[ROOSBOME] LES 12 – Nog dinge om te verstaan van roosbome

Roosbome is gewoonlik reguit, kragtige kommunikeerders. Hulle gebruik woorde vir resultate, nie vir geselsies oor die weer nie. ’n Roosboom is nie iemand met wie ’n mens lekker kuier en ditjies en datjies bespreek voordat die taai sake aangevat word nie.

Hulle is saaklik en kom selfs kortaf voor – veral oor ’n telefoon. Hulle mors nie tyd met formaliteite nie en kom gou by die punt. Hulle verwag dat ander ook so met hulle moet praat. Hulle kommunikeer nie baie empaties nie en kan onwetend baie taktloos en onsensitief oorkom. Hulle gee maklik aanstoot sonder om dit te besef.

Roosbome vra baie vrae wat hulle beantwoord wil hê, maar hou self nie daarvan om “ondervra” te word nie, want dit voel vir hulle na wantroue wanneer iemand iets bevraagteken.

Wanneer roosbome verkeerd was, sal hulle dit baie moeilik erken. Hulle sal eerder ’n goeie argument voer waarom hulle steeds reg is. Roosbome geniet rusies en woordewisselings, mits hulle die laaste woord inkry – en dit doen hulle ge­woonlik.

Hulle is ongelukkig ook nie wafferse luisteraars nie. Hulle is lief vir hulle eie stem. Daarom gee hulle graag hulle opinie, maar luister nie graag na ander s’n nie. Soos die palmbome skakel hulle af wanneer die prater langdradig raak.

Wat maak ’n roosboom moeg en uitgeput?

Roosbome pes omslagtige kommu­nikasie. Hulle raak moeg wanneer hulle deur ellelange redenasies moet luister sonder ’n baie duidelike bottom line of slotsom. Hulle is net in die samevatting geïnteresseerd en raak baie ongeduldig wanneer iemand sukkel om dinge effektief op te som. Vergade­rings ter wille van vergaderings sal hulle behoorlik uitmergel.

Roosbome word ook baie ongeduldig wanneer hulle met emosies gekonfron­teer word. Hulle rasionele ingesteldheid maak dat emosiebelaaide situasies hulle energie tap. ’n Gesanik of gekla sal hulle ewe gou dreineer.

Roosbome word ook moedeloos wanneer hulle te kampe het met sisteme en rompslomp waarvan hulle nie die sin kan sien nie. Hulle is van nature goed met die onwikkeling van hulle eie kortpaaie en praktiese oplossings en kan nie funksio­neer wanneer hulle net ter wille van die vrede ander mense se metodes moet volg nie.

Doelloosheid and gebrek aan visie laat ’n roosboom ook soos ’n ou ballon afblaas. Sonder die wortel voor die neus en die eindpunt in sig, kan ’n roosboom nie vorentoe beweeg nie. Daar moet ’n rigting en rede wees vir elke dag.

Wanneer ’n roosboom nie die sin van sy werk kan insien of ’n plan het vir die toekoms nie, kan ’n vakansiedag vir hom meer uitputtend wees as ’n veertien uur lange werkdag.

Hoe herlaai ’n roosboom en kry energie?

Roosbome se lewenslus en energie lê gesetel in die drywer-geaardheid wat hulle het. Wanneer hulle aan die voorpunt van ’n uitdaging is, word hulle tenk weer vol. Sonder ’n groot, moeilike of nuwe uitdaging sal ’n roosboom afgeblaas voel.

Roosbome moet ook maksimum uitset beleef. Daarmee bedoel ek dat roosbome gereeld moet voel dat hulle volspoed beweeg, hulle byna dood werk, die randjie van die afgrond kan sien van waar hulle staan, op hulle piek presteer en onder groot druk besig is met iets baie belangriks, dringends of groots. Dit sit weer skop in hulle lewe.

’n Werksopdrag is nie nodig om ’n roosboom te inspireer nie, soms is dit bloot die teenwoordigheid van ’n uitdaging tuis – soos die afhandeling van aanbouings of die koop van ’n nuwe kar teen die beste prys moontlik. Vir mevrou Roosboom is die organisering van haar dogter se troue genoeg van ’n uitdaging en nuwigheid om die hart vinniger te laat klop.

