LES 8 – Ontdek die boomsoortprofiel se waarde

Daar is heelwat temperamentprofiele wat vandag vir alles van spanbou, huwelikskursusse, sielkundige evaluasie tot beroepsplasing gebruik word. Ek het my Boomsoortprofiel losweg op die viervoudige indeling van Hipokrates baseer omdat dit deur die eeue nagevors is, omdat daar baie literatuur daaroor bestaan en omdat baie bestaande profiele in beginsel daarmee ooreenstem.

Ek het ook wyer gelees oor persoonlikheid, gedrag en leer­style omdat dit van die sigbare uitvloeisels van temperament is. Die boomsoortprofiel gebruik dus eintlik nie net temperamentseienskappe nie maar ook gedragseienskappe om uiteindelik vier gedetailleerde “boom­soorte” te identifiseer.

Agt of sestien indelings is eenvoudig te kompleks om in detail te bespreek. Dis maklik om te bepaal maar moeiliker om in praktiese wenke om te sit. Vier groepe is genoeg vir ’n ouer wat net wil weet hoe om ’n baie praktiese situasie met ’n onwillige tweejarige te hanteer of om ’n dwarsgetrekte tiener “reg te trek”.

Ek het vier boomsoorte gekies – ’n palmboom, ’n roosboom, ’n sierboom (snoeiboom of lollipop) en ’n denneboom – omdat bome spreek van lewe, groei, potensiaal en skoonheid.

Roosbome kom in duisende variasies voor, so ook palmbome, sierbome en dennebome. Ek het dit so gekies omdat ek graag wil erken dat ons en ons kinders uniek en verrassend uiteenlopend kan wees, en selfs baie kan verskil van die ander mense onder dieselfde sambreelnaam.

Twee van dieselfde bome kan soos dag en nag verskil. Die een kan die een helfte van die boomeienskappe vertoon en die ander een die ander helfte, en so albei oortuigend ’n bepaalde boom wees maar steeds totaal verskil­lende persoonlikhede hê.

Wanneer ons met temperamentprofiele werk, is daar geen ideale profiel nie. Ek stem dus nie met die boeke saam wat ons aanmoedig om te strewe na die “middelpunt” nie. Ek stem saam dat ons almal ons swak punte na die kruis moet bring sodat Jesus se karakter in ons meer kan word.

Maar om soveel moontlik sterk punte uit ander mense se temperamente te probeer aanplak by ons eie, maak ons moeg, breek ons moed, gaan teen ons natuur in en is eenvoudig onnodig wanneer ons glo dat die Here in ons elkeen die unieke potensiaal vir vervulling van ons skeppingsdoel geplaas het.

Hy verander ons deur sy Gees soos Hy goeddink deur ons lewenspaadjie met die regte vormingsgeleenthede op te kicker. Dan leer ons nie noodwendig wat ons wou nie, maar wat die Here nodig ag. Heiligmaking soos die Here dit deur sy Gees in ons uitwerk, is nie gelyk­making nie. Dit is die proses om ons vir ’n spesiale doel af te sonder.

Selfs ’n eensydige profiel voordele het voordele. Dink maar weer ’n keer aan atlete: Ons kan nie dieselfde liggaamsbou vir ’n verspringer en ’n gewig­stoter ten doel hê nie. Die ideale temperament vir elke mens is die temperament wat sy skeppingsdoel die beste pas!

En dit hoef ons deur die genade nie te ontwerp nie – ons het dit as ’n geskenk ontvang. Ons moet net toesien dat daardie aange­bore temperament uiting vind in opregte karakter – in onsself en in ons jong boompies.

Leer ken jou sailing en leer ken jouself

Geen tegniek, strategie of profiel kan ’n mens help om ’n kind te dissiplineer as ’n mens se hart nie by jou kind is nie. Kinders moet een honderd persent oortuig wees van hulle ouers se onvoorwaardelike toewyding en liefde, anders word hulle gedrag so problematies dat geen dissipline – hoe gepas of slim ook al – die gewenste uitwerking sal hê nie.

Liefde is ’n gelukkige gesin se melodie, en dissipline is die harmonie. Saam maak dit mooi musiek. As dissipline nie uit ’n basis van liefdevolle toewyding spruit nie, sal die musiek vals wees.

Die doel van die profiel en vier boomsoorte

Voordat ons die boomsoort­profiel van ons kinders en onsself voltooi, moet ons net weer die doel daarvan onthou. Ons wil beter verstaan sodat ons ons boompies beter kan buig.

Die agtergrond help ons met perspektief. Perspektief is waaroor dit trouens gaan. Ons wil in ons kinders se koppe kan “opkom”, daar­binne kan “rondkyk” en iets leer verstaan van die wêreld soos hulle dit beleef. Ons wil ook sien hoe ander volwassenes – veral ons lewensmaats – se koppe werk!

’n Jong Amerikaanse tiener het eenmaal aan sy ongeïnteresseerde onderwyser gesê: “There ain’t nobody who can teach me who don’t know me and won’t learn me.”

As ons ons kinders nie ken nie en nie bereid is om ’n studie van hulle te maak nie, kan ons ook in so ’n doodloopstraat beland. Kinders kan aanvoel wanneer ons nie regtig wil luister, kyk of verstaan nie.

