[ROOSBOME] LES 16 – Nog dinge wat roosboompies geleer moet word

Hier volg nog ’n paar lewensbeginsels wat spesiaal aandag moet kry wanneer dit by roosboomkinders kom.

Werk aan ’n roosboompie se emosionele intelligensie

Bemagtig jou roosboompies deur vir hulle te verduidelik wat emosies is – ’n gevoel binne-in ons wat ons op verskillende maniere kan wys of laat “uitkom”. Ons kan dit verkeerd of reg laat uitkom – met gesigsuitdrukkings, met aksies en met woorde.

Ons kies self hoe. Wanneer ons dit verkeerd laat uitkom, kry ons of ander mense seer. Wanneer ons dit reg laat uitkom, voel ons beter en niemand kry seer nie.

Leer vir jou kinders sover moontlik emosies se name en hoe om dit in hulleself en ander raak te sien. Caron Goode, ’n Amerikaanse kinderspesialis en skrywer, sê om emosies te benoem, is die eerste stap in die hantering daarvan.

Daar is verskeie spele­tjies waardeur ’n mens voorskoolse kinders hiermee kan help. Hulle kan raai wat die emosie is wat jy op jou gesig probeer uitdruk en hulle kan jou laat raai deur hulle gesiggies te verander.

Ons kan ook stories gebruik en die kinders vra om die karakters se emosies te probeer uitbeeld. Om karakters op TV saam dop te hou, is ’n goeie manier om hierdie vaardighede aan te leer

Bespreek met jou kind die maniere waarop mense emosies ontlaai (“laat uitkom”). Ontwik­kel jou kind se oordeel oor goeie en slegte ontladings.

Vra byvoorbeeld: “Wat dink jy daarvan dat die vrou die glas teen die muur stukkend gooi? Wat het sy gevoel? Hoe dink jy voel sy nou? Hoe gaan sy later voel wanneer sy dink oor haar optrede? Wat sou ook gewerk het om haar beter te laat voel – watter woorde of aksies?”

Leer jou kind dat woorde beter werk as geweld wanneer ’n mens kwaad is en dat kalm woorde weer beter werk as kwaai woorde. Wanneer roosboompies byvoorbeeld kla iemand gooi hulle van die springkasteel af, kan ons hierdie raad gee vir die hantering van hulle eie woede in reaksie daarop:

“Jy is kwaad want dit is regtig onregverdig. Natuurlik mag jy ook spring. Jy moet vir die maatjie in die oë kyk en sê dat die springkasteel vir almal daar is en dat jy ook gaan spring. As die maatjie aanhou daarmee, gaan jy jou ma roep. As jy daaroor skree of die maatjie dreig dat jy hom ook gaan afgooi, gaan dit ’n bakleiery word. Dis nie nodig nie.”

Leer jou kind die tekens lees van hulle eie emosies, veral van woede. Party kinders voel warm in hulle kop, styfheid in hulle ruggie of maag, voel hulle tande op mekaar byt, hulle lippe saampers of ’n brandgevoel in hulle keel. Party se vuisies bal.

Jou kind moet haar eie waarskuwingstekens kan erken voordat die emosie buite beheer raak, want as sy ’n tegniek kan leer om daardie fisieke simptoom om te keer, kan sy ’n volskaalse ontploffing voorkom.

Oefen speel-speel tot julle maniere kry om die emosiestroom om te keer. Probeer diep asemhaling, om te gaan sit of jou oë toe te maak, tot tien te tel, weg te loop, hard te sê: “Ek is nou kwaad!” of doelbewus die gespanne liggaamsdeel te ontspan.

As jou kind sukkel om haar eie voorlopers tot woede te herken, kan jy haar help deur te sê: “Ek hoor jy praat al hoe harder soos voordat jy begin skop.” of “Ek sien jy gaan staan teenaan sussie soos voordat jy wil byt.”

Stel dan iets voor soos: “Dalk moet jy vir ’n kort rukkie buitetoe gaan, en dan weer terugkom wanneer jy sagter kan praat.” of “As jy verder van sussie af staan, sal jy haar nie seermaak nie. Kom staan hier langs my, dan vra jy haar mooi vir ’n beurt op die skopfiets.”

