[ROOSBOME] LES 17 – Straf en dissipline vir roosboompies

Wanneer jy jou roosboomkind se gedrag wil verander is die volgende beginsels belangrik:

Benut die verlies of vermeerdering van fisieke vryheid

Roosboompies haat dit om aan bande gelê te word en blom wanneer hulle vryheid en opsies het. Ons kan dit baie effektief in hulle dissipline gebruik. Roosboompies wat heeltemal buite beheer raak, kan letterlik vasgehou word totdat hulle bedaar het, of ten minste in ’n beperkte ruimte geplaas word totdat hulle kalmeer.

’n Woede uitbarsting moet wanneer moontlik streng beperk word tot waar niks en niemand kan seerkry of te veel aandag kry nie. Ons kan ’n tweejarige skreeuen­de roosboompie kamer toe dra, op sy mat neersit en kalm maar ferm sê: “As jy kalm is, kan jy weer uitkom.” Al moet ons hom tien keer terugneem, moet ons aandring dat hy daar bly tot hy bedaar.

Roosboompies hou gewoonlik so min van fisieke beheer dat hulle gou ophou met gedrag wat herhaaldelik daarop uitloop dat hulle opgetel, weggedra, vasgehou of neergesit word.

Roosboompies wat byvoorbeeld nie kom wanneer hulle geroep word nie, moet as straf Mamma se hand vashou oral waar hulle saamgeneem word. Wanneer hulle egter luister en reageer, mag hulle “los loop” – ’n baie groot beloning!

Ons ge­bruik met die roosboompeuters en -kleuters baie frases soos: “Badtyd is verby. Jy kan self uitklim of ek kan jou uittel.” of “Jy kan self jou broek uittrek en op die potjie gaan sit, anders sal Mamma jou moet uittrek en op die potjie tel, en ek weet jy hou nie daarvan nie.”

Of “Jy moet binne ’n halfuur ná skool tuis wees om te eet en met jou huiswerk te begin. Jy kan self betyds huis toe kom of ek kan jou elke middag voor die hek oplaai soos verlede jaar.” Hierdie keuses sê: “As jy meer vryheid wil hê, moet jy dit verdien.”

Wanneer ons van ons ouer roosboompies die gedrag kry wat ons verwag, kan ons hulle met meer fisieke vryheid beloon. Dit beteken dat hulle byvoorbeeld alleen iewers heen mag gaan mits dit veilig is, dat hulle later mag uitbly, dat hulle op hulle eie deur die winkel mag stap en ons weer by die toon­bank ontmoet.

Omdat hulle graag onafhank­lik wil wees, is dit vir hulle baie motiverend wanneer ons hulle toelaat om hulle groeiende self­standigheid te bewys.

Onderhandel oor verhoogde of verlaagde status

Roosboompies wil groot en belangrik voel en so hanteer word. Hulle status in en buite die huis is vir hulle vreeslik belangrik. Hulle posisie in die gesin en hulle regte op grond daarvan – byvoorbeeld wakkerblytyd en die hoeveelheid sakgeld wat hulle kry – weeg swaar.

Dit gee ekstra status wanneer ’n kind later mag wakker bly. Dit is gewoonlik vir roosboompies ’n baie groot beloning. Om vroeër te moet gaan slaap beteken hulle word soos klein kindertjies behandel en is dus ’n effektiewe straf.

Wanneer ’n roosboompie uitgedaag word tot meer volwasse gedrag, kan ons as beloning so ’n verhoging in status as wortel voor hulle neuse hou: “Ons kan ’n hondjie kry as jy kan bewys dat jy verantwoorde­lik genoeg is met jou ander werkies. Wanneer ons dan die hondjie koop, mag jy sy naam kies, en sy ‘afrigter’ wees by sy gehoorsaamheidsklasse.

“As jy jou doelwitte bereik met jou skoolwerk hierdie kwartaal, mag jy vir Mamma en Pappa help besluit waar ons aan die einde van die jaar vakansie gaan hou; wanneer jy geleer het om nie te skree wanneer videotyd of TV-kyktyd verby is nie, gaan ons jou die baas maak van die afstandbeheer. Dan mag net jy die TV aan- en afskakel wan­neer ons saam TV kyk.”

