HOOFTUK 19

Tip-tap, tip-tap … drup die stukkende kraan in die winkelkombuis. Al my energie is down the drain.  My kop wil bars ná gisteraand se spookgeselsies en wyn. Auntie Koekie kom eers later in. Sy het glo ’n krisis by die huis.

Ek trek die reuk van vanoggend se baksel diep in – pure bakery. Vir ’n oomblik dink ek aan

’n skyfie van auntie Koekie se mark-tamatie op ’n dik stuk botter en vars brood. My maag grom en brand. Daar’s ’n broosheid in my maag … en in my kop.

Gisteraand was een van daai lê-wakker-en-dink-nagte. Ek het baie sulke nagte in Klaskat se agterkamertjie gehad – veral ná Danie se naweekkuiers. Danie se vakansiekuiers was nog erger.

My gedagtepad loop terug. Jess het op my heup gesit. My asemhaling was diep, my trane vlak. Ek het deur die venster na Danie en sy blondine gekyk … mý Danie. My Danie pluk vir haar rose. Ek het verbitterd gewens die dorings steek hom voos.

Namiddae het die twee soos liefdesduifies die agterplaas se boom opgeklim en na die sonsondergang gekyk. Ek het gewens hulle val hulle velle af. Hoe kon Danie so gou só lief vir iemand anders word? Al die gisters begin al harder word.

“Danie, kom vang my!” het sy geterg en haar lang lokke geswaai. “As ek jou vang, gaan ek jou nooit weer laat gaan nie,” het Danie teruggeterg. Sy het stadiger gehardloop. Danie het haar gevang, omgedraai en hartstogtelik begin soen.

My hele lyf het begin ruk soos die trane oor my wange rol. Jess het saam gehuil terwyl ek deur die skrefie in die gordyn gestaar het. “Slaap, my kindjie, slaap sag, onder rose vannag.

Eers die armpies om my nek, dan warmpies toegedek,” het ek hees vir baba Jess gefluistersing.

“Toemaar, môre mag ons weer buite gaan speel, my liefie,” het ek gesê en oor Jess se koppie gestreel. Danie het sy blondie pienk sjokolade gevoer en iets in haar oor gefluister. Sy het gelag … Haar lag het my derms laat draai. Dit was skril en hard.

’n Mens kon haar van ver af hoor. Blondie het Jess wakker gelag, Jess het gehuil. My kind wou die son sien, die grassies met haar dom vingertjies voel, nie die hele blerrie naweek in die donker kamertjie weggekruip het nie.

“Nonna?” het Boytjie, die vriendelike tuinier, geroep nadat hy die gras gesny het. “Daai twee is dorp toe … bring vir baby Jess bietjie uit,” het hy my genooi. Blondie se lag was weg. Ek het Jess gegryp en vir ’n rukkie met haar buite in die son gaan speel.

Vir ’n oomblik was ek en Jess vry. Haar babalyfie het saggies op een van Danie se ou babakombersies gelê en haar vingertjies het dom aan die grassies gevat. Haar mondjie het gegril, haar ogies het gelag soos ek haar pienk voetjies gestreel het.

Ek het net daar langs Jess gesit en die reuk van vars gesnyde gras geruik. “Hou Nonnatjie van die smell van gras?” het Boytjie gevra. “Vars gesnyde gras, ja,” het ek geantwoord en terug geglimlag.

“Een van die dae kruip sy,” het hy vir Jess se doekboudjies gelag. Haar boudjies was opgepof en opgestoot, haar nekkie soos ’n skilpadjie uitgerek. “Een van die dae …” het ek saamgestem en geglimlag vir my baba wat probeer kruip.

Sy het haar koppie na die boom gedraai waarin die mossies geraas het. Die mossies het lekker partytjie gehou in Danie en Blondie se sonsondergangboom. Die gekwetter het tjoepstil geraak. Die skril lag het al hoe nader gekom.

“Dis nie reg dat Nonna en Baby so agter toe deure op so mooi dag moet hide   nie,” het Boytjie hartseer gesê. “Dis nou maar so,” het ek gesê. Gaan bars Danie en Danie se blondie, het ek gedink en na my Jessie-baby gekyk voordat Klaskat ons twee weer terug in die kamertjie gejaag het. Jess is al wat ek nodig gehad het.

