Fynbos en vaalklip omring Vlooi se huis hier in Fonteintjie. ’n Akkedis skarrel van die een bos na die ander. ’n Arend vlieg verby. Ek is amper te bang om die huisie, wat stuk-stuk aanmekaar gelap is, binne te stap. Stukkende sandale lê voor die deur.
“Kom in!” roep ’n sagte stemmetjie my. “Trek asseblief jou skoene uit,” vra sy. Die huisie is donker. Al die gordyne is toegetrek. In ’n hoekie sit ’n klein vroutjie. Haar swaar rastalokke is in skerp kontras met haar sagte pienk nagrok.
“Opgekrummel soos ’n hopie sand lê jou menswees onder my hand,” sê sy in ’n eienaardige stemmetjie. “Haai,” groet ek onseker. “Kind van die wind, kind van die maan. Hoe kan ek help?” vra sy.
“Shandy het my van jou vertel. Sy sê …” probeer ek my sin klaarmaak, maar sy val my in die rede. “Shandy sê baie goed. Maar is alles waar? Ek weet nie. Jy weet nie. Niemand weet regtig nie,” sê sy half mallerig.
Ek sweer sy is op iets. Dagga, of dalk tik. Haar oë staar haaswakker na my. “Ongelukkig kom die ongeluk voor die geluk, liewe kind. En daarvoor moet jy gereed wees,” sê sy. “Watse ongeluk?” vra ek bang.
“Ek mag nie te veel praat nie,” sê sy en sit haar vinger op haar mond. “Sjt …” sing haar stem in haar fluister. Die vreemdste gevoel vloei deur my lyf. Dis asof ek hierdie mallerige vroutjie ken. Asof ek my oë in haar oë sien. Haar bekende gelaatstrekke laat my staar.
Vlooi gaan staan voor ’n rak met honderde klein botteltjies. Haar hande is so groot soos sopborde. Dit beweeg soek-soek deur die rak. Dan haal sy drie botteltjies uit en meng dit.
“Jy weet dan nie eers wat fout is met my nie. Hoe weet jy watter medisyne om te kies?” vra ek skepties. Sy kyk na my en frons. “Die oomblik toe jy voor my deur kom staan het, het selfs die akkedis in die bos en die arend in die lug geweet wat fout is met jou,” sê sy.
Ek raak bang. “Wat is alles in die mengsel?” vra ek nuuskierig. “Dassiepisklonte, kattekruid, perdevy en renosterbos,” sê sy. “Dassiepisklonte?” vra ek gewalg.
Sy ignoreer my vraag, maak haar oë toe en begin in ’n onbekende taal te praat terwyl sy die botteltjie skud. Sy stap toe-oë tot voor my, maak haar oë dan stadig oop. “Laat Luna jou lei en luister maar na jou drome,” sê sy en gee vir my die botteltjie. “Dankie,” sê ek.
“Onthou, jy is nie alleen nie. Maak plek vir Raphael, die engel van waarheid en genesing.
Maar ook vir Zadkiel, die engel van waarheid en vryheid. Die hemel en aarde moet
saamwerk. Soek die kleure. Voel die kleurvibrasie,” sê sy en stap saam met my tot by die deur.
“Die wat?” vra ek. “Totsiens,” groet sy en trek die deur toe. Ek trek my skoene aan en klim in die kar. Nou voel ek meer deurmekaar as ooit.
Dis vyfuur. Die huis is stil, te stil … Die skadu’s hang al soos vlermuise onder die berghange.
Jess se scooter staan voor die agterdeur.
Nadat ek by Vlooi was, stoot my maaggoed in my keel op. Ek moes nooit gegaan het nie.
Maar hoe weet Vlooi dat ek met die maan praat? Nie met Luna nie, want in gode glo ek tog nie. Maar die maan het my nog altyd verstaan. Die luglose verlatenheid, woes en leeg.
Die een ontsaglike tydlose onherbergsame woestyn verstaan die leegheid binne my. “Oupa, is daar enige lewe op die maan,” het ek vir Oupa gevra. “Die maan is morsdood,” het Oupa in die vreeslikste en letterlikste sin van die woord gesê.