Fokus op die verlies of vermeerdering van keuses

Wanneer ons en ons roosboompie bots, is dit gewoonlik omdat hulle nie hou van die besluite wat ons neem nie en eerder self keuses wil maak. Ons kan hulle dus baie effektief motiveer deur hulle keuses te vermeerder wanneer hulle dit verdien.

’n Kind wat ophou neerslaan wanneer sy nie hou van die kos op die tafel nie, hoef nie alles op haar bord te eet nie; ’n roosboomtiener wat die ouers se vereistes rondom kleredrag respekteer, mag self gaan klere uitkies.

En ’n roosboompie wat met slaaptyd ophou skree vir nog ’n storie, mag elke aand die storie kies. As hy saans die kos op sy bord eet, mag hy kies watter ontbytkos hy die volgende oggend wil eet.

Wanneer roosboompies op ’n onaanvaarbare manier hulle wil probeer afdwing (manipuleer) moet hulle keuses verminder word: “As jy nie vriendelik in die kar kan klim nie, besluit ek waar jy sit en ek maak jou vas; wanneer jy op die vloer bly lê wan­neer jy moet aantrek, sal ek jou moet aantrek wat ek gekies het.”

My roosboompie het op driejarige ouderdom op die vloer neergeslaan as sy brood­jie nie onmiddellik klaar gesmeer is wanneer hy besef hy is honger nie. Ons ooreenkoms was dat hy kan kies of die broodjie in driehoekies of vierkante gesny moet wees, mits hy nog kalm is teen die tyd dat ek dit klaar gesmeer het.

Hierdie keuse was vir hom belangrik genoeg dat hy ter wille daarvan homself beteuel het. Gebruik die keuses wat jy sien vir jou kind belangrik is om dieselfde dinge te bereik.

Dink baie ernstig na oor ’n (onwettige) pak slae

Wetgewing verbied die gebruik van lyfstraf wanneer jy jou kind tuis dissiplineer. Ek wil geen ouer aanmoedig om die wet te oortree nie. Die onderwerp word wel bespreek omdat sommige ouers steeds pak gee en dit kan werk vir roosboompies.

Ek kan al hoor hoe die ouers van roosboompies protesteer: Ons het ’n pak slae probeer – dit werk nie! Al wat dit beteken is dat die roosboompies in hulle bluf­spel geslaag het. Ek is bereid om te wed dat jy ten minste een van die volgende reaksies op ’n pak slae van jou roosboompie gekry het:

  • Jou roosboompie het jou teruggeslaan. Dit is by sommige roosboompies amper ’n refleks, maar ongelukkig ook ’n seker teken dat hulle nog glad nie verstaan wat hulle posisie en jou posisie in die verhouding is nie.

Dit verklap ook dat hulle dink ’n pak slae is ’n geveg. Jy moet dan mooi na jou metode van pak gee kyk. Maak jy seker jou kind verstaan waarom ’n pak slae onafwendbaar is. Erken jou kind skuld?

Is jy in beheer van jouself? Praat jy kalm? Slaan jy met jou hand of met ’n neutrale voorwerp? Klap jy wild en woes of slaan jy ’n paar goedbeheerde houe wat by die oortreding pas?

  • Jou roosboompie het geskree: “Dit was tog nie seer nie!” As dit nie was nie, slaan jy nie hard genoeg nie; as dit wel was, is dit maar net ’n roosboompie se manier om die verleentheid van die trane weg te steek.
  • Jou roosboompie het iets beledigends geskree soos: “Ek haat jou!” Dit is ’n baie normale, onvolwasse, emosionele reaksie. Die verkeerdste ding sou wees om dit letterlik of persoonlik op te neem.

Dit verklap ook dat jy wel ’n indruk gemaak het. As jy oortuig is jy was redelik en selfbeheersd, en het niks gesê om jou kind seer te maak nie, hoef jy jou dit glad nie aan te trek nie.

Gesels later daaroor wanneer almal kalm is: “Ek is seker jy het die kwaai woorde in woede gesê. Ek is lief vir jou en hou dit nie teen jou nie.” Dit maak meestal die pad oop vir jou roosboompie om vergifnis te vra of minstens te sê dat hy dit nie bedoel het nie.

