LES 5 – Elke kind het sy eie geaardheid

Persone wat outisties is maar oor ’n geniale vermoë in een veld beskik, word outistiese savants genoem. Tydens my spraakterapiestudies het ek te doen gekry met sulke kinders.

Ek het ook gehoor van ’n ouer kind wat ’n magdom plante se biologiese name gememoriseer het, en nou foutloos ’n hele kwekery se plante kan identifiseer en benoem – hulle Afrikaanse naam gevolg deur die Latynse naam.

Sy ouers het gehoop dat hierdie vaardigheid vir hom ’n werkie by ’n kwekery, en sodoende ’n funksionele plek in die samelewing kon beteken. Ongelukkig kon hy weens sy outisme nie effektief met klante by die kwekery kommunikeer nie, en kon hy soms nie die drang weerstaan om net ’n reeks name te staan en resiteer nie.

Met al sy kennis kon hy nie eenvoudige toepas­sings maak, soos om ’n geharde grondbedekker aan te beveel nie. Hy kon dus nie die ongelooflike hoeveelheid inligting gebruik nie.

Ons kan geweldig baie oor kinders te wete kom. Ons kan leer van hulle nor­male ontwikkeling, mylpale, al die moontlike afwykings en die verskillende vorme van intelligensie. Waarom moet ons nou nog by al hierdie kennis ook ’n spul besonderhede oor hulle temperamentstipe voeg?

Hoekom moet ons ons gesin se temperamente verstaan?

Hierdie kursus is vol “kennis”. Dis egter nie die idee dat jy dit memoriseer of kan opsê nie. Die voorbeeld van die seun met plantekennis wil juis uitlig dat die kennis alleen niks werd is nie.

Die doel is eerder om soveel inligting moontlik te gee oor die groot bome en saailingetjies wat in jou gesin se kweekhuis staan, op so ’n manier dat jy dit van vandag af prakties kan toepas. Mik dus daarvoor om die inligting te verstaan, die soort “bome” voor jou te leer “sien” en die riglyne vir die buig van elkeen na die praktyk van jou eie gesin deur te trek.

Hierdie kursus is ’n handleiding of werkboek eerder as ’n eenmaal-lees-storieboek, daarom gaan jy dikwels moet herlees. Ek is oortuig dat die inligting waar en waardevol is, ’n groot verskil in jou begrip van jouself en jou kind gaan teweeg­bring en baie van die “mis” uit die misterie van ouerskap gaan laat verdwyn.

Al wat moeiliker is as om ’n jong boompie te buig, is om ’n hele tuin vol verskillende boompies te buig. Ouers met meer as een kind is verward wanneer hulle twee boompies dieselfde buig, en een spring maar weer terug terwyl die ander een geknak bly hang.

Dink maar aan twee kinders wat saam vir ’n stoutigheid gestraf word. Een weeklaag bedruk in sy kamer tot môre-oggend maar die ander kom oor vyf minute fluitend terug van die volgende episode van kattekwaad.

Ons moet aanvaar dat daar iewers ’n wonderlike maar verwarrende ding gebeur tussen wat ons as ouers doen en wat ons jong boompies daarvan maak. Ons kry nie altyd die reaksie en resultaat wat ons verwag nie. Ons kry dikwels die omgekeerde. Soms kry ons tot ons verbasing iets heelwat beter!

’n Deel van hierdie misterie is beslis die feit dat temperament – ons en ons kinders s’n – ’n baie groter rol in die dinamiek van ouerskap speel as wat baie opvoedkundiges wil toegee.

Wanneer ouers nie hulle eie temperament en die temperamente van hulle kinders verstaan nie, is ouerskap verwarrend en frustrerend.

Wanneer ons mekaar verwar, verkeerd opvryf en onsensitief is vir mekaar se behoeftes, het ons mos nie maklik ’n goeie verhouding nie. En gebeur hierdie dinge nie juis wanneer ons nie kan uitwerk hoe die ander persoon se kop werk nie?

Wanneer ons nie ons kind se temperament verstaan nie, is dit baie moeilik om te weet hoe om dissipline te benader. In ons kind se temperament is leidrade inge­skryf oor hoeveel, wanneer en hoe daardie boompie gebuig moet word.

As ek byvoorbeeld leer dat my kind se temperament haar besonder vatbaar vir kritiek maak, gaan ek weet om nie van kritiese prekery gebruik te maak as ’n dissiplinemaatreël nie, omdat dit meer as enige iets anders dalk my boompie kan knak.

As ek ontdek my kind se temperament vereis ’n baie sterk hand, gaan ek met meer ywer aan my boompie buig sodat ek nie sy respek verloor nie.

’n Menswetenskaplike grondslag vir temperament

Freud het geglo ’n mens is net die produk van sosialisering, en kan daarom enige iemand word afhangend van hoe hy hanteer word.

Hierteenoor het ander kundiges beweer die mens se wese en persoonlikheid is eintlik die produk van twee aspekte, die aangebore en die aangeleerde. Party noem dit natuur en kultuur of die biologie en die omgewing.

Hulle erken dat mense met ’n basiese persoonlikheid, temperament, aanlegte en belangstellings gebore word, maar dat hierdie aangebore aspekte baie verander kan word deur wat die gemeenskap en kultuur waarin hulle grootword hierdie mense leer.

Hipokrates het omtrent 450 vC in die geheim kadawers gedissekteer, op soek na die verklaring vir mense se uiteenlopende nukke en giere.

Hy het hulle bloed, geel gal, swart gal en slym ondersoek, en toe vier soorte mense na hierdie vier liggaamsvloeistowwe vernoem, omdat hy geglo het dat verhoogde vlakke van hierdie vloeistowwe die uiteenlopende geaardhede veroorsaak.

Die passievolle mens-mense was glo so impulsief en joviaal as gevolg van die baie bloed (vandaar die term sanguïnies). Die gedrewe leiers was volgens hom so kompeterend en produktief (choleries) as gevolg van hulle baie geel gal.

Dié met die baie swart gal was perfeksioniste met ’n oog vir detail en ook dikwels swaarmoedig (dit is waar ons woorde swartgallig and melancholies vandaan kom). Die vierde groep is die stabiele introverte, die rustige denkers. Hulle was glo so flegmaties as gevolg van die baie slym in hulle liggame.

Ons weet nou vir seker dat die liggaamsvloeistowwe niks daar­mee te make het nie, maar dat die geaardhede van mense wel onteenseglik verskil. Temperament is die aangebore geneigdheid om op ’n bepaalde manier te ontwikkel.

Dit bepaal onder andere die persoon se waarskynlike gerigtheid op mense of take, sy of haar ontplooiing as introvert of ekstrovert, pessimis of optimis, denker of prater, toeskouer of deelnemer, leier of volgeling, enkelloper of groep-mens, agent van verandering of verdediger van die status quo, bakleier of vrede­maker en selfs elkeen se hantering van stres en perspektief op sukses.

Ouers met meer as een kind kan getuig dat hulle kinders van voor geboorte reeds verskil het.