“Is jy oukei?” het Raulene daai middag gevra. “Nee, ek haat vir Danie,” het ek gesê. “Maar jy het gekies om hom nie die waarheid te vertel nie,” het Raulene gesê. “Dit was nooit so eenvoudig nie … en nou vry hy en sy bimbo elke dag voor my venster,” het ek moedeloos gesê.

“As hy geweet het jy en sy kind is hier binne, sou hy nooit nie. Jy kan nie vir hom kwaad wees nie, Helenatjie,” het Raulene gesê. “Ek kan kwaad wees vir wie ek wil,” het ek hard gesê en Jess se suur lapdoeke verwoed begin was, en gewens die skerp skril lag kan net verdwyn.

Met my kop wat steeds klop, die kraan wat tip-tap en my verlede wat deur my kop flits, voel ek naar. Danie kan maan toe vlieg. Hy moenie durf om sy voete vandag weer in my winkel te sit nie. Ek sit die ketel aan en wonder waar auntie Koekie vanoggend so draai.

“Môre, Helena-kind,” groet auntie Koekie en kom met ’n mandjie eiers, tamaties of iets in.

“Môre, Auntie,” groet ek en loer vir haar mandjie.

“Jammer ek’s so laat. My skoonseun se pa het mos nou ook daar onder my dak ingekruip. En hy maak sommer baie moeilikheid in ons straat,” kla auntie Koekie. “Hoe dan so?” vra ek.

“Die man is soos ’n gees wat nie kan rus nie. Hy spook by al wat ’n rok dra. Hy’t vanoggend sommer my buurvrou probeer oopbek soen,” vertel sy. “Is sy dan nie getroud nie?” vra ek.

“Toppie is twee maande terug oorlede. Ek kry sommer skaam namens haar. Dat Toppie se lyk nog nie eers behoorlik koud is nie … Die man gee my al my dae, Helena,” sê auntie Koekie. “Ja, ’n man is ’n bok …” sê ek. “En ’n bok is ’n bliksem,” voltooi sy my sin.

Ek lag vir auntie Koekie. “En dis nie al nie. Dis nie net vir Lulu wat hy staan en vry nie. Hy het ’n swakte vir vollerige lywe. Die vroumense slaan nou al behoorlik vuis oor hom. Arrie het my geroep en gesê ek moet kom keer, voordat die vroumense mekaar se oë uitkrap,” sê sy.

Ek bars uit van die lag, dan skiet die hoofpyn weer deur my kop. Ek knyp my oë toe. “Is jy oukei, kind?” vra sy. “Ek sal oukei wees. My kop is net seer,” sê ek en maak my oë weer oop.

“Daai waterige ogies van jou laat my dink jou hart is ook seer,” sê-vra auntie Koekie.

“Ag, alles is vanoggend seer. Sal Auntie asseblief vir ons van Auntie se tamatie-broodjies maak?” vra ek. “Natuurlik sal ek,” antwoord sy en pak die mandjie uit. “Ek het ook nou ’n eetding nodig ná al vanoggend se drama. Ek moes nooit daai orige mannetjie onder my dak laat intrek het nie. Gepraat van orige mannetjies … wat het Danie gesoek?” vra auntie Koekie.

My lag verdwyn en ’n knop begin in my keel opstoot. “Hy het my vir aandete genooi, maar ek het nie gegaan nie,” sê ek. Auntie Koekie skud haar kop en smeer die broodjies. “Auntie weet dis ’n hoofstuk in my lewe wat ek nie weer wil oopmaak nie,” sê ek.

“Het jy al gedink wat jy gaan doen as hy die waarheid oor Jess uitvind?” skiet auntie Koekie se woorde deur my hart. “Ek is honger. Is die broodjies amper klaar?” omseil ek haar vraag.

“Voor ek vergeet …” sê auntie Koekie terwyl sy ’n boompie uit die mandjie haal.

