[PALMBOME] LES 16 – Nog dinge wat palmboompies geleer moet word

Hier volg nog ’n paar lewensbeginsels wat spesiaal aandag moet kry wanneer dit by palmboomkinders kom.

Om foute te erken en die waarheid te praat

Palmboompies word met grade in die regte gebore en kan oortuigende argumente oor elke ding voer. Hulle gebruik hierdie gawe om skuld te ontken. Ons behoort dit in baie ernstige lig te beskou want dit is een van die groot karakterswakhede van ’n palmboom­pie in sy “ongesnoeide” vorm.

Argumente is welkom in sekere situasies, maar daar is ’n tyd om van palm­boompies te verwag om ruiterlik te erken wat hulle aangevang het en ook om om verskoning te vra wanneer dit iemand anders benadeel het.

Ons moet dit vir hulle die moeite werd maak om die waarheid te vertel, en dit baie onaangenaam maak wanneer hulle jok. Wanneer ons ’n kind verkeerd benader, kan ons dit amper onmoontlik vir hulle maak om vir ons die waarheid te vertel.

Soms dreig ons hulle en verwag dan die skuldige moet na vore kom, terwyl hy reeds weet daar wag moeilikheid. Sou jy?

Moet nooit vra “Wie het?” of “Was dit jy?” nie. Moet ook nie retoriese vrae vra soos: “Wat het hier gebeur?” terwyl jy duidelik kan sien wat gebeur het nie. Maak ’n stelling en verwag dan ’n eerlike reaksie: “Dit lyk vir my jy het die tafeldoek gesny.”

Verduidelik die voordeel van eerlikheid en die nadeel van ’n leuen: “Ek het die stukkende Dinosaurus DVD onder die sitkamer­mat gekry. Jy het gister daarna gekyk. Voordat jy my vertel wat gebeur het, moet jy mooi dink sodat jy vir my die eerste keer die waarheid kan vertel.

As jy dit regkry, hoef ek jou nie swaar te straf nie, maar as jy daaroor jok, sal ek moet. Is jy gereed om my te vertel?”

Om vriende en groepe versigtig te kies

Palmboompies is saamdoeners en daarom die grootste slagoffers van groepsdruk. Hulle doen alles wat hulle gewildheid kan bevorder. Ons moet dus deur oefening ons palmboompies se radars fyner instel. Hulle moet leer om meer krities of minstens dieper na maats te kyk.

Dis vir hulle baie sleg en moeilik omdat hulle gewoonlik met almal klaarkom. Hulle moet egter oefen om karakterfoute raak te sien, gevaarlike of onvolwasse gedrag te identifiseer en ’n prentjie te skets van ’n waardige rolmodel.

Hulle moet leer om verby die uiterlike te kyk, want die maats met die nuutste klere, die “warmste” motorfiets en die uitson­derlikste haarstyl word gewoonlik opgehemel. Ons moet hulle baie bloot­stelling gee aan ouer palmbome met integriteit sodat hulle kan sien dat ’n mens gelyktydig opwindend én ordentlik kan wees.

Om hulle verantwoordelikhede ernstig op te neem

Hierdie outjies moet van jongs af takies hê wat hulle daagliks moet uitvoer voordat enige “lekker” dinge mag gebeur. Dit kan so klein begin soos om te verwag dat jou kleuters hulle bed effens regtrek en pajamas bêre voordat hulle soggens begin speel.

My seuntjie het moedeloos gevra: “Is daar regtig nie een ding wat ek mag doen bevoor ek my pajamas uitgetrek het nie?” Ongeluk­kig kom plig altyd bevoor plesier, my seun!

Gee vir die palmboompies van jongs af hanteerbare takies wat hulle goed oor hulleself kan laat voel en waaroor hulle terugvoering kan kry. Kies die takies wat nie te vervelig is nie sodat die weerstand nie te groot is nie.

My palmboompie dink dis baie snaaks dat hy die toiletpapierman is. Hy haal die leë kartonrolletjies af en sit die nuwe rolle in. (En die mags­posisie waarin dit hom plaas wanneer iemand benoud agter die deur op sy dienste wag, doen natuurlik wondere vir die roosboompie in hom.)

Wees geduldig wanneer hulle hulle takies vergeet. Eerder as om hulle te verwyt dat hulle nie goed vaar nie, kan ’n mens vra: “Kan jy dink watter een van jou werkies jy nog moet doen?”