Bemoedig ’n kind wat regtig beheer verloor het, want roosboompies haat dit eintlik om beheer te verloor en voel soms magteloos teen hulle emosies. Gebruik suggestie om hulle te herinner dat hulle eintlik hulle emosies kan beheer en spreek die vertroue uit dat hulle beheer gaan terugwen.

Sê iets soos: “Wanneer jy ouer is, gaan die kwaad jou vinniger los; oor ’n klein rukkie gaan jy dit regkry om die huil self weg te jaag; sodra jy moeg gehuil is, sal jy sien jy kan self ophou; wanneer die brandgevoel in jou kop weg is, gaan jy kan rustig raak en ophou skop; wanneer jou nekkie nie meer so styf is nie, gaan jou hele lyfie sag word en dan gaan jy beter voel.”

Leer vir jou roosboompies selfspraak waarmee hulle hulleself deur ’n emosionele situasie kan help. Hulle kan saggies of in hulle gedagtes sê: “Ek gaan nou-nou beter voel. Ek hoef nie kwaad te word nie. Ek kan dit hanteer. Niemand gaan my onderkry nie. Hierdie gevoel is nie my baas nie. Die huil gaan my nie wen nie.”

Kinders kan selfs geleer word om met hulle emosies te praat. My roosboompie kan sy kwaad wegjaag en binne minute honderd persent kalm raak. Hy sê sommer kliphard: “Gaan weg, kwaad en moenie weer terugkom nie! Kyk, nou voel ek beter!”

Laat kleuters ’n denkbeeldige voorwerp wat die emosie voorstel, weggooi of vernietig. My roosboompie het al baie effektief van onaangename emosies ontslae geraak deur die denkbeeldige “bol kwaad” of “huil” by die karvenster uit te gooi, in die bad te verdrink en in ’n kersvlam te laat verbrand.

Hy het ook al ’n huil flenters getrap, middeldeur gebyt of in ’n kas toegemaak. Dit is ’n baie praktiese manier om vir kleintjies te help om hulle emosie los van hulleself te sien, as iets waaroor hulle beheer het.

Leer jou kind om te redeneer oor ander mense se gevoelens. Kinders moet kan voorspel watter emosies hulle optrede by ander mense sal wakker maak. Hierdie soort gesprekke kan nie in die hitte van ’n emosionele oomblik plaasvind nie, maar eerder terloops in die kar of saans in die kamer. Dit maak ook uitstekende geselsmateriaal aan etenstafel.

Vra hulle eenvoudige vrae: “Hoe voel ’n maatjie wanneer ons nie met hulle wil speel nie? Hoe voel Pappa wanneer jy die kos neergooi wat hy vir jou aangee? Hoe voel Sussie wanneer jy weier om uit haar kamer te gaan selfs al huil sy al? Wat het gebeur dat die maatjie wat nou-nou nog lekker saam met jou gespeel het, skielik so kwaad is vir jou? Wat dink jy het Mamma so laat skree toe jy oor die straat gehardloop het?”

As jou roosboompies oud genoeg is, en jy braaf genoeg, kan jy waag om te vra dat hulle kommentaar lewer op hoe jy jou emosies hanteer. Dit help ons om nie tweegesigte te word wat van ons kinders selfbeheersing verwag, terwyl ons soos ’n hondsdol Rotweiler sonder leiband skuim-om-die-mond rondhardloop en “klein hondjies byt” nie.

Probeer woede uitbarstings voorkom en hanteer proaktief

Nog voordat ons oor woedehantering praat, moet ons besef dat baie woede uitbarstings voorkom kan word as ons verstaan hoe ons spesifieke kind “aangeskakel” word. Is dit moegheid, honger, lawaaierige publieke plekke, te veel mense of hitte wat my kind laat uitrafel?

As ek dit weet, kan ek hom help om sy snellers beter te hanteer en ek kan selfs probeer om die snellers te voorkom. Gee byvoorbeeld vir jou kind iets om in die kar op pad winkel toe te eet sodat die bloedsuikervlakke reg is voordat julle by die lekkergoedrak moet verbystap.

Gaan huis toe sodra jy die eerste tekens sien dat jou kleuter oorgestimuleer raak van al die maatjies wat luidrugtig om hom speel. Laat jou kind iets koels aantrek voordat julle ’n lang rit in die kar aandurf.

