[Liefdesuitdaging 7] Wees vennote in julle finansies

Vir sommige mense is geld ’n vorm van sekuriteit. Hulle spaar, hou by ’n begroting en raak angstig oor impulsiwiteit en spandabelrigheid. ’n Oortrokke fasiliteit is iets wat hulle so gou as moontlik wil afbetaal, en hulle koop nie sommer net omdat iets afgemerk is nie.

Hulle wil in beheer voel en verkies ’n beroep met ’n vaste salaris omdat hulle wil beplan. Hulle stres oor die toekoms en hulle aftrede en wil so goed as moontlik voorbereid wees. Spaargeld is vir hierdie mense ’n noodsaaklikheid omdat dit die waarborg is van hulle toekoms.

Vir ander is geld ’n vorm van vryheid. Hulle lééf met hulle geld, is makliker waagmoedig en impulsief, en het altyd ’n plan om uit die moeilikheid uit te kom. Hierdie mense kan makliker werk met kommissie, en gebruik dinge soos ’n kredietkaart of oortrokke fasiliteit maklik.

Hulle stres ook en is nie noodwendig roekeloos nie, maar hulle slaap gemaklik as hulle dalk vir ’n tyd roekeloos was. Hierdie mense skuif geld tussen rekeninge rond soos benodig, asof dit normaal is. Hulle voel dat hulle hard gewerk het en verdien om iets te koop of hulleself te bederf.

Die konflik kom wanneer ons verskillende sienings het. Die een wil spaar en die ander spandeer. Die mense met ’n sekuriteit-uitkyk beleef die vryheid-mense as roekeloos en beskuldig hulle dat hulle die rede vir die verknorsing is. Die vryheid-mense dink die sekuriteit-groep is verkramp en sal nooit êrens kom nie omdat hulle alles te lank bedink en geleenthede by hulle laat verbygaan.

Egpare wat die verskillende profiele se sterkpunte snap en uitleef, mekaar se sieninge en verskille eer en balans handhaaf, het die meeste vreugde en die beste vooruitsig met hulle geld.

Meeste paartjies werk om te oorleef en besef dat hulle nie kan leef sonder hulle werk nie. Die hartseer is dat min paartjies werklike doelwitte vir hulleself finansieel stel. ’n Droom of doelwit wat geformuleer en uitgespreek is, is iets wat jy makliker volg. Dieselfde geld met finansies.

As jy nie regtig omgee waar jy oor 10 of 30 jaar wil wees nie, kan jy seker maak met jou geld wat jy wil. As jy egter weet dat jy op ’n sekere manier wil aftree of sekere dinge wil doen voordat jy te oud is, moet jy sekerlik praat en daarvoor beplan.

Stel ’n kort-, medium- en langtermyndoelwit op volgens jou eie finansiële vermoëns en situasie. Hoe duideliker julle doelwitte, hoe meer let julle op na die klein besluite wat julle vandag neem. Die lekkerste droom bly om op jou oudag – gelooi en geplooi – met die wete te sit dat julle sáám gebou het aan ’n lewe en ’n droom, en saam iets wonderliks vermag het met mooi herinneringe.

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Gesels oor julle verskillende temperamente met geld. Kan jy dink aan ’n voordeel van elk?

Gooi vir die duur van die volgende maand al julle R5-munstukke in ʼn blik. Gaan eet roomys, of doen iets spesiaals daarmee. Soms het ’n mens nodig om te giggel, mense te laat frons en weer soos ’n verliefde en arm student te voel.