  • Jou roosboompie het vernietiging gesaai in die plek waar jy die pak slae gegee het. Dit beteken daar lê vir julle werk voor in die area van emosionele intelli­gensie en aggressiehantering, wat hierbo kortliks aangeraak is. Dit beteken ook dat daar dalk nog ’n ander straf gaan plaasvind.
  • Jou roosboompie het rooi in die gesig geword maar geweier om te huil of selfs uittartend geglimlag! My roosboompie het al hardop gelag na ’n swaar pak slae terwyl die trane oor sy wange loop, en gesê: “Ek is anyway oukei!”

Dit is maar net nog ’n voorbeeld van ’n afskrikmiddel. Die rooi gesiggie en trane beteken dat die pak slae wel die gewenste boodskap oorgedra het, naamlik dat die gedrag regtig onaanvaarbaar is, en nie oorgesien kon word nie.

  • Jou roosboompie het so effektief gewriemel of weggehardloop dat jy besluit het ’n pak slae gaan op iets soos WWF-Rofstoei uitloop en dat jy nie daarvoor kans sien nie.

’n Pak slae is nie ’n geveg nie. Dit is ’n kalm uitmeet van straf aan iemand wat weet dat hy skuldig is. Ons kinders moet leer om straf te ontvang, nie te weerstaan nie. As jy ’n kind moet gryp, vasdruk of laat vashou, is jy met iets anders as ’n Bybelse pak slae besig.

Jou kind sal beslis ’n ander boodskap kry as dat jy in liefde vir hom of haar iets probeer leer. Leer jou kind om self nader te kom en haar straf te vat. Dit klink onmoontlik, maar ek ken baie gesinne wat hierin slaag.

Ons ooreenkoms is dat daar een hou minder is vir ’n kind wat die straf soos “’n man” vat. Die geheim is natuurlik dat die ouer nie soos die leeu se bek moet lyk nie, want wie sal dan gewilliglik naderkom?

  • Jou roosboompie se gedrag het na elke pak slae erger geword in plaas van beter. Dit is terloops die laagste vorm van bluf.

Dit stuur die boodskap: “Ek haat ’n pak slae en eintlik werk dit, maar as ek Pa of Ma laat agterkom dat dit werk, gaan hulle daarmee aanhou, so ek gaan seker maak hulle waag dit nie weer nie – ek gaan in ’n monster verander! Dan gaan hulle nie weet wat om volgende keer te doen nie!”

As jy egter hierdie gedrag aanhou vasvat, gaan die stygende kurwe weer daal – dit is gewaar­borg!

  • Jou roosboompie het die gedrag na neutrale grond verskuif (soos Ouma se huis, die kerk, die winkel, die voorportaal van die kleuter­skool of die kar) waar hulle weet jy hulle nie gou kan bykom nie en nou voel jy dit help nie jy slaan soms en soms nie, derhalwe slaan jy nou glad nie meer nie.

Die antwoord hierop is om jouself te herinner dat jy weliswaar net aan die Here rekenskap hoef te gee, mar dat pak slae onwettig is en dat jy nie moet toelaat dat die situasie en die mense om jou jou intimideer nie. Kry ’n ander straf in plek en probeer so ver moontlik die oorloggies tuis voer.

Roosboompies probeer deur hierdie soort gedrag die situasie in ’n geveg met verskeie rondtes verander. Wanneer ons roosboompies straf – veral wanneer die straf ingrypend is, en hulle laat voel dat ons nou in beheer is – ’n gevoel wat hulle absoluut haat – wil hulle nie die saak as afgehandel aanvaar nie, want dan het jy “gewen”.

Hulle wil wen, daarom daag hulle jou uit tot nog ’n rondte. Een punt vir jou; nul vir hulle, maar nou gaan ons vir die beste uit drie, dan die beste uit vyf, en so kan dit aanhou, tensy ons hierdie strategie verstaan en omkeer.

Die belangrikste ding om in ons eie koppe reg te kry as ons ’n roosboompie wil dissiplineer, is dat dit nie ’n kragmeting is nie. Ons kind is op geen manier ons gelyke nie.