Kompetisie inspireer ook enige verdroogte roosboom om weer op te staan. Baie roosbome sal net tot hulle reg kom in arenas waar hulle beloon of bekroon kan word. Hulle kies sporte en stokperdjies waar daar pryse te wen is, en waar hulle sukses net van hulleself afhang.

Roosbome wat moeg of depressief raak, kan nie eers oorweeg om fisieke oefening uit hulle roetine weg te laat nie. Die hoë-energie aard van ’n roosboom maak hierdie aspek noodsaaklik. Onfikse roosbome kan as ’t ware nie by hulleself byhou nie, want hulle dryf is eenvoudig te hoog vir hulle liggame om by te hou.

Wanneer roosbome papnat gesweet uit die gimna­sium kom, is hulle energievlak eintlik op sy hoogste, voel hulle waarskynlik op hulle beste en is al die nega­tiewe, frustrerende energie omgekeer in positiewe, kreatiewe energie.

Konflik is ook ’n bron van nuwe energie vir ’n roosboom. Roosbome hou daarvan om betrokke te raak by twispunte en selfs kaalvuisgevegte. Baie mense beskuldig roosbome daarvan dat hulle moeilikheid soek. Baiekeer is dit waar.

Wanneer roosbome dan moeilikheid nodig het om te herlaai, kan hulle sosiaal aanvaar­bare “georganiseerde moeilikheid” soos kontaksport of debatte kies.

Wat vrees ’n roosboom en wat maak hulle bang?

’n Roosboom se vrese is almal gesetel in die vrees vir ’n verlies aan beheer, al lyk die vrese verskillend. Om magteloos te wees is die grootste ramp wat ’n roos­boom kan tref. Roosbome se eiewaarde is gesetel in hulle onafhanklikheid, self­voldaanheid en toereikende vermoëns.

Die blote idee om van iemand anders afhanklik te raak, maak hulle baie angstig.

Roosbome word nie maklik bang nie, behalwe wanneer hulle die einde van hulle kragte kan sien. Wanneer die taak groter is as hulle vermoë en die uitdaging eenvoudig nie in die toegelate tyd suksesvol die hoof gebied kan word nie, voel die roosboom of die bodem uitval.

Vanweë hulle kompeterende geaardheid vrees roosbome natuurlik ook misluk­king. Hulle glo the winner takes it all en vrees dus selfs die “vernedering” van ’n tweede plek. Hulle is slegte verloorders.

’n Roosboom is ook bang vir emosies, veral vir negatiewe of intense emosies. Ek het al ’n roosboom hoor sê: “Emosies is soos vlammende pyle wat afgeskiet word deur ’n geblinddoekte boogskutter.”

Hulle beleef emosies as ’n wegbeweeg van die rasionele, daarom wil ’n roosboom nie self huil of ander sien huil nie. Dis vir hulle ’n teken van swakheid en iets wat liewer privaat hanteer moet word. Hulle sien dit juis as ’n manier om beheer oor jouself te verloor, daarom is dit vir hulle so onaanvaarbaar.

’n Roosboom vrees ook situasies wat hulle kan dwing om aan ander onder­danig te wees. Hulle wil nie beheer oor hulle lewens aan ander oorgee nie, veral nie wanneer daardie persone volgens hulle mening swak is nie. Omdat roosbome gewoonlik net mense wat sterker as hulle is, kan respekteer, is die idee van ’n onbevoegde leier skrikwekkend.

Omdat roosbome so gedrewe is, vrees hulle natuurlik ook verveling and stagnasie.

Wie maak ’n roosboom kwaad en aggressief?

’n Roosboom is ’n veeleisende, gedrewe persoon, en kan daarom nie mense verdra wat passief, lui of oënskynlik stadig is nie. ’n Roosboom hou van resultate en doelwitte en wil hê dat almal soortgelyk gedrewe moet wees.

Mense wat emosioneel of selfbejammerend raak in ’n taakgerigte situasie, irriteer ook ’n roosboom. Roosbome heg waarde aan professionele optrede en kan dit nie verdra as mense die kos wat gebrand het of die hond wat siek geword het in ’n vergadering noem nie.