Hanteer elke woede uitbarsting; moet dit nie ignoreer nie. Wanneer ons woede ignoreer, stuur dit een van drie boodskappe aan die kind: “Jy gaan nog harder moet te kere gaan om jou boodskap aan my oor te dra.” of “Ek gee nie om hoe jy voel nie.” of “Dit maak nie saak hoe jy woede hanteer nie.”

Die eerste boodskap gaan jou kind erger maak, die tweede gaan jou kind seermaak en die derde gaan jou kind verhinder om emosioneel te groei. So gee jy jou kind geen geleentheid om te leer nie.

Erken en reflekteer heel eerste die emosie en hanteer later die gedrag, want wanneer ’n roosboompie kan sien jy verstaan hoe hy voel, sal hy vinniger met sy onaanvaar­bare gedrag kan ophou. Roosboompies sal aanhou totdat hulle hulle boodskap oorgedra het.

Sê byvoorbeeld: “Ek kan sien jy is nou woedend vir die maatjie wat jou fiets gevat het sonder om te vra.” of “Jy is nou ontevrede met my besluit, want jy voel dis onregverdig.” of “Jy is nou baie verneder deur wat hy gesê het.”

Sê dan duidelik wat omtrent die gedrag onaanvaarbaar is: “Maar jy weet jy mag nie byt nie.” of “Maar jy gaan nie wegstorm en deure klap nie.” of “Maar dit gee jou nie die reg om te vloek nie.” Gee die alternatief: “Jy gaan jammer sê en dan vra of jy jou fiets kan terugkry.” of “Jy gaan bly sit en wanneer jy kalm is, mag jy vrae vra oor my besluit.” of “Jy mag wel sê hoe seer sy woorde jou maak.”

As die situasie heeltemal buite beheer is en jou kind kan nie nou na jou luister of sy gedrag stopsit nie, moet jy fisies ingryp en hom uit die situasie verwyder. Dit geld natuurlik kinders onder tien. Dit behoort buitendien nie meer daarna nodig te wees om so drasties in te gryp nie.

Eers wanneer almal kalm is, kan ’n mens dan daaroor praat. Heel eerste moet jou kind om verskoning vra aan dié wat deur sy uitbarsting geraak is. Daarna moet jy en jou kind die uitbarsting soos hierbo deurwerk.

Dit werk baie goed om dit saans met slaaptyd te doen, want selfs roosboompies klim nie met gelaaide gewere in die bed nie. Sê vriendelik en kalm iets soos: “Jong, daardie geveg tussen jou en Sussie oor die ballon was nogal erg! Ek het eintlik geskrik toe jy haar stamp. Hoekom dink jy het dit so wild geraak?”

Dan gesels ons oor die emosies, die onaanvaarbare en die aanvaarbare hanterings daarvan. Ons behoort die outjie in so ’n gesprek te lei tot by ’n oplossing wat volgende keer in ’n soort­gelyke situasie beter kan werk, byvoorbeeld deur te sê:

“Sussie, ek gaan jou ’n klein rukkie met die ballon laat speel, maar dan moet jy my ballon teruggee.” As sussie dit nie gee nie, moet hy ’n volwassene roep.

Berei jou kind voor wanneer ’n plofbare situasie op hande is. Wanneer jy weet dat jou kind binnekort in ’n situasie gaan wees waarin hy gewoonlik ontplof, waarsku hom sodat hy kans het om homself te staal en aan jou en homself kan bewys dat hy nie beheer hoef te verloor nie.

As jy byvoorbeeld toevallig hoor dat die skeidsreg­ter wat die vorige week ’n strafdoel teen jou kind toegeken het, weer op die veld gaan wees, is dit beter om hom vooraf te vertel: “Ek het nuus wat jou dalk kan laat vloek. Dit gaan vir jou eie beswil wees om dit so goed te vat as wat jy kan. Meneer Ferreira blaas vandag se wedstryd.”

