[SIERBOME] LES 12 – Nog dinge om te verstaan van sierbome

Sierbome kommunikeer baie volledig – in groot detail. Hulle gaan haal gewoonlik ’n storie baie ver. Dis vir hulle belangrik om verstaan te word, daarom sal hulle aanhou praat totdat die luisteraars aandui dat hulle verstaan.

Sierbome maak goeie natuurlike onderwysers as gevolg van hulle volledige kommunikasie en natuurlik ook weens hulle deeglikheid, georganiseerdheid en sistematiese werkswyse.

Sierboomvroue kommunikeer baie emosioneel. Hulle gevoelens is buiten­dien baie sigbaar, maar hulle maak ook seker dit word gehoor. Sierbome gebruik sterk woorde vir sterk emosie en kan so somtyds onnodig dramaties wees.

Dit is vir die ander bome moeilik om die kern van die boodskap te hoor wanneer ’n sierboom so emosioneel raak en wanneer die sierboom dan boonop voel dat sy nie verstaan word nie, maak dit haar nog meer emosioneel.

Sierbome moet verkieslik nie in ’n slegte situasie te veel praat nie, maar eerder ’n nag se slaap inkry voordat hulle die saak probeer uitpluis.

Sierbome kla maklik, is soms vol “ipekonders” en kritiek. Van al die boom­soorte is hulle ook die skuldigste aan ’n geskinder.

Sierbome luister graag en kan baie empaties wees, maar hulle neem enige kritiek of teregwysing baie persoonlik op. Hulle onthou gesprekke woord vir woord, maar mis soms die totale bedoeling omdat hulle so agterdogtig en sensitief kan wees. Misverstande met hulle is baie algemeen as gevolg daarvan.

Wat maak ’n sierboom moeg en uitgeput?

Sierbome word moeg wanneer hulle te veel dinge gelyk doen. Amper alle sierbome het te veel hooi op hulle vurk omdat hulle nooit “nee” sê nie.

Wanneer sierboom­pies saam met ander in ’n span moet werk, neem hulle gewoonlik te veel op hulleself. Hulle delegeer moeilik wanneer hulle die leiers is. Alles gaan goed tot op ’n dag. Dan val die hele appelkar om en die sierboom is heeltemal wanhopig moeg.

Die rede vir die uitputting is ’n sierboom se hoë (dikwels onrealistiese) stan­daarde. Alles moet perfek en betyds of selfs vroegtydig gedoen word. Dit is eenvoudig onrealisties. Voeg by die geweldige werklading die onvermoë om te ontspan en dis geen wonder dat sierbome se sisteme dit later eenvoudig nie kan hou nie!

Hoe herlaai ’n sierboom en kry weer energie?

Die meeste sierbome herlaai op hulle eie in stilte and orde waar hulle kan rus en droom of skeppend wees. Baie sierbome sukkel egter om heeltemal te ontspan. Hulle voel skuldig om te lank te sit en niksdoen. Hulle ontspan byvoorbeeld voor die TV terwyl hulle wasgoed uitsorteer of langs die swembad waar hulle hulle finansies nagaan.

Baie sierboommans hou van eenmansporte waar hulle alleen kan wees met hulle gedagtes. Hulle geniet ook stokperdjies wat vernuf, aandag aan detail en konsentrasie vereis, soos modelvliegtuigies, miniatuur­treine, meubelmakery en versamelstokperdjies.

Baie sierboomvroue herlaai deur ’n soort handwerk te beoefen waarin hulle iets moois kan maak. Dit is soos terapie om plakboeke te maak (scrapbooking) of naaldwerk te doen, blomme te rangskik of iets te verf vir ’n kinder­kamer.

Dit klink onwaarskynlik dat ’n mens kan herlaai deur vervelige sleurwerkies te doen. Maar elke vrou wat sterk sierboomeienskappe het, weet hoeveel dit werd kan wees om die linnekas reg te pak, al die ou medisyne en halfleë houertjies weg te gooi of die kinders se speelgoed weer in die regte houers te sorter.

Sierboom­mans voel ook weer pure perd wanneer die poshopie deurgewerk en al die rekeninge betaal is of die karre silwerskoon gemaak is van binne en buite.

Aan die basis van amper al hierdie aktiwiteite is die feit dat sierbome orde nodig het. Hulle verkry die gevoel van innerlike orde terwyl hulle hulle buitewêreld op puntenerige of kunstige manier orden of versier.

Wat vrees ’n sierboom en wat ontstel hulle?

Sierbome is baie afhanklik van goeie terugvoering van ander. Hulle sien hulleself in die spieël van ander se komplimente of afkeuring. Daarom is hulle groot­ste vrees afkeuring. Dit beteken dat hulle baie manipuleerbaar is, dikwels misbruik word en nie kan “nee” sê nie.

Sierbome raak geweldig gespanne terwyl hulle uitslae, evaluasies, eksamens, mediese ondersoeke of enige ander toets afwag omdat die moont­likheid van mislukking of negatiewe terugvoering by hulle spook.

As sierbome se werk gekritiseer word, neem hulle dit baie persoonlik op. Sierbome kan hulleself nie losmaak van hulle werk nie. “Wanneer my projek misluk, is ek ’n mislukking!”

Hulle vrees ook persoon­like misluk­kings. “Sê nou ek is nie ’n goeie pa nie? Sê nou ek kry dit nie reg om op te hou rook nie? Sê nou die Here besluit ek is onbruikbaar in sy diens omdat ek so baie foute het?”