“En dit?” vra ek fronsend. “Dis vir jou,” sê sy en sit die boompie langs die ketel. “Dit lyk eerder soos ’n stuk onkruid,” sê ek en kyk skepties na die boompie. “Die boompie is siek. Jy en die boompie het mekaar nodig,” sê sy en gaan aan met die broodjies.

“Watse snert is dit?” vra ek. “Hy is hartseer omdat hy uit die grond getrek is en jy is hartseer … want jy is altyd hartseer,” sê sy en gooi sout en peper op die tamatieskyfies. Ek sug. “Jy is te jonk om so bitter te wees. Kyk tog na die ou boompie,” sê auntie Koekie.

“Dis ’n stuk onkruid!” baklei ek. “Daar is genade vir julle al twee!” sê auntie Koekie rustig.

“Oupa het altyd gesê onkruid vergaan nooit,” sê ek. “Jou Oupa was reg, maar nie jy of die boompie is onkruid nie. Julle het al twee baie genade nodig,” antwoord sy en sny die broodjies in driehoeke.

Ek vryf die boompie se droë blaartjies totdat die geel in stukkies kraak. Die steeltjie vou dubbel en buig tot op die grond. “Jy moet begrawe word, want jy het klaar opgegee,” praat ek met die boompie.

Auntie Koekie sit haar tamatie- special voor my neer. “Dankie, Auntie,” sê ek. “Ek moet net gou poskantoor toe gaan,” sê auntie Koekie. Met ’n mond vol brood knik ek net my kop en kyk hoe sy met haar broodjie in haar hand die winkel uitdraf.

Auntie Koekie kon net sowel die dag afgevat het. Ek haal die maand se state uit en begin sommetjies maak terwyl ek my mond verder vol brood prop.

“Helena …” hoor ek sy stem. My hart klop in my keel. My keel is droog en vol brood. Ek probeer sluk en vee die krummels van my mond af. Ek loop versigtig uit my kantoortjie en sien hom by die ingang van die winkel staan.

“Helena,” sê hy en kyk hartseer na my. “Danie …” sê ek en knik my kop. “Ek onthou die eerste keer toe ek hier ingestap het. Ek het nog jou voete onder jou uitgeslaan,” spot hy, maar sy oë bly hartseer na my kyk. Ek glimlag skaam.

“Ek wil jou so graag sien. Sal jy asseblief vanaand by my kom eet?” smeek Danie soos ’n stout kind. Ek swyg en staar net in sy oë. “Daar is soveel goed waaroor ons moet praat,” sê hy ongeduldig. Ek raak yskoud. Weet hy? Weet hy van Jess?

“Oukei dan. Dis reg,” sê ek koud en kil. “Sesuur op die plaas?” vra hy versigtig. “Sesuur klink reg,” glimlag ek soos die eerste keer toe ek my hart op hom verloor het.

Auntie Koekie het ingestem om vanaand by Jess te bly. My naakte siel wil sonder twyfel net na Danie toe gaan. Ek haat hom en ek het hom lief – nog altyd. Die skaduwees onder die son se sak, gooi sommer ook ’n koelte oor my hart terwyl ek plaas toe ry.

Ver voor staan ’n mens se lyf en duimgooi. Soos ek nader ry, loop die lyf tot in die middel van die pad. Ek sien dadelik die hoed vol gekleurde vere. “Pietertjie?” vra ek en draai die venster af.

“En waarheen is jy op pad?” vra hy. “Vir wat kan jy my nie net ’n bietjie uitlos nie?” vra ek en draai die venster weer op. Pietertjie klim in. “Jy kan nie!” raas ek met hom. “Ek kan nie wat nie?” vra hy. “Ek sal eerder sê jý kan nie … ” sê Pietertjie en trek sy spook-ogies op skrefies.

“Waarvan praat jy?” vra ek. “Ek kan nie by jou in die kar klim nie, want jy wil nie hê ek moet sien waarheen jy gaan nie. Maar jy kan nie so mooi aangetrek en opgedollie na ’n getroude man se huis toe gaan nie,” sê hy rustig.

