Om hierdie temperament te waardeer, moet jy dalk eilandpalmbome visualiseer – daar hang kokosneute wat op iemand se kop wil val, en die apies baljaar in die takke, gereed vir streke.
Wanneer die eilandmusiek opklink en die Hoolah-meisies hul grasrompies rondswaai, dans die palmboompies saam. Hulle staan in die middel van elke strandpartytjie. Afgeëts teen die sonsondergang laat hulle ons almal verlang na die volgende naweek of vakansie.
Hulle is joviale, pretliewende bome – ver verwyder van die erns van die res van ons! Hulle basuin dit uit: “Leef vir die oomblik, geniet die son, die lewe is ’n fees!”
Palmbome verander nie baie soos hulle groter word nie. Hulle onderste takke of blare verdroog maar net, en die stam word al langer, maar die wuiwende blaredak bly dieselfde.
Mense met hierdie temperament behou ook hulle kinderlikheid, lewenslus en sprankel tot in hulle oudag. In ’n sekere sin word hulle ook maar net langer. Hulle is verrassend, vreemd, wonderlik, van ’n ander planeet. Hulle bring die kleur in wat dikwels ’n swart-en-wit situasie is. Hulle humor kan met tye ons asem wegslaan.
Op ’n dag het my palmboomseuntjie my onkant gevang nadat ek hom ’n lekker stywe drukkie gegee het. Hy het omgedraai, en met armpies uitgestrek gesê: “En nou die ander kant.” Ek moes sowaar sy ruggie ook ’n drukkie gee! Dit is ’n kerneienskap van baie palmbome – hulle sien altyd nog ’n “ander kant”.
My palmboom-tweelingbroer het een jaar op Valentynsdag ten aanskoue van die hele skool skielik van die balkon in die skoolvierkant afgesak. Hy was aan ’n lang tou vas, het net ’n lapdoek aangehad, en sy hele lyf was oortrek met bloedrooi lipstiffiesoenmerke.
Hy het met ’n speelgoedbogie plastiekpyltjies tussen die kinders ingeskiet soos ’n wafferse Cupido. ’n Mens kan tog nooit so ’n opwindende persoonlikheid met ’n eikeboom of wilger assosieer nie!
Ontmoet vir Belinda, die klassieke palmboompie
Belinda se krulkoppie en blink ogies laat ’n mens dink aan ’n strokiesprentkaraktertjie. Sy is nou vier jaar oud. Haar giggels en gille laat gereeld die bure in die woonstel langsaan aan die veels-te-dun tussenmuur klop.
Hulle het nie die hart om ooit reguit vir haar te vra om die volume af te draai nie, want sy is darem maar al te dierbaar. Haar ouers is ook om die taai klein pinkie gedraai. Hulle voel ook te jammer om regtig kwaai te raak. Almal aanvaar sy is maar net so luidrugtig! En waarvan is die pinkie so taai? Van al die lekkergoed natuurlik!
Belinda se babafoto’s wys net pienk tandvleisies en ogies wat skoon toe is van die lag. Haar eerste woord was “Wow!”
Blaai ’n mens deur haar kleuteralbum, is dit verstommend hoeveel vertonings op film vasgelê is: Daar was die dag toe sy haarself met Pappa se skeerroom opgemaak het “om soos Kersvader te lyk”. Dié se baard het bo by haar wenkbroue begin, en op haar hasiepantoffels geëindig.
Daar is die pragfoto van die keer toe sy tydens haar boetie se skoolkonsert die verhoog bestorm het en kliphard in die hoofmikrofoon saam met die “katte” begin miaau het, kompleet met die naels weerskante langs die gesiggie.
Die video van haar vierde verjaarsdag wys hoe sy tot groot vermaak van al die maatjies haar verjaarsdagkoek se kersies met ’n beker rooi koeldrank verspoel het. Wie wil nou blaas wanneer jy kan blus?! Daarna het sy soveel van die koek en aartappelskyfies weggesit dat sy teen die aand vreeslik naar was.
Sy het daardie dag van Mamma se grimering in die hande gekry, en gelyk of sy in ’n ongeluk was van al die bloedrooi smeersels, maar vir haarself was sy te pragtig. Dit was moeilik om haar voor die spieël weg te kry.
Wanneer Belinda gevra word om speelgoed weg te pak, ontaard dit gewoonlik in die een of ander speletjie of ’n lang storie. “Die balle het nou-net vir my gesê hulle wil liewer in die tuin slaap want hulle kry warm in die huis.”
