[ROOSBOME] LES 14 – Jou handleiding vir roosbome grootmaak

Roosboompies het soos ons almal spesifieke dinge nodig om te floreer.

’n Area van beheer volgens hulle vinnig groeiende vermoëns

Roosboompies se grootste doel is om in beheer te wees. Hulle tweede grootste doel is om groter te wees as wat hulle is. Dit is die rede vir ons gereelde botsings met hulle van kleintyd af.

As ons egter vir hulle gereeld areas van beheer kan gee, hou hulle op om ons op elke terrein tot ’n tweegeveg uit te daag. Kies juis die situasies wat gewoonlik op drama uitloop, en skep daarbinne geleenthede vir jou roosboompie om belangrik te voel. Beheer oor klein dingetjies is die sleutel.

Hulle kan byvoorbeeld baas wees van die videomasjien se afstandbeheer of die taak hê om die foon te beantwoord wanneer jy nie beskikbaar is nie.

Gee vir roosboompies verantwoordelikheid wanneer jy inkopies doen. Laat hulle die karsleutels oppas, die geldnote vir die kassiere aangee, ’n sakkie of twee dra, die inkopielysie voorlees, die trollie stoot, die kruideniersware inlaai wat jy uitwys of die goedkoopste botteltjie grondboontjiebotter uitsoek – enigiets wat hulle belang­rik sal laat voel.

Laat hulle die oorlosie dophou vir etenstyd, die ander boeties en sussies roep wanneer die kos gereed is, die stoofplate aan- of afskakel (onder jou toesig natuurlik), die kerse doodblaas na ete en die skottelgoed­wasser aanskakel.

Verantwoordelikhede en spesifieke take wat net hulle doen

Die ander boomsoorte is nie so lief vir hulle werkies nie, maar roosboom­pies vind eiewaarde, trots en bewyse van grootword in hulle verantwoor­delikhede. Elke takie bied geleentheid om hulleself te bewys.

Hulle moet dus so vroeg moontlik hulle eie werkies in die huis hê. Moet dit ook nie te maklik maak nie – hulle wil uitge­daag wees. Verantwoordelikhede kan ’n baie negatiewe roosboompie omkeer – ’n geheim wat onderwysers moet ken en benut. Maak wolf skaapwagter.

’n Baie wyse buurvrou van ons het hierdie sleutel van verantwoordelikheid verstaan. Sy het baie goed geweet dat my boetie die skuldige was wat klippe oor die muur tot in hulle swembad gegooi het. Hy het ook sy leierskap gebruik om die opwindende tydver­dryf aan nog drie buurseuntjies bekend te stel.

In plaas daarvan om hom te konfronteer, het sy een middag vriendelik oor die tuinmuur geloer, en vir hom ’n reusagtige trek­kerbinneband present gegee. Dit was vooruitbe­taling vir die guns dat hy asseblief vir haar die stouterds in die buurt moet vang wat haar swembad met klippe bestook. Hy was baie gretig en die probleem was natuurlik dadelik opgelos.

Genoeg keuses om in beheer te kan voel

Keuses is eintlik maar sinoniem met beheer, verantwoordelikheid en besluitne­ming. Roosboompies haat dit om te voel hulle het geen keuses nie. Dit maak hulle onnodig rebels.

Soms kan ons net opdragte anders verwoord sodat ons roos­boom­pies ervaar dat hulle ’n keuse uitoefen, en sodoende konflik drasties verminder. Geleenthede om daadwerklik besluite te neem, laat enige kind meer bekwaam voel.

’n Bekwame kind voel bemagtig en hoef nie konstant ’n magstryd te voer nie. Gee die klein besluite oor en hou die groot besluite in jou bekwame hande. Dit beteken dat ons dikwels opdragte kan gee met ’n keuse aangelas.

Om ongehoorsaam te wees is egter nooit ’n opsie nie. Ons sê dinge soos: “Dit is nou slaaptyd. Jy kan die slaaptydstorie vir vanaand kies.” “Jy moet ’n trui aantrek. Jy kan kies watter een.” “Badtyd is verby. Jy kan kies of jy soos ’n groot seun self uitklim, anders sal ek jou uithaal.”

“Jy moet nog vyf happies groente eet. Jy kan besluit hoeveel pampoen en hoeveel boontjies jy wil eet.” “Ons gaan nie op die ponie en die vierwielmotorfietse ry nie – Mamma het net R10 vir een van die twee. As jy vriendelik kies, kan jy op jou gunsteling een ry. As jy huil omdat jy altwee wil doen, gaan ons huis toe sonder om te ry. Wat kies jy?”

