Die sleutelvers (Spreuke 22:6) verdien ’n nadere kykie, want die WAT, die HOE, die WAARHEEN en die WAAROM van ouerskap en dissipline is hierin opgesluit.
Wat behels ouerskap? Oefen die seun …
Die frase “oefen jou kind” is presies wat ouerskap beteken. Ons opdrag is nie om ons kind te beheer nie, maar eerder om ons kind deur oefening gereed te maak vir die volwasse lewe. Dit is die WAT van ouerskap.
Dit verklap reeds dat ouerskap harde werk gaan wees. Ons gaan baie oefentye saam met ons kind moet deurwerk. Agter elke atleet wat hard oefen, is daar die afrigter wat die oefeninge skeduleer, beplan en deursien.
Die tekkies, sweetpak, fluitjie en pet is nie vir die skyn nie – afrigting is harde werk! En so moet daar agter elke kind ’n toegewyde ouer wees, wat bereid is om te sweet.
Dit beteken dat ons geleenthede moet skep waarin ons kinders alles van tafelmaniere tot verantwoordelike besteding van geld deur oefening kan leer. Net soos met ’n atleet gaan ons die oefeninge so kies dat dit ons kind uitdaag maar nie moedeloos maak nie.
Hoe doen ouers dit? … volgens die eis van sy weg …
Die frase “volgens die eis van sy weg” is ons metode. Ons moet ons kinders “oefen” volgens ’n goedbeplande oefenprogram. Die eienskappe van so ’n oefenprogram is onder andere dat ons die regte spiere en vaardighede oefen, afhangend van die eise van die sport.
Ons moet ook harder werk aan die swakhede terwyl ons die beste gebruik maak van die natuurlike sterk punte van ons “atleet”. Dit help min ons oefen ’n toekomstige verspringer deur net handgewigte in die gimnasium op en af te tel. Dit is tog nie “die eis van sy weg” nie! Ons moet by spoed en spierkrag in die onderlyf begin.
As ons ’n kind het wat moeilik stilsit, en baie uitdagings nodig het, help dit min ons span ons dreigemente in om van hom ’n rustige bloedjie te maak wat dwarsdeur ’n kerkdiens tevrede is om die rye bakstene in die kerk se muur oor en oor te tel.
As ons verstaan wat “die eis van sy weg” is, sal ons weet wat hy nodiger het as hierdie soort stilsitdissipline. Ons sal ook weet hoe om hom beter te motiveer as deur dreigemente. Ons sal hom reeds die Saterdagaand meer as een ding laat kies waarmee hy sonder om ander te steur, homself in die kerk kan besig hou of ons sal hom aan kinderkerk laat deelneem.
Waarheen is ons met ons kinders op pad?
Ons moet weet wat ons kind se derek is, ons kind se innerlike ontwerp en rigting – met ander woorde ons kind se temperament, want daarin is die leidrade oor ons kind se skeppingsdoel opgesluit.
Ons kan ons kinders net in die regte lewensrigting neem as ons weet wat hul natuurlike, aangebore koers is. Min van ons weet dit voor hulle geboorte, en selfs in hulle kleuterjare mag dit soms nog duister wees, maar as ons oplet, gaan ons binnekort ’n naby raaiskoot kan waag.
So werk ons met die Here saam in die begeleiding van ons kinders na die vervulling van hulle lewensdoel, want daarsonder gaan hulle nie gelukkig wees nie. Kinders se temperament dui vir ons kort voor lank aan waarheen hulle op pad is.
Party is op pad na baanbrekerswerk wat tot nou toe ongekende terreine van die wetenskap is. Dit word verklik deur hulle onversadigbare ontdekkingsdrang, waagmoed en eksperimentele nuuskierigheid).
Ander is onderweg na volgelingskap of diensberoepe. Dit word gesien aan hulle deernis vir mense, versorgende optrede en gewillige samewerking.
Party is op pad na leierskapposisies, soos ons reeds kan sien aan hulle konstante strewe na beheer en hulle invloed op ander. En ander gaan toeskouers wees wat selde op die speelveld van die lewe uitdraf.
Ons hou nie noodwendig van die rigting waarin ons kind beweeg nie, maar ons taak is nie om daardie rigting namens ons kind te kies nie. Ons moet nie die invloed van ons eie verwysingsraamwerk onderskat nie. Dit kan ons heeltemal blind maak vir die waarde van ons kind se lewensdoel wanneer dit baie van ons eie verskil.
Ons neem ons kinders in die eerste plek na die beste van ons vermoë na Jesus toe, soos Hy ons beveel. En daarvandaan begelei en ondersteun ons hulle op pad na die plek wat die Here mettertyd aan ons en hulle sal openbaar.
Die eerste aanduiding van hierdie “plek” kan ons al in die babawiegie sien. Die outjie wat so verbete teen die slaap veg, gaan eendag lang nagte deur werk. Die ander enetjie wat so lank na een voorwerp kan staar, gaan eendag deur intense studie in een veld uitstyg.
Elkeen gaan ’n unieke karakter hê volgens hierdie lewensdoel. Dit is wat ons as ouers moet help kweek.
Waarom durf ons hierdie groot taak aan?
Spreuke 22:6 se antwoord is: … selfs wanneer hy groot is, sal hy daar nie van afwyk nie.