Met al ons ervaring, wysheid, groter selfbeheersing (en gewigsvoordeel!) is dit onmoontlik dat ons kind ons tot ’n tweegeveg kan uitdaag. Ons mag dus nooit met ons roos­boompie in die kryt klim nie.

Wanneer hulle dan die gedrag hierbo gebruik om ons uit te daag, durf ons nie die aas neem nie. As jy nie jou kind hard genoeg geslaan het toe jy die kans gehad het nie, en jou roosboompie sê dit vir jou, mag jy nie ’n tweede poging aan­wend nie.

Hy het oortree; jy het gestraf. Dis die einde van die insident. Distansieer jou daar­van en van die reaksie. Ant­woord, as jy wil, iets soos: “Dit gaan nie daaroor dat ek jou wil seermaak nie. Ek wil vir jou iets leer.”

As die gedrag waarvoor jy in die eerste plek pak gegee het na die pak slae opgevolg word met ander gedrag waarvoor jy normaalweg ook ’n pak slae sou gee, is dit nodig dat jy dan op jou tande byt en kalm sê:

“Dis nou jammer dat jy nog iets doen wat ’n pak slae verdien. Dit was ’n slegte keuse. Jy weet ek kan jou nie toelaat om dit weer te doen nie” en dan moet jy ongelukkig maar die tweede pak slae gee.

Gelukkig gaan net ouers van “opreggeteelde” roosboompies hierdeur, want dit is vir geen liefdevolle ouer lekker nie. As jy dit nie doen nie, sal jou roosboom­pie leer dat jy na ’n pak slae te sleg voel om ander gedrag vas te vat, en dat daar dus ’n tydelike “kragonderbreking” na elke pak slae is.

Jy kan maar weet die outjie gaan sy kanse vat! My roosboompie het as driejarige in een week twee keer getoets of my oortuiging sterk genoeg is om deur te druk met ’n pak slae.

Hy het sy hele repertorium van pakslae-verdienende gedrag soos ’n goederetrein se string waens ingespan en toe ’n weghol-lokomotief vooraan gehaak! Dit was eenvoudig ’n vertoning van die mees uittartende, doelbewus ongehoorsame gedrag denkbaar.

Ek moes die eerste aand drie sarsies houe afstuur en ’n paar aande later vier sarsies. Ek was nie eers kwaad nie – net geskok en bekommerd – en het agterna gehuil, want ek geniet dit regtig nie om my swartoogkind te slaan nie, maar ek het nog nooit daarna weer rede gehad om twee maal na mekaar te slaan nie.

As die pak slae egter gevolg word deur gedrag wat op ’n ander manier gestraf kan word, stel ek voor jy reflekteer jou kind se woede en wag tot almal kalm is. Meet dan die tweede straf baie klinies en onemosioneel uit sodat dit nie soos ’n tweede rondte in ’n boksgeveg voel nie.

Gestel die roosboompie het na die pak slae ’n paar goed in die kamer rondgegooi, sê dan: “Ek weet ’n pak slae is baie sleg, maar jy weet ons gooi nie goed nie. Wanneer jy kalm is, sal ons daaroor moet praat.”

Wanneer die geraasvlakke onder 80dB gedaal het, en almal se wapens is by die deur neergelê, gaan jy die roosboompie alles laat opruim, eien­dom wat beskadig is identifiseer en reël om dit uit sy sakgeld te herstel.

Jy gaan speelgoed wat neergegooi is wegneem totdat ’n ooreengekome tyd verby is om seker te maak dit word nie weer so hanteer nie. Of jy gaan ’n ander gepaste konsekwensie uitdink – iets wat jy buitendien ook nie in die hitte van die oomblik reg sou hanteer nie, nie waar nie?

Bedink jou strafmaatreëls as logiese gevolge

Omdat roosboompies logies en rasioneel is, verwar dit hulle wanneer ons arbitrêre strawwe of belonings gee. Hulle ervaar dit as baie onregverdig wanneer hulle byvoorbeeld nie mag TV kyk nie omdat hulle besittings ver­loor het, of nie sakgeld kry nie omdat hulle vergeet het om hulle wasgoed in die wasmandjie te gooi.