Hulle wil ook nie gedwing word om agtertoe te kyk nie, iets wat die meer emosionele “bome” soms van hulle verwag.

Omdat roosbome trots is, word hulle kwaad wanneer iemand hulle probeer help sonder dat hulle daarvoor gevra het. Hulle voel beledig daardeur. Hulle trots maak dat hulle ook kwaad word wanneer hulle uitgevang of oor ’n fout gekon­fronteer word. Hulle word nie skaam daaroor nie; hulle spring op hulle perdjie.

Van kleins af haat roosboompies almal wat “nee” sê, en tot in volwassenheid maak almal wat hulle teëgaan hulle woedend. Roosbome voel gewoonlik dat almal na hulle behoort te luister en hulle neem die onwilliges kwalik.

Pessimiste maak roosbome dus ook kwaad, omdat hierdie mense hulle spoed en moed probeer breek en heeltyd tussen hulle en hulle sukses probeer staan. Roos­bome glo waar ’n wil is, is ’n weg, daarom moet dié wat nie wil nie, asseblief weggaan!

Hoe hanteer ’n roosboom spanning en stres?

Gewoonlik hanteer roosbome spanning besonder goed, want roosbome is taakgerig en meer rasio­neel as emosioneel. Roosbome skram nie weg van spanning nie, maar staar dit liewer vierkantig in die gesig.

In ’n span­ningsvolle situasie is roosbome op ’n manier in hulle element, want die uitdaging daarvan spoor hulle aan. ’n Roos­boom werk al harder en langer ure totdat die probleem uit die weg geruim is.

Sommige roosbome sukkel egter om interpersoonlike spanning te hanteer wanneer hulle ’n woedeprobleem het (’n algemene swakheid by roosbome). Roos­bome kan hulle spanning op ander uithaal sonder om dit eers agter te kom. Dit is waar die spreekwoordelike dorings inkom …

’n Roosboom raak al hoe meer gefokus en al hoe doelgerigter namate die spanning styg en daarom al hoe minder sensitief vir ander mense se behoeftes. Hulle sien nie eers raak hoe hulle nael- en tandmerke op almal agterlaat in hulle vervaardheid om die spanning die hoof te bied nie.

Weens die kompeterende geaardheid van roosbome, raak hulle soms baie aggressief onder spanning. As die konflik wat die spanning veroorsaak tussen hulle en ander mense is, kan hulle baie aanvallend wees omdat hulle voel dat die spanning eers sal weggaan sodra hulle die ander persoon oortuigend wen.

Roosbome veg soms soos Steven Segal totdat al die opponent se spreekwoordelike bene gebreek is!

’n Roosboom wat nie fisies aktief is nie, is gewoonlik skuldiger aan hierdie soort uitbarstings as ’n roosboom wat gereeld aggressie deur fisieke oefening uitsweet. ’n Goeie streshanteringswenk vir roosbome is dus om spanning deur fisieke oefening te ontlaai.

Waaraan meet ’n roosboom sukses en ’n goeie selfbeeld?

Roosbome moet werk om suksesvol te voel. Werkloosheid of tuis rondsit sonder ’n spesifieke uitdaging laat ’n roosboom waardeloos voel. (Dit is waarom nuwe roosboomma’s baie kan sukkel om aan te pas by hulle tuisblyrol terwyl hulle kindertjies klein is.)

’n Roosboom kan ook nie net tevrede wees met enige werk nie. Roosbome meet die sukses in hulle werk eerstens aan prestasie. Daar moet groei, wins of resultate wees. Die voltooi­ing van ’n taak is vir roosbome baie belang­rik. Wanneer iets halfgedaan is, voel hulle soos ’n mislukking. Sukses is dus die deurvoering van iets sinvols.

Roosbome sal eers tevrede wees wanneer daar niemand in ’n hoër posisie of met ’n beter rekord in hulle veld is nie. Wanneer dit swart op wit geskryf is dat hulle die beste, die eerste, die bekendste of die grootste is, sal hulle voel dat hulle sukses behaal het.

’n Beroep of projek wat mag, aansien of ’n titel behels, tel ook baie punte. Totdat hulle daardie doel bereik het, sal hulle altyd hoër klim …