[PALMBOME] LES 12 – Nog dinge om te verstaan van palmbome

Hoe kommunikeer ’n palmboom? Die kort antwoord is hard en baie. Palmbome het altyd iets om te vertel, by te voeg en in te kleur. Hulle het ’n opwindende ervaring wat met elke onderwerp verband hou.

Ongelukkig is nie alles wat ’n palmboom met soveel kleur vertel bruikbaar in die hof nie … Daar is maar stertjies en verbuiging van die storielyn. Dit maak hul­le wonderlik om na te luister maar gevaarlik om jou geheime mee te deel. Hulle laat maar soms die tande onnodig oopstaan.

Palmbome se gladde tong maak dubbel en dwars op vir enige tekort­koming wat hulle mag hê. Hulle kan skoene aan slange verkoop en jou kop so dronk praat dat jy vergeet waaroor jy kwaad was.

Palmbome is daarom gewoonlik selfversekerde publieke sprekers. Hoe meer mense na hulle wil kyk en luister, hoe beter. Amper alle motiveringsprekers is sterk palmbome. Seremomiemeesters, radio-omroepers, TV-aanbieders en charismatiese evangeliste ook.

Daar kom egter nie net inspirasie uit hulle monde nie. Palmbome is berug vir humor wat die grense van ordentlik­heid oorsteek … Dit begin dikwels in die kleuterjare met ’n voorliefde vir toilethumor, en van daar af kan dit nog heelwat laer daal as die palmboom se waardes dit toelaat.

’n Palmboom kan niks byleer uit How to win friends and influence people nie, want die ware palmboom word met hierdie gawes gebore. Wie gee om as ’n palmboom jou naam vergeet? Hulle noem almal “my skat”, “my broer” of “ou ding” en niemand neem aanstoot nie.

Hulle kyk jou vas in die oog met hulle innemende uitdrukking, en dit voel of niemand anders as jy in hulle wêreld bestaan nie. Hulle styl van warm, oop and effektiewe kommunikasie maak dat hulle ’n kitskennis van almal word. Hulle stralende geaardheid maak dat almal wel húlle name onthou.

Die passiewe deel van kommunikasie is egter ’n probleem. Palmbome luister nie graag na ander nie. Hulle maak selde goeie beraders, want hulle luister moeilik na mense se leed en klagtes omdat die negatiewe emosies daarvan hulle so afsit.

Wat maak ’n palmboom moeg en uitgeput?

Roetines, begrotings, beplanningsvergaderings, administrasie, skedules, verslae, reëlboeke en enige ander beperkings of grense. Die palmboom word verveel en uitgeput deur alle onpersoonlike take waarby net rekenaars en doku­mente of oorlosies en kalen­ders betrokke is.

Hulle sukkel om binne gestelde grense te funk­sioneer omdat hulle vrydenkend, kreatief en vol energie is. Dit druk hulle dood om volgens proto­kol op te tree wanneer hulle nie die sin daarvan insien nie, en gewoonlik kán hulle dit nie insien nie of juis sien dat dit sinneloos is.

Hulle funksioneer optimaal wanneer hulle nie net verre horisonne kan sien nie, maar ook toegelaat word om tot daar te beweeg sodat hulle selfs die verder horison kan sien.

Hoe herlaai ’n palmboom en kry weer energie?

Palmbome herlaai tussen mense. In plaas van uitgeput word deur sosiale geleent­hede, word hulle al vroliker en sterker namate die partytjie voortduur. Hulle is in die middel van die aksie, in die middel van die dansvloer en in die middel van elke bondel skaterende gaste.

Palmbome herlaai so omdat hulle hulle waarde in die oë van ander vind, en net goed kan voel wanneer ander hulle voorkoms komplimen­teer, hulle nuwe klere, oorlosies, kar of ander besittings raaksien, hulle geselskap geniet, en vir hulle grappies lag.

’n Palmboom herlaai ook deur aan die een of ander avontuur deel te hê. Hulle is áltyd gereed vir pret, kattekwaad of mal waagstukke, en floreer op die adrenalien wat daarmee saamgaan.

Spoed, hoogtes, risiko’s and noue ontkomings laat die palmboom se bloed weer soos sjampanje bruis. In elke palmboom is daar ’n kind wat nooit heeltemal groot word nie, en daardie kind moet gereeld pret hê.

Palmbome kry ook nuwe lewe wanneer hulle besig is. Hulle kan nie stilsit nie. Hoe meer dinge hulle gelyk mee besig is, hoe blinker hulle oë.

Wat vrees ’n palmboom en maak hulle bang?

Omdat palmbome so afhanklik is van mense om hulle, vrees hulle eensaamheid of isolasie. Palmbome sonder vriende word sommer treurwilgers.

Palmbome vrees ook verwerping en afkeuring. Hulle kan baie gespanne raak wanneer mense te min mooi dinge oor hulle sê. Sonder die aandag en applous op hulle gevestig en sonder ’n gehoor vir hulle vermaaklikhede – of ten minste ’n entoesiastiese aanhoor van ’n projekvoorlegging – kan palmbome gou onseker van hulleself raak.