Ons moet met hulle versigtig wees om strawwe en belonings sinvol te kies anders kan ons verwag dat hulle ons dissipline as moeds­willige of ondeurdagte, selfs spiteful aksies sal sien, en nie veel daaruit sal leer nie.

As hulle dus nie wasgoed in die mandjie gooi nie, word hulle wasgoed nie gewas nie. Sodra hulle die eerste keer hulle gunstelingklere gekreukeld onder hulle beddens ontdek en iets anders na die partytjie toe moet aantrek, sal die boodskap tuiskom!

TV-voorregte is sinvol om weg te neem wanneer kinders nie die reëls oor tydsbesteding en die volgorde waarin plesier en pligte hanteer word, nakom nie. As hulle byvoorbeeld buite gaan speel voordat hulle huiswerk voltooi is, sal hulle hulle huiswerk moet doen in die tyd wat hulle normaalweg TV kyk.

Roosboompies reageer ook baie goed op strawwe wat hulle self uitgedink het. Ons kan hulle betrek by die maak van reëls en die vasstelling van strawwe vir die verbreking daarvan. Watter gevolge sou hulle byvoorbeeld voorstel vir ongedane huiswerk, verlore klere en rebelse gedrag soos teëpratery?

Ons gryp maklik sommer net ’n slaanding wanneer ons nie weet wat anders om te doen nie, of ons skree net, en dink dit sal help. Dit neem ’n bietjie meer tyd en toewyding om sinvol te dissiplineer, maar dit werk ook baie beter.

Maak gebruik van kompetisies, uitdagings en rekords

Om te wen of ten minste beter as iemand anders te vaar, is vir ’n roosboompie so belangrik dat ons dié dryfveer in dissipline moet gebruik.

Beloningskaarte soos dié wat ’n mens oral sien, waarop sterre of goue kolle byvoorbeeld aange­bring word, werk goed wanneer daar ’n kompetisie-element bygevoeg word tussen ’n roosboompie en ander kinders in die huis, of wanneer daar minstens ’n uit­daging is soos om die doelwit binne ’n beperkte aantal probeerslae of ’n beperkte tyd te voltooi.

Om teen hulleself te kompeteer, kan ook werk. ’n Rekord kan opgeteken word om aan te toon hoe vinnig na opstaantyd die roosboompie gereed was om skool toe te gaan. Elke keer wat sy haar persoonlike rekord verbeter, kry sy ’n punt.

Wanneer sy vyf punte aangeteken het, kan haar slaaptyd met ’n kwartier of halfuur aanskuif. As sy egter weer begin laat kom vir skool, begin die proses van voor af met haar ou slaaptyd.

Begroot om geld as beloning in te span

Roosboompies reageer goed op konkrete belonings soos geld omdat hulle graag saamwerk wanneer dit vir hulle direkte voordele inhou. Roosboompies vra dikwels direk of indirek “Wat is dit vir jou werd?”

’n Roosboompie se ma het my eendag vertel dat haar roosboompie altyd bereid was om sy kos op te eet vir R5, maar toe hulle op ’n dag in ’n restaurant is saam met mense in wie se goeie boekies sy ma graag wou bly, het hy ’n geleentheid gesien om die prys op te stoot.

Hy het nie aan sy kos geraak voordat sy ma die prys na R20 opgeskuif het nie. Dit is ’n voorbeeld van hoe jy nie geld behoort te gebruik nie!

Enige kind se sakgeld behoort ten minste gedeeltelik gekoppel te wees aan verantwoordelikhede in die huis. Dit is maar net ’n beginselsaak dat geld nie ’n funksie van ouderdom is nie, maar verdien moet word.

Kinders moet ook ’n hele aantal basiese werkies hê waarvoor hulle glad nie betaal word nie. Hulle behoort egter geleenthede gegun te word om binne perke ekstra geld te verdien indien die ouers in staat is om dit te gee, anders kan hulle aangemoedig word om dit elders te probeer verdien.

Die basiese sakgeld kan dus gegee word wanneer ’n paar werkies getrou verrig is en ’n paar rand kan bykomend verdien word vir ekstra werkies.

