[Liefdesuitdaging 1] Maak seker “ons” is die heel belangrikste

Dit gebeur: Sonder dat ons dit besef verflou dinge mettertyd hoe langer ons getroud is. Ons kyk anders, praat anders, kies anders en doen anders. As ons ongelukkig is oor iets, is die belangrikste doelwit om ons stem te laat hoor.

Ons wil mekaar oortuig van die verkeerde dinge wat gedoen word, terwyl ons onsself regverdig en verdedig. Die ék is die fokus. En die hartseer waarheid is dat paartjies hierdie dinge te laat snap. Baie sien nie die verflouing nie en val vas in roetines. Te moeg en te besig … dis nou maar hoe dinge is …

Ons besef nie hoe ernstig daardie oomblik van “ek belowe” is nie. Met ons huweliksverbond wil God hê dat ons dít wat vir ons belangrik is, of waarin ons ons identiteit probeer vind, neerlê. Dis amper asof God wil sê: Verwyder jou trots (eie ek). Lê dit neer.

Dalk wil God hê dat ons met verbond ons hart sal oopmaak teenoor Hom. Dat ons ontbloot sal staan, met niks wat weggesteek is nie. Hoe jy dit ook al verstaan – daar is ’n diepe verborgenheid in hierdie verbond se heiligheid.

In die huwelik is daar ’n wonderlike resep om jou hart oop te maak teenoor jou verbondsmaat, om oop te leef sonder enige geheime met ’n bereidwilligheid om alles van jouself te deel. Dit bring jou by iets heiligs wat God self beskerm!

Om jou trots (eie-ek en selfsug) neer te lê in die huwelik en jou hart ten volle oop te maak teenoor jou maat, is twee dinge wat nie juis natuurlik kom vir almal nie. Hierdie trots maak ons selfsugtig en eiegeregtig, laat ons meer neem as wat ons wil gee. Ons houding, dade, woorde en keuses bring ons soms in die moeilikheid, en dan hou hierdie trots ons daar!

Ons sal veg vir ons eie opinie en behoeftes, maar jammer sê of aanpassings maak? Nie sommer nie! As jou hart boonop vertrap of geïgnoreer is, bou ons mure om ons hart en sluit mekaar uit. Dit terwyl God wil hê dat verbond ons moet saambring en in eenheid laat leef. As jy werklik jou huwelik nuut wil maak, of net weer ’n vars stuk liefde wil gee, is dit dalk waar jy moet begin.

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Is daar iets waarvoor jy jammer moet sê?

Wys jou prioriteite dat jy bereid is om jou maat se behoeftes te eer en respekteer? Of kom jou eie wense altyd eerste?

Is daar dinge soos geheime, leuens of emosies wat jy wegsteek en nie wil deel nie?

Kyk jou maat in die oë en sê die volgende: “Ek het op ʼn dag voor God belowe om jou te eer, waardeer en respekteer. Ek weet dat ek dit nie altyd doen of regkry nie, maar vandag kies ek dit weer. Terwyl ek jou in die oë kyk, wil ek die volgende sê …”