[Liefdesuitdaging 4] Hou op vergelyk – waardeer wat julle het

Elke huwelik is uniek. Elke fase bring uitdagings. As jy julle verhouding vergelyk met paartjies wat in ’n ander fase is, sal jy altyd met frustrasie sukkel. Vind uit in watter fase julle nou is:

Jonk en sonder kinders

Julle kan gefokus kuier en julle tyd redelik goed beplan. Geld word verdeel. Julle leer mekaar se geite ken en aanvaar. Dis skuur- en skaaftyd. Seks is waarskynlik vir jou ’n ontnugtering – hetsy die gereeldheid of die vlak van bevrediging. Jy kan nie meer teruggaan na jou eie plekkie toe na ’n groot bakleiery nie. ’n Fase van intense leerprosesse, ontdekkings en ontnugterings.

Klim die beroepsleer

Julle het meer geld en voel asof die lewe uiteindelik begin het, maar julle tyd om dit te geniet, is minder. Julle werk vereis dalk voorbereiding of meer slaap. Julle werksure kan bots. Wie betaal nou vir wat? Julle sekslewe ly onder julle beroepspanning. Dan is daar natuurlik die vraag of ’n mens kinders wil hê. ’n Fase van ’n heerlik nuwe identiteit en onafhanklikheid .

Pienkvoetpret

Alles verander! Julle slaap minder. Seks word ’n uitdaging. Kuiers en afsprake word bepaal deur kinders. Jy leer ken nuwe vreugdes. Jy leer ken opvoedingstyle van jou maat wat jy dalk nie waardeer nie. Julle baklei nie meer net oor julle twee se dinge nie.’n Fase van opoffering of diep asemhaal en tot tien tel. ’n Fase waarin jy besef dat geld nie noodwendig jou rykdom bepaal nie.

Groter en meer kinders, met beroepsuitdagings

Julle ken die vreugdes van kinders wat ontwikkel. Alles word een groot roetine en kinders word in alles in ag geneem. Ons werk meer en later. Seks raak minder gereeld en minder gefokus op intimiteit. Julle het ’n verband op ’n huis uitgeneem, en dalk ’n oortrokke fasiliteit. ’n Fase van oorlewing sonder om werklik te lééf, waar die meeste paartjies bymekaar verby begin leef.

Kinders begin die nes verlaat

Skielik is als rustig wat veroorsaak dat julle weer net mekaar het. Mense leer weer gesels en net daagliks op mekaar fokus – iets wat vir baie vreugde bring of vir ander ’n uitdaging en vir ander te laat is. Gesondheid word ’n kwessie. Vakansies is weer julle eie. Finansieel is julle sekerlik al deur baie hoogte- en laagtepunte. Die kuiers by die kinders is iets waarna julle uitsien.

As jy realisties is oor wat voorlê, aanvaar jy die uitdagings makliker. Hou op om te vergelyk! Géén huwelik het dit nét maklik nie. Geniet die fase waarin julle nou is en belê in mekaar.

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Kyk na ou foto’s en geniet die oomblikke van gister. Sê vir mekaar wat julle vir niks sal verruil nie en wees eerlik oor die dinge wat jy as vanselfsprekend aanvaar of waarmee jy geïrriteerd is.

Kies ’n foto van lank gelede wat jou na aan die hart lê en hou dit vir ʼn week waar jy dit kan sien: teen die spieël, by die kantoor of in jou kar. Soms moet ons onthou waar ons begin het en hoe ver ons al gevorder het.