LES 6 – Hoe diep gewortel is temperament?

Indien ’n mens temperament sou ignoreer, en alle kinders eenders hanteer, sal hulle almal soortgelyke aangeleerde gedrag vertoon, maar dit wat spontaan is in die kinders se geaardhede sal nogtans baie verskil.

Dalk is almal ewe netjies, maar die eerste groep kry dit reg deur boeties en sussies om te koop om te help opruim; die tweede groep vind oorspronklike maniere om vuil klere en speelgoed weg te steek; die derde groep bêre alles perfek op die regte plek en die vierde groep hou alles uit die staanspoor netjies sodat die opruimery altyd maklik en eenvoudig is.

Hoe elke kind dus by die ouer se verwagting uitkom, gaan aanhou verskil.

Daar is eksperimentele werk aan die gang met wat wetenskaplikes fatsoengeheue-allooie noem. Panele wat gemaak is uit hierdie metaalallooie word by ’n spesifieke tempera­tuur volgens ’n gespesialiseerde proses gevorm sodat hulle hulle oorspronk­like vorm “onthou”, selfs al word hulle gebuig en vervorm.

Wanneer hulle dan in warm water gedoop word, keer hulle terug na daardie oor­spronklike fatsoen.

Temperament is so. Ons as ouers kan kinders se natuurlike aard pro­beer buig deur ’n lawwe nar in ’n ernstige student te verander, of ’n skaam muurblomme­tjie in ’n hoof­meisie, maar die kinders onthou onbewuste­lik wie hulle werklik is, en daardie basiese geaardheid steek weer kop uit – veral wanneer die kinders soos die allooi in die warm water beland.

Hier volg twee illustrasies van die onveranderlikheid van temperament. Wanneer ons dit lees, besef ons hoe nodig dit is om die temperament van ons kinders te ken en te koester. Dit illustreer ook hoe ons eie temperament ons kan pootjie, deurdat ons aanneem dat ons kinders soos ons moet wees.

Illustrasie 1 om te beklemtoon temperament is onveranderlik

Ons – twee vredeliewende mense – lig die babakombersie op, en daar lê ’n besige, kwaai, eiewillige dogtertjie. Ons skrik en bekommer.

Ons kry haar egter baie goed onder beheer met dissipline en miskien medikasie en terapie, en is baie tevrede met die vorm van ons nuwe rustige, vriendelike, tevrede boompie. Wanneer sy die huis verlaat en onder ons duime uit is, spring sy terug na haar oorspronklike eiewillige vorm – dorings en al – en ons kan nie verstaan waarom nie.

Omdat ons die wese van hierdie boompie misgekyk het, het ons haar so gebuig dat sy nou net haar oorspronklike swakhede oor het en ’n paar aangeleerde sterk punte wat nie eers werklik “sy” is nie!

As ons haar geaardheid verstaan het, die positiewe daarvan uitgebou het, en die negatiewe met deernis verbeter het, dan was die uitkoms ’n afgeronde, unieke karakter.

Haar besige natuur het dan bes moontlik ontwikkel in produktiwiteit en veelsydigheid, haar kwaaiheid in determinasie en gesonde kompetisiegees en haar eiewilligheid in kreatiewe leierskap. Wie weet?

Illustrasie 2 om te beklemtoon temperament is onveranderlik

Ons – twee gedrewe toppresteerders – lig die kombersie op, en daar lê ’n verlepte bondeltjie vrede. Ons kan nie glo hoeveel hy slaap nie! Hy loop te stadig. Hy stel nie genoeg in sy omgewing belang nie.

Ons kry uiteindelik die mannetjie met ’n ferm skoot druk en dreigemente aan die gang deur hom vir al wat buitemuurse aktiwiteit is in te skryf. Hy kla alles is vervelig, raak pateties wanneer ons ’n bietjie druk uitoefen en uiteindelik wil hy net skaak speel nadat ons hom bulletjierugby, swem­lesse, dramaklassies, gimnastiek en ekstra Engelse klasse laat neem het.

Is die kind dan in niks opwindends geïnteresseerd nie? Ons is baie verbaas dat hy nie onder die top tien in sy klas wil wees nie. Hoe kan ’n mens ooit met ’n C-simbool tevrede wees?

As ons maar geweet het wat daardie slaperigheid en tevredenheid beteken het, dan sou ons besef het hierdie seun van ons gaan nie baie passies in die lewe hê nie. Ons sou minder tyd en geld gemors het op al die aktiwiteite wat vir ons sinvol gelyk het, en eerder probeer vasstel het waar ons kind se enkele belangstellings lê.

Ons sou geweet het hoe verlammend die uitwerking van ons druk op hom was. Ons sou ontdek het dat hy op een ding kan fokus en daarin kan uitstyg. Wie weet waar hy in die lewe sou gekom het as ons geleer het om hom daarin te onder­steun?

Nie net mensewerk nie: ’n Bybelse grondslag vir temperament

Spreuke 22:6 moedig ouers aan om kinders volgens hulle tempe­rament te dissiplineer. Ons haal die gedeelte graag aan as ’n belofte dat Christen­ouers se Christelik opgevoede kinders ook Christene sal word, want die meer moderne vertalings laat dit verkeerde­lik so klink.

Die oorspronk­like teks beteken egter iets heel anders! Die frase “sy weg” is eintlik verkeerdelik in verskeie vertalings en in die volksmond vertaal met “die weë van die Here.” Hierdie woord “weg” kom van die Hebreeuse woord derek wat beteken innerlike ontwerp en rigting (Boyd 1994:19).

Ons moet dus die vraag vra: Hoe is my kind aan die binnekant saamgestel, en wat voorspel dit oor die lewensrigting waarin hy behoort te gaan? Hoe moet ek hom in die lig hiervan grootmaak?

Die vertalers van die Afrikaanse 1953-vertaling het die woorde “volgens die eis van sy weg” verstaan as: met die oog op sy toekoms, soos sy latere lewensweg eis dat hy moet wees.

Sommige Engelse vertalings praat van his natural bent. Die boompie is reeds in ’n bepaalde fatsoen gebuig wanneer sy in die kraamsaal in haar wiegie lê, en wanneer ons probeer om daardie natuurlike buiging “reguit” te maak volgens ons eie voorkeur, is dit gevaarlik.

Dan loop ons die risiko dat ons ons boompie se karakter permanent gaan beskadig. Dit is hoe ons ’n boompie kan breek.

In die Ou en Nuwe Testament vind ons dat die Here geboortes aankondig, en die naam en roeping (derek) gelyktydig vir ouers gee sodat hulle met Hom kan saamwerk in die vorming van die kinders vir hulle unieke skeppingsdoel. Dit was nie ongewoon vir ouers om vooraf instruksies te kry oor hoe om hulle kind uniek daarvolgens groot te maak nie.

Ons kan nie deur uiterlik aan ons boompie te buig en peuter die aard en binnekant verander nie. Ons gaan nie ’n Simson kry wanneer ons ons seun se hare laat groei nie. Sprinkaan- en heuningtoebroodjies gaan ook nie ’n tweede Johannes die Doper oplewer nie.

Net so min kan ons ons kind se lewenskoers verander. Ons kan dit wel vir ons kinders baie moeiliker of makliker maak om hulle lewenskoers te vind. Ons kan nie hulle inherente karakter verander nie, maar ons kan die ontwikkeling van hulle sigbare karakter belemmer.