As dit nie werk nie, word sy een van haar karakters. “Ek is nou ’n padda. Paddas kan nie sien wat is blokkies nie.” Wanneer haar pa genoeg van dié soort uitsteltegnieke gehad het, en sy stem dik maak, lag sy soms kliphard vir sy ernstige gesig.
Dis natuurlik soos petrol op ’n braaivleisvuur! Dan ontplof Pa, Belinda bars uit in hartverskeurende trane en Mamma kom tot haar redding. Mamma ruim om liefdeswil die hele streep verwoesting op. Dit werk elke keer. Belinda se trane van netnou verdamp in ’n kits, en sy wip op om elders verwoesting te saai.
Belinda word genooi na elke maatjie in die klas se verjaarsdagpartytjie, en is die gunsteling-kleinkind van die oumas en oupas aan albei kante van die familie. Sy deel mos stringe drukkies en soentjies uit, en kom met sulke oulike sêgoed uit.
Maar aan die einde van die eerste kwartaal van Graad 1 gaan ’n ontstellende verslaggie huis toe kom: Belinda se taakgerigtheid is ontoereikend vir haar ouderdom. Sy voltooi nie haar werk nie, en haar aandag dwaal.
Die skool beveel aan dat sy geëvalueer word vir Aandaggebreksindroom and hiperaktiwiteit. Haar juffrou beskou haar as ’n goeie kandidaat vir Ritalin. Belinda se ouers gaan in ’n toestand wees hieroor. Hulle weet sy is intelligent en kreatief. Waarom sal sy dan met skoolwerk sukkel?
Belinda se joviale geaardheid gaan haar nog baiekeer met moord laat wegkom. Sy kan die heuningkwas swaai, en die gehardste slawedrywer se standaarde met haar onskuldige glimlag verlaag tot op die vlak waar sy kan bykom.
Sy gaan haar take láát inhandig, sportklere by die huis vergeet, elke jaar minstens een paar skoene of ’n skooltrui verloor, maar alles kan verduidelik sodat ’n mens goed verstaan dat dit beslis nie haar skuld was nie.
Wanneer sy op hoërskool is, gaan haar pa swaar dae deurmaak. Wanneer Belinda se hormone begin inskop, begin die groot uitdaging. Dit sal ook nie help om die spreekwoordelike haelgeweer aan te skaf om die jong mannetjies te probeer weghou nie, want Belinda gaan hulle nie noodwendig huis toe bring nie.
Sy gaan waarskynlik baie buite die huis gaan kuier en saam met ’n hele bondel maats oral rond “uithang”. Haar sosiale behoeftes gaan vir haar ouers oordrewe lyk, en hulle gaan baie nagte wakker lê en wonder wat sy aanvang.
’n Mens kan maar net hoop haar ouers bid dat sy die groepsdruk kan weerstaan waarteen sy so weerloos kan wees. En dan is daar die kwessie van hare, kleredrag en juwele. Met ’n palmboompie moet ’n mens die ergste te wagte wees …
Belinda se base gaan sleg daarvan afkom as hulle probleme het met onkonvensionele kantoordrag, lang sosiale telefoonoproepe op die kantoor se rekening, laatkommery en af en toe die totale vergeet van ’n belangrike personeelvergadering, of die verlê van ’n lewensbelangrike dokument – dis nou as Belinda ooit ’n kantoorwerk sal aanpak.
Dis meer waarskynlik dat sy elke paar jaar ’n nuwe, meer opwindende loopbaan as die vorige sal uitprobeer – die soort met die minimum werkure en die maksimum voordele en verlof.
Belinda is enige bank se droom, want ’n kredietkaart voel vir haar na ’n towerstaffie. Swaai hom rond en – siedaar! – alles wat haar hart begeer. Sy gaan die nuutste en mooiste van alles “toor”, sonder om te vrees vir die klok wat middernag slaan wanneer die rekeninge kom.
Sy gaan ’n man kies saam met wie sy pret het, iemand wat haar mooi en oulik laat voel, iemand wat haar haar plesiertjies en vergrype gun – ’n speelmaat. Sy gaan naïef wees oor die meeste van haar verhoudings, en sy sal baie vriende sien kom en gaan. Dit gaan haar nie pla nie, want sy kan vriende maak met die man in die maan, as sy wil.
