[ROOSBOME] LES 15 – Wat roosboompies by jou moet leer

Daar is ’n paar areas waar roosboompies hulle ouers se doelgerigte begeleiding nodig het.

Om op niemand neer te sien nie

Roosboompies het gewoonlik ’n amper arrogante hoeveelheid selfvertroue en sien nie hulle eie swak­hede raak nie. Hulle sien wel ander s’n baie duidelik en verag maklik dié wat swakker, kleiner, stadiger of anders as hulle is.

Doen moeite om hulle te leer dat elkeen waarde, gawes en ook swakhede het. Dit maak niemand beter as ’n ander nie.

Om ander se gevoelens, behoeftes en standpunte te respekteer

Wanneer roosboompies seker is van hulle saak, verdedig hulle dit met mening en soms raak hulle sommer ongeskik. Hulle moet geleer word om te verstaan dat al hulle aksies en woorde ander mense raak.

Leer roosboompies om nie hulle opinies kwaai te verdedig nie, maar net met respek te sê “ek stem nie saam nie” of “dis nie wat ek gesien het nie.” In plaas daarvan om vir iemand te skree dat hy verkeerd is, kan ouer roosboompies eerder vrae leer vra soos “Hoekom sê jy so?” of “Waarom dink jy dis beter op jou manier?”

Roosboompies moet aanvaar dat hulle soms moet vrede maak met ’n situasie waar niemand wen nie, maar elkeen geregtig is op sy opinie.

Om ander se behoeftes beter te verstaan, kan ’n mens kort-kort vir ’n roos­boompie vra: “Wat dink jy wil hy graag hê?” of “Waarom dink jy huil Sussie nou?” of “Wat dink jy het hulle nodig?”

Stel hulle ook bloot aan mense in nood, soos armes, siekes en oumense. In ons samelewing word behoeftiges so weggestoot of beledig (dink maar aan almal op die straathoeke) dat ons kinders maklik afgestomp kan raak of hierdie mense as minderwaardig kan beskou.

    

Om “nee” vir ’n antwoord te aanvaar

Ouers van roosboompies weet maar al te goed hoe hierdie klein woordjie – “nee” – die hekke van die hel kan laat oopswaai. Roosboompies haat dié woord en reageer daarop soos ’n bul op ’n rooi vlag. Hulle ruk al die wapens tot hulle beskik­king uit: skree, val, skop, slaan, byt, beledig, dreig of gooi iets rond. Hierdie gedrag is hulle manier van manipulering.

Verduidelik aan jou kind in eenvoudige terme wat die woord manipulasie bete­ken: “Manipulasie is wat jy doen wanneer Mamma nee sê, en jy wil hê ek moet ja sê. Jy skop en skree.”

Verwerp die manipulasie, en sê duidelik dat dit nie gaan werk nie en wat die gevolge daarvan gaan wees: “Wanneer jy Mamma probeer mani­puleer deur so te skop, gaan ek beslis nie vir jou gee wat jy wil hê nie. Dit is ons manipulasiebelofte: jy sal nie kry waarvoor jy skree nie. As jy in die winkel skree vir lekkertjies, gaan jy nie vandag of môre lekkergoed mag eet nie.”

Wanneer die manipulasie dan weer voorkom, sê jy kalm: “Daar doen jy nou wat Mamma vir jou verduidelik het. Jy skree want jy wil Mamma se “nee” in ’n “ja” verander. Dit is mos manipulasie.

“Nou moet Mamma die belofte hou. Jy sal nou nie vandag op die dinosourus ry nie. Wanneer ons weer hiernatoe kom, sal ons sien of jy weer manipuleer. As jy nie weer so gil nie, sal jy volgende keer kan ry.”

Daarmee is dit dan afgehandel. Selfs al kom die gedrag op die plek reg, is vandag se kans ongelukkig verby. Onder geen omstandighede mag ons ingee wanneer daar manipulerende gedrag was nie, selfs al was die gedrag net ’n kermstem, hang­skouertjies en ’n sug of ’n rol van die oë.