Die volledige profiel help jou om jou kind se temperament te kan identifiseer, maar ook om jouself te identifiseer.

Wanneer jy die profiel vir jou kind(ers) voltooi het, is die volgende stap om meer te leer oor die bepaalde boomtipe. Daarna volg die “handleiding” vir die tipe boom.

Jy kan dalk ook so geïnteresseerd raak, dat jy die volledige en meer omvattende boek, Kweek kinders met karakter, wil aanskaf. Dit is goed om al die boomsoorte te leer ken, want soms sien ons ons kind vanuit ons eie raamwerk. Dis juis waarom ons ons eie profiel ook moet bepaal!

’n Stadige kind lyk byvoorbeeld vir ’n oor­haastige ouer ekstra stadig, en ’n ouer met ’n sterk wil sal enige weerstand van sy kind waarskynlik intens beleef, en die arme ding dalk heeltemal te veel “punte” vir hardkoppigheid gee.

Soms ontwikkel ons kind se geaardheid stadig of ons is stadig om ons kind goed te leer ken. In albei gevalle is dit dus ook van waarde om al vier die boompies se storie goed te leer ken.

Maar ek besef dat om die lywige Kweek kinders met karakter deur te werk, baie van ouers se tyd gaan neem, en hierdie kursus is ook voldoende om jou hand te sterk in die gesonde buig van jou sierboompie.

Moenie skrik as jy na die invul van die profiel sien dat jou kind dalk eerder onder ’n ander boomtipe inskuif as wat jy gedink het nie. Vertrou jou eerste “gut-feeling” en oorweeg dit om die ander boomtipe se inligting bykomend te lees.

Die verantwoordelike en versigtig hantering van ’n profiel

Wees asseblief versigtig op die volgende maniere:

Moenie ontsteld raak as jy baie negatiewe eienskappe merk nie. Dit is makliker omswakhedeas sterk punte te identifiseer, en profiele wat “negatief” benader word, isaltyd meer akkuraat as dié waarin sterk punte beklemtoon word.

Die rede daarvoor is dat ons in ’n profiel baie keer ook die positiewe eienskap­pe merk wat ons graag wil sien, en nie net dié wat inderdaad daar is nie.

Moenie vashaak by jou kind se prominente temperamentstipe, en dan vergeet van die unieke mengsel van karaktereienskappe wat addisioneel by jou boompie se samestelling gevoeg is nie! Hou aan om oopoog na jou kind te kyk, en oopoor te luister.

 Herhaal die profiel elke paar maande of ten minste jaarliks. Die kind “ver­ander” dikwels omdat jy ander eienskappe begin opmerk, en hopelik ná die lees van hierdie kursus baie fyner en met meer belangstelling na jou kind gaan kyk.

Jy “verander” ook na gelang van die rol wat jy vertolk en die lewensfeer waarin jy jou bevind.

Pasop vir die etiket. Jou kind hou dalk nie daarvan wanneer jy haar ’n “sier­boom” noem nie. Hou maar net die etiket vir jouself in jou agterkop.

Onthou dat die riglyne wat hierna volg, net dit is – riglyne. Dit help ons wanneer ons instink, wysheid, aanvoeling en insig te kort skiet. Dit moet nooit ons spon­tane ouerskap vervang nie. Dis die “hand­leiding” wat ons veral gaan nodig kry wanneer ons spesifieke “modelletjie” onklaar raak of wanneer een van die “funksies” pla!

Daar is ’n magdom eienskappe wat nie in die profiel verskyn nie. Enige profiel is ’n seleksie van eienskappe wat veronderstel is om verteen­woordigend en sentraal te wees, maar omdat dit nooit volledig kan wees nie, is dit moontlik om ’n onakkurate beeld te kry.

Hierdie profiel is getoets, aangepas, getoets en weer aangepas totdat ’n hoë korrelasie tussen die profieluitslag en ouers se geoefende persepsie van hulle­self en hulle kinders verkry is.

As die punte jou kind egter byvoorbeeld as ’n sierboompie klassifi­seer, maar dit “voel” nie vir jou reg nie, is daar dalk ’n rare wanpassing tussen die profiel se spesifieke kombinasie van kerneienskappe en jou kind se kombi­nasie van primêre karaktereienskappe.

Moet dan nie slaafs die handleiding vir ’n sierboompie navolg nie. Lees eerder oor al die boompies om jou prentjie te verbreed, totdat jy voel jy het ’n greep op wie jou kind is, en wat sy nodig het.

’n Profiel is ’n linkerbreinding. Daarmee bedoel ek dat dit analities en kripties is. Dit beskryf losstaande elemente van ’n mens se geaard­heid in plaas daarvan om ’n geheelbeeld te skep. Sommige ouers wat meer regterbrein-georiënteerd is, vind dit verskriklik moeilik om kort frases met hulle kinders of hulleself te assosieer.

Dit kan wees dat hulle uit die lees van die handleidings gaan ontdek wie hulle kinders is. Die uitgebreide besprekings van die volwasse bome kan dalk ook meer lig op hulle eie temperament werp as wat die profiel alleen doen. Die profiel is asseblief nie die Alfa en Omega nie!