Haar kinders gaan hopelik ’n pa hê wat goed is met beplanning en organisasie, want Belinda gaan wye draaie om roosters, almanakke, begrotings en skedules loop … Dit sal geen wonder wees as sy die krulletjies, stoute blink oë en skaterlag behou tot sy sewentig is nie.
Hoe om die volwasse palmboom te herken
Mense sê …
Hoe gee en ervaar ’n palmboom liefde?
Die meeste palmbome is baie sintuiglik and sensueel ingestel, en fisieke betoning van liefde is dus vir hulle baie belangrik. Hulle is kreatief and romanties, en het behoefte daaraan dat hulle lewensmaats ook die opwinding sal aanblaas.
Hulle floreer op aanraking and vertroeteling, en danksy ’n lewendige libido druk hulle hul liefde vir ander baie demonstratief uit.
Omdat palmbome so op aandag en die kollig floreer, smag hulle ook na erkenning uit die mond van die mense vir wie hulle lief is. Komplimente and bewondering tel vir hulle baie punte, selfs al word net uiterlike aspekte erken:
“Jy lyk goed. Ek is mal oor jou naels. Waar kry jy daardie fantastiese das? Wat jy met jou hare gedoen het, werk!” tel dikwels baie meer as ’n sentimentele opmerking soos: “Jou ondersteuning in moeilike tye beteken vir my baie.”
Omdat mooi en nuwe besittings vir ’n palmboom belangrik is, is ’n geskenk ook ’n goeie manier om liefde te betoon aan die palmboom in jou lewe. Baie palmbome is besonder spandabel en vrygewig, wat beslis aandui dat hulle liefde en geskenke met mekaar assosieer.
Wanneer “jou” palmboom verrassinkies aandra, kan jy gerus die guns terugbetaal.
Hoe lyk ’n palmboom se gevoelens en emosies?
Palmbome het rooiwyn in hulle are – rooiwyn met vonkel, maar ook die rooiwyn wat dronkverdriet ken. Palmbome beleef niks in klein skeppies nie – alles kom by die wavrag. Daarom is die positiewe belewenisse amper eufories en die blou dae potblou.
Palmbome hou nie emosies binne nie – dit spoel oor hulle, en sommer ook uit hulle – gewoonlik in ’n redelike stortvloed van woorde. Hulle emosies is dus baie sigbaar and hoorbaar, geen geheim nie. Hulle is passievol maar nie sentimenteel nie.
Palmbome se emosies is meestal positief, en hulle gemoedstoestand is gewoonlik sonnig, maar die intensiteit van palmbome maak dat hulle dieptes baie diep en donker kan wees. Melodramaties is beslis ’n woord wat gereeld met palmboomdames geassosieer word.
As dit met mevrou Palmboom besonder sleg gaan, kan sy ’n dramakoningin by uitstek wees.
Palmbome se emosionele reaksies is blitsig, maar vlietend. Dit maak dat hulle soms moeilik is om te voorspel – een oomblik ’n liefie en die volgende oomblik ’n leeu.
Gelukkig is die meeste negatiewe emosies by palmbome van korte duur. Hulle bons terug met ’n glimlag, vergewe maklik, beweeg aan en vind hulle vreugde in ’n japtrap terug.
Palmbome sukkel egter met die hantering van emosies wat dieper strek as alledaagse woede, teleurstelling, opwinding en verliefdheid. Emosies soos dié wat gepaard gaan met uitgerekte trauma weens die verlies van ’n geliefde, ’n ongelukkige huwelik of langdurige werkloosheid, is nie ’n palmboom se koppie tee nie.
Hierdie emosies weerlê palmbome se lewenskredo dat die son môre weer sal skyn, daarom vind palmbome hulleself magteloos daarteen. Dis vir hulle ’n krisis dat hulle dit nie kan weglag, wegpraat of wegspeel nie.
Palmbome hanteer dus dikwels hierdie dieper emosies baie sleg deur daarvan te probeer weghardloop of selfs weg te hardloop van die mense in hulle lewens wat hierdie emosies by hulle wakker maak.
Hulle deins ook terug van ander mense se intense emosies. Wanneer hulle byvoorbeeld verlief is, en die ander persoon raak te gou ernstig, skrik dit hulle af. As die potensiële lewensmaat te “diep” is, kan dit hulle bang maak. Hulle vermy wat die tieners heavies noem.