie in duie en hulle verloor hulle gevoel van sekuriteit. Hulle raak sommer huilerig wanneer hulle skielik hoor hulle gaan nie meer vandag fliek nie maar wel môre.
’n Sierboompie kan selfs sleg op goeie nuus reageer, net omdat die goeie nuus te vinnig kom. As die outjie byvoorbeeld in die middel van ’n legkaart is wat sy graag wil klaar bou en ons storm in met die aankondiging dat ons haar nou gaan neem om ’n nuwe swembroek te koop, kan haar eerste reaksie baie negatief wees. Sy kom bes moontlik na ’n rukkie oor die aanvanklike ongelukkigheid en geniet dan die inkopies.
Sierboompies kan veranderings soos ’n nuwe huis of die geboorte van ’n bababoetie verwelkom, maar hulle haat veranderings in hulle skoolroosters, eksamendatums, inhandigingsdatums vir take en wisseling in die vereistes vir portefeuljes, want hulle is onseker hoe dit hulle prestasie sal raak.
Versigtige terugvoering oor die kwaliteit van hulle werk
Sierboompies kan hulleself nie distansieer van hulle werk nie. As ons nie van hulle kleuterskoolprojekkie hou nie en hulle kritiseer dat hulle oor die lyne ingekleur het, neem hulle dit baie persoonlik op.
As hulle gewoonlik twee sterretjies vir ’n werkstuk kry, maar vandag net een, is dit verpletterend. My sierboompie het telkens in trane uitgebars wanneer ek gesê het iets is verkeerd. Dan het sy hartverskeurend gekerm: “Ek is nie verkeerd nie! Ek is nie verkeerd nie!”
Selfs noudat sy groter is, is ’n punt uit tien vir elke werkstukkie wat ons in tuisonderrig doen vir haar baie belangrik. Sy lees elke opmerking wat ek in haar boek skryf minstens twee keer om seker te maak of ek tevrede is met haar werk.
Nou en dan sien ek hoe sy deur die boek blaai en al die terugvoering hardop vir haarself lees: “Mooi werk, Idalise. Jy vorder hiermee, Idalise. Dankie vir netjiese werk. Hou so aan.” Sy kan nie genoeg kry van die positiewe terugvoering nie, want sy het dit vreeslik nodig.
Sy ervaar dit as terugvoering oor haarself. Sy is goed, ek is tevrede met haar en sy is ’n tien uit tien. Wanneer ek geen terugvoering gee nie, vra sy sommer of iets dan verkeerd is. Sierboompies aanvaar dat geen nuus gewoonlik slegte nuus is.
Roetine, inligting, skedules, raamwerke, lysies, oorlosies en almanakke
Sierboompies wil ook graag in beheer wees, nes roosboompies, maar dit gaan vir hulle meer oor beheer oor hulle eie lewe as beheer oor ander mense. Van babadae af verwelkom hulle ’n voorspelbare, vaste roetine.
Sierboomkleutertjies wil al weet watter dag van die week dit is, hoe laat dit is, hoe lank dinge gaan aanhou en wat daarna gaan gebeur. Namate hulle ouer word, wil hulle graag bewus wees van alles wat hulle raak, en hoe meer daarvan sigbaar of op skrif kan wees, hoe beter.
Hoe ouer sierboompies word, hoe liewer word hulle vir hierdie soort hulpmiddels. Hulle het dagboeke, roosters en lysies net waar jy kyk.
As ons sierboompies geneig is om gespanne te raak, kan ons hulle baie help deur hierdie soort strukture in hulle lewens in te bou. ’n Skedule of almanak wat die gesin se weeklikse aktiwiteite en ander belangrike datums weergee moet iewers opgeplak wees waar ons sierboompie kort-kort kan seker maak dat hulle gereed en ingelig is.
Hulp met hulle selfbeeld wat maklik afgebreek word
Sierboompies is geneig om die slegste selfbeeld te hê omdat hulle altyd die negatiewe in hulleself raaksien, perfeksionisties is, geneig is tot selfondersoek en skuldgevoelens en boonop hullself gedurig met ander vergelyk.
Praat van jongs af met hulle oor wat dit beteken om ’n roeping te hê. Hulle is gemaak met ’n baie spesiale plan. Die plan is eerstens dat die Here hulle wil liefhê – dit is die basiese plan en rede vir die skepping van elke mens.
Daar is egter nog ’n rede: Die Here het vir hulle ’n unieke werkie in die wêreld. Dit behoort elkeen van ons se basis vir eiewaarde en selfbeeld te wees. Ons is die Here se idee. Leer hulle as kleuters reeds dat mense so verskil dat vergelyking met ander geen sin maak nie.
Gesels met hulle oor hulle temperament sodat hulle hulleself kan verstaan. Lê klem op die positiewe maar verduidelik ook dat elke temperament uitdagings het.
Verseker hulle daarvan dat hulle uit die aard van hulle temperament gewoonlik baie meer krities teenoor hulleself gaan wees as wat nodig is. Hulle ware beeld is dus altyd beter as die beeld wat hulle van hulleself het.
Moet nooit vals lof of opgeblaasde komplimente vir ’n sierboompie gee nie. Pasop byvoorbeeld vir al die “slimste, mooiste, oulikste … ” stellings wat ons graag maak. Hulle weet dit is onbewysbaar, onmeetbaar en onwaar. Hulle gaan vermoed jy sê dit omdat daar niks goeds is wat jy in opregtheid oor hulle kan sê nie.
Hulle selfbeeld word veral deur vier dinge geraak: hulle vermoë of onvermoë op akademiese and sosiale gebied, hulle sukses met probleemoplossing en hulle vermoë om positief by te dra tot iets groter as hulleself.
