[PALMBOME] LES 14 – Jou handleiding vir palmbome grootmaak

Palmboompies het soos ons almal spesifieke dinge nodig om te floreer.

Applous en die kollig – ’n gewillige gehoor

As palmboompies se gesinne hulle nie geniet nie, bly palmboompies liewer weg van die huis af en soek ander se goedkeuring – dikwels met rampspoedige ge­volge. Ons moet die hardste hande klap en die meeste aandag gee as ons hulle naby ons wil hou.

Laat die palmboompie voor die res van die gesin die rympies opsê wat sy by die skool geleer het. Moedig hulle aan om aan toneel, voordrag en ander aktiwiteite deel te neem waarin hulle op die verhoog kan wees.

Gebruik sertifikate, medaljes, trofees en ander sigbare bewyse van sukses om palmboompies te beloon vir enige iets van die eerste “droë” deurslaap tot die wisseling van hulle laaste melktand. Wees kreatief.

Gebruik ook kleurvolle aan­prysings soos: “Daardie bollemakiesie was so goed ek het amper my tande inge­sluk van verbasing!” eerder as die gene­riese “Mooi so!”

’n Buigsame struktuur en roetine en ontspanne tydsbestuur

Palmboompies is nie van nature aan tyd en orde vas nie. Ons kan hopeloos te veel energie mors as ons hulle in klein robotjies probeer verander. Buigsaamheid is die antwoord.

Eerder as om badtyd, slaaptyd en ander roetinegebeure rigied aan die oorlosie te koppel, kan ’n mens met ’n palmboompie fokus op die volg­orde. “Voordat jy kan TV kyk, moet jou kamer netjies wees; sodra jy klaar geëet het, is dit tandeborseltyd”. Op daardie manier is daar orde, maar nie noodwendig stywe spertye nie.

Laat toe dat takies soms omgeruil word ter wille van die variasie wat palmbome so nodig het. Moet dus ook nie die volgorde in hulle roetine te rigied maak nie. Laat hulle byvoorbeeld toe om soms eers bed op te maak en daarna aan te trek.

Aanvaarding vir ongewone eienskappe, idees en optrede

Palmboompies word later in hulle lewens dikwels baanbrekers, uitvinders en ontdekkers weens hulle nuuskierigheid en unieke perspektiewe. As ons hulle vreemde idees aanblaas in plaas van blus, doen ons dalk die hele wêreld ’n groot guns.

(Lees gerus Richard Branson se outobiografie, Losing my Virginity, waarin hy vertel hoe sy ouers bygedra het tot sy verstommende sukses, deur nooit sy kreatiwiteit en drome te smoor nie.)

My tweelingboetie is ’n fenome­naal kreatiewe palmboom. Ongeluk­kig het ons en baie ander mense op sy pad eerder gedink daar skort iets, totdat ons besef het hoe begaafd hy eintlik is. Hy het sy kreatiwiteit eendag aan die Engelsonderwyseres probeer bewys deur die vervelige opstel­onderwerp “my gunstelingsport” op te kikker.

Hy het oor ertjieresies geskryf, en onder andere in besonder­hede verduidelik hoe nodig truspieëltjies is en hoe om dit aan die ertjies vas te heg op ’n manier wat hulle steeds in staat sal stel om veilig om skerp draaie te beweeg … verbeel jou!

Die onderwyseres het nie ’n greintjie palmboomverbeelding in haar eie persoonlikheid gehad nie. Sy het baie verontwaardig gereageer, ’n streep deur die opstel getrek en geweier om punte daarvoor toe te ken.

’n Palmboompie kan gewoonlik reken op baie sulke misverstande, miskenning, verkleinering en afkeuring teen die tyd dat hulle tieners is, want daar is baie suurknolle om hulle. Mag die Here gee dat ons nie so met ons palmboompies werk nie.

Hope drukkies, soentjies, aanraking en vertroeteling

Palmboompies is baie sensories ingestel en voel liefde baie beter as wat hulle dit hoor. Hulle wil nie altyd oor “geslob­ber” wees nie – soms wil hulle net gekielie, mee gestoei of op die skouer geklop word, maar hulle behoefte aan aanraking bly staan dwarsdeur hulle tienerjare.

Ons moet nooit ophou om aan hulle te vat nie. Hierdie boompies raak die maklikste in fisieke verhou­dings met die teenoorge­stelde geslag betrokke. Ons wil nie nog ’n honger na fisieke aanraking ook by die ander dryfvere voeg nie. Maak seker jou palmboompie is versadig.

’n Stimulerende omgewing met baie aksie en moontlikhede

Palmboompies is ongelooflik stout wanneer hulle verveeld raak. Hulle aandagspan is kort, en hulle kan nie lank stil sit of met een aktiwiteit tevrede wees nie. Om hulle as piep­kleintjies in die kerk te dwing om doodstil te sit sonder enige afleiding, is byvoorbeeld ’n gedoemde oefening.

