[Liefdesuitdaging 2] Leer dat liefhê belangriker is as verstaan

Kom ons wees eerlik, dis partykeer baie moeilik om te verstaan wat in die teenoorgestelde geslag se kop aangaan. Hoe kan jy ooit begryp hoekom hulle reageer soos wat hulle doen?

As ons op die regte plek in ons huwelike is, sal ons ons maats se behoeftes wil verstaan en daaraan aandag gee. Daar is geen belofte of waarborg dat dit maklik sal wees nie, want dit vra groot opoffering om aan iemand anders se behoeftes te voldoen. Om te kry is natuurlik makliker as om te gee. Om te dien … dis moeiliker as wat ons dink.

Ongeag of jy heeltemal verstaan hoekom jou maat se behoeftes en redenasies lyk en klink soos wat dit doen, is die heel beste om in te spring en net te begin. Vroue en mans het lysies van dinge wat vir hulle belangrik is. Al dink jy dalk iets is simpel of gering, sal jy dalk ʼn heel nuwe vrou of man hê as jy ag slaan op die lysies.

Elke vrou wil weet dat sy mooi is en dat haar man se hart net aan haar behoort. Die basis hiervoor lê byvoorbeeld in …
• Waardering en komplimente
• oogkontak
• die besef dat sy ʼn prioriteit is
• gereelde gesels en gehoor word
• die wete dat haar man haar nodig het en haar nie uitsluit nie
• intieme dinge soos konneksie – nie net seks nie

Elke man wil weet dat hy mansgenoeg is en dat sy vrou hom respekteer. Die basis hiervoor lê byvoorbeeld in …
• hoe jy wys dat jy hom begeer
• bevestigings dat jy hom nodig het
• waardering vir hoe hy jou beskerm
• erkenning vir sy vermoëns
• versekerings dat jy hom by tye mis
• ruimte vir ontspanning en niksdoen in julle huis

Die lysies is natuurlik veel, veel langer en verskil ook van persoon tot persoon. Begin by ʼn punt, vra mekaar se opinies en gaan groot!

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Lees meer op die internet oor mans en vroue se behoeftes. Praat reguit met mekaar hieroor en hoe julle mekaar op praktiese maniere kan geliefde, gewaardeerd en gerespekteer laat voel.

Maak ’n lysie van jou maat se topvyf eienskappe – as vrou/man, as mens en as ma/pa. Wat het jou maat al bereik of deurgewerk waarop jy besonder trots is?

Skryf ’n brief met hierdie dinge daarin en laat ’n geskenk aflewer om hierdie eienskappe te vier.