“Ons gaan net gesels,” sê ek. “Ek hoop jy vertel hom die waarheid,” sê Pietertjie. “Klim asseblief nou uit my kar, ek gaan laat wees,” hoor ek die frustrasie in my eie stem.

“Onthou, jy gaan nie net na Danie toe nie. Jy gaan terug na jou verlede. Terug na die droomplaas waar die vloek begin het,” krap sy stem. Ek frons en begin weer ry. “Vertel my wat jy weet,” smeek ek terwyl ek stadig by die grondpad afdraai.

“Twee slange sluk mekaar in,” sê hy en verdwyn. Ek dink Pietertjie geniet dit om my die heeltyd te laat wonder. My lyf raak lam … die gedagte dat ek en Danie alleen gaan wees, maak my verskriklik opgewonde, maar ook verskriklik bang.

“Ag, Vader, help my,” sê ek toe ek deur die eerste plaashek ry. Ek wil vir ’n oomblik in sy arms wees, maar hoe sal ek tog so ’n oomblik kan geniet met hierdie brandende geheim in my?

Die plaashek staan reeds oop. Danie sit op die voorstoep en wag vir my. Hy staan dadelik op toe hy my kar sien aankom. My binneste begin borrel, maar ’n stemmetjie bly my waarsku.

“Ek het begin dink jy gaan nie kom nie,” sê hy toe hy die deur vir my oopmaak. “Jy lyk pragtig. Waarheen gaan jy, Meisiekind?” hoor ek die Danie uit my verlede. “Dankie,” lag ek skaam.

“Is dit vir my wat jy so mooi lyk?” hou hy aan terg. “Jy sal jou wat verbeel. Ek het ’n date hierna,” jok ek. “Kom dan in, ek wil nie jou tyd mors nie,” glimlag hy. “Jy jok vir my, Helena. Dis hoekom ek jou hiernatoe genooi het vanaand,” raak Danie baie ernstig.

“Ek verstaan nie?” speel ek dom, maar ek voel hoe my gemoed sak. “My ma jok ook vir my.

Ek wil weet hoekom my ma jou so graag wil sien. Van alle mense wil sy jóú op haar

doodsbed sien. Ek wil weet wat aangaan,” sê hy.

“Iets brand,” sê ek. Danie spring op en loop kombuis toe. Die bekende antieke meubels en Persiese matte maak my naar. Ek wonder hoekom hulle nie die plaas wil verkoop nie …

“Dammit,” sê Danie en haal die pikswart hoender uit die oond. Ek begin lag. “Ek kan iets anders maak,” sê hy. Hy lyk effens moedeloos. “Gooi vir ons ’n glasie wyn in, dan help ek jou,” sê ek. “Gaan jy nie laat wees vir jou date nie?” vra Danie.

Ek byt my onderlip vas en kan myself nie keer om nader aan hom te beweeg nie. “Hoekom verkoop jou pa nie die plaas nie?” vra ek. “Hy sal nooit die plaas verkoop nie, Helena. Dis waar hy grootgeword het. Waar hy vir sy ma gesorg het. My pa is baie lief vir hierdie plaas,” sê hy.

Ek loop by die kombuis se agterdeur uit en gaan staan voor die kamertjie waarin ek en Jess weggekruip het. Ek sukkel om my trane te keer. “Wat is fout, Meisiekind?” vra Danie en vee die trane met sy duim oor my wang.

“Ek moes nooit vanaand gekom het nie. Ek weet nie wat ek gedink het om hiernatoe te kom nie,” sê ek in trane en loop terug die huis in. “Asseblief, Helena, moenie gaan nie,” sê Danie en gryp my aan die arm.

“Los my!” skree ek en ruk los. Danie druk sy hande in sy broeksakke en skud sy kop. “Jy is ’n getroude man! Wat soek jy by my? Wat het jy in die eerste plek by my gesoek?” vra ek en gryp my handsak.

“Ek is ’n geskeide man. Sy het my gelos vir my beste vriend. En jý is die enigste vrou wat my lewendig laat voel,” antwoord hy. “Ek wil huis toe gaan,” sê ek en loop tot by die voordeur.