Redes en verduidelikings vir opdragte en straf

Roosboompies is rasioneel en logies. Hulle wil verstaan, en móét verstaan, waarom hulle iets moet doen voordat hulle hulle samewerking kan gee. Wanneer hulle rede insien, doen hulle graag wat nodig is, maar wanneer ons van hulle verwag om te doen wat ons sê net omdat ons so sê, is dit vir hulle verskriklik moeilik.

Wanneer hulle redes vra, word ons soms onnodig woedend omdat dit voel asof hulle ons oordeel in twyfel trek, ons gesag uitdaag of ons probeer manipuleer. Dalk is dit wat hulle probeer doen, maar dit is dikwels net hulle manier om te probeer verstaan sodat hulle kan saamwerk.

Wanneer ons kalm en kortliks redes verskaf, gaan ons baie beter samewerking kry. (Ek dink soms ons word so kwaad omdat ons nie goeie redes kan gee vir baie van ons onnodige versoeke en opdragte nie.)

Met my roosboompie het ek herhaal­delik gesien hoe die weerstand smelt voor die rede. Die weerstand teen tandebor­sel het byvoorbeeld weggegaan toe ek die proses van ’n tandestopsel verduidelik het, en toe hy niks wat suiker bevat mag geëet het totdat hy weer gewillig was om sy tande te borsel nie.

Dit was nie ’n magstryd nie – dit was ’n begripsoefening in die waarde van ’n tandeborsel. Hy kies om nie uit te vind hoe ’n tandarts se boor voel nie, en om koekies te mag eet – slim seun!

Wanneer jou roosboompie se dorings uitkom, help dit om te vra: “Weet jy waarom ek wil hê dat jy dit moet doen?” Wat vir jou logies is, is nie noodwendig vir jou driejarige vanselfsprekend nie. Wanneer hulle jou oogmerk verstaan, stel hulle dalk ’n ander manier voor om daarby uit te kom. Solank die uitkoms dieselfde is, kan jy gerus hiervoor ruimte laat.

’n Stel onbeweeglike grense vir hulle optrede

Roosboompies wil liewer hulle eie grense bepaal as om ons s’n te aanvaar, en sal gedurig probeer om die drade om te stoot. Ons moet daarom die grensdrade wat vir ons belangrik is elektrifiseer!

Roosboompies moet herhaaldelik met ’n onbeweeglike grens te doene kry voordat hulle sal ophou stoot. As hulle een keer voel dat die grens wel ver­skuif kan word, sal hulle met al hoe meer vuur teen daardie grensdraad aanstorm totdat hulle aanslag slaag.

Baie ouers van roosboompies weet hoe dit voel om tussen hulle kind en die doringdraad vasgeknyp te word!

As roosboompies se woede uitbarsting vir ’n suigstokkie by die winkeltoon­bank byvoorbeeld vyf keer in ’n ry misluk, probeer hulle moontlik nie weer nie, maar as daardie vyfde poging slaag, gaan hulle met die sesde poging weier om tou op te gooi, want hulle het mos nou gesien dit kan werk.

Daardie sesde poging, en ’n hele paar daarna, gaan waarskynlik aardskuddend wees. Dit is waarom ouers dink dis beter om maar net in te gee, anders word die gedrag al hoe erger. Wanneer dit nooit werk nie, neem die uitbarstings later in duur en erns af, maar wanneer dit soms werk en soms nie, word dit inderdaad al hoe erger.

Dit lyk dalk of hierdie paragraaf onder die verkeerde opskrif is, want dit klink nie asof hulle die grense nodig het om te floreer nie – hulle haat dit dan! Dis deels waar en deels nie.

Hulle haat aanvanklik die grense, maar wanneer hulle presies weet waar die grense is, en dat dit nie verskuif kan word nie, help dit hulle. Hulle wil graag in beheer van hulleself wees en wanneer hulle daardie beheer verloor, voel hulle klein, hulpeloos en ongelukkig.

Wanneer daar egter iemand is wat hulle kan lei om nie so dikwels beheer te verloor nie, ontwikkel hulle eiewaarde. Grense help hulle met selfbeheersing en uiteindelik met selfbeeld. Dit baken ook vir hulle die gebiede af waarbinne hulle “mag” het.

Gereelde fisieke, intellektuele en sosiale uitdagings en terugvoer

Roosboompies moet resies hardloop, kompeteer, vasgevra word, kragte meet met ouer kinders en op talle ander maniere uitgedaag word. As hulle nie kort-kort gedwing word om hulle beste te gee nie, raak hulle baie negatief.

Hulle wil gerek word. Moet hulle nie onderskat nie. Hulle verbaas ons dikwels, en in die proses verbaas hulle soms hulleself.

