[PALMBOME] LES 17 – Straf en dissipline vir palmboompies

Wanneer jy jou palmboomkind se gedrag wil verander is die volgende beginsels belangrik:

Maak gebruik van afleiding en bied alternatiewe aan

Min dinge werk beter met jong palmboompies, want hulle aandagspan is so vlietend. Wanneer ’n eenjarige woedend skreeu omdat jy hom keer om ’n hele sjokolade­koek te verorber, kan sy aandag gou afgetrek word deur ’n handpop nader te trek. Die trane verander blitsig in ’n laggie.

Hierdie eienskap wat reeds by babapalmpies te bespeur is, is die sleutel tot die hantering van baie van ’n palmboom se kleuter­dissipline. As sy nie die brandende kers wil uitlos nie, blaas jy dit dood en gee vir haar ’n brandende flitsie in die plek daarvan.

As ons vir ’n palmboompie sê “jy mag nie … ” behoort ons dit te volg met “maar jy mag … ” Alternatiewe help palmboompies om reg op te tree. Wanneer ons nie ’n plaasvervanger voorstel nie, sal hulle teruggaan na die verkeerde gedrag omdat hulle nie net kan sit en niksdoen nie.

Soms moet ons ons kind uit die situasie verwyder of die versoeking wegneem. Wanneer hulle ouer is, doen hulle dit dan vanself – hulle weet hulle behoort nie nog ’n stuk koek te eet nie. Daarom vra hulle vir die rekening en verlaat die koffiewinkel.

Besluit oor fisieke gevolge: pyn of plesier

Lyfstraf word deur wetgewing verbied en ek wil geen ouer onder enige omstandighede aanmoedig om wette te breek nie. Die riglyne rondom pakslae word egter hier gegee omdat dit steeds in vele ouerhuise toegepas word en palmboompies goed op ’n pak slae reageer.

Hulle neem dit nie persoonlik op nie en voel nie gekrenk nie. Hulle reageer egter beslis nie na die eerste pak slae nie, maar met konsekwente gevolge dring die les wel tot hulle deur.

Ouers maak die fout om gou op te gee met ’n pak slae wanneer dit nie onmiddellike resultate oplewer nie, want hulle vergeet dat ’n palmboompie ’n optimis is. Na die eerste pak slae sê die palmboompies vir hulleself: “Ag, dit was net slegte geluk dat ek uitgevang is. Volgende keer gaan ek daarmee wegkom.”

Na die tweede pak slae: “Ek kan amper nie glo ek kon twee keer in ’n ry moeilikheid kry nie. Ek gaan weer probeer!” Na die derde pak slae vir presies dieselfde ding begin ’n vermoede ontstaan dat die gedrag dalk nie ’n goeie idee is nie.

As die plesierfaktor egter op hierdie punt swaarder weeg as die pynfaktor, kan ons maar seker wees dat ons nie die einde van die wangedrag gesien het nie.

Dalk het jy ook groot geword met hierdie liedjie:

 Die kat kom weer want hy wou nie langer wag

Die kat kom weer, net die volgende dag

Die kat kom weer, en glo vir my dis waar! –

Die anderdagmôre was die kat WEER daar!

 Dit is hoe dit gaan met palm­boompies se streke. Dit hou aan terugkom. Soms vinniger as die volgende dag. Wanneer ouers na die vyfde of sesde pak slae steeds die gedrag soos die spreekwoordelike kat sien “weer kom”, hou hulle op straf, en slaan oor na die enigste ander wapen waaraan hulle kan dink: skree!

Dan skree ons allerhande gefrustreerde krete oor hoe hulle nie ore het nie. Hulle het inderdaad nie wafferse ore nie – die doofste van al die boompies! – daarom is hierdie appél op die ore regtig nie van enige waarde nie. Om deur te druk met voelbare gevolge moet werklik ons eerste keuse wees.

Omdat pakslae deur wetgewing verbied word, kan jy ook ander opsies oorweeg. Ander voelbare gevolge sluit die verlies van lekkergoed of nagereg, die wegneem van speelgoed en die kansellasie van prettige uitstappies in.

’n Pak slae is ’n soort straf wat ongewild geword het, en dit nie sonder rede nie. Ongelukkig ken baie volwassenes nie die verskil tussen gesag en gevreesdheid nie, en daarom ook nie die verskil tussen Bybelse tug en mishandeling nie. Daarom dan ook die wetgewing wat ’n verbod op lyfstraf en pak slae tuis plaas.