’n Mens moet versigtig wees vir manipulasie met geld, soos wat in die storie hierbo gebeur het. Wanneer ons ons prys gemaak het, staan dit vas. Indien ons bereid is om R10 te betaal vir die uitskep van blare uit die swembad, kan ons kind besluit dat dit nie die geld werd is nie en dan gaan ons dit self moet doen.

Ouers het egter die reg om eenvoudig te verwag dat dit gedoen word en daarna R10 te gee uit waardering vir die moeite. Die kind mag die geld van die hand wys, maar nie die opdrag nie!

Ons moet ook versigtig wees waarvoor ons geld gee of wegneem. Om kos op te eet is nie “werk” nie en verdien dus geen “salaris” nie.

Om 80% in ’n toets te behaal, het dikwels meer met intelligensie as met harde werk te doen. Om dus ’n kind vir punte te “betaal” beteken nie dieselfde as om te betaal vir die aantal ure wat hy hard gesit en leer het nie.

Wanneer ons sakgeld aftrek vir onderprestering, moet ons doodseker wees dat die enigste rede vir die swak punte luiheid was. Hoe kan ’n mens daarvan seker wees?

Ons behoort ook nooit gehoorsaamheid te koop nie. Gehoorsaamheid is die minimum wat ons van ons kinders mag eis. Ons mag wel sakgeld wegneem van kinders wat weier om gehoorsaam te wees, want dit maak sin in terme van hulle voorbereiding vir die volwasse lewe – mense wat nie na hulle werkgewers luister nie, moet soortgelyke gevolge dra.

As ons egter sakgeld sou gebruik om ons kinders hulle hare te laat sny soos ons daarvan hou, of om hulle ’n vriendskap te laat beëindig waaroor ons nie vrede het nie (ja, daar is ouers wat sulke goed doen!), is ons met gevaarlike manipulasiespeletjies besig.

Leer die gekrapteplaat-tegniek aan en oefen dit

Hierdie tegniek werk uitstekend met roosboom­pies of palmboompies wat baie protesteer, redeneer en onderhandel. Dit neem die onderhandelingstafel waarby hulle jou probeer kry, weg.

Dit staan egter teenoor die idee om net een keer te praat en dan te straf wanneer daar nie samewerking is nie. Dit is waarskynlik daarom meer geskik vir ouers wat weier om ’n pak slae te gee, en ’n alternatief soek. Ronald Morrish noem dit the broken record technique.

In plaas daarvan om op al die uitdagings en manipulerende gedrag te reageer, herhaal jy die opdrag woordeliks, soos ’n platespeler wat vashaak. Moenie eers jou stemtoon of gesigsuitdrukking verander nie.

Jy wil duidelik kommunikeer dat die kind se uitbarstings en ander tegnieke geen verskil maak nie. Die opdrag bly dieselfde en jy gaan ook nie kwaad, moedeloos, inskiklik of vriendeliker raak nie. Herhaal die opdrag soveel keer as wat nodig is maar moet niks anders sê of op enige iets reageer wat jou roosboom­pie gebruik om jou van stryk te bring nie.

’n Kweekplan vir ’n roosboompie: praktiese planne met dissipline

Ons moet uit die staanspoor ons koppe regkry en besef dat die kweek van rose geen ligte takie is nie. Ons gaan dit altyd teen weerstand doen en baie min waardering vir ons moeite kry. Ons gaan egter mettertyd pragtige rose as beloning aan daardie doring­ryke takke sien oopgaan.

Ons moet begin deur ’n hap af te byt wat ons kan kou. Ons kan nie elke klein dingetjie beheer nie, want die energie wat dit gaan verg, het min van ons! Ons gaan dus met ons roos­­boompies ons dissiplinêre doelwitte baie versigtig kies om seker te maak ons kan die geveg tot die einde veg.

Ons gaan ook seker maak daar is ’n groot skoot positiewe doelwitte in die mengsel sodat ons nie net snoei nie, maar ook besproei, want veral die kleuterjare kan geweldig moeilik wees en ons en ons roosboompie kan die vreugde van die ouer-kind-verhouding tussen al die stofopskoppery verloor.