Laat hulle rekords opstel vir aantrek, opruim, grassny, tafeldek of wat ook al en teken dit op. Beloon hulle wanneer hulle die rekord breek. Dit neem baie van die negatiwiteit oor hulle werkies weg wanneer sulke weerstand kop uitsteek.

’n Sosiale uitdaging kan byvoorbeeld wees: “Vandag kom jou niggies kuier. Kom ons kyk of jy so kan speel dat nie een van hulle vandag huil dat jy ‘lelik’ is nie.”

As jy jou roosboompie voor ete uitdaag om ’n nuwe kossoort te eet of vir die eerste keer self ’n stukkie vleis te sny, kan dinge aan tafel baie beter verloop as wanneer jy wag tot jou roosboompie weer ’n tafelgeveg begin.

Baie buitespel en fisieke aktiwiteite wat hulle ontlaai

Roosboompies het, soos palmboompies, baie energie. Hulle hoort eenvoudig nie passief binnenshuis nie. As hulle nie van die bondels energie ontslae raak nie, sit dit in aggressie om en ons wat die naaste aan hulle is, beland ongelukkig aan die ontvangkant daarvan.

Ons roosboompie was saans onmoontlik met badtyd omdat ons nie besef het hoe aktief hy moes wees en hoeveel opgebottelde energie hy nog teen sesuur saans in sy klein lyfie gehad het nie. Ons het dit wel ontgeld dwarsdeur die aand­roetine tot en met slapenstyd.

Die oplossing was baie eenvou­dig – ons het net voor badtyd in die sitkamer begin gym. Ek, hy en sy sussie het beurte gemaak om die instruk­teur te wees. Die ander moes die instrukteur se oefeninge naboots.

Tien minute van ’n gespring en geskop was net wat die dokter voorgeskryf het. Na gym was die roosboompie heelwat makker en gewillig om rustig deur die aandroetine te gaan.

Roosboompies wil ook nie net hardloop of klouter nie – hulle wil hard kan skree, goed kan gooi, skop, slaan, trek en stoot. Wanneer ons nie gepaste vorme van hierdie aktiwiteite vir hulle fasiliteer nie, raak hulle kreatief op stoute ma niere.

As roosboomtieners aan geen sport of oefening deelneem nie, is hulle amper sonder uitsondering negatief en nukkerig. Hulle voel op hulle lekkerste wanneer hulle uitasem en natgesweet kan sê dat hulle hulle te pletter geoefen het.

Om hulself tot by hul limiet te druk, laat roosboomtieners baie goed voel. Moedig hulle aan om te oefen en aan sport deel te neem of minstens skaatsplank of bergfiets te ry.

Leierskapposisies waar hulle kan voorloop en bestuur

Laat hulle van vroeg af oefen om aan die stuur te wees. Selfs al is dit net in ’n speletjie, is hierdie voorbereiding op toekomstige leierskap baie belangrik.

As ’n mens ’n hele span kindertjies het (drie of meer), kan die roosboompie kans kry om die sheriff te wees. Almal met klagtes moet eers hulle probleem of versoek na hom toe bring en slegs as hy dit nie kan oplos nie, word Ma of Pa geroep. Dit gee hom sommer goeie oefening in probleemoplossing en die hantering van konflik tussen ander mense.

’n Roosboompie kan die taak hê om die ander boeties en sussies te kontroleer, byvoorbeeld om te kyk dat almal skoene aanhet vir die uitstappie. Wanneer die roosboompie dan te kwaai is, skep dit geleenthede om leiding te gee oor hoe ’n leiertjie volgelinge met respek moet hanteer.

Stel die roosboompie as leier aan wanneer julle byvoorbeeld in die winkel stap. Hy besluit aan watter kant van die winkel julle begin en by watter betaalpunt julle in die ry val. Gee vir roosboompies leierskaprolle in speletjies, soos om die beurte aan te kondig of die tellings op te skryf.

Aanprysing vir goeie keuses, oplossings en besluite

Roosboompies is van nature goed met besluitneming, probleemoplossing en keuses. Ons moet hierdie gawes aanmoedig deur gereeld vir ons roosboompies by probleemoplossing te betrek en terugvoering te gee oor hoe hulle hiermee vaar.

Wees baie spesifiek: “Jy het self besluit om vanoggend jou skooltrui aan te trek al hou jy nie altyd daarvan nie. Dit was slim want dit was ’n baie koue dag. Jy het goed gekies.”

Gebruik soms probleemstellings in die plek van ’n opdrag of teregwysing. In plaas daarvan om te gil “Wie dink jy gaan jou karretjies in die voorportaal optel? Wil jy hê Ouma moet haar nek breek wanneer sy nou-nou kom kuier?!” kan ons eerder sê “Ouma val maklik. Gaan maak gou seker Ouma kan oor niks val wan­neer sy nou-nou by die voordeur inkom nie.”