Palmbome vrees ook die ouderdom en alles wat daarmee saamgaan omdat hulle hulle liggame so belangrik ag. Die jeug, lewenskrag, skoonheid, fiksheid, die vermoë om te speel en die vinnige lewenstempo wat vir die palm­boom laat mens voel, word alles deur die ouderdom bedreig.

Dis vir palmbome moeilik om te dink wie hulle gaan wees wanneer hulle swak, onaantreklik, onaktief en selfs minder mobiel mag wees.

Palmbome het afwisseling, opwinding en nuwighede bitter nodig, daarom vrees hulle ook stagnasie. Palmbome is agente van verandering wat glo dat stilstaande water gou begin stink … Daar moet altyd rimpelings en stromings wees, anders skep hulle dit!

Vandaar die rooimiere wat hulle so dikwels van werk, blyplek en selfs vriende laat verwissel. Ongelukkig is verveling in die huwelik vir baie palm­bome ’n probleem.

Wie maak ’n palmboom kwaad en aggressief?

Mense wat net die negatiewe kant van elke saak kan sien, is soos mosterd op ’n palmboom se roomys. Hulle kan nie funksioneer saam met pessimiste en klaers nie. Ook nie saam met ouens wat eerste by die probleme wil stilstaan nie.

Hulle versamel entoesiaste en doeners om hulle, en pes die passiewe, vervelige ouens wat net “realisties” na alles wil kyk, en nooit kan droom of waag nie. Omdat palmbome die gawe het om mense te laat opstaan en saamhardloop, frustreer die ouens wat aan hulle stoele vasgeplak is ’n palmboom verskriklik.

Dit spreek vanself dat hulle enige pretbederwer sal vermy. Die suurknolle met nat broeke maak dit nie tot in palmbome se binnekring nie. Wanneer hulle wil speel, en iemand wil hulle keer, kan hulle aggressief reageer.

Mense wat hulle inhok, maak hulle ook boos. In huwelike gebeur dit dikwels wanneer ’n palm­boom nie ruimte gegun word om buite gesinsverband saam met vriende of vriendinne te kuier nie.

Hoe hanteer ’n palmboom spanning en stres?

Omdat palmbome emosioneel eerder as rasioneel funksioneer, dink hulle nie baie graag na oor die bronne van hulle stres en die moontlike oplossings nie, maar kies eerder om dit te ontvlug of daaroor grappies te maak.

Dit beteken gewoonlik dat die hantering van probleme eerder uitgestel word. Wanneer die hopie onoop­gemaakte rekeninge die palmbome begin pla, druk hulle dit in ’n laai waar hulle dit nie hoef te sien nie, en hoop (onbewustelik natuurlik) dat die laai dieselfde magiese kragte as die Bermudadriehoek het …

Palmbome het wonderlike mensvaardighede, en die helfte van hulle probleme gaan gewoonlik weg, deurdat hulle hulle sjarme aan die dag lê om ander mense te kry om dit vir hulle op te los.

Hulle fladder daardie lang wimpers van hulle en almal maak spesiale toegewings, gee uitstel en spring entoesiasties in om hulle van verdrinking te red. (Ek gaan nog eendag bewys dat hulle wimpers langer en donkerder is as die res van ons s’n!)

Palmbome kan die aand voor ’n groot eksamen gaan fliek, en ’n paar uur lank alle sorge vergeet. Hulle kan heeltemal vergeet van die skuldinvorderaar, van die Ontvanger en van die klerk van die hof, van die afspraak met die skoolhoof en die dagvaarding …

En vanaand lekker slaap, want hulle het die vermoë om alles wat pla agter ’n digte gordyn toe te trek totdat hulle gereed is om daaroor te dink (of totdat dit agter die gordyn uitspring, en hulle aan die gorrel gryp).

Waaraan meet ’n palmboom sukses en ’n goeie selfbeeld?

Plesier is een van die belangrikste maatstawwe van sukses in ’n palmboom se lewe. As daar nie vreugde en genot in ’n baie konkrete sin van die woord is nie, is daar iets fout.

’n Palmboom kan nie glo dat sy lewe op die regte spoor is wanneer dit vol pligte sonder plesier is nie.

As die werk nie toelaat vir gereelde vakansies of werkverwante trippies nie, en die byvoordele is vaal, kan ’n palmboom maklik aanbeweeg na groener weivelde.

Palmbome kyk baie moeilik verby die uiterlike maatstawwe van sukses. Hulle streef na die nuutste, die mooiste, die blinkste. Hulle moet die praghuis, spoguitrustings, nuutste haarstyl, statusmotor en oorsese winskopies kan wys om te voel dat hulle iemand is.

As ’n palmboomvrou al haar kos by Woolworths Foods kan koop, het sy sowaar gearriveer, en as iemand haar dit kan sien doen, nog beter!

Populariteit, bekendheid en roem is nog maatstawwe van sukses. As hulle gereeld na sosiale geleent­hede genooi word, as almal hulle dienste of produkte wil bekom of hulle naam verskyn iewers in groot letters, het hulle dit gemaak.

As hulle maatskappye op die aandelebeurs gelys kan wees of as hulle die een of ander bestaande rekord kan breek, is hulle op die kaart. As hulle kinders vir moedersdag ’n “Beste Ma in die Wêreld-sertifikaat” vir hulle laat raam, voel hulle soos ’n koningin.