Ouerskap met roosboom­pies raak baie maklik negatief, wreed, gewelddadig en onredelik omdat hulle ons so geweldig kwaad kan maak.

Wanneer ons dink alle gedrag kan “reggestraf” word, word ons ouerskap te negatief. Ons roosboompies straf ons graag en ons eerste instink is om terug te straf. Hulle het egter nie net ’n lat nodig nie, maar ook ’n staf.

Herders het ’n stok gebruik om skape te piets en te beskerm en ’n staf om hulle terug te “haak” op die pad. Party van ons kan net stokke swaai. Ons moet leer hoe om die staf te gebruik. Die staf verteenwoordig deernisvolle beheer en versigtige begeleiding in die regte rigting.

Kliek hier vir jou uitdrukbare praktiese plan vir dissipline.

Hoe moet ons met ons roosboompies praat?

  • Wees seker van jouself – hulle soek die gat in jou mondering. As jy histeries moet wees om die punt te maak dat jy ernstig is, is jou gesag maar dun. Wees kalm wanneer jy praat en moenie vra nie – sê!
  • Maak seker hulle verstaan die doel van jou opdrag. Roosboompies voer nie opdragte uit “omdat jy so sê” nie, maar omdat hulle die sin daarvan kan insien. As jy vermoed hulle weerstaan ’n opdrag omdat hulle nie hierdie doel verstaan nie, vra: “Weet jy waarom ek hierdie opdrag gee?”
  • As ’n roosboompie nie luister nie en jy is lus om te skree, kom tot by haar, hou haar gesiggie tussen jou hande en sê sag maar duidelik wat jy verwag. Dis moeilik om jou daarna nog te ignorer.

Dit is ook nie vir roosboompies lekker wanneer jy so aan hulle vat nie. Dit dien dus sommer as aansporing om liewer die eerste keer te luister.

  • As jy baie kwaad is, sê dit vir hulle sodat hulle nie onwetend ’n landmyn aftrap nie. Moenie skree nie – sê eerder iets soos “Ek begin nou kook” of “Daar is woorde in my kop wat ek liewer nie wil sê nie”. Dit help die roosboompie om te weet dat die afgrond te naby is vir nog ’n dansie.
  • As hierdie alternatief vir skree nie werk nie, is daar ander: Gebruik ’n gebaar soos om te frons en na die nat handdoek op die vloer te wys. Omdat jy nie skree nie, gaan jou kind waarskynlik nie terugskree nie.

Wanneer jy egter skree, kan jy ’n ewe heftige reaksie verwag. Dit is baie makliker om ons handgebare as ons tong te beheer, is dit nie so nie?

  • Wees direk en ondubbelsinnig. Dit beteken dat jy nie samewerking moet vra nie, maar eerder ferm maar vriendelik daarop moet aandring: “Kom pak saam met my die skottelgoedwasser uit, asseblief”, werk beter as die apologetiese: “Wil jy nie asseblief kom help met die skottelgoedwasser nie? Ek het soveel ander werk.”
  • Wees kort en kragtig – kom tot die punt. Dit irriteer roosboompies wanneer iemand koes-koes aankom met ’n opdrag soos: “As dit jou nie te veel sal pla nie, en jy het dalk ’n kansie wanneer jou ander werkies klaar is, sal dit my op hierdie baie besige dag regtig help as jy kans sien om die skottelgoedwasser uit te pak.”
  • Hou dit onpersoonlik en onemosioneel. Dit is veral belangrik wanneer jou roosboompie ongeskik is. Ons wil dan ewe skerp reageer met iets soos: “Wie dink jy is jy om so met my te praat? Ek is jou ma!”

Wat baie beter werk, is kalm woorde soos: “Ek hoor jy is woedend. Ons kan verder gesels wanneer jy en ek albei rustig is, want jy is nou ongeskik.” Wanneer ons roosboompie ongehoor­saam is, moet ons ook onpersoonlik en onemosioneel die gevolge aankondig.

