LES 18 – Regverdige dissipline as temperamente bots

Hoe kan ons regverdig dissiplineer as ons boompies verskil? Dit kan baie moeilik wees om kop te hou as daar verskillende boompies in ons kweekhuis is! Elkeen reageer op ’n unieke kombinasie van motiveerders en elkeen het sy of haar unieke behoeftes.

Ouers vra my dikwels hoe om te maak wanneer ’n palmpie en ’n sierboompie saam droogmaak. Moet een in die kamer gaan sit terwyl die ander een pak kry? Is dit regverdig? Hoe verduidelik ek aan die een waarom die ander nie ewe “swaar” gestraf word nie?

Agter hierdie vrae lê daar eintlik ’n paar fundamentele ouerskapvrae: Wat is regverdigheid? Hoe belangrik is gelykheid? Wat is ek aan my kind verskuldig?

Wat is regverdigheid en hoe moet jy dit toepas?

Ons moet verby die ooglopende kyk wanneer ons ons kinders beloon of straf. Kinders se aandeel en motiewe is selde identies wanneer hulle saam stout is. Hulle belewenis van dieselfde straf is ook verskillend.

In ’n studie aan die Universiteit van Missouri-Colombië, het dr. Amanda Kowal bevind dat boeties en sussies dit aanvaar wanneer hulle ouers hulle verskillend behandel, mits die kinders elkeen hulle eie behandeling as regverdig beskou.

Sy sê selfs dat hulle dit dikwels juis as onregverdig beleef het wanneer almal oor dieselfde kam geskeer word. Die ouers moet dan egter hulle redes duidelik aan hulle kinders stel.

Wanneer ’n twee­ en agtjarige saam Pappa se motorfiets met kunsmis smeer, kan daar verskeie redes wees waarom hulle verskillende strawwe vir dieselfde oortreding gaan ontvang:

  • Ouderdom: Die agtjarige gaan gestraf word omdat sy weet wat sy doen, maar die tweejarige sal oorgesien word omdat sy nie die verskil tussen kunsmis en karpolitoer ken
  • Geskiedenis: Die agtjarige het dit al drie maal van tevore gedoen en dis nou duidelik dat praat nie help nie; daarom gaan sy hierdie keer swaar gestraf Die tweejarige gaan net raas kry – as’t ware ’n “opgeskorte vonnis”.
  • Vermoëns: Al twee gaan moet skoonmaak, maar omdat Kleinsus net twee is, sal Pappa saam met haar die tuinslang vashou en die ergste afspuit. Ousus gaan egter nog ’n uur lank met ’n ou tandeborsel sit en kunsmis uit klein hoekies en gaatjies vee …
  • Bedoelings: Dalk is die agtjarige kwaad omdat sy nie saam met Pappa op die motorfiets mag ry Dis die motief agter die kunsmissmeerdery. Sy neem dus nou wraak. Die tweejarige dink maar net sy help vir Ousus met ’n belangrike werkie. Ousus is die enigte een wat vasgevat behoort te word.
  • Temperament: Gestel Ousus is ’n denneboompie wat nooit vir Pa of Ma openlik teengaan Sy weet sy moet Pappa se besluit aanvaar, maar sy is regtig ongelukkig daaroor.

Hierdie stoutigheid is haar enigste manier om te sê hoe vies sy is dat sy nie mag saamry nie. ’n Gesprek oor die redes vir Pappa se besluit gaan baie beter werk as ’n streng korreksie om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.

As Kleinsus ’n woelwater van ’n palmboompie is, wat nie lank genoeg kan stilstaan om na enige rede te luister nie, gaan sy bes moontlik ’n piets op die hand kry saam met ’n kragtige: “Nee!”

Hoe belangrik is gelykheid in ons gesinne?

Toe ons derde kind gebore is, het daar ’n paar weke lank kort-kort kuiermense met drie geskenke opgedaag. Dit was natuurlik dierbaar van hulle om aan die tweetjies te dink wat skielik nie meer al die kollig geniet nie, maar een van die kuiermense se verduideliking het my bekommerd laat regop sit:

“Julle moet ook geskenkies kry, want ’n mens kan nooit vir een kind iets gee en vir die ander twee niks nie!” Dit is ook die filosofie van baie ouers wat met verjaarsdae vir die ander boeties en sussies ook geskenke gee sodat hulle nie uitgelaat moet voel nie.

Hierdie soort denkwyse verklik myns insiens dat die ouers se hoogste prioriteit hulle kinders se onmiddellike geluk is, eerder as hulle uiteindelike gereedheid vir die lewe. Op watter ouderdom gaan hierdie praktyk stop? Gaan ’n mens nie dalk later wens jy het nooit daarmee begin nie?

Hoe lyk die lewe waarvoor ons ons kinders voorberei? Dit is mos ’n wêreld waarin werknemers nie almal gelyktydig bonusse of bevordering kry nie, en kompetisies net een wenner en baie verloorders het.

