LES 4 – Aanvaar jou verantwoordelikheid – vir altyd

Net soos aftrede nie in die Bybel genoem word nie, is daar geen teken dat ons roeping as ouers ooit afge­handel is nie. Ons rol as ouers gaan deur die jare baie verander, maar ons klim nooit van die verhoog af nie.

Ons geniet aanvanklik die kollig en speel die hoofrol in ons kind se lewe, speel naderhand al minder indrukwekkende rolle­tjies, en kan selfs uiteinde­lik met die dekor begin saam­smelt, maar ons is vir ewig deel van die lewensdraaiboek van ons kinders.

Ons blote teenwoordigheid beteken egter nie dat ons ons ouerskaprol goed vertolk nie. Ek het eenmaal ’n sielkundige by ’n ouerlei­ding­groep hoor gesels oor die tieners waar­mee sy werk wat selfmoordneigings het. Hulle het deur die bank gevoel dat hulle ouers hulle nie onvoorwaardelik liefhet nie.

Die spreker het ons gevra om ’n sinoniem te gee vir onvoorwaardelike liefde. Ons het ’n bietjie gespartel tot sy vir ons die red­dings­boei uitgegooi het – verantwoordelik­heid is die sleutel! Wanneer kinders nie voel dat hulle ouers werklik vir hulle verantwoor­delikheid aanvaar het nie, kan hulle ook nie hulle ouers se liefde ervaar nie.

Baie van die tieners met wie hierdie sielkundige werk, het ervaar hoe hulle kleintyd al afgeskuif is op die huishulp, die dagmoeder, die juffrou, Ouma en Oupa, die maatjie se ouers en die naskooltannie – nie net uit nood nie, maar ook wanneer dit eenvou­dig die ouers gepas het.

Ma en Pa was maar te bly oor al die ander gewillige hande – wanneer dit sleg gegaan het met hulle kind maar ook wanneer hulle tyd vir hulleself wou hê.

Sanet (16) se ouers is altyd besig en verlig wanneer sy laat uitbly of eerder saam met ander gesinne gaan vakansie hou. Om haar intense emosies en al die behoeftes te hanteer, is net meer as waarvoor hulle na werk of oor naweke tyd oorhet. Hoe meer veeleisend Sanet is, hoe verder hou die ma en pa haar van hulle lyf af.

Toe die skoolhoof hulle inroep nadat sy met dwelms in haar besit gevang is, verduidelik hulle dat Sanet regtig groot genoeg is om vir haarself te antwoord, en dat hulle haar onafhanklik grootmaak. Sy moet alleen verant­woorde­likheid aanvaar vir haar onaanvaarbare optrede.

Hulle gedeeltelike verant­woordelik­heid vir haar ongelukkigheid, rebellie en dwelmmisbruik, is nooit ter sprake nie. Hulle was hulle hande in onskuld.

Ruben (17), ’n ander ewe depressiewe tiener, se ouers doen baie meer moeite. Ma werk nie, en is baie tuis. Pa gee baie sakgeld, en gaan ’n motor gee sodra Ruben sy lisensie het. Die antwoord op amper alle versoeke is “ja, natuurlik, my liewe kind”.

Sy ouers maak seker die mannetjie het die nuutste selfoon, skootrekenaar, Playstation en ander “noodsaaklikhede”, soos ’n kamer met ’n privaat ingang. Ongelukkig ervaar Ruben min liefde, want niemand ken hom regtig nie. Niemand wil weet waarheen hy gisternag was of wat hy met verlede maand se sakgeld gedoen het nie.

Niemand vra hoe hy R300 se ekstra foonkoste in een maand by die selfoonrekening gevoeg het nie, en danksy die aparte ingang na sy kamer, kom hulle ook nie agter dat sy meisie party nagte onder hulle dak slaap nie. Solank hy oor niks kla nie, is hy seker gelukkig, en dan is hulle ook gelukkig.

Hierdie twee tieners is presies ewe ongelukkig want hulle ouers het op verskil­lende maniere nooit hulle ouerskaprol met verantwoordelikheid opgeneem nie.

Ek sou graag wou glo ek is baie anders as hierdie ouers, maar die sielkundige se praatjie het my daardie dag tot besinning geruk, want ek was sterk op pad om die eerste ouerskapmodel na te volg.

My huishulp was mal oor babas, en ook mal oor vyfuur soggens opstaan. Dit het my dus wonderlik gepas om sewe-uur elke oggend ’n gelukkige baba met pensie klaar vol pap en bekkie afgevee tevrede en langbeen saam met Joyce op die sitkamerbank aan te tref. Joyce was ook liewer as ek vir middagstappies park toe …

Toe my seuntjie twee jaar later gebore is, was my dogtertjie se gedrag ’n reuse­probleem. Sy was onder andere besonder kwaai met my, en het probeer om haar boetie in die bad te verdrink!

Toe ek haar na ’n spelterapeut neem vir hulp, was ek geskok om te verneem dat my dogtertjie se gedrag ’n duidelike boodskap vir my wou stuur: Sy was nie seker wie ek in haar lewe wou wees nie, want ek speel nie my rol as ma konsekwent nie.

Sy sien vir Joyce in haar binnekring, en vir my op die randjie van haar lewe. Omdat sy ’n baie onseker band met my het, is boetie se koms ’n groot krisis. Sy wil hom graag dood hê, want dit lyk of ek wel sy ma wil wees, maar nie hare nie. Ek dra hom rond, stap met hom, vertroetel hom en voer hom, want Joyce het mos dinge met haar onder beheer.

