Ons het agt sintuie wat vir ons inligting gee oor wat binne ons liggaam en in die wêreld rondom ons aangaan. Ons voel, hoor, sien, ruik en proe elke dag. Dan kry ons ook terugvoering van ons bewegingsisteme, naamlik die vestibulêre sisteem, wat in die binneoor geleë is, en die proprioseptiewe sisteem, wat in ons spiere en gewrigte geleë is. Die interoseptiewe sisteem is in ons organe, soos die blaas en derms, geleë en gee vir ons inligting oor wat binne-in ons liggaam aan die gang is. Ons brein en sentrale senuweesisteem is heeldag besig om die inligting te verwerk wat ons vanaf ons sintuie ontvang. Die brein se doel is om na balans te streef. As die inligting van ons sintuie af belangrik is, moet die brein daarop reageer. As dit nie belangrik is nie, moet die brein dit filtreer en kan ons aangaan met komplekse take. Wat ons uniek maak, is die manier waarop ons brein en senuweestelsel die inligting vanaf ons sintuie filtreer en verwerk.
Sommige mense se breine filtreer alles voor die voet. Gevolglik lyk hulle minder gepla en dikwels minder sensitief oor dit wat rondom hulle aangaan. Hulle raak nie maklik oorweldig in ’n besige omgewing nie. Kameelperde met hulle rustige bewegings herinner my aan hierdie kinders – hulle is oor die algemeen rustig en gemaklik.
Ander mense se breine filtreer minder inligting. Die brein reageer op die meeste sensoriese inligting, soms selfs onbelangrike stimulasie, en daarom kom hierdie mense meer sensitief voor. Kinders wie se breine so reageer, is fyn ingestel op die mense en die wêreld rondom hulle. Hulle kan soms maklik oorlaai voel in ’n besige, raserige omgewing. Navorsing toon dat 15 tot 20% van die populasie in hierdie kategorie val. Hierdie kinders is sensitief bedraad – ek vergelyk hulle met krimpvarkies.
Sommige kinders reageer nie soos kameelperde of krimpvarkies nie. Hulle brein vind dit moeilik om besluit of hy die inligting moet ignoreer of daarop moet reageer. Hierdie kinders beweeg baie en is op soek na geleenthede om aan mense of dinge te vat. Hulle laat dink my aan apies – altyd aan die gang en besig om die wêreld rondom hulle te verken.
Jy herken dalk dadelik jou kind in een van hierdie diere. Soms kan dit egter moeilik wees en voel jy dat jou kind ’n bietjie van die een en ’n bietjie van die ander is. Jou kind kan ook verskillend optree in verskillende situasies, in verskillende omgewings en op verskillende tye van die dag.
Die geheim is om terug te sit, te kyk en te wonder. Jou kind se gedrag sal wel vir jou die leidrade gee. Een ding kan ek jou verseker: As jy verstaan watter tipe sensoriese temperament jou kind het, sal dit jou interaksie met jou kind vergemaklik en sodoende julle verhouding versterk.
Dit is belangrik om ’n paar goed in gedagte te hou wanneer dit by temperament kom.
Daar is geen temperament wat beter of sterker of ouliker of meer ideaal is as ’n ander nie. Elkeen het sy voordele en uitdagings, sy sterk en swak punte. Om ’n sensitiewe kind (’n krimpvarkie) groot te maak – wat maklik oorlaai voel en in ’n nuwe omgewing soos ’n neet aan jou vasklou – kan moeilik wees. Haar sensitiwiteit maak haar egter empaties, innemend en sorgsaam teenoor ander.
Om ’n besige kind te hê wat alles ondersoek (’n apie), kan harde werk en uitdagend wees, maar sy waagmoed en nuuskierigheid kan ’n wonderlike bate wees. Jy moet dalk herhaaldelik praat om jou rustige kind (’n kameelperd) aan die gang te kry, maar sy temperament maak hom ’n gemaklike, ongekompliseerde mens. Die doel is nie om jou kind te verander nie, maar om sy temperament te verstaan.