’n Pak slae is nie vir alle kinders geskik nie, nie vir alle soorte stoutig­heid bedoel nie en beslis nie ’n strafmetode wat elke ouer in liefde kan gebruik nie. Dit is ook werklik nie ’n goeie idee vir babas en kinders bo ’n sekere ouderdom nie.

Natuurlik moet pret ’n groot motiveerder vir palmboompies wees! Wanneer hulle self belonings kan kies, werk dit die beste. ’n Mens kan byvoorbeeld goeie gedrag beloon deur ’n palmboompie te laat kies waarheen sy graag ’n maatjie of twee wil neem, met ’n bepaalde limiet op die begroting, natuurlik.

Palmboompies reageer baie goed wanneer ons gedrag beloon met fisieke plesier – ’n rit op die R5-dinosaurus, ’n gunstelingsjokolade, ’n lekker speletjie of ’n rit agter op ’n fiets. Die wegneem van enige ander pret soos buite speel, badskuim in die bad, nagereg of rolskaats, is effektie­we strawwe vir ’n palmboompie.

Ondersoek die metodes van uitputting en oorkorreksie

Hierdie twee tegnieke werk wonderlik met kleuterpalmboompies omdat dit hulle spoed so breek dat die wange­drag later net nie meer vir hulle die moeite werd is nie. Uitputting (partykeer ook uitwissing genoem) behels die onnatuurlike verlenging van gedrag sodat die kind moeg word daarvoor.

’n Kind wat byt, moet die slagoffer gaan troos, en moet daarna byvoor­beeld tien keer vyf sekondes lank baie hard in ’n skoon handdoek byt, om kamstig die byt mak te maak.

Dit het glad nie dieselfde bevredigen­de effek vir die byter as om ’n slag­offer te byt nie en in die kind se onderbewussyn dring die boodskap later deur dat byt nie heeltemal so lekker is as wat hy gedink het nie.

As dit ’n boetie of sussie is wat gebyt word, werk dit goed as ’n mens ook ’n uitgerekte ritueel het waarvol­gens die slagoffer versorg moet word. My palmboompie moes sy sussie se bytplek (soms teen daardie tyd amper onsigbaar) met ’n salfie smeer, ’n pleister help opplak en dan haar ruggie vyf minute lank vryf omdat sy baie daarvan hou.

As die outjie weerstand bied, dring ’n mens maar net ferm aan dat alles so gedoen moet word. Dit was nie vir hom meer die moeite werd nie en hy het gou met die bytery opgehou.

Uitputting werk ook goed vir gewoontes soos neusgrawe of naels kou. Elke keer wanneer die outjie naels kou, word die hande byvoorbeeld met seep gewas, die naels word met ’n naelborseltjie geborsel en die tande word deeglik geborsel om seker te maak dat die kieme so goed moontlik aan die handjies en in die mond beheer word.

Met neusgrawe moet die neusie natuurlik geblaas word of versigtig binnekant met ’n wattestokkie en verdunde Dettol ontsmet word, en die handjies en tande moet skoongemaak word soos met die naelskouery. Hierdie ritueel word sommer gou vir palmboompies so omslagtig dat hulle nie meer die gewoonte wil voortsit nie.

As hulle nie wil saamwerk nie, verduidelik ’n mens net ferm dat neusgrawe en naelskou gevaarlike kieme in ’n mens se mond en aan jou hande laat beland en dat ons dit elke keer behoorlik gaan moet skoonmaak om siektes te voorkom. Dit is vir ons as ouers tydrowend, maar daar bestaan geen kortpaaie nie.

 Oorkorreksie berus op amper dieselfde beginsel. Dit behels die herhaaldelike inoefening van die regte optrede elke keer wanneer verkeerde optrede kop uit­steek.

Gestel ’n kind kom nie wanneer hy geroep word nie. Hy moet dan oefen om wel te kom wanneer hy geroep word. Hy moet nou een na die ander uit tien verskillende plekke in die huis luister wanneer jy sy naam roep, en dan gou kom.

Dit is al ná die derde keer nie snaaks nie. Hou maar net aan tot by die tiende keer en sê kalm: “Ons oefen dit net om seker te maak dat jy volgende keer presies weet hoe om gou te kom as ek jou die eerste keer roep.”