As jou kind ’n geskiedenis het van histerie elke keer wanneer julle by sy kwaai oom moet gaan kuier, kan ’n bietjie voorbereiding ver gaan: “Ek gaan nou vir jou iets sê wat jou gewoonlik woedend kwaad maak. Probeer nou om kalm te bly. Wys my jy is nou groter as toe jy altyd so kwaad geword het …

“Is jy gereed? (Wag vir hom.) Ons gaan drie dae lank by oom Dennis kuier … (Kyk na die reaksie.) Wow, jy skree nie daaroor nie! Jy het kalm gebly. Ek sê jou wat, omdat jy nou nie daaroor raas nie gaan ons seker maak ons gaan na jou gunstelingspeelplek sodra ons terug is van die Vrystaat af.”

Wees bedag op deurlopende aggressie en soek die wortel

Wanneer ’n kind oënskynlik aanhoudend aggressief is, moet ons eerstens probeer vasstel wat die rede is. Baiekeer is aggres­sie roosboompies se reaksie op ’n situasie wat hulle buite beheer laat voel, of ’n reaksie op iemand se aggressie teenoor hulle.

’n Kind wat byvoorbeeld te streng hanteer word, geen keuses mag maak of besluite mag neem nie, sal ongetwyfeld aggressief wees. Party­keer is dit hulle onbeholpe manier om onbevredigde behoeftes te hanteer.

Dan moet ons dalk die lysie van wat hulle moet hê om te floreer, gaan lees en die leemtes aanspreek! Dalk is die aggressie die effektiefste manier om ons andersins onbeskikbare aandag te trek.

Dan behoort ons te weet wat om te doen – ons moet tyd maak om positiewe aandag te gee wanneer ons kind dit nie eers vra nie.

Intussen moet ons aanvaarbare maniere van ontlading voorstel. Die beste is om voor­komend aggressie te ontlaai, met ander woorde wanneer die kinders (nog) nie kwaad is nie. Vir klein roosboompies is daar baie speletjies of vinnige eenvoudige aksies wat hiermee kan help.

Maak daarvan ’n kompetisie of daag hulle uit om dit op hulle hardste, vinnigste, verste of langste te doen:

  • Laat hulle iets onbreekbaars soos ’n bal klei hard en aanhoudend teen die grond gooi.
  • Laat hulle iets slaan, soos ’n bokssak, ’n kussing of ’n boontjiesak.
  • Gee vir hulle iets om te kap, soos ’n speelgoedhamer en houtspykers.
  • Laat hulle ’n koerant aan flarde skeur of die bladsye opfrommel en jou daar­mee bestook.
  • Laat hulle teen jou ’n swaardgeveg hou met opgerolde koerantpapier.
  • Kies iets in die agterplaas wat hulle mag gaan skop, byvoorbeeld ou motorbande, kartondose of ’n goiingsak vol gras of blare.
  • Stoei met jou roosboomseuntjie.
  • Hardloop teen hulle resies.
  • Kyk wie kan die hardste skree.
  • Laat hulle voete stamp, op en af spring en arms swaai.
  • Dink aan al die destruktiewe werkwoorde en soek ’n aanvaarbare voorwerp wat hulle so mag vernietig sodat hulle daardie negatiewe energie kan ontlaai: skop, slaan, kap, skeur, neergooi, sny, skiet, opfrommel, uitrek, in twee breek, dood­krap met ’n dik pen, stukkend trap, bars of verbrand (natuurlik onder toesig!).

Modelleer gepaste hantering van woede wat nie seermaak nie

Woede moet as sonde bely word wanneer dit ander mense seermaak. Ons wil hê dat ons kinders verantwoordelikheid vir hulle emosies moet aanvaar. Ons moet hierin vir hulle ’n voorbeeld stel.

Ons moet soms sê “Ek is jammer dat ek nou so ontplof het aan tafel. Vergewe my. Ek moes liewer eers in my kamer gaan afkoel het. Dis nie julle skuld dat ek kwaad is nie.”

Ons kan ons kinders leer dat woede in stryd is met die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22). Ons mag (en moet) daarom wanneer ons so kwaad word, vir die Here vra om ons woede weg te neem en ons harte vol van sy vreugde, vrede, selfbeheersing en liefde te maak. ’n Mens wat bly, tevrede, selfbeheersd en liefdevol is, kan nie sommer woedend ook wees nie!

