[PALMBOME] LES 15 – Wat palmboompies by jou moet leer

Hier is van die lewensbeginsels waarin denneboompies hulle ouers se doelgerigte leiding nodig het.

Om geld en tyd oordeelkundig te bestee (en te spaar!)

Hulle moet met min geld, vroeë tuiskomtye en kort tydjies voor die TV, Playstation en rekenaar begin, en stap vir stap geleer word hoe om toenemend verantwoorde­lik met hulle tyd en geld te wees.

Die tou moet net skiet gegee word wanneer hulle hulleself betroubaar en verantwoor­delik bewys het, deur nie al die geld onmiddellik op plesier en voorkoms te blaas nie, deur hulle speeltyd te balanseer met studie- tyd of werktyd, en hulle inkomtye getrou te handhaaf.

Hulle sakgeld en uitblytye (curfews) moet dus nie volgens hulle ouderdom nie, maar eerder volgens hulle volwassenheid en verantwoordelikheidsin bepaal word.

Om lojaal te wees in goeie en slegte tye

Palmboompies is mooiweersmaatjies. Hulle bedoel dit nie lelik nie. Hulle kan bloot nie insien waarom hulle met iemand moet bly speel wat nou nie meer pouses vir hulle sjokolade koop en ná skool opwindende speletjies kan uitdink nie.

Hierdie eienskap word leliker hoe ouer ’n palmboompie word en loop ongelukkig uitein­delik uit op ’n probleem om langtermynverhoudings soos ’n huweliksband te behou. Hulle moet dus daarop gewys word dat ander mense baie seergemaak voel wanneer die palmboompie hulle soos ’n warm patat los.

Palmboompies bly ook nie maklik lojaal aan ’n span wat verloor, ’n skool wat vervelig voel, ’n kerk wat volgens hulle nie opwindend genoeg is nie … die lys is lank. Hulle moet geleer word om nie modder te gooi of brûe te brand wanneer hulle wel moet aanbeweeg nie.

Om deur te druk met vervelige pligte

Dit is uit die aard van die saak geweldig moeilik as pret jou lewensleuse is. Ons moet vir palmboompies gereedskap gee om hulleself eendag te kan dissiplineer om die verveling te oorwin met deursettingsvermoë.

Terwyl palmboompies klein is, moet ons hulle leer om take in speletjies te verander en hulle aandag elders te fokus terwyl hulle handjies die werk doen. Iets soos Mary Poppins se “A spoonfull of sugar helps the medicine go down!” is die sleutel.

Palmboompies kan ook leer om vir hulleself ’n wortel voor die neus hou: “Sodra ek hierdie huiswerk klaar het, mag ek buite gaan rondjaag. Hoe gouer ek klaar­maak, hoe gouer kan ek gaan. Die dag ná my laaste vraestel gaan ek en my buddies Kaap toe, so ek beter swot!”

Om na ander te luister en dialoog te voer

Palmboompies is doodtevrede met lang monoloë, mits daar entoesiastiese luiste­raars om hulle versamel staan. Hulle geniet hulle eie stemme en glo dat ander dit ook geniet. Hulle maak dus nie goeie luisteraars nie.

Hulle gedagtes is gedurig aan die gang terwyl ander praat, daarom val hulle ook graag ander mense in die rede. Hulle glo in hulle eie idees en wil seker maak dit word goed oorgedra. Hulle kom egter baie selfgesentreerd voor as hulle nooit leer om vir ander dieselfde geleent­hede te gee nie.

Hulle moet sensitief gemaak word vir die doodgeprate persoon se gevoelens. Wees baie streng wanneer julle as gesin saam kuier dat die palmboom­pie nie die geselskap elke keer oorheers nie.

Om hulle eie kastaiings uit die vuur te krap

Ek wil nog eendag wetenskaplik bewys dat palmbome met meer geluk, langer wimpers en ’n getoorde heuningkwas in die hand gebore word. Hulle kan almal om hulle pinkie draai sodat hulle niks wat sleg is self hoef te doen nie.

My palmboompie het ellelange wimpers (ek het een van 14mm gemeet!), groot donkersjokolade-oë en die dierbaarste bekkie waarmee hy sy versoekies baie versigtig formuleer: “Sussie, dit sal liefde wees as jy vir my my sandale by die klim­raam gaan haal. Dan sal ek so lekker voel oor jou.”

So subkontrakteer palmboom­pies graag ander om hulle verantwoordelikhede oor te neem en hulle probleme op te los. Dit kan egter ’n integriteitskwessie word as ons hulle nie leer dat hulle soms nie hulle charisma mag gebruik nie maar self verantwoordelikheid moet neem.

Om bevrediging uit te stel, en impulsbeheer

Palmboompies trippel en kerm langs ons wanneer ons oor die foon praat. Dis altyd hulle beurt. Spyt kom te laat wanneer hulle halsoorkopgeaardheid kort-kort deurslaan. Ons wens hulle wil dink voor hulle doen, en dit is presies wat ons hulle moet leer.