Oorkorreksie werk ook goed met impulsiewe gedrag soos die toeklap van deure. Ons sê iets soos: “Ek sien jy het vergeet hoe om deure met respek te hanteer. Kom ons oefen nou tien keer om die deur saggies toe te maak … 1 … 2 … 3 … 4 … ” As die outjie nie verder wil oefen nie, neem jy kalm en ferm sy hand, en “help” hom oefen.

Hierdie tegnieke moet glad nie soos ’n straf met ’n kwaai stem of kyk gebruik word nie. Doen dit baie saaklik. Dit is natuurlik net geskik vir kleuters!

Fokus op onmiddellike straf of beloning

Palmboompies leef in die oomblik, daarom moet hulle nie “verhoorafwagtend” wees nie. Tree dadelik op. Moenie wag tot Pappa huis toe kom of totdat jy vir Juffrou kan vertel nie. Maak onmiddellik ’n ophef van voorbeeldige gedrag. Palmboompies sal net gedrag stopsit of herhaal wanneer daar onmiddellike gevolge is.

Span verlies of vermeerdering van sosiale voorregte in

’n Palmboompie is waarskynlik die enigste boomsoort met wie ’n rukkie op ’n vervelige plek (’n time-out) – weg van al die aksie, al die opwinding en al die mense – goeie resultate oplewer.

Hy gaan nie oor sy sondes dink nie, maar gaan wel ervaar dat hy daar geen aandag of simpatie kan kry nie. Daar moet reëls wees dat hy nie van daar af mag roep of vra wanneer die tyd verby is of op enige ander manier deelneem aan dit waarmee die res van die mense besig is nie.

Wanneer palmboompies byvoor­beeld in time-out op ’n stoel voor in die klas sit, is dit ’n groot beloning, want daar is almal se aandag op hulle gevestig en hulle het as ’t ware die verhoog net vir hulleself.

Palmboompies wat aggressief is met maatjies, kan weggeneem word van die speelarea tot waar hulle net die spelery kan sien maar nie kan saamspeel of saamgesels nie. ’n Mens verduidelik dan vir hulle dat hulle nie verder kan saamspeel nie omdat hulle nie soos goeie, gawe maatjies gespeel het nie.

Na omtrent vyf of tien minute kan hulle toegelaat word om terug te gaan, mits hulle verskoning gevra het aan die maatjie wat afgeknou is.

Palmboompies kan baie effektief beloon of gestraf word deur gehok te word of ekstra kuierregte te kry. Die voorreg om te gaan speel of maatjies oor te nooi is ’n kragtige motiveerder en ’n beloning wat sal verseker dat ’n palmboompie weer die goeie gedrag gaan wil herhaal.

Tieners wat nie spertye respekteer nie, behoort sosiale geleenthede te mis om die gesteelde tyd terug te betaal.

Bereken die verlies of vermeerdering van materiële voorregte

Met jong palmboompies is die kleinste speeldingetjie ’n effektiewe wortel voor die neus en die verlies van ’n gunstelingspeelding is ’n groot afskrikmiddel.

Wat hulle het, is vir selfs die kleinste palmboompies baie belangrik. Kyk maar hoe trots hulle nuwe speelgoed by die skool wil gaan wys! Selfone, Playstations, iPods en rekenaars is die speelgoed wat by tieners weggeneem kan word.

Geld is vir ouer palmboompies – veral die tieners – baie belangrik want dit is sinoniem met invloed. Koop­krag is van soveel belang dat dit tieners effektief motiveer om same­werking te gee.

Met geld kan palm­boompies plesier, gewildheid en sosiale status koop. Met min geld kan hulle nie die nuutste modes volg of hulle vriende beïndruk nie. Hulle reageer dus baie goed op die vermindering of ver­meerdering van sakgeld. Stel jou voor hoe belangrik daardie selfoongeld en geld vir uitgaan is.

Gee sigbare, simboliese belonings en nie net woorde nie

Palmboompies wil baie sigbaar beloon word en reageer daarom fantasties op sertifikate, medaljes en trofeë. ’n Sertifikaat vir gehoorsaamheid met slaaptyd of ’n wisseltrofee vir die kind in die huis met die mooiste tafelmaniere vir die maand, kan wondere doen vir ’n palmboompie se motivering.

