Rytyd en stories vervolg …

Daar is verskillende tipes stories:

  • Tradisionele stories en fabels soos Rooikappie, Gouelokkies en al die ander.
  • Daaglikse stories. “Vandag was jy by die tandarts. Hy het die coolste stoel met ’n magic lig wat aangaan sonder dat hy daaraan vat. Jy was so dapper en het dadelik in sy stoel gaan sit. En toe tel die tandarts 10…9…8…7… en toe hy by blast off kom, wat het toe gebeur?” En dan kan jy jou kind aanmoedig om die res van die “storie” te vertel.
  • Terapeutiese stories is ’n tegniek wat gebruik word om sekere terapeutiese doelwitte te bereik. Ons gebruik dit om vir kinders sosiale vaardighede te leer, hul interne motivering te aktiveer, empatie te ontwikkel en angs en spanning te verlig.

’n Goeie storie en een wat jou kind se hele brein sal aktiveer, is gewoonlik soos volg uiteengesit:

  • Daar is ’n hoofkarakter en dié het gewoonlik ’n probleem.
  • Dan ontmoet hy iemand wat hom help en vir hom ’n plan gee.
  • Daardie plan slaag of misluk. Kom ons dink aan Jan en die Boontjierank. Jan is die hoofkarakter en sy probleem is dat hulle arm is en dat sy ma hom dorp toe gestuur het om hulle koei te gaan verkoop. Hy ontmoet iemand wat hom oortuig dat die towerboontjies baie werd is. Jan plant die bootjie en oornag groei daar ’n boontjierank tot by die wolke. Nou kom daar ’n verdere probleem en dit is die reus, maar uiteindelik word die reus deur Jan uitoorlê en woon hy en sy ma lank en gelukkig saam.

As ons stories opmaak of vir ons kinders stories vertel, kan ons hierdie struktuur gebruik om hulle aandag te behou, want hierdie storiestruktuur aktiveer die hele brein. Ons kan hulle deel maak van die storie en sodoende hul probleemoplossings- en besluitnemingsvaardighede verder ontwikkel. Wanneer julle by die probleemfase van die storie kom, vra vir jou kind wat hy sou gedoen het, wat hy dink die beste manier is om die probleem op te los, hoe hy dink die karakter gevoel het, hoe hy voel noudat hy die storie hoor. Dit bou jou kind se brein.

Stories kan die verhouding tussen ons en ons kinders bevorder. Kinders is gewoonlik mal daaroor as hul ouers vir hulle stories vertel.  Stories – veral daardie stories wat julle as gesin en familie uniek maak – laat kinders veilig voel. Navorsing het bevind dat hoe meer kinders van hulle familiegeskiedenis weet, hoe beter is hulle selfbeeld en hoe meer veerkragtig is hulle.

’n Mary Poppins-sak is ’n goeie idee as julle ’n ver ent gaan ry of lank in ’n wagkamer moet gaan sit. Sommige van my vriendinne het sulke handsakke waaruit wonderlike goed hulle verskyning maak sou die nood druk. Van rosyntjies vir daardie gou-aandag-aftrek-voor-die-ineenstorting-medisyne tot ’n towerroompie wat elke skrapie kan regdokter! Hier is ’n paar idees wat jy gerus kan beproef vir jou handsak:

  • Alledaagse voorwerpe waarmee jou kind kan vroetel, soos rekkies of skuifspelde
  • Stresballe of plakkers
  • Rosyntjies, wortelrepies, droë vrugte, neute, biltongstokkies
  • Water in ’n suigbottel
  • Whiteboard met pen of wipe board
  • Potlood, kryte of koki-penne en ’n notaboekie
  • Handpoppies of vingerpoppies
  • “I spy”-boeke, waar jou kind voorwerpe moet soek tussen ’n magdom ander prentjies

Maak seker dat die voorwerpe in jou handsak veilig is vir jou kind. Moet nie albasters of rekkies of kleiner voorwerpe vir kleintjies gee wat hulle in hul mond kan sit nie. Iets soos ’n bol wondergom of slym wat aan alles kan plak, is ook nie ’n goeie idee nie.