As ons dit nie vroeg reeds begin doen nie, word hierdie outjies maklik bedorwe brokkies. As volwassenes is hulle plesiervrate en skuldmakers. Hulle wil dan nog steeds soos tweejariges alles wat lekker is nou dadelik hê.

Skep met opset geleenthede waar jou palmboompie moet wag. Moenie hulle bakkie pap voor hulle neersit die oomblik wanneer hulle oë soggens oopgaan nie. Moenie jou werk soos ’n warm patat los elke keer wat hulle ’n versoekie het nie.

Laat hulle op die “wagmatjie” by die foon sit totdat jy klaar gepraat het wan­neer hulle iets wil sê. Hou dan jou belofte om onmiddellik te luister wanneer die telefoongesprek verby is. Leer vir hulle ’n handgebaar wat beteken jy is besig om met iemand te praat, en hulle moet tjoepstil wag.

Laat hulle maar intussen onder jou arm inkruip of jou hand vashou sodat hulle weet jy is bewus dat hulle met jou wil praat. Hulle kan so leer om nie langs jou te trippel en “Mammamammamamma” te roep nie. Gee hulle so gou moontlik daarna jou volle aandag.

Speel van vroeg af gereeld beurt­speletjies met palmboompies en so gou moontlik bord- of kaartspeletjies met vaste beurte.

Wanneer ’n palm­boompie ander verskriklik in die rede val, kan ’n mens gesprekbeurte aan tafel oefen deur ’n voorwerp te hê wat elke spreker moet vashou terwyl hy praat. Eers as hy dit teruggesit het in die middel van die tafel mag die volgende persoon wat iets wil sê, dit optel (nie gryp nie!) en praat. Niemand mag sonder die voorwerp praat nie.

Wanneer palmboompies ander kinders impulsief terug seermaak wanneer hulle per ongeluk seerkry, is ’n goeie tegniek om hulle ’n rukkie te laat “uitsit” uit die speelarea en daarop aan te dring dat hulle om verskoning vra voordat hulle verder mag saamspeel.

Moenie soveel sakgeld gee dat kinders dadelik kan koop wat voorkom nie. Maak dit nodig vir hulle om te spaar of tot hulle verjaarsdae te wag vir daardie spesiale speelding. Moenie bederf nie.

Enige vorm van oordaad dra by tot swak impulsbeheer omdat kinders wat nie soms deur hulle ouers plesier en presente ontsê is nie, dit beslis nie self sal leer doen nie. Waar jy ophou bederf, sal hulle eendag oorneem, en alles koop wat hulle hart begeer – ook dit wat hulle nie kan bekostig of regtig nodig het nie.

Modelleer vir hulle hoe om nie dadelik te reageer voordat ’n mens gedink het nie. Wanneer jou palmboompie vra of hy sy hare groen mag kleur vir sy matriek­vakansie, hoef jy nie dadelik te reageer nie.

Vra of jy daaroor kan slaap. As jy nie ’n harige, groen monsternagmerrie het nie, is die antwoord dalk môre ja!

Moenie toelaat dat hulle impulsiwiteit jou in ’n hoek druk nie. Wanneer ’n palmboompie instorm en skree: “Ek moes al daar gewees het. Ek gaan saam met Anneke fliek toe, oukei? Sê asseblief ja, asseblief, asseblief? Die fliek begin oor tien minute!” is dit moeilik om die wegholtrein te stop, maar ons moet dit doen.

Dis nie hoe ’n mens toestemming vra om uit te gaan nie. Dit gee nie vir Ma en Pa genoeg tyd om die belangrike vrae te vra soos hoe laat om hulle seun terug te verwag, by watter teater hulle gaan wees en wie die kar gaan bestuur nie. In die harwar vergeet almal dalk dat daar môre ’n toets of musiekkonsert is.

Hierdie kind sal eenvoudig ’n paar minute moet laat wees vir die fliek as gevolg van sy swak tydsbeplanning en kort kennisgewing, of hy sal ’n ander keer moet gaan as hy graag die begin van die fliek ook wil sien.

Om ernstig te raak wanneer dit nodig is

Ons almal het al gehoor hoe ’n palmboompie ’n stil, ernstige atmosfeer verwoes. Wat doen hulle byvoorbeeld graag op die ernstigste punt in die Sondagoggend­preek? Ja, hulle breek ’n windjie!

Hulle haat erns. Erns is egter ’n komponent van respek en moet maar op die een of ander tyd aangeleer word, of hulle nou wil of nie.

Die invalshoek moet weer eens wees om ons palmboompie op die gevoelens en behoeftes van ander mense te wys. “Eendag wanneer jy trou, sal jy seker sleg voel as iemand heeltyd so giggel en proes, of hoe?”