Sierbome het waarskynlik meer vrese as enige ander temperamentstipe omdat sierbome in detail aan alle moontlike probleme kan dink en vasgevang word in die negatiewe.

Hulle is bang hulle bande bars teen 120 kilometer per uur, bang hulle kinders kom by die skool iets oor, bang hulle maatskappy raak skielik weens markskom­melinge insolvent … Daar is geen einde aan hulle redes om te vrees nie.

Wie maak ’n sierboom kwaad en aggressief?

Sierbome haat veral verrassings en skielike veranderings. Impulsiewe mense werk daarom op sierbome se senuwees. Sierbome hou daarvan om voorbereid te wees en lank voor die tyd kennis te dra van veranderings of gebeure wat hulle gaan raak. Mense wat dit nie respekteer nie en hulle “rondgooi”, maak daarom die sierbome die kwaadste.

Sierbome staan soggens op met die hele dagprogram in hulle koppe. Wanneer daar skielik ’n kansellasie of ’n ekstra verpligting bykom, stort die hele kaart­huisie in duie en hulle nate begin lostrek.

Gewoonlik is die uitrafeling taamlik emosioneel, want ’n sierboom se balans is maar delikaat en die skielike verandering versteur die balans totaal. Wee die arme mens wat die oorsaak hiervan is!

’n Sierboom haat onvolledige instruksies, halwe opdragte, roeteaan­wysings sonder straatname, resepte sonder sistematiese metodes en trouens enige ding wat sonder ’n handleiding kom. Dit is vanselfsprekend dat mense hulle dus sal kwaad maak wanneer hulle swak of onvolledig kommunikeer.

’n Sierboom het honderd en een vrae wanneer iets verander. Mense wat dan ongeduldig raak of nie die vrae kan beantwoord nie, maak ’n sierboom nog kwater.

Ongeorganiseerde mense is dus ook ’n doring in ’n sierboom se vlees. Men­se wat die orde in ’n sierboom se omgewing versteur, deur byvoorbeeld hulle besittings rond te skuif, die huis om te krap, die kar sonder petrol terug te bring of die kombuisdeur te laat oopstaan, sal verbaas wees hoe kwaai daardie sierboom kan raak.

Sierbome is gewoonlik ernstig en kan ligsinnigheid nie verwerk nie. Hulle word baie kwaad vir mense wat volgens hulle laf, kinderagtig en onvolwasse optree. As die situasie stroef is en iemand probeer die dik atmosfeer lig, neem hulle hom kwalik.

Hoe hanteer ’n sierboom spanning en stres?

Enige onvoltooide taak hang soos ’n swaard oor hulle koppe en maak dit onmoontlik om te ontspan.

Wanneer sierbome lysies maak, skedules uitwerk, notas in ’n dagboek maak, alarms op hulle selfone stel en afsprake in die rekenaar intik om al hierdie klein takies te organiseer, en te verseker dat niks vergeet word nie, kan baie van die spanning sommer op die plek weggaan! Dit laat al die detail meer beheerbaar voel.

As sierbome onseker is wat om volgende te doen, raak hulle ook baie gespan­ne. Hulle is afhanklik van die leiding van ’n gedetailleerde sisteem, ’n skedule of ’n goedgedefinieerde taak sodat daar nie onsekerheid oor die volgende stap hoef te wees nie. Hoe meer die inligting, hoe minder die spanning.

Sierbome, veral die dames, ontlaai dikwels spanning deur emosioneel te raak en lekker te huil of in ’n stortvloed van woorde hulle lot by ’n vertroueling te bekla. Sierboommans internaliseer gewoonlik hulle spanning en is kandidate vir aller­hande stresverwante siektes soos maagsere, hoofpyne en hoë bloeddruk.

Waaraan meet ’n sierboom sukses en ’n goeie selfbeeld?

Sierbome beskou die lewe as ’n nimmereindigende selfverbeteringskursus, daarom ervaar sierbome nie maklik die sukses wat hulle wel behaal het nie. Hulle sien maklik die enkele klein mislukkinkies of staar hulle blind teen een of twee grotes en kan nie die prestasies tussendeur geniet nie.

Sierbome meet sukses aan punte of standaarde. Hulle het vir elke taak ’n spesifieke oogmerk en die standaard is gewoonlik uiters hoog. Hulle wil dalk 80% vir die toets hê of in die top drie van hulle groep eindig. Enige iets minder sal soos ’n mislukking voel.

Beskrywende erkenning vir hulle werk en voorkoms is ook vir sierbome belangrik. Hulle wil in besonderhede hoor of verkieslik swart op wit sien hoe hulle geëvalueer word. Woorde soos “goed, bevredigend” of “mooi” is nie goed genoeg nie. Hulle smag na woorde soos “uitstekend, onverbeterlik, fantasties, perfek” en “die beste” sodat daar geen twyfel aan hulle sukses kan wees nie.

Sierbome sukkel om sin in ’n proses te sien. Hulle sukkel dus om sukses te beleef in die “reis”. Hulle meet dit eers by die bestemming. Goeie vordering is nie sukses nie; voltooiing is sukses.

Die meeste sierbome meet hulle sukses nie aan wie en wat hulle is nie, maar eerder aan wat hulle tans doen en in die verlede gedoen het. Daarom is produk­tiwiteit een van hulle maatstawwe van sukses.

Die hele dag voel na ’n mislukking as niks spesifiek die dag afgehandel is nie. Om selfs net twee of drie dinge op ’n lysie te kan afmerk, voel vir ’n sierboom na sukses.