[Liefdesuitdaging 3] Kies om te luister vir wedersydse begrip

As jou gevoelens en emosies, jou behoeftes en verwagtinge geminag, afgelag of geïgnoreer word, gaan ’n stukkie van jou hart dood. Net een werklike oomblik van luister, kan herstel bring in ons menswaardigheid en hoop in ons verhouding.

Egte luister, is om mekaar te gun om klaar te praat sonder om mekaar in die rede te val of persoonlik te raak. Sonder om mekaar se behoeftes af te lag of onsself te verontskuldig of verdedig. Só is die kans groter om soos grootmense aan te hou praat. Rustig praat, hóú ons kalm. Om nie gehoor te word nie, maak ons angstig en gefrustreerd, plaas ons op die oorlogspad.

Om regtig te luister en ’n saak deur te praat, het die voordeel dat ons by dieper probleme en die werklike wortel van ons emosie uitkom. Hierdie dieper dinge is dikwels die eintlike probleem wat altyd die oppervlakkige krapperigheid veroorsaak.

Julle is dalk met tye geïrriteerd met mekaar en skryf dit aan moegheid of werksdruk toe. As julle later daaroor baklei, gaan die rusie oor hoe sy met jou praat of hoe hy jou antwoord. Praat julle egter lank genoeg en doen moeite om mekaar se emosie te probeer verstaan, snap julle dat julle mekaar mis, afgeskeep voel of op sekere terreine onbelangrik en ongewaardeerd voel by mekaar.

As ons nie ’n saak regtig uitpraat nie, kom ons net by die punt van die ysberg van ons emosies uit. Wrewel, seer, ongelukkigheid en frustrasie sal nie weggaan as jy net aan die oppervlakkige kwessies werk nie.

Een ordentlike gesprek waar ons oplossings vind of sommer net gehoor word, bring hoop. As jy eers ’n paar sulke gesprekke gehad het, voel jy baie meer bereid om oor moeilike kwessies te praat, want ten minste werk al die gepraat! Daardie werklike stukkie luister, bring respek en beter oplossings wat maak dat ons ’n volgende keer makliker ’n saak wíl uitpraat.

Om regtig te luister is ’n kuns. Luister en werklik hóór is twee verskillende dinge. As jy vandag besluit om te luister met die begeerte om jou maat se behoeftes en emosies te verstaan, gaan slaap jy dalk met nuwe hoop en insig. Môre is dan nie net nog ’n dag nie, dis dalk ’n beter een!

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Sit oorkant mekaar en maak beurte om kort sinnetjies te sê – sonder gelaaide emosie, en ook nie oor ’n spesifieke probleem of frustrasie nie. Dit kan enige iets wees – die hond het nie regtig die kind se huiswerk opgeëet nie … die blomme wat jou gunsteling is … of die drie beenhare wat jou kielie as jy jou bene teen mekaar skuur.

Jou maat moet al hierdie stuitige sinne herhaal – woord vir woord. Hou die sinne kort en kragtig. Net dalk besef jy dat luister nie eintlik jou forte is nie.

Soos julle vorder, kan julle kort sinnetjies met gevoel waag. Begin by positiewe dinge: “Ek is mal oor hoe jy jou hare vee as jy warm kry,” of “Ek onthou nog hoe jy vir my gekyk het toe ek jou die heel eerste keer gesien het.” “Die mooiste ding wat jy ooit vir my gesê het, was …”