Moenie al jou woede agter geslote deure hou nie. Ons kan ons kinders baie oor woedehantering leer wanneer ons soms voor hulle ons verskille op ’n voorbeeldige manier oplos.

Daar mag uit die aard van die saak geen uitbarstings of fisieke geweld voor die kinders afspeel nie, want dit vernietig hulle gevoel van geborgenheid wanneer hulle ouers werklik rusie maak.

Daar is egter soveel strategieë wat ons ons kinders kan leer wanneer ons ons kleiner verskille voor hulle oplos. So kan hulle leer dat net een persoon op ’n slag kan praat en dat ’n mens kan sê wat jy bedoel sonder om te skree, te byt, te vloek of te skop.

Ons eie aggressie het ’n groot impak op ons kinders s’n. Hulle leer hantering van emosies in die eerste plek by ons. Baie roosboomouers kla oor hulle kinders se uitbars­tings maar verskoon hulle eie ontploffings deur dit “’n kort draad” of “stres” te noem.

Ons moet nie verskonings maak vir ons woede nie, ons moet verantwoor­delikheid daarvoor aanvaar en soos ek hierbo verduidelik het, aanvaarbare alter­natiewe of ontladingsmeganismes vind.

Ons moet ook ons eie snellers leer ken, byvoorbeeld om buite beheer te voel of om moeg of oorwerk te wees. Ons moet ’n plan gereed hê om ons emosies beter te hanteer en verkieslik teenoor iemand aanspreeklik wees wat kan monitor of ons ons woedeprobleme reg hanteer.

Maak ’n huisreël dat niemand na ’n geskree hoef te luister nie. Wanneer iemand histeries of beledigend raak, mag die ander wegloop. Die tafel en kar is bakleivrye sones ter wille van spys­vertering en padveiligheid, daarom sal niemand aan tafel of in die kar skree nie.

Die oortreder sal gevra word om die tafel te verlaat en in die kamer te gaan afkoel (ek moes al, want onthou dit geld die ouers ook!) en die een wat in die kar baklei, sal met terugkoms tuis alleen in die kar sit vir net so lank as wat die konflik in die kar geduur het.

As dit sou lyk asof die aggressie erger word of glad nie verbeter nie al doen jy jou bes om dit soos hierbo te hanteer, moet ’n professionele persoon se hulp ingeroep te word. ’n Goeie beginpunt kan julle huisdokter wees, wat ’n verwysing kan maak.

Speltera­peute is myns insiens die beste keuse wanneer ’n jong kind hulp met aggressie benodig. Hulle is opgelei om jou as ouer en jou kind deur hierdie fase te help.

Ons roosboompies leer die beste wanneer …

  • hulle self keuses maak en die gevolge dra
  • hulle uitgedaag word om self oplossings te vind
  • hulle alleen ’n taak op ’n probeer-en-tref-manier uitvoer
  • daar op die positiewe gefokus word
  • daar ’n duidelike doelwit is waarmee hulle identifiseer
  • hulle as waardevolle mense in eie reg hanteer word
  • die ouer ruimte gee en nie heeltyd oor hulle skouer loer nie
  • die “les” kort en kragtig en prakties is
  • hulle ’n uitdaging en beloning in die taak kan sien
  • die ouer vertroue in hulle vermoëns en sukses uitspreek
  • hulle ’n rolmodel het vir wie hulle respek het.

Dit is hieruit seker duidelik genoeg dat roosboompies nie aan die hand gelei wil word nie. Dis moeilik om hulle iets nuuts te leer, want wanneer ons te naby kom, word hulle vies.

Die suksesvolle benadering met hulle werk amper soos ’n klimtol – ons sê vinnig ons sê en dan laat gaan ons die outjie om sonder ons toesig te gaan probeer. As dit nie goed werk nie, gee ons ’n ligte terugplukkie sodat ons weer kan verduidelik en dan gee ons weer skiet … elke keer ’n bietjie meer.

Ek glo die grootste uitdaging in die opvoeding van roosboompies is om daardie ritme reg te kry – vryheid, verantwoordelikheid, vryheid, verantwoordelikheid … Hulle kan wonder­like kinders wees as ons baie van hulle verwag, maar ook leer om namate hulle ouer en verantwoordeliker word, baie toegewings te maak.