Sê: “Dis jammer dat jy gekies het om weer jou karre in die gang te los. Soos ons ooreengekom het, gaan ek dit nou ongelukkig ’n week lank moet bêre,” eerder as “Ek kan nie glo jou karre lê alweer in die gang nie. Hoeveel keer moet ons daaroor praat? Nou moet jy maar voel. Ek vat jou karre, en moenie eers probeer kerm om hulle terug te kry nie!”

  • Stel jou opdragte sover moontlik as positiewe uitdagings: “Kom ons kyk of jy al daardie blokkies sonder hulp op die regte plek kan bêre. Ek gaan op my oorlosie kyk hoe vinnig jy dit kan doen.” Dit werk baie beter as die dreigement: “Ek gaan oor vyf minute kom, en die hemel help jou as ek ’n blokkie op ’n verkeerde plek kry!”
  • Wanneer jou kind begin verstand kry – rondom ses jaar – kan jy baie aankon­digings begin inruil vir gesprekke.

Voordat jy ’n rigiede reël aankondig (“Elke middag vyfuur moet jou fiets aan die pyp agter die kombuis vasgesluit wees, anders verloor jy jou fietsryvoorreg”), is daar ander paadjies om te volg wat vir jou roosboompie sal wys dat jy hom of haar wil respekteer en in ag neem.

Stel die probleem. “Daar is al twee fietse uit die voortuin gesteel hierdie jaar. Ons kan nie bekostig dat dit weer gebeur nie.” Vra ’n voorstel van ’n oplossing: “Hoe kan jy verseker dat dit nooit weer met jou fiets gebeur nie?” Gee kans vir ’n paar idees.

Vra vrae as die oplossing nog nie aanvaarbaar is nie: “Hoe gaan jy dit elke dag onthou? Hoe laat dink jy is die beste tyd daarvoor? Watter voorreg is regverdig om te verloor wanneer jy nie jou fiets op daardie manier oppas nie? Wat gaan jy doen as dit nie werk nie en jou fiets word wel gesteel?”

  • Maak ’n positiewe aanname dat jou kind gehoorsaam gaan wees, deur die woord “wanneer” te gebruik in plaas van die woord “as”. Byvoorbeeld: “Wan­neer jou huiswerk klaar is, mag jy maar daardie fliek gaan kyk wat jy so graag wil sien.”

Dit is baie meer positief, en spreek die verwagting uit dat jou kind gehoorsaam gaan wees. “As jy die fliek wil sien, sal jy jou huiswerk moet klaar­maak,” kan vir ’n roosboompie na ’n streep in die sand klink en hom laat antwoord: “Ek stel anyway nie belang in die stupid fliek nie!”

  • Moenie aanvallend kommunikeer as jy dit kan verhelp nie, want dit ontketen net redenasies en verskonings en moedig nie gehoorsaamheid aan nie.

Hoe kan ons beter na ons roosboompies luister?

  • Gee jou ouer roosboompie ’n regverdige kans om ’n standpunt te stel. Daar mag egter streng reëls wees, soos dat dit sonder beskuldigings, beledigings en met ’n vriendelike stem moet gebeur.
  • Moenie te gou reageer nie, en maak seker jy verstaan die kind reg deur terug te sê wat jy gehoor het, byvoorbeeld:

“Dit klink vir my jy sê ons was altyd strenger met jou oor slaaptyd as wat ons nou met kleinsus is, en jy dink dit is onregverdig? Jy wil nou hê ons moet daarvoor opmaak deur kwaaier met sussie te wees en toegeefliker met jou. Is dit wat jy bedoel?”

Daarna kan jy jou redes gee waarom jy met jou kind se voorstel kan of nie kan saamgaan nie.

  • Verstaan dat roosboompies kripties en taktloos kan oorkom en korrigeer dit gerus, maar moenie persoonlik raak of onnodig sensitief wees daaroor nie. Hulle bedoel nie om ongeskik te wees nie.
  • Vra gerus vrae om seker te maak jou roosboompie kan sien jy wil verstaan en wanneer jou roosboompie vrae vra, moet dit nie persoonlik opneem nie.
  • Luister versigtig want roosboompies hoop jy sien nie deur hulle manipulasie­tegnieke nie. Wees bedag op hulle vermoë om op jou skuldgevoel te speel!