Selfs sulke meer subtiele manipulasie­tegnieke moet uitgewys, verwerp en verbreek word deur seker te maak dat dit nooit slaag nie.

Verduidelik elke keer vir jou kind die alternatiewe gedrag wat wel kan werk, byvoorbeeld: “As jy in jou vriendelike stem met my praat, sal ek na jou luister, maar wanneer jy so ongeskik praat, gaan die antwoord altyd nee bly.”

Om te onderskei tussen hulle domein en ouers s’n

Roosboompies moet iewers die septer swaai, maar totdat hulle heelwat ouer is, is dit ons as ouers wat besluit waar hulle koninkrykie begin en eindig. Ons moet vir hulle duidelik maak waar hulle grondgebied is en waar ons grondgebied is.

Ons kan die magstryd vir beheer aan tafel as voorbeeld gebruik. Dr. James Dobson waarsku natuurlik dat ouers tafelgevegte versigtig moet kies omdat ons hulle nie maklik wen nie.

Gestel ’n roosboompie kom loer in die kombuis rond voor ete, en kondig aan: “Dis nie lekker kos nie. Ek haat boontjies en ek haat daardie bruin hoender met die sous.”

Ons moet dan ferm en in duidelike taal sê: “Mamma besluit watter kos jy kry. Ek kies kos wat jou lyfie sterk maak. Dit is my werk. Mamma moet sorg dat jy gesond bly.” Dan skep ons daardie “gehate” kos in elk geval in en verduidelik wat hulle grondgebied behels:

“Jy kan kies waarvan jy eerste eet, en hoeveel happies jy altesaam gaan eet, solank jy ten minste een happie van elke kossoort eet. Elkeen het ’n ander kleur omdat groen kos, oranje kos, wit kos en bruin kos verskillende werk in jou lyfie doen.

“Wit kos gee krag vir speel en werk, geel en groen kos gee vitamiene en vesel wat jou lyfie soos ’n besem skoonvee en bruin vleis of vis bou jou spiere. Jy gaan self besluit hoe sterk jy wil word vandag. Dit is jou werk.”

Nog ’n voorbeeld sou wees: “Mamma moet sorg dat jy warm genoeg aangetrek is sodat jy gesond bly. Daarom gaan ek jou ’n trui laat aantrek. Dit is my werk. Ek gaan my werk doen want ek wil ’n goeie mamma wees. Jy het vyf truie waarvan jy een kan kies. Dit is jou werk.”

Om met grasie te verloor, met nederigheid te wen

Ai, dis ’n taai ene hierdie! Roosboompies het al baie bordspeletjies van die tafel af gevee die oomblik wanneer hulle nie meer voorloop nie en hulle eie spanmaats aangerand wanneer dié ’n foutjie op die veld begaan.

Wanneer hulle verloor, kan hulle knaend aanhou verduidelik waarom dit onregverdig was en nie regtig tel nie. Wanneer hulle natuurlik wen, kan hulle net so aanhoudend sout in die verloorder se wonde vryf. Hoe gemaak om hierdie potensieel lelike karaktereienskap te verbeter?

Ons moet ons roosboompies baie aan kompetisie blootstel en daardie geleent­hede soms manipuleer om te verseker dat hulle nie elke keer kan wen nie. Gesels vooraf oor goeie sportmangees:

“Onthou jy wat jy graag doen wanneer jy wen? Jy steek tong uit vir die ou wat verloor. Wat kan jy doen om te wys jy is bly, sonder om die verloorder sleg te laat voel?” of “Jy gaan weer vandag teen daardie vinnige outjies hardloop. Verlede week het jy die kind langs jou gepootjie toe hy jou wou verbysteek, en geskree. Wat gaan jy vandag doen as iemand jou weer verbysteek?”

Om foute te erken en vergifnis te vra

Roosboompies erken moeilik skuld of foute. Ons moet baie ferm wees in ons hantering hiervan omdat ons hier met ’n karak­terfout te doen het. Ons moet weier om aan te beweeg voordat hulle hierdie belangrike reël gehoor­saam.

