In Suid-Afrika is die motor die hoofvervoermiddel. Ons kinders moet by die skool en weer by die huis kom, en moet ook met motors na hul buitemuurse aktiwiteite vervoer word.
Gesinstyd saam in die kar kan uitdagend en lekker wees. Die motor is ’n wonderlike plek om die konneksie tussen ons en ons kinders te versterk. Vir sommige kinders is die omgewing waar hulle jou nie in die oë hoef te kyk nie en die feit dat hulle kan ophou praat sodra die kar stilhou, ’n fantastiese geleentheid om oop te maak en dalk oor die dieper en moeiliker onderwerpe te praat.
Aan die ander kant is dit nie net ’n plek waar diep gefilosofeer kan word nie, maar ook ’n plek waar ons kreatief kan wees, grappe kan maak en herinneringe kan vorm.
Ons kinders sukkel met ’n groot hindernis, naamlik die vaardigheid om verveeld wees te wees en oukei te wees daarmee. Dit is die vaardigheid om by die venster te sit en uitstaar met net jou eie gedagtes as geselskap. Die meeste van ons kinders kan dit nie doen nie.
Ons het pas die huis verlaat of daar word na die naaste skerm gegryp. Dit is vir kinders baie moeilik om lank stil te sit. Kinders is nie gemaak om lank stil te sit nie. Op die langpad moet ouers gereeld stilhou, lang motorritte onderbreek, lekker krakerige versnaperings moet ingepak word saam met fidget toys soos stresballe waarmee kinders kan speel.
Kinders weet egter nie meer wat om met hulleself te doen as hulle verveeld is nie. Dieselfde gebeur as ons kinders êrens moet wag, of dit nou in die motor is voor skool, in die wagkamer by die dokter of buite die balletklas. Wat het geword van sit en wag? Van gesels met Mamma, van grappies maak saam met Pappa of deur die tydskrif blaai in die wagkamer? Kartyd en wagtyd is ’n gulde geleentheid om konneksie met jou kind te bewerk. Laat ek jou vertel hoe.
In die kar of in die wagkamer gaan jy dieselfde B’s gebruik as in tema 8. Sit jou foon weg en wees emosioneel beskikbaar. Jy is alreeds fisies beskikbaar, want jy is saam met jou kind, maak dus tyd om met jou kind te connect.
Stories was nog altyd deel van die mens. Wie hou nou nie van ’n goeie storie nie? Eeue gelede was rotstekeninge ’n vorm van kommunikasie. Oupas en oumas, ouers, onderwysers en pastore gebruik stories om konsepte te illustreer, lesse te leer en waardes vas te lê.
Ons leer, ons onthou en verwerk inligting beter wanneer ons stories hoor. Stories aktiveer die emosionele sowel as die denkende deel van die brein. Dink maar aan ’n interessante praatjie of preek waarna jy onlangs geluister het. Dit is gewoonlik die stories wat die aanbieder vertel wat ons aandag hou en wat ons later help om dit wat gesê is, te onthou.
Die wetenskap en navorsing oor stories en hulle effek op die mens het in die afgelope jare ontplof. Vandag gebruik suksesvolle advertensiemaatskappye stories in hul bemarking. Die topverkopers in fiksie, films en TV-programme is dié met stories wat ’n mens intrek en wat jou sterk emosies laat voel, soos spanning, hartseer en genot.
Ons dink dikwels dat stories lank en kompleks moet wees, maar dit is nie altyd so nie, veral as dit kom by ’n jong kind wat dalk nog nie so lank kan aandag gee nie en ook nog nie al die ingewikkelde taal kan verstaan nie. Eenvoudige stories is makliker om te onthou. Wanneer jy stories vir jou kinders vertel, gebruik eenvoudige taal en moenie die storielyn te ingewikkeld maak nie.
Stories kan op baie verskillende maniere gebruik word.