Geleenthede om kreatief en oorspronklik te wees

Dit beteken dat ons vir hulle sê wat om te doen, maar dit aan hulle ver­beelding oorlaat hoe hulle dit wil doen. Tafeldek is dalk hulle werkie – baie vervelig … Laat hulle toe om elke keer ’n ander styl of versiering te gebruik, om die gesinslede aan tafel te skommel, of op ander maniere die alle­daagse op te kikker.

As ’n palmboompie besluit om vandag nie sy bed tradisioneel op te maak nie, maar eerder sy lakens en komberse elkeen in ’n rolletjie op te rol en alles dan soos ’n halfdosyn worsies langs mekaar op die bed te pak, sal dit wys wees om dit so te laat deurgaan. Die beddegoed lê ten minste nie op die vloer nie.

Gee ook vir hulle geleenthede om hulle entrepreneurskap en natuurlike verkoopstalent te ontwikkel. My palmboomboetie het probeer om verpoeierde pienkerige klip as grimering aan verbygangers in ons straat te verkoop. Vandag verkoop hy met groot sukses sy kreatiewe probleemoplossingsvaardighede aan besighede met tegnologiese probleme, en verskaf op die koop toe rekenaars, selfone en digitale kameras aan kliënte, vriende en familie.

Iets om passievol en entoesiasties oor te wees

Ons skiet graag dinge af wat darem te wild of vreemd klink. Palmboompies kom met baie sulke dinge te voorskyn. Wanneer ’n palmboompie tuis kom met die idee om die wêreldrekord in watertrap te verbeter, is dit moeilik om saam met hom opgewonde te raak, maar as hy nie altyd iets het om oor passievol te wees nie, raak sy vlammetjie bitter flou.  

Ons moet ons bes doen om die opgewondenheid aan te steek, eerder as dood te blaas. Die passies hou nooit lank nie, so moet liewer nie te gou die Guinness World Record-amptenare se vliegkaartjies bespreek nie.

Moet ook nie die sportklere, duur toerusting of langtermynkontrak koop voordat die “afkoeltydperk” vir elke nuwe belangstelling verstryk het en jy seker is die belang­stelling is ernstig nie.

Waarskuwing teen versoekings en gevare en aansporing tot versigtigheid

Palmboompies ervaar gewoonlik hulle ouers en onderwysers as pretbederwers. Ongelukkig is palmboompies se pretliewendheid ons grootste rede tot kommer. Alles moet geproe, gesnuif, gevoel en aan die brand gesteek word … Ons is nie verniet besorgd oor hulle nie!

Hulle eksperimente is dikwels gevaarlik, omdat hulle nie bekend is vir versigtigheid nie. Ons moet maniere vind om vriendelik en liefdevol te verduidelik waarom ons so baie “pasop” en “moenie” sê. Ons moet dit ten minste in kalm stemme met ’n arm om die skouers probeer doen.

Wanneer ons die plastieksak wegneem wat hulle in die vuur probeer gooi, moet ons iets anders aangee wat nie die braaivleis gaan vergiftig wanneer dit onder die tjoppies lê en rook nie.

’n Fokus op die positiewe en wat goed en lekker is

Palmboompies vrek langs troebel waters. Hulle kan nie pessimisme verwerk nie. Hulle sal uit ons huis wegvlug as dinge altyd ernstig en negatief is. Hulle sal ook onttrek as ons te krities en suspisieus teenoor hulle optree.

Dissipline met humor en ’n kreatiewe aanpak

Dit werk beter om ’n ernstige onder­werp by wyse van ’n grappie aan te roer as om prekerig af te skop. Palmboomtieners gaan beter reageer op ’n ligte aanslag soos:

“Ek en Mamma het na ons geldsake gekyk en ons kan vir jou net ’n ligte drank- of rookgewoonte borg. Dwelms of ’n baba sal te duur wees. Aanvaar jy die aanbod, of spaar jy liewer self vir iets opwindender?”

Dit nooi hulle uit om te gesels en gee jou ’n kans om te hoor hoe hulle oor die dinge dink. Die alternatiewe styl gaan veroorsaak dat jou tiener die onderwerpe met jou gaan vermy: “Ons wil net vir jou duidelik sê dat ons geen drank of dwelms onder ons dak sal duld nie. As ons jou met so iets vang of uitvind dat jy ’n seksuele verhouding het, sal ons jou uit die huis gooi.”

Met palmboomkleuters werk dit goed om snaakse speletjies, rympies of liedjies te gebruik om tafelmaniere, opruimwerk en ander vervelige dissiplinetakies aan te spreek.

Ons het byvoorbeeld ’n pienk plastiekvarkie aan tafel gehad om slegte maniere aan te spreek. Sy naam was die “ô-ô”. Wanneer iemand byvoorbeeld oopmond kou, of sy mes in sy mond steek, mag die eerste een wat dit opmerk die “ô-ô” voor die skuldige se bord neersit.