Hoe verloor mense hulle koers in die lewe? Onthou dat hierdie Skrifgedeelte nie praat van die koers hemel toe nie. Dit praat van die koers waarvoor daar van voor geboorte af rigtingwysers in jou kind ingeplant is.
Mense verloor hulle koers deurdat die rigtingwysers genoeg geïgnoreer word. Mense verloor so nie net hulle koers nie, maar dikwels hulle identiteit, hulle lewenslus, hulle geloof in die sin van die lewe en al hulle lewensvreugde.
Gaan steek maar kers op by die sielkundiges en beraders wat dan die lig in die tonnel moet probeer aansteek. Hulle gaan amper deur die bank vertel van mense wat gebuig is om iets anders te wees as wat hulle gebore is om te wees.
Vervormde, verminkte bome, wat dikwels geen idee het waarheen hulle op pad is, wil wees of moes wees nie. Hulle is appelbome wat gedwing is om pere te dra. Party is so versnipper deur eng kulture of rigiede skoolsisteme dat hulle nou bonsais in plaas van eikebome is.
Gestel alles in jou kind wys dat hy ’n kunstenaar-dromer is. Van kleins af eksperimenteer hy met verf en skêre, penne en moddersmeersels. Oral in die kantlyne van sy skoolboeke is sketsies. Hy meng in wanneer Ma die kleurskema van die sitkamer verander.
Jy dink: Niemand kom met prentjiesteken en droom ver nie. Jy ignoreer die pleidooie vir kunsklasse, en koop rekenaars vir Kersfees eerder as die stelle olieverf wat bo-aan elke jaar se wenslysie is …
Iewers in sy tweede studiejaar aan die Departement Siviele Ingenieurswese konk jou slim kind in, en jy is verslae. Wat het gebeur?
Jou boompie is te ver in die verkeerde rigting gebuig, en nou is dit geknak. Die lewensap kan nie meer deur die verdraaide stam vloei nie. Daardie kind gaan in sy wese sterf as daar nie reg en vinnig opgetree word nie.
Die antwoord kan so eenvoudig wees soos om ’n wit doek teen sy muur op te hang, ’n kwas in sy hand te stop, en die pak ingenieursweseboeke by die tweedehandse boekwinkel te gaan inruil vir boeke oor die meesters van die Impressionisme.
Of die pad terug na sy ingebore lewensrigting kan lank en moeilik wees. Maar, selfs al kan jou kind sy rigting terugvind, is die hartseer ding dat hy nou tien tree agter is op die pad wat hy moes gestap het.
Hy sal waarskynlik nie ’n ingenieur word nie, maar ongelukkig ook nie ’n uitblinker in kuns nie. Het hy as jong kind ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede vir sy kunstalente gehad, was die prentjie sekerlik anders.
Ouers probeer hulle bes. Ons knak en vervorm natuurlik nie aspris ons boompies nie!
Baie ouers glo ’n mens kan net boompies knak deur hulle te swaar te straf. Ek glo dit gebeur op baie verskillende maniere, wanneer ons ook al deur ons optrede – wat onredelike straf kan insluit – die wese van ons kind ontken of probeer verander.
Ons doen dit ongelukkig soms onwetend omdat ons ’n ideale prentjie in gedagte het. Ons dink daar is iets soos die perfekte boom.
My perfekte boom is ’n eikeboom – ek hou van die vorm, die bas, die blare, die soliede skaduwee in die somer, die bruine in die herfs en die grond van Stellenbosch waarin hy staan … Ek het ongelukkig ook spesifieke idees oor die “perfekte kind”, “perfekte vrou” en “perfekte man”.
Kinders verloor natuurlik nie net hulle koers deur verkeerde loopbane te kies nie, maar ook deur die lewenspad moreel byster te raak.
Ons het dalk geleer dat ons dogter se temperament haar vatbaar maak vir seksuele en ander eksperimentering. Ons het hard aan haar weerbaarheid teen groepsdruk gewerk.
Seker gemaak sy ervaar die gevolge van verkeerde keuses sodat sy die langtermyngevolge van haar optrede kan leer insien. Ons het haar kleredrag, vriendekring en uitblytye ekstra versigtig dopgehou.
Of dalk het ons ’n kind wat na aanleiding van sy temperamentstipe geneig is om die waarheid te verdraai om sy beeld in ander se oë so perfek moontlik te hou. Ons het klem gelê op die waarheid en hom vir eerlikheid beloon. Ons het geleenthede geskep waarin hy die waarde van integriteit kon ervaar.
Ons het hom konsekwent laat teruggaan en die waarheid laat vertel waar ons hom met leuens betrap het. Ons het hom die gevolge van vertroueskending laat beleef sowel as die vryheid wat betroubaarheid vir ’n mens in die sak bring.
So het ons ons kinders weerbaar gemaak teen die spesifieke aanloklike afdraaipaadjies wat vir hulle die grootste gevaar inhou.
Die ideale uitkoms van ouerskap is dus soveel meer as om ’n kind te leer om ons as ouers gedweë te volg. Die doel is eerder om ’n kind wat haar Godgegewe paadjie volg op haar eie koers na haar eie bestemming te begelei.
Die Here se doel met ons en ons kinders is tog dat ons Hom sal volg. As ons ons kinders saamsleep na waar ons is, sleep ons hulle dalk van die wal in die sloot. Hulle paadjie moet anders lyk as ons s’n, want God kloon nie mense nie.
’n Nadere kykie na ons en ons kinders se temperament gaan ons geweldig baie hiermee help.