Opstaantyd

Kyk nou die video: “Bou en versterk”.

Wanneer ons kinders op skool is, spandeer hulle heelwat ure weg van ons af, daarom is die tye wat ons wel by hulle is kosbaar.

Soggens voor almal in verskillende rigtings skiet, is die ideale tyd om verhoudings te bou en die band tussen julle sterker te maak. Daar is ’n paar goed wat ons in gedagte moet hou wanneer dit kom by ons oggendroetine. Neem in ag dat die mate waarin jou kind self kan aan- en uittrek, self sy tande kan borsel en sy kamer aan die kant maak, direk verband hou met sy ouderdom. Peuters en kleuters het meer hulp nodig as skoolgaande kinders. Maak meer tyd om jou kleintjie te help. Net so moet jy doelgerig wees en minder vir jou kind te doen namate hy ouer word. Onthou dat kinders se verantwoordelikheidsbesef en tydsbestuur nog nie soos ons s’n ontwikkel of geoefen is nie.

Wat kan ons doen om te verseker dat ons oggende rustig en kalm verloop?

Kinders voel veilig wanneer dinge voorspelbaar is; ’n oggendroetine wat konsekwent en gestruktureerd is, is voordelig. Uitdagende gedrag sal verminder, jou verhouding met jou kind sal verbeter en die chaos in die oggend sal iets van die verlede word. Hoe meer jy die aand vantevore doen, hoe makliker sal jou oggend wees. Laat jou kinders jou help. Sit die skoolklere (en jou werksklere) uit, pak die skooltasse en sit dit by die deur, pak kosblikke in, maak waterbottels vol, en maak seker jy teken huiswerkboeke en omsendbriewe.

Besluit op ’n roetine wat vir julle gesin werk. Vir kleiner kinders is dit nie nodig om ’n tyd aan ’n aktiwiteit te koppel nie. Ouer kinders sal daarby baat vind om te weet hoe laat hulle moet opstaan, wanneer hulle moet eet, wanneer hulle aangetrek moet wees en wanneer hulle tasse in die kar gelaai moet wees. Maak ’n lys, gebruik prentjies of foto’s en plak dit in die kombuis of in jou kind se kamer op. Maak dit pret – gebruik ’n wasgoedpennetjie wat jy aan die kant van die papier vassit om aan te dui wat jou kind volgende moet doen. Sodra hy klaar is, kan hy dan self die wasgoedpennetjie na die volgende taak op die lys skuif. Met verloop van tyd sal jou kind leer hoe om ’n lysie te volg, en hoe om take te begin en klaar te maak.

Hou afleidings so min as moontlik. Moenie in die strik trap om die televisie of die iPad aan te sit nie. As jou kinders met die oggendtakies klaar is, kan hulle Lego speel, buite op die trampolien gaan spring of die sokkerbal gaan skop.

Maak grappies en wees ’n bietjie laf. Om saam met jou kind te lag sal spanning verlig en goedvoelhormone vrystel, wat nog vir ’n paar uur in jou kind se sisteem sal bly.

  • Speel jy is ’n monster wat jou kind se sokkie steel net voor hy dit aantrek en gaan steek dit weg.
  • Tel jou kind op jou rug en hardloop deur die huis terwyl julle ’n wakkerwordliedjie sing. Cuddle op ’n boontjiesak en lees gou ’n boekie saam.
  • Speel opgewekte musiek en dans in die kombuis terwyl julle pap eet.

Kry ’n paar mantras of frases wat eie aan julle gesin is en wat vir jou kinders die gevoel van identiteit en samehorigheid gee. Gesels daaroor dat julle ’n span is – ’n wenspan wie se doel is om soos een man, sonder enige gekla en geskree, soggens in die kar te klim en skool toe en werk toe moet gaan.

Besluit op ’n naam vir julle span. Gebruik dan die spannaam om die wiele aan die rol te kry: “A-span, is almal reg? Tyd om in die kar te klim. Go, go, go!”

As jy vind dat jou kind kerm en kla en sommer moeilik is soggens, hou dan die volgende in gedagte. Vir sommige kinders is dit moeilik om te skei van Mamma en Pappa. Die gedagte aan ’n lang dag weg van julle kan hulle gedrag beïnvloed.

As dit jou kind is, maak ekstra tyd vir ’n vinnige individuele spesiale speeltydsessie. Gaan sit op die vloer saam met jou kind, lees ’n boek saam, bou iets met sy Lego, cuddle en hug. Doen iets wat jou kind geniet en waartydens julle oomblikke van oogkontak het. Doen iets of speel ’n speletjie wat ’n duidelike begin en einde het, sodat die kind weet sy het nou vyf minute saam met jou, of julle is saam totdat die boek of aktiwiteit klaar is.