As die skuldige korrek kan verskoning vra byvoorbeeld “Skuus dat ek my vinger afgelek het”, mag sy die “ô-ô” weer in die middel van die tafel terugsit. As sy nie kan nie, moet sy iemand anders uitvang om van die “ô-ô” ontslae te raak. Die een wat aan die einde van die ete met die “ô-ô” sit, verloor.

Ons het ook ’n lawwe marsliedjie gebruik uit die klankbaan van Jungle Book, wat ons soms nou nog neurie wanneer dit tandeborseltyd is. Dan val die kleuters agter Ma in, en marsjeer in ’n ry badkamer toe. Dit was ’n deurbraak in ’n tyd toe tandeborseltyd met groot weerstand begroet is en die liedjie my palmboompie se gunsteling was.

In plaas daarvan om badtyd oorlosie in die hand aan te kondig, kan ’n mens byvoorbeeld ’n gesig trek en aankondig: “Ek kan ruik dis badtyd vir iemand se voete!” Krasserige humor is veral lekker vir ’n palmboompie.

Ruimte om met hulle voorkoms en identiteit te eksperimenteer

Palmboomkleuters is mal oor TV-karakters en superhelde. Hulle is gewoonlik die outjies wat weke lank in hulle Superman-uitrusting lewe. Die dogtertjies kies ook rolmodelle en dan moet die hare of klere ’n perfekte replika wees. 

Palmboomtieners is die kleurvolste lewende wesens op aarde. Maar ai, die kleure bots en skree soms vir ons teen mekaar wanneer ons na hulle kyk. Die ander drie soorte boompies mag moeiliker wees om te dissiplineer, deur meer buierigheid gaan, rebelser wees of passiewer raak, maar die tienerfase met palm­boompies is sonder twyfel die interessantste.

Hulle liggaamlike veranderinge word baie intens beleef, en daarom baie intens uitgedruk deur taalgebruik, versiering (soos tattoeëermerke, oor-, neus- en naeltjieringe en ander juwele, klere en bykomstighede) en die keuses van aktiwiteite.

Hulle soek hulle identiteit oral behalwe in hulleself, daarom kan hulle baie wye draaie loop voordat hulle hulleself uitein­delik vind. Ons kan die proses aanhelp deur geduldig te wag, of dit baie vertraag deur op elke eksperiment negatiewe terugvoering te gee.

Iemand om mee te speel en lag

Die pad na ’n palmboompie se hart is deur pret. Ons verhouding met hulle hang af van ons vermoë om hierdie feit aan te gryp. Ons moet tyd maak om hulle gunstelingaktiwiteite met hulle te deel wanneer hulle daarvoor vra!

Gereelde pret, avonture, afwisseling en opwinding

As die res van die gesin en die huisomgewing vervelig is, moet ons nie ’n palmboompie dwing om tuis te bly sit en verlep nie. Ons moet dan toelaat dat hulle onder kontrole en goedkeuring gaan speel, speel en weer speel.

Die beste plan is natuurlik om pret onder ons eie dak te fasiliteer sodat ons oor hierdie outjies kan toesig hou …

Iemand wat saam met hulle kan fantaseer

Hierdie behoefte is veral by die kleintjies baie groot – hulle wil boeke vol stories hoor en jou aandag hê vir hulle vertellings van hulle eie avonture – veral van dié wat nooit regtig gebeur het nie.

Moenie alles as leuens afmaak of hierdie “wol­haarstories” straf nie. Antwoord eerder dat jy hulle stories geniet, hulle grappies waardeer en mal is oor hulle interessante geselsies met jou.

Vertel hulle elke keer wanneer julle stories lees of die storie regtig gebeur het en of dit een van daardie stories is wat uit iemand wat net so kreatief soos hulle is, se kop kom.

Hou die straf en preke oor leuens vir die kere wanneer hulle regtig jok oor dinge wat hulle verkeerd gedoen het. Palmboompies ontwikkel wel ’n greep op die realiteit, al neem dit heelwat langer. Moenie bekommerd raak voor hulle ten minste nege of tien is nie.

Hulle het egter die gawe om selfs as volwassenes anderkant (en ten spyte van) die realiteit ’n wonderlike wêreld raak te sien.

Baie sosiale geleenthede en kontak met baie mense

Palmboompies raak happerig en negatief wanneer hulle nie by maatjies en vriende uitkom nie. Hulle floreer ook op gesinsvakansies, gesinsaande en ander geleent­hede waar almal saam is. Hulle oefen hulle Godgegewe mensvaardighede tydens hierdie sosiale geleenthede.

Hulle het nie ander maniere om hulleself te leer ken nie – hulle doen dit deur te kyk na hulle refleksie in ander se oë. Ons vertraag dus hulle volwassewording wanneer ons hulle op hok hou.