As ons dit in gedagte hou, kan ons hulle met skolastiese sukses help deur hulle akademies te ondersteun, ekstra klasse te reël indien nodig, hulle te help om realistiese doelwitte te stel en seker te maak hulle kry erkenning vir prestasies.
Ons kan hulle tweedens op sosiale gebied help deur te verduidelik dat om net een of twee goeie maats te hê nie beteken dat iets fout is nie, maar dat dit beteken dat hulle gemaak is om dieper, hegter vriende te hê en te wees.
Hulle hoef hulleself nie aan die hoeveelheid maatjies te meet nie. Ons kan hulle leer hoe om ’n goeie maat vir iemand te wees as hulle onbeholpe is daarmee.
Derdens kan ons hulle help om suksesvolle probleemoplossers te word deur nie te gou te help wanneer hulle sukkel nie. Ek het alreeds genoem dat hulle geleentheid gegun moet word om reg te maak wat hulle verbrou het. Dit sluit hierby aan en is essensieel vir hulle selfbeeld.
Ons moet hulle ook leer om probleme objektief te benader deur dit byvoorbeeld neer te skryf, op te breek in hanteerbare dele, te onderskei tussen die dele daarvan waaraan hulle iets kan doen, en die dele wat hulle eenvoudig moet aanvaar.
In die vierde plek moet ons vir hulle geleenthede skep om van hulleself te gee. Dit kan klein dingetjies wees soos om siekes te besoek en dankiekaartjies vir mense te maak of om vrywillige werk by die DBV te doen.
’n Tyd en plek vir orde, stilte en alleen-wees (persoonlike ruimte)
Sierboompies het elke dag alleentyd nodig. Hulle kan nie in lawaaierige of besige omgewings hulleself oriënteer nie. Indien moontlik moet ’n sierboompie liefs nie ’n kamer met ’n boetie of sussie deel nie.
Indien daar geen alternatief is nie, moet hulle privaatheid so goed moontlik gerespekteer word. Hulle speelgoed moet minstens apart gehou word, hulle moet ’n hoekie in die kamer hê wat net hulle s’n is en ’n plek om stilte te geniet, selfs al is dit dan nie in hulle eie kamer nie.
Sierboompies funksioneer glad nie goed in ’n deurmekaar omgewing nie. Wanneer hulle dus ’n morsige kamermaatjie het, is dit veral stresvol vir hulle. Probeer om dit te vermy.
Geleenthede om talente te ontdek en te ontwikkel
Sierboompies is baie dikwels kunssinnig. ’n Mens moet hulle geleentheid gee om minstens een soort musiekinstrument of kunsvorm aan te leer. Dit gee vir hulle ’n manier waarop hulle hulle brose selfbeeld kan bou.
Eksamens en kompetisies, kunsuitstallings, kunswedstryde en ekspo’s moet egter nie die fokus wees nie. Dit moet oor hulle selfuitdrukking en kreatiewe ontwikkeling gaan meer as oor eerste prys, behalwe as hulle self kompeterend is.
Begrip vir hulle diep emosies en intense belewing van die lewe
Sierboompies neem die lewe ernstig op en raak maklik baie emosioneel. Hulle beleef dinge intens en hulle emosionele reaksies kan baie lank aanhou. Ongelukkig kan hulle nie vinnig opgebeur of afgelei word wanneer hulle hartseer of moedeloos is nie.
Hulle emosies moet baie versigtig hanteer word. Hierdie aspek is verskriklik belangrik, want miskenning van sierboompies se emosies is miskenning van hulle as persone. Wanneer jy vir hulle trane lag, lag jy vir hulle. Wanneer jy iets sê soos: “Dis nie so belangrik nie”, hoor hulle: “Jy en jou gevoelens is nie so belangrik nie.”
Ons kan sierboompies nie op rasionele vlak met hulle emosies help nie; ons moet dit op emosionele vlak doen. Dit is so belangrik dat elke ouer van ’n sierboompie die volgende vaardighede moet probeer aanleer:
Dit laat ’n sierboompie voel asof ons saam met hulle in hulle swart gat geklim het. Soms kan hulle dan baie vinnig op ons skouers klim, en uit die gat wip deur te reageer met iets soos: “Ja, ek is baie vies dat dit gebreek het. Kan Pappa dit regmaak?”
Dit beteken hulle is nou gereed vir raad of hulp. Wanneer hulle egter steeds net die donker kant kan sien, moet ons geduldig wees.
“Daar is baie visse in die see. Net vyf persent van mense trou met ’n skoolliefde so dit was waarskynlik in elk geval nie die lewensmaat vir jou nie. Ons het buitendien nie met die ouers oor die weg gekom nie. Jy verdien beter.”
Wanneer sierboompies emosioneel is, is hulle rasionele brein heeltemal afgesluit!
Die slegste ding wat jy sou kon doen, is om vies te vra: “Hoe het jy dit reggekry om die swembril te breek?”
Moenie babataal praat of self emosioneel raak nie – dit vererger net hulle ontsteltenis. Dit is buitendien vir ’n ouer wat nie self ’n sierboom is nie baie moeilik om na ’n aanhoudende kermhuil te luister.
Loop liewer ’n entjie weg met ’n vriendelike woord soos: “Wanneer jy nou-nou beter voel, kan ons gesels as jy wil. Ek is jammer dat jy sleg voel.”
As die emosionele reaksie ander mense ontstel, kan jy daarop aandring dat jou sierboompie iewers privaat gaan huil. Sê iets soos: “Jy mag huil want ek weet jy is baie teleurgesteld, maar dis beter dat jy in jou kamer gaan huil. Jy gaan jouself beter kan troos wanneer jy alleen is. Ons wag hier, en hoop jy voel nou-nou beter.”