Wanneer jou buurvrou ’n nuwe kar by haar welvarende man kry, koop hy mos nie vir jou ’n tweedehandse skedonkie as troosprys nie! Dit is die lewe waarvoor ons ons kinders moet voorberei – ’n lewe waar gelykheid maar ’n klein rolletjie speel.

Jesus vertel ook so ’n skokkende verhaal oor ’n werkgewer wat werknemers dieselfde dagloon betaal ongeag hoeveel ure se arbeid hulle verrig het (Matteus 20:1-16). Dit verklap dat ons ook in die lewe hierna nie moet verwag om gelykheid volgens ons terme te beleef nie.

Ons kinders moet leer om “geluk liewe maatjie” en “happy birthday to me ” met ewe veel vreugde te kan sing. Dit is terloops na my mening een van die sleutels tot die grootmaak van gelukkige, tevrede kinders – om hulle nie aan sulke kunsmatige gelykheid gewoond te maak nie.

Wat is ouers aan hulle kind verskuldig?

Die Here gee hier op aarde oënskynlik nie beloning en straf op regverdige maniere aan sy kinders nie. Dawid kla self dat die Here die “stoutes” beter behandel as die “soetes”; die vreemdelinge beter as sy eie kinders (Psalm 74).

In Job 27:1-2 lees ons ook Job se aantygings dat hy nie regverdig behandel word nie en daarna lees ons die Here se reaksie op hierdie soort beskuldigings (Job 38-41, veral 40:1-8).

Die Here sê per implikasie: “Ek besluit wat is reg. Wie is jy om dit te bevraag- teken?” Ons is natuurlik nie in dieselfde posisie as God teenoor ons kinders nie, maar daar is wel ouerskaplesse hieruit te leer.

Die Here is met sy mense op pad na geestelike volwassenheid en ons met ons kinders na volwasse menswees. Groei is dus belangriker as gemak. Soms moet daar tydelik onaangenaamheid wees sodat ons kinders op die lang duur mooi karaktereienskappe en lewenswysheid kan leer.

Ons hoef ook nie ons kinders te oortuig van ons regverdigheid terwyl ons hierdie moeilike taak uitvoer nie. Ons moet in ons eie harte oortuig wees dat ons gedoen het wat die situasie vereis, en dit op die manier gedoen het wat vir elke kind die beste is.

Ek is dus nie altyd aan my kinders verduidelikings verskuldig nie en ek tree beslis nie altyd op volgens hulle sin vir regverdigheid nie. Ek is wel aan hulle verskuldig om in liefde die beste te doen wat ek kan, selfs wanneer hulle nie daarvan hou nie.

My ma het my geleer dat die persoon wat eerste praat nadat daar konflik ont­staan het, gewoonlik die verloorder is. Ek het dit al baie in die praktyk gesien. Wanneer daar oor ’n koopprys gekibbel word, verloor die een wat die eerste aanbod maak gewoonlik.

Wanneer ons en ons kinders verskil, verloor ons as ons wegspring met lang verduidelikings. Ons lyk skuldig – asof ons ons saak probeer verdedig.

Dit gee ons kind geleentheid om ons verder uit te daag. Hoe minder ons sê nadat die streep in die sand getrek is, hoe beter. As ons te veel praat, leer ons ons kinders dat hulle net gehoorsaam hoef te wees wanneer ons vyf goeie redes kan gee!

Daar is ’n verskil tussen verduidelik en oortuig. Ons behoort ons redes te gee wanneer dit nie duidelik is nie, maar dis onnodig om ons kind te probeer oortuig om saam te stem. Ons hoef nie te voel dat hulle altyd hoef te verstaan nie, want hulle kan nie met hulle beperkte ervaring van die lewe dieselfde perspektief as ons hê nie.

Kinders het nie die volwassenheid of insig daarvoor nie. Ons kan juis hulle aanklag van onregverdigheid beantwoord met hierdie baie waar woorde: “Ek sou ook so gedink het as ek so oud soos jy was.”

Die slotsom is dus dat ek wel my kinders verskillend mag hanteer. Trouens, ek móét dit doen as ek hoop om aan elkeen te gee wat hy of sy die nodigste het. Dit geld natuurlik nie net straf nie, maar ook liefde.

My seuntjie kry baie meer soene as my oudste dogtertjie. Het ek hom liewer? Nee, natuurlik nie! Sy vee die soene af, en het al in soveel woorde gevra dat ek asseblief minder moet soen, terwyl sy haar hempie agter optrek vir my om liewer haar ruggie te krap.

Maak dit my seuntjie jaloers – nee. Hy haat rugkrap, want dit kielie hom. My seuntjie word aangemoedig met “Good job !” en “Wow, jy’s ’n bulletjie!” Idalise frons verleë wanneer ek haar te entoesiasties aanpor. ’n Knipoog en glimlag sê genoeg vir haar en maak haar nie skaam nie.

Ek is seker mense wat my dophou, sou dink my seuntjie is my oogappel, maar dis maar net omdat hy demonstratiewe liefde geniet terwyl Idalise eerder vanaand in die privaatheid van haar kamer wil hoor dat ek mal is oor haar.