’n Kweekplan vir ’n palmboompie: praktiese planne met dissipline

Die woord “oefen” in Spreuke 22:6 het ’n ryk betekenis. Dit beteken dat ons met toewyding goeie instruksie gee en deurlopend motiveer.

As ons ons palmboom­pie goed wil vorm, moet ons reg te werk gaan. Is ons eerstens regtig ernstig oor die gedrag wat ons vir ons kind wil leer, en is ons bereid om energie en tyd daarin te belê? Sonder toewyding sal ons nie slaag nie!

Tweedens moet ons seker maak dat ons kind regtig weet hoe om die regte ding te doen. Weet sy regtig hoe om die bed op te maak, of lyk die bed so slordig omdat ons haar nog nie met toewyding, hulp, duidelike instruksies en geduldige aanmoediging laat oefen het nie?

In die derde plek moet ek myself afvra of my kind dalk moedeloos is oor al my gekerm omdat ek nie die vordering wat sy soms darem wel maak, raaksien en beloon nie? Motiveer ek haar volgens haar geaardheid of is die wortels wat ek voor haar neus hou vir haar maar net ’n groentesoort wat sy in elk geval nie graag eet nie?

Wan­neer ons mooi hieroor nadink, kan ons gedrag baie vinniger en met minder trane verander.

Wanneer ons dink alle gedrag kan “reggestraf” word, word ons ouerskap geweldig negatief. Ek het my palmboompie op verskeie maniere gestraf omdat hy net nie “wou” toemond kou nie, totdat ek agtergekom het dat hy regtig sukkel om sy lippe op mekaar te hou.

Dit was onvermoë eerder as onwilligheid. ’n Oënskyn­lik belaglike manier om toemondkou te oefen en ’n motivering wat tot sy geaard­heid en behoeftes as ’n palmboompie gespreek het, het gemaak dat ons na letterlik jare van mislukking binne ’n maand suskses behaal het wat nou maande later permanent blyk te wees.

Ons het hom ’n vuurhoutjie tussen sy lippe laat vasknyp terwyl hy kou, totdat die happie ingesluk was. Dan moes hy die vuurhoutjie uithaal, die volgende happie vat en weer die vuurhoutjie vasknyp.

Twee weke lank het hy met elke ete wat hy tuis geëet het gelyk soos ’n voormalige roker wat sy sigarette mis! Dit het vir die eerste ete of drie swaar gegaan omdat dit sy spoed gebreek het, maar hy het gou die gewoonte aangeleer en selfs sy vuurhoutjie gevra wanneer ons vergeet het.

Hy het na elke ete ’n plakker in die vorm van ’n bal op ’n rugbybalvormige belonings­kaart ontvang totdat die twintig blokkies vol was. Halfpad het hy ’n suigstokkie gekry toe hy al vir tien etes met sy vuurhoutjie geoefen het.

Hy is deur almal in die gesin vol bewondering aangemoedig. Die uiteindelike prys was ’n rugbybal wan­neer hy twee weke lank reg deur ’n hele ete toemond kou, sonder die hulp van die vuurhoutjie.

Wanneer ons palmboompies se gedrag probeer verander, is een van ons grootste foute om te veel verskillende doelwitte gelyk na te jaag. Palmboompies moet baie gefokus en met groot toewyding “afgerig” word as ons permanente resultate wil sien.

Daar is allerhande beloningskaarte op die mark beskikbaar waarop kinders sterre kan verdien vir ’n lys van tot twintig verskillende daaglikse pligte. Dit neem ouers te lank om dit getrou te evalueer, en dis amper onmoontlik om goed te vaar met soveel gelyktydige eise.

Ek het al baie mense met so ’n kaart sien begin, maar nog nie een gesien wat ’n maand later nog op datum is nie.

Kliek hier vir jou uitdrukbare praktiese plan vir dissipline.


Hoe moet ons met ons palmboompies praat?

Om seker te maak ons palmboompie hoor ons, kan ons die volgende in gedagte hou:

  • Spreek ’n palmboompie direk aan – dit beteken dat jy die naam moet sê en verwag dat hy of sy antwoord: “Ja, Pappa. Ja Mamma.”