Hulle mag byvoorbeeld nie verder speel voordat hulle jammer gesê het vir die seermaak van ’n maatjie nie; hulle moet eers vir die res van die gesin om verskoning vra vir wat hulle aan tafel geskree het voordat hulle verder kan kom eet; hulle moet eers teenoor Pa erken en verduidelik hoe hulle die kar geskraap het, voordat hulle weer die kar kan gebruik.

Soms moet ons die bewoording van hulle verskoning selfs vir hulle voorskryf. Dis nie goed genoeg om net “sorry” te prewel nie. Die verskoning moet so be­woord wees dat daar geen onduidelikheid is nie: “Sussie, ek is jammer ek het jou van die trap afgestamp.” Daar mag nie ’n stertjie soos “maar jy was stadig en in my pad” wees nie.

Om met deernis en sonder uitbuiting leiding te neem

Roosboompies kan mag en beheer oor ander so baie geniet dat hulle heeltemal vergeet hoe dit voel vir die mense oor wie hulle so baas speel. Namate roosboom­pies ouer word, kan ons Skrifgedeeltes oor empatiese leierskap met hulle bespreek sodat hulle kan sien watter soort leiers in God se oë tel. Doen dit gerus aan die hand van Esegiël 34:1-10.

Om met respek en takt te praat

Roosboompies praat dikwels kripties en amper ongeskik: “Ek soek brood. Waar is my geskenk? Ek wil nie daai kos hê nie. Gaan weg. Moenie met my raas nie. Gee vir my ook.”

Ons moet hulle afrig om meer aanvaarbaar te praat. Hulle moet letterlik oefen om eers die persoon se naam te sê, dan met asseblief en dankie ’n beter verhouding aan te knoop en ’n sagter stemtoon te gebruik as hulle boonop geneig is om te blaf.

Ons het ’n kodefrase – probeer weer – wat beteken dat ek jou gehoor het en graag wil reageer, maar dat ek dit nie kan doen wanneer jy so met my praat nie. Jy sal ander woorde moet kies of jy sal jou vriendeliker stem moet gebruik.

Om as spanlid onder ’n ander leier te werk

Dit is een van die moeilikste leerskole waardeur roosboompies moet gaan – volgelingskap is nie in hulle bloed nie. Muitery is wel!

Ek glo die gesin is presies die plek om dit te leer. Pa en Ma is die leiers wat gevolg moet word, die boeties en sussies is die spanlede. Om dus te verwag dat die ouers met respek en gehoorsaamheid hanteer word, en boeties en sussies met liefde en regverdigheid, is die fondasie.

As roosboompies nie vroeg in hulle lewens gesag leer aanvaar nie, is daar waarskynlik ’n moeilike toekoms voor hulle deur. Hulle gaan immers vir die res van hulle lewens gesagsfigure bo hulle en kollegas langs hulle hê, en as hulle teen al hierdie persone gaan rebelleer, gaan hulle dikwels ernstige moeilikheid teëkom.

Hiermee saam moet hulle in sosiale situasies dopgehou word en gekeer word wanneer hulle oormatig dominerend optree. Soms moet ’n ouer ingryp en iets sê soos: “Jy was nou lank die leier in hierdie speletjie. Iemand anders moet nou ’n beurt kry om ‘aan’ te wees. Wie kies jy as die nuwe leier? Speel nou vriendelik saam met haar.”

Om ander te dien en hulp te verleen

Kies vir die roosboompies in jou huis ten minste een takie wat behels dat hulle ander mense help of dien, soos om Pappa se laatmiddagkoffie te maak, die kombuisvloer te vee, skottelgoed te was of ’n bababoetie of sussie op te pas.

Hierdie werkies sal aanvanklik weerstand uitlok, want roosboompies doen graag net dinge waaruit hulle direk voordeel kan trek. Verduidelik maar net hoe ’n huisgesin werk. Elkeen het pligte wat bedoel is om almal in die gesin te bevoordeel.

Pappa (en dikwels Mamma ook) verdien geld om vir almal kos te koop, Mamma maak vir almal kos, nie net vir haarself nie, en dies meer. Die roosboompies moet ook op hulle manier tot die hele gesin bydra.