Ek moes bindingterapie saam met Idalise ontvang en leer hoe om ’n koesteren­de mamma te word, en ek moes vir Idalise se onvervulde behoeftes aan vertroete­ling en versorging opmaak. As ek meer versorgend was in die eerste twee jaar, sou dit nooit nodig gewees het nie!

Ons moes ook speletjies speel om die mure tussen ons af te breek, mure wat ek nie doelbewus gebou het nie, maar wat sommer self opgeskiet het omdat daar ’n groot genoeg gaping tussen my en my dogtertjie was.

Ek het gedink as ek die speletjies wat die spelterapeut my geleer het, gereeld speel, en Idalise meer dikwels saam met my werk toe neem, dan gaan die probleem opgelos wees. Maar toe ek die praatjie oor verantwoordelikheid hoor, het ek skielik verstaan – sy wil nie net meer tyd saam met my hê nie. Sy wil ervaar dat ek vir haar verantwoordelik wil wees.

Dit word sigbaar in die alledaagse sleurwerkies van ouer­skap – die opskep van kossies, die wegpak van klere, die afvee van taai handjies, die ruil van vuil doeke en, namate sy ouer word, die toesig oor huiswerk, die aanry na aktiwiteite, die kontrole oor sosiale uitstappies en al die ander tydige en ontydige be­moeienisse.

Hierdie baie praktiese dingetjies is die bewyse van ons gewilligheid om verantwoordelikheid vir ons kinders te aanvaar. Dit is die basis vir onvoor­waardelike liefde.

Ons kinders verander ons lewens permanent. Die lewe soos ons dit geken het, is inderdaad verby! Ons kan nie aangaan soos voor hulle geboorte asof niks met ons gebeur het nie. Dit sou tragies wees, want hulle is ’n baie spesiale geskenk om ons lewens te verryk; nie ’n lastige ekstra om ons lewens te ontwrig nie.

Dit bring ons weer by die feit dat ons self groot moet wees as ons kinders wil grootmaak. As ons nog steeds die middelpunt van ons bestaan is, en steeds hoofsaaklik onsself as “projek nommer een” beskou, is ons nie gereed om ouers te wees nie.

Mense se laaste woorde is altyd insiggewend. Op ’n sterfbed kom ’n hele lewe skielik in fokus, en met die wyser terugblik sien die sterwende persoon sy priori­teite in ’n ander lig. Weet jy van iemand wie se sterwenswoorde iets was soos “Ek wens ek het minder tyd aan my kinders bestee, en eerder meer op my beroep gefokus”?

Tog is dit wat ons elke dag doen – ons fokus op ander dinge ten koste van ons kinders. Ons betaal ander mense om na hulle te kyk met die geld wat ons verdien terwyl hulle ver van ons af is. So kan ’n mens kinders hê, maar die gawes en genot van ouerskap heel­temal mis.

Ouerskap is juis propvol groei­geleenthede! Gekniel langs ons kinders, gekreukel van hulle skootsittery en taai van hulle sjokolade­handjies, kry ons ’n besondere kykie op die wêreld.

Hoe belangrik is ’n pa se verantwoordelikheid tuis?

Pa se lewe behoort ook ingrypend en permanent te verander. As Pa na die koms van kinders nog steeds dieself­de aantal ure per nag slaap, ewe lank op besigheid weggaan, ewe veel ure oortyd werk en ewe vinnig sy selfoon antwoord, het hy nie die aan­passings gemaak wat met die verantwoordelik­heid van vaderskap gepaard gaan nie.

As ’n pa ook onvoorwaardelike liefde aan sy kinders wil wys, gaan hy soms sy foon moet neersit om met sy seuntjie te stoei, uit ’n vergadering moet loop om betyds by ’n balletkonsert te wees, en die gerieflike “Wat is fout met die kind?” moet verruil vir die ongemaklike vraag: “Wat moet ek dalk anders doen?”

Ouerskap behoort selfs aan pa se sak te vat, ja! Een van die moeilikste keuses wat ’n ouer – veral ’n pa – kan doen is om tevrede te wees met minder as ’n maksimum inkomste sodat hy meer vir sy kinders daar kan wees. Ons kinders kan doen sonder Nike tekkies, maar nie sonder hulle pa nie.

Ons moet oppas dat die manier waarop ons swoeg om ons huis te bou, nie die vreugde van ouerskap van ons wegneem nie. Ons moet ook oppas dat ons versuim om voluit ouers te wees, nie ons “huis” laat intuimel nie.

Een van die hartseerste dinge is wanneer pa’s nie net self verskriklik hard werk nie, maar ook van hulle vroue verwag om die inkomste op te skuif sodat die lewen­standaard hemelhoog kan wees. Broodnood is iets heel anders as die behoefte aan ’n gesogte adres langs die gholfbaan.

Dis wonderlik as ’n gesin dit alles kan bekostig terwyl hulle kinders steeds eerste kom. Dis ook te ver­stane dat twee inkomstes soms noodsaaklik is, of dat ’n ma soms die geaardheid het dat sy iets buite die huis moet doen om goed oor haarself te voel, maar hoe ons die detail hiervan uitwerk, kan ’n baie groot en blywen­de invloed op ons gesin en veral ons kinders hê.

Dit is ’n pa se verantwoordelikheid om hieroor te besluit, en met hierdie besluit die gesin se toekoms te bepaal.