Prys hom wanneer hy die regte oplossing vind.

Leer jou roosboompie dat die hantering van emosies ook ’n besluit is. Wanneer die outjie byvoorbeeld van woede skree en dan ophou, prys hom vir sy besluit. So leer hy dat emosies hom nie beheer nie.

“Ek sien jy het gekies om nie vandag te huil nie, maar vriendelik te vra. Dit was slim, want ek gee graag koekies vir kinders wat mooi kan vra. Skree werk mos nie met my nie.”

’n Voorbeeld van sterk maar simpatieke leierskap

Roosboompies gaan leiers wees – goeies of slegtes, maar nietemin leiers. Dit is eenvoudig hoe hulle bedraad is. Iemand gaan hulle altyd volg.

Ongelukkig is baie roosbome hard en onsensitief. Ons moet ons roosboompies daarom blootstel aan sterk, sensitiewe mense sodat hulle kan leer dat ’n mens ’n baas kan wees sonder om boos te wees.

Wanneer ons ons gesag as ouers kalm maar ferm afdwing, is dit natuurlik die allerbeste voorbeeld. Bybelverhale gee ons geleentheid om twee kante van leierskap te illustreer – die bevelvoerder en die “herder”.

Dawid is ’n goeie voorbeeld van ’n simpatieke leier. Jesus se besorgdheid oor sy volgelinge en sy wonder­werke waarmee hy mense se nood en hartseer aangespreek het, kan ook ’n roosboompie leer dat leierskap eintlik ’n diens is wat die leier aan sy volgelinge lewer.

Voldoende kanse om nuwe vaardighede te toets

Ons oorbeskerm roosboompies maklik, omdat hulle ons verbouereer met hulle waaghalsigheid. Hulle wil altyd vinniger, hoër en verder. Ons maak dan die fout om heeltyd tussen hulle en hulle toertjies te staan.

Ons moet eerder ’n veilige plek en goeie tyd kies waar hulle hulle vermoëns kan toets. Trek wanneer dit moet vir hulle ’n ekstra laag klere aan, maar moet hulle nie keer om by die steil wal te probeer afgly nie.

Klim maar saam met die tweejarige in die swembad om hom uit te vis wanneer hy ontdek dat hy jouwaarlikwaar nog nie kan swem nie. Moenie net weier omdat jy weet hy kan nie swem nie. Hy moet self probeer.

Gereelde, konsekwente korreksie van onaanvaarbare gedrag

Ons vermy konfrontasie met roosbome omdat dit so elektries kan raak, maar ons doen nie vir hulle of onsself ’n guns wanneer ons dinge oorsien wat eintlik onaanvaarbaar is nie. Hoe jonger ons begin, hoe gouer is ons klaar met hulle dissipline.

Hulle moet elke keer die gevolge dra van hulle keuses want as hulle een maal met ’n ernstige oortreding weggekom het, sal hulle aanhou om ons te toets.

Dit verg geweldig baie energie om ’n roosboomkleuter se dissipline heeltyd deur te voer, maar onthou dat dit heelwat meer energie verg om dit met ’n roosboomtiener te doen wanneer dinge reeds verkeerd geloop het.

Geleenthede om hulleself as betroubaar te bewys

Vryheid en ruimte is vir roosboom­pies belangrik want dit is waaraan hulle meet hoe groot hulle is. Wan­neer hulle agterkom dat ons hulle met al hoe meer tyd, geld en keuses vertrou namate hulle hulleself betrou­baar bewys, verras hulle ons dikwels met gedrag wat verbasend is vir hulle ouderdom.

Roosboompies is ten spyte van hulle rebellie en hardkop­pig­heid meer verantwoordelik as die palmboompies en denneboompies. Laat hulle toe om dit te bewys. Moenie oor hulle skouers loer nie tensy hulle die vertroue skend. Gebruik geld, tyd en besittings om sulke geleenthede te skep.

Ek het in ’n radiopraatjie eendag goeie raad gehoor: In plaas daarvan om wakker te bly totdat ons agttienjarige tieners huis toe kom (terwyl ons bloed­druk heeltyd styg omdat ons hulle nie regtig vertrou nie), kan ons liewer ’n wekker stel om met die inkom­tyd af te gaan.

Wanneer die kinders betyds tuis is om die wekker voor te spring, gaan almal rustig slaap en die kinders voel soos die grootmense wat hulle amper is. Wanneer die wekker wel afgaan, hoef Pa en Ma ten minste dan eers aan hulle maagseer te begin werk. En meneertjie of juffroutjie verdien dan om deur ’n knorrige Pappa­beer ingewag te word.