Om voorregte te herken en te waardeer

Roosboompies, soos konings, verwag respek, diens, getrouheid, onderdanigheid, gehoorsaamheid, inskiklikheid en samewerking van almal om hulle.

Dit voel vir hulle niks minder as reg dat hulle wasgoed outomaties skoon in hulle kaste beland en hulle kos presies na smaak drie maal per dag op hulle borde beland nie. Wan­neer hierdie houding toegelaat word, ontwikkel dit in volwassenheid tot volskaalse selfsug, gemaksug en selfaanmatiging.

Ons moet dankbaarheid met mening by hulle aankweek. Dit beteken dat ons kort-kort opmerkings moet maak oor watter voorregte ons almal geniet, ’n voorbeeld moet stel waar ons aan mekaar erkenning gee vir die alledaagse dinge en ook van ons roosboompies verwag om dit te doen.

Soms is die verwydering van voorregte vir ’n roosboompie ’n wekroep. Hulle ontdek dat baie van hulle regte eintlik voorregte is.

Vandag se kinders is bederf. Ons leef in tye van vrede en voorspoed en ons het alles wat oop en toe maak. Ons kinders is oorlaai met materiële goed en genietinge. Dit is een van die grootste redes waarom kinders ondankbaar, ontevrede en veeleisend is.

Ons het die standaard van babatyd af hoog gestel en kinders verwag maar net van nature dat die standaard ten minste gehandhaaf word.Blootstelling aan minderbevoorregte kinders is een van die beste teenvoeters vir ondankbaarheid.

Dis baie maklik om ’n geleentheid te reël hiervoor. Skakel julle kerkkantoor en vra die kontaknommer vir hulle maatskaplike werker of die leiers van enige liefdadigheidsprojek. Vra hoe jy en jou kind en selfs nog ’n groepie maats en hulle ouers betrokke kan raak.

Om hulp te vra en te aanvaar

Roosbome vra nie graag hulp by ander nie. Wanneer hulle iets nie alleen kan hanteer nie, word hulle baie kwaad of gefrustreerd. As ’n mens hulle dan probeer help, kry ’n mens dikwels stank vir dank.

Dis dan wat die roosboomkleutertjies sommer hard skree: “Nee, los my! Ek sal self!” Dikwels is daar geen kans dat hulle die takie self gaan bemeester nie. Ons moet dan maar net iets sê soos: “Ek sien jy gaan weer self probeer. Ek kan saam met jou probeer as jy wil. Roep my net.”

Selfs roosboomtieners erken nie maklik dat hulle die einde van hulle vermoëns bereik het nie, want hulle is te trots. Wanneer jy egter die tekens sien, kan jy op ’n ewe kalm manier opmerk dat die taak nogal kwaai lyk, en dat jy beskikbaar is as hulle jou iets wil vra.

Leer hulle van kleins af dat dinge soms vinniger en makliker is wanneer mense saamwerk, maar moet nooit hulp op hulle afdwing nie. Wanneer iets wel vinnig moet gebeur soos dat hulle in die kar vasgegespe moet wees maar weier dat jy help, kan jy ’n tydlimiet stel:

“Jy mag eerste probeer vir twintig tellings, dan is dit my beurt om te probeer, anders gaan ons laat wees.” Tel tot twintig, neem dan jou beurt en sê: “Volgende keer kan jy weer eerste probeer.”

Om aggressie op aanvaarbare maniere te ontlaai

Roosboompies se dorings is skerp en ons kry dikwels daarmee te doen, want hulle word gereeld kwaad. Hulle kan op sulke maniere ontplof dat ons voel ons wil hulle straf, maar ons sien ook dat die strawwe dan die woede net vererger.

Baie ouers maak daarom die fout om roosboompies se woede uitbarstings te ignoreer of ten minste te aanvaar. Elke uitbarsting is egter ’n leergeleentheid wat ons moet aan­gryp as ons beplan om ’n roosboompie groot te maak wat ’n mate van beheer oor sy of haar humeur het.

Kinders ontvang nie skielik selfbeheersing as een van die geskenke op hulle agtiende verjaarsdag nie!