Ons unieke sensoriese temperament word deur talle faktore beïnvloed:
Tyd van die dag
Opstaantyd, laatmiddag en vroegaand is gewoonlik moeilike tye. Faktore soos hongerte, uitputting en oorlading kan dan ’n groot rol speel, en jou sensitiewe krimpvarkie mag dan heeltemal ineenstort. Ouderdom
Die brein se vermoë om sensoriese inligting te verwerk ontwikkel ook met verloop van tyd soos jou kind ouer word en sy brein ontwikkel. Jou babatjie was in die baarmoeder byna volkome afhanklik van jou vir selfregulering – dit was die perfekte plek om sy liggaamstemperatuur, asemhaling en voeding te reguleer. Toe word jou baba gebore en stadig maar seker, met verloop van tyd, leer hy om sin te maak van sy lyfie en die wêreld rondom hom. Klein, onvolwasse breintjies word nog dikwels oorweldig deur groot emosies (soos frustrasie, angs en genot) en dit maak die regulering van sy gedrag, sy emosies en sy denke moeiliker.
Stres en trauma
Ons weet dat stres ’n nadelige effek op ons het. Stres aktiveer hormone (soos adrenalien en kortisol) wat ons liggaam gereed maak om ons te beskerm. Ons hart klop vinniger en ons bloeddruk styg, ons pupille vergroot en ons is reg om te veg of te vlug. As kinders gespanne is, affekteer dit hulle vermoë om die sensoriese inligting te verwerk. Omdat die veg-of-vlug-aksie geaktiveer word, reageer kinders dan deur oorsensitief te wees vir dinge soos geluide of geraas, beweging of aanraking. Die hond wat skielik blaf, die maatjie wat per ongeluk aan hom stamp, die rondomtalie wat vinnig draai – dit alles kan net te veel wees en ’n ineenstorting tot gevolg hê. In ’n poging om die brein teen aanhoudende stres te beskerm kan die kind hom heeltemal onttrek of selfs aggressief raak. Wanneer ’n kind se stresresponse geaktiveer word in ’n omgewing waar daar emosioneel beskikbare en ondersteunende volwassenes is word die fisiologiese response gebuffer en sal die kind gou kalmeer. Sodoende en met verloop van tyd ontwikkel die kind gesonde streshanteringstrategieë wat hom vir die res van sy lewe sal help. Ongelukkig is dit so dat wanneer die stresrespons aanhoudend geaktiveer word en wanneer kinders aan herhaaldelike traumatiese gebeure blootgestel word, is dit soos gif vir hulle onontwikkelde breintjies. Die breinargitektuur verander en dit sal sy tol eis op die kind se intellektuele, fisiese en emosionele ontwikkeling en funksionering. Navorsing het bewys dat die skadelike effek van aanhoudende stres en trauma op kinders verminder en selfs omgekeer kan word as hulle ’n verhouding kan ontwikkel met ’n kalm, koesterende, empatiese, konsekwente en emosioneel beskikbare volwassene. Binne so ’n verhouding sal kinders veilig voel en kan die brein se argitektuur herstel word.
Selfregulering is ’n belangrike fondasie van gesonde sosiaal-emosionele ontwikkeling. Die kind se vermoë om sy gedrag, emosies en denke te reguleer word toenemend beskou as ’n goeie voorspeller van akademiese sukses.
Dit is nie net belangrik om jou kind se unieke sensoriese temperament te verstaan nie, maar om ook jou eie temperament te verstaan. As jy ’n krimpvarkie is, sal die luidrugtigheid en strewe na meer van jou apiekind vir jou moeilik wees om te hanteer. Net so sal dit vir jou krimpvarkiekind moeilik wees as jy ’n ma is wat hard praat en wegskram van roetine. Wees bewus van jou en jou kind se unieke temperament en hoe die omgewing waarin julle woon, die aktiwiteite wat julle doen en die interaksies met mekaar en ander jul daaglikse gedrag en bestaan beïnvloed. Dit is ook belangrik om te noem dat ons almal sekere voorkeure en afkere het, sowel as unieke maniere om dinge te doen. Indien jou kind – of hy nou ’n apie, krimpvarkie of kameelperd is – se gedrag voortduur en sy daaglikse lewe, ontwikkeling en funksionering ontwrig, sal dit die moeite werd wees om vir hulp aan te klop. ’n Goeie beginpunt is om met jou kind se onderwyseres te gesels en dalk ook ’n afspraak by ’n arbeidsterapeut, spraakterapeut of sielkundige te maak.
Kliek hier vir ekstra inligting oor die krimpvarkie-, kameelperd- en apiekind.