“Kan ons net ophou baklei en soos grootmense praat?” smeek Danie. Ek sug.

“Jy is so mooi as jy kwaad is,” sê hy sag en kelk sy hande oor my wange. Ek kan sien hoe hy na my kyk. Dit voel of die wêreld tot stilstand kom. Ek is nie in staat om myself te keer nie.

Ek wens ek kon vir hom sê hoe ek regtig voel.

Ek voel vasgevang in die oomblik vol emosies. Sou dit so maklik wees om die beloftes wat ek aan myself gemaak het, te verbreek? Te vernietig? En net alles wat my tot hier gebring het, te vergeet? Om nie net my eie toekoms nie, maar ook Jess se toekoms in gevaar te stel?

“Danie … ” probeer ek, maar voordat ek verder kan praat, soen hy my. Die sagtheid in sy soen maak ’n warmte en sensitiwiteit in my wakker. Verdomp, hoe kan ek dit toelaat?

“Wanneer gaan jy die waarheid erken?” praat sy lippe teen myne. “Watter waarheid?” asem ek sy geur in. “Dat jy nog lief is vir my?” sê Danie dringend en gryp my heupe en dwing my om styf teen hom te staan. Sy vingers gly oor my bo-arms. Elke spier in my lyf reageer op sy aanraking.

“Ek wil jou hê,” verdik sy stem. “Ons kan nie … ” stry ek met myself. “Ek kan sien jy wil, of moet ek jou liggaam se taal ignoreer? Dis nou te laat, Helena. Jy weet net so goed soos ek dat ons al twee nog lief is vir mekaar,” fluister hy hees in my oor.

Hy maak die knopies van my rokkie los, sy hande verdwaal oor my borste … nes op trok 709.

My bene word lam. “Jy dra te veel klere,” sê hy en sy hande beweeg al dringender oor my borste. Hy maak my bra los en begin my saggies oor my borste soen.

My kop val terug soos hy my op die bank in die ingangsportaal neerlê. Sy hande dwing my oorbodige rok en onderklere oor my kop. Danie se mond sak neer oor my hele lyf. Hierdie keer voel ek die honger in hom.

Soos hy my teenaan hom druk, steel hy my laaste bietjie wilskrag. Sy mond soek nou myne.

Hy byt my onderlip saggies. Ek kreun. Dis nie seer nie, net so intiem. Voordat sy tong weer oor my borste begin speel, trek ek met ’n bewerige hand sy hemp oor sy kop

Hy maak sy belt los. Sy hande gly oor my heupe. Ek verdrink in ’n see van passie. Toe sy hande oor my heupe gly, boog ek gretig na hom toe. Ongeduldig gooi hy die kussings van die bank af.

“Jy is pragtig, Meisiekind,” sê hy en kyk na my kaal lyf. Ek ignoreer die stemme in my kop – die stemme wat my waarsku dat ek bitter spyt gaan wees hieroor. Ek is bewus van die gevaar.

Ek moes geweet het ek gaan myself weer verloor.

Voordat ek verder met my lyf kan stry, voel ek die geweldige druk van sy mond op myne. Ek maak my oë oop en kyk na sy gesig. Ek wens dat ek nooit sy uitnodiging aanvaar het nie. Hy hou my al hoe stywer vas, sy asem word dringender, sy lyf onbeheerbaar.

Dis ’n dringendheid wat aan waansin grens. Hy ruk my nader totdat ek hulpeloos in sy greep lê. Ek wil nie meer gered word nie – nie van Danie se hartstog nie.

“Nee!” skree ek en gryp ’n hand vol van sy dik hare. Sy sterk greep agter my nek laat rillings by my ruggraat afgly. Die hitte vlam deur my wese … sy skoon manlike reuk hou net aan om my te verlei.

“Helena,” mompel hy hees, terwyl ek die onmiskenbare plesier van sy manlikheid teen my buik voel groei. In sy oë sien ek dieselfde hulpelose gevoel wat deur my lyf skiet. Ons heupe beweeg saam – ons word een. Dis ’n ontploffing van al my sintuie en my wilskrag.