[Liefdesuitdaging 6] Glo dat God julle beskerm en versterk

Soms gaan ons huwelike deur oorlogtye. Ons voel soms gevange geneem deur die vyand en dat ons uitgelag word. Dan begin ons planne maak. Ons dink, heroorweeg en probeer alles om die situasie te red.

Miskien moet ons oorgee. As kind van die Here is die proses van oorgee iets heeltemal anders as die beelde wat ons ken. Ons gee nie óp nie, ons gee net óór. As geredde kind van God gee ons nie oor aan die vyand nie, maar aan ’n liefdevolle Vader.

Waar die soldaat oorgee aan ’n vyand wat hom martel en weerhou van kos, gee ons oor in die hand van ’n Vriend wat die Brood van die Lewe is. Die Een wat ons wonde versorg en vertroos tot by genesing en herstel. Oorgee is nie ’n maklike proses nie. Ons vlees baklei daarteen en gee moeilik die leisels oor. Ek moet beheer laat vaar en glo dat Hy my nie in die steek sal laat nie.

Ons twyfel in oomblikke van moedeloosheid en benoudheid oor God se getrouheid en sy tydsberekening, en vergeet hoeveel kere Hy al tot ons redding gekom het. As jy op moeilike plekke in jou huwelik is, moet jy dalk ’n nuwe strategie probeer.

Die fout wat ons maak wanneer ons deur moeilike tye in ons huwelike gaan, is dat ons die antwoorde by die wêreld soek. Ons lees artikels, koop boeke, luister na die raad van vriende en vriendinne en hardloop na Google toe. Natuurlik is dit ook reg om raad te soek en antwoorde te probeer vind. As ons net vroeg genoeg kan besef dat God reeds die perfekte antwoord het.

Ja, dit wat Hy van jou gaan vra, gaan moontlik nie sin maak vir jou nie en indruis teen jou vlees. Ons vlees lewer ons uit en lê ons lam. Ja, natuurlik is ons net mense, ons kan nie ’n blinde oog en dowe oor gooi vir dinge wat skeef loop nie. Maar in ons binnekamer kan ons veg en deurbrake en oorwinning verklaar. Ons kan uitroep en onthou dat ons ’n God van wonderwerke dien.

As jou huwelik ooit op ’n plek kom waar dit lyk of die vyand besig is om te wen deur depressie, verslawing, werkloosheid, finansies, ’n derde party, dreigende egskeiding of emosionele doodsheid, moet jy juis veg teen jou eie vrees. Vrees lê jou lam en steel jou hoop.

Dis juis dan wanneer ons moet onthou dat God se gedagtes ver bo ons s’n is. Hy sien die groter prentjie, terwyl ons ten dele ken. Om gehoorsaam te wees midde-in die stryd, bring oorwinning. Ons moet vertrou dat God by ons is, veral as ons voel dat Hy nie ons gebed hoor nie.

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Maak ’n lys van al die kere wanneer jy benoud was, geen uitkoms of lig aan die einde van die tonnel gesien het nie – of dit nou in tye van finansiële nood, siekte of jou kinders se probleme. Skryf dit neer! Skryf ook neer wanneer jy/julle gebid het … en wanneer die oplossings kom.

Moenie net dink aan die groot dinge nie, maar onthou selfs die kleinste en mees geringe deurbrake. Herinner jou vlees aan God se goedheid deur die lysie weer en weer deur te lees en die vaste wete dat jy sy getrouheid in jou hart bêre.