Palmboompies se temperament lyk soms soos aandaggebreksindroom omdat hulle selde die eerste keer doen wat jy sê. Hulle aandagspan is kort en hulle hoor jou selde wanneer hulle eintlik met iets anders besig is.

Hierdie vereiste dat kinders antwoord, verseker dat hulle wel gehoor het. As hulle daarna nie doen wat jy gevra het nie, weet jy dat jy ongehoorsaamheid straf en nie die kind onnodig straf vir ’n neurologiese probleem waaroor die kind geen beheer het nie.

  • As ’n palmboompie geneig is om opdragte te vergeet, moet hulle die opdrag wat jy gee, terugsê sodat jy seker is hulle onthou.
  • Gebruik humor soveel moontlik.
  • Kommunikeer meer emosioneel as rasioneel, meer persoonlik as teoreties. Palmboompies reageer nie so goed op frases soos: “Dis ons reël” of “Dis die regte manier” nie. Hulle reageer eerder op: “Dis ons twee se deal, onthou jy?” of “Dis wat kinders wat vyf jaar oud is, soos jy, graag doen.”
  • Hou dit kort want palmboompies kan net ’n kort rukkie lank fokus.
  • Vereis dat ’n palmboompie die hele tyd oogkontak met jou hou terwyl jy praat. Die beste is om boonop aan hulle te vat. As jy hulle gesiggies saggies na jou toe moet draai en moet vashou sodat hulle regtig aandag gee, doen dit.
  • As jy moet korrigeer, wees eerlik maar sensitief en privaat. Hulle gee so baie om wat hulle maats van hulle dink dat hulle nukkerig en rebels sal reageer wanneer hulle verneder voel. Roep hulle eerder eenkant toe.
  • Pasop vir pessimisme in jou stem of woorde. Palmboompies hoor elke stem­buiging, jou spanning of histerie en Pa se toenemende woede in sy stygende stemtoon. Dis soms al wat hulle hoor en hulle hoor al hoe minder van die werklike boodskap omdat jou emosionele toestand hulle so vasvang.
  • Pasop vir negatiewe bevele. Sê eerder: “Maak jou bed netjies op” as “Moenie vir my so ’n varkiebed los wat ek alweer moet opmaak nie.”
  • Aanprysing van ’n palmboompie moet baie ekspressief wees en gerig op die persoon eerder as net die prestasie, soos: “Ek het dit so geniet om te kyk hoe jy deelneem. Ons geniet jou vreeslik, want jy is so oorspronklik. Dit was so liefdevol van jou om vir Ouma soveel mooi wense vir haar verjaarsdag te gee.”
  • Niks trek vinniger ’n vuurhoutjie onder ’n palmboompie se klapper as hierdie stellings nie: “Dit is nog nooit gedoen nie. Niemand was nog ooit daar nie. Dit is onmoontlik. Ek wed jou jy sal nie. Ek wonder of jy kan? Ek sal graag wou sien hoe probeer jy dit.”

Hoe kan ons beter na ons palmboompies luister?

  • Sak af tot jy hulle mooi in die oë kan kyk en raak aan hulle.
  • Luister met jou hele lyf – glimlag, reageer, maak opmerkings, lag saam en ver­tel jou eie stories terug. Hulle geniet dit wanneer jy by hulle vertellings aansluit.
  • Moenie die wilde stories afskiet nie – hulle is baie kreatief. Geniet hulle ver­beelding.
  • Verstaan hulle behoefte om kleurvol te wees en weerstaan die versoeking om aan te dring dat al die feite korrek moet wees.
  • As jou palmboompie melodramaties raak, moet jy maar na die bedoeling eerder as die woorde luister en op die emosie reageer eerder as om ontsteld te raak oor die onregverdigheid of onnodigheid van die drama.
  • Moenie hulle idees afskiet wanneer hulle hulle drome met jou deel nie. Wees ondersteunend al dink jy dis malligheid. Hulle kan die onmoontlike regkry!
  • Praat is soos asemhaal vir hulle. Hulle moet ’n klankbord hê. Probeer dus om hulle nie onnodig stil te maak nie. Hulle ervaar dit maklik as verwerping.
  • Luister fyn vir manipulering, want hierdie palmpies kan gif in spookasem toedraai. Jy hoef nie kwaai te reageer nie, maar hou voet by stuk wanneer hulle begin onderhandel.