Maak vir hulle visuele leidrade wat hulle help om te onthou. Plak ’n hondprentjie teen jou kind se deur as sy byvoorbeeld soggens vergeet om die hond kos te gee.

Knoop werkies aan die daaglikse roetine. Gee vir elke kind ’n takie vir opstaantyd, een vir etenstyd en een vir badtyd. Die gereeldheid van die roetine sal hulle help onthou en baie oefening gee sodat hulle (heelwat!) later die takies uit gewoonte sal doen. Maak ’n groot bohaai oor elke bietjie vordering.

Om “nee” te kan sê vir groepsdruk

Hierdie vermoë gaan nie vanself kom nie. Ons gaan vroeg-vroeg begin om duiwelsadvokaat te speel sodat ons kind kan leer om sy standpunte te verdedig.

Palmboompies het ’n heldeverering vir hulle ouers totdat hulle op ’n dag besluit hulle maats is nou hulle helde en jy is dom en vervelig. Terwyl jy dus wonderlik en slim is, moet jy die eerste elementêre gesprekkies oor seks, dwelms, pornografie, drank, flieks, okkultiese rekenaarspeletjies en enige ander euwels met hulle voer.

Ek noem elkeen van daardie sake “lêers”, en stel voor dat ’n mens voor jou kind se sewende verjaarsdag iets in elk van daardie lêers “liasseer”, want daarna gaan die media, maats en ander volwassenes ook inligting hieroor begin deurgee. Maak seker jy het die eerste sê.

Daag jou palmboompie uit om sy invloed en oortuigingsvermoë positief aan te wend. Vra vrae soos “Wat kan jy doen om jou maats te help, wanneer iemand hulle sou uitdaag om ses biere in te ryg?” of “Watter raad sou jy iemand gee wat nuus­kierig is oor hoe dagga ’n mens laat voel?”

Voer gereeld ’n “debat” oor waardes, reëls en belangrike lewenskeuses met jou ouer palmboomkind. Vra byvoorbeeld: “’n Mens moet mos alles een keer probeer, of wat dink jy?” Pak die relevante sake openlik aan. Ons palmboompies het net ’n kans om hierdie versoekings te weerstaan as hulle regtig weerbaar gemaak is.

Om vooruit te dink en daarvolgens te beplan

As ’n mens bedraad is om net in die oomblik te lewe is enige vooruitbe­planning pynlik, maar ons as volwas­senes weet dat dit ’n broodnodige vaardigheid is.

Ons palmboompie word bes moontlik ’n entrepreneur. As al die wonderlike idees tot uitvoering gaan kom, gaan dit wees omdat ons ons palmboompie geleer het om planne te maak vir die toe­koms en tot by die verste horison te kyk.

Ons kan hulle leer deur kort-kort vir hulle te vra om ’n voorspelling te waag: “Ek sien jy is op pad sitkamerbank toe met daardie muffin. Wat dink jy gaan ek sê?”

Om die langtermyngevolge van hulle keuses te voorspel

Palmboompies se spyt kom te laat. En die spyt kom heeltemal te dikwels na die ouers se sin. Hoekom maak ons kinders sulke foute? Hoekom dink hulle nie? Hulle weet wat reg is, maar doen dit nie! Hierdie is algemene klagtes van palmboom­pies se ouers.

Ons moet van jongs af seker maak dat ons palmboompies die gevolge van elke onsinnige keuse dra, as ons van plan is om hulle na volwassenheid te begelei. Hulle leer mos nie baie uit ’n gepraat nie, maar eerder deur te voel.

Ons kan egter vrae vra soos: “Wat gaan vanaand gebeur as jy nou ’n tent met ons almal se beddegoed bou?” of “Wil jy nog ’n vegvlieënier word? Gaan vind ’n bietjie uit watter kwalifikasies en fisieke vereistes gestel word vir keuring daarvoor? Dit sal wys of jy mag rook en of jy hard hoef te leer aan jou Wiskunde of nie.”

Ons palmboompies leer die beste wanneer …

  • dit is uit ervaring, praktiese oefening en foute
  • daar daadwerklike gevolge is vir hulle optrede
  • hulle saam met iemand die taak uitvoer
  • daar op die positiewe gefokus word
  • die eindpunt en beloning in sig is
  • hulle fisieke behoeftes eerste aangespreek is
  • die ouer minder praat en meer doen
  • die “les” kort en kragtig en prakties is
  • hulle al hulle sintuie kan gebruik
  • die ouer humor en alledaagse voorbeelde gebruik
  • hulle ’n rolmodel het vir wie hulle bewondering het.