Hierdie huis is morsdood. Ek wonder waar my kind is. Haar scooter staan tog voor die agterdeur. “Jess! Jess! Jessica!” Ek loop tot voor haar kamerdeur. Daar is iets in haar kamer.
Iets wat skarrel. ’n Rondvroetel … haar asemhaling … ek hoor haar kreun. Iemand steun.
My lyf voel lam. Nee! Nie nou al nie. Nie my poppie nie. Ek weet ek moet klop, maar ek ruk die deur dringend oop. Dis te laat. Die twee lywe skeer onwillig los van mekaar.
Jess spring op en hou haar kleintyd se lappieskombers voor haar kaal borste. Die onbekende seun hou ’n kussing voor sy onderlyf. My skattebol … my skatlam se wange is bloedrooi.
Haar hare klou klam aan haar nek. Bang oë staar verward na my.
“Ma!” skree Jess. Ek kan die vernedering in al twee se oë sien. Bang oë kyk onseker na my.
Dan af na die grond. Sy kyk nie weer op nie. Hy ook nie. Sal sy my ooit weer in die oë kan kyk?
“Trek aan. Ek wag vir julle,” is al wat ek kan sê. Maar ek wil eintlik soveel meer sê. Ek wil skree en baklei, maar ek bly kalm. Ek weet daar is nie baie afleiding vir die kinders in Springbok nie.
Dalk was sy verveeld. Dalk is dit daai sepies wat sy kyk … daardie vryerige tonele wat dinge in haar wakker maak. Of dalk word sy nou net groot. Ek val neer op die eetkamerstoel. My lyf voel lam. Ek lig my kop moedeloos op. Wat nou? Dit was onverwags.
My meisiekind plankpens vasgeplak aan ’n warm mansmenslyf. So onverwags soos die aarde wat Pa ingesluk het … soos daardie blerrie hoop klippe op pad na Wildeperdehoekpas. Oupa was platgeval. Dood. Morsdood.
As ’n mens daai houtpak aangetrek het, is die sandkooi jou kooi vir ewig. As jy jou onskuld verloor het, kan jy dit nooit weer terugkry nie. As jy eers liefgehad het, is jou hart nooit weer joune nie.
My kop val weer in my hande. Ek besluit om sterk te wees. Ek staan op en loop om die eetkamertafel. My oog vang ’n hopie vere in die middel van die tafel – kleurvoller as enige voël s’n. Ek tel die sagte vere op.
’n Vreemde, maar warm gevoel skiet deur my hart. “Luister,” fluister ’n stem agter my. Ek spring om, maar sien niemand nie. Jess en die mannetjie baklei in die kamer. Hulle stemme weergalm in die agtergrond soos ek ’n klok hoor slaan.
“Dis die lewe, Helena. Eers wanneer ’n geliefde sterf, weet jy hoe vir ewig voel. Eers wanneer jy jou onskuld kwyt is, sien jy die onskuld in ander. En eers wanneer jy liefgehad het, ken jy die seer wat ’n mens opvreet,” fluister die onbekende stem weer.
Alles begin deur my gedagtes flits. Jess se rooi wange. Danie se kaal lyf. Klaskat wat oor haar sonbril loer. Ma wat dronk in die kombuis rondval. Oupa en Ouma baklei. Oupa se dood.
Vandag is daar klipwerk wat Oupa se doodspad beveilig. Oupa moes eers sterf voordat hulle die pad veilig gemaak het. Ek was nie voorbereid vir Pa of Oupa se vir ewig nie.
Ek is ook nie voorbereid vir my meisiekind om vrou te word nie. Sy is dan nou eers
sewentien. Definitief nie ryp genoeg vir die bittersoet gevoel nie. Die stap van die hart tot voor die doodlooppad. Die leeglê … die koudlê ná die vol gevoel van ’n warm lyf langs jou.
Ek was sestien. Net sestien. Aai, Danie, Donderdaan. Die gewilligheid het uit my gevloei soos bloed … vuil bloed. Dit het gebars. Gepyn. Danie het my deurboor totdat ek myself totaal en al verloor het.
Dit was ’n oneerlike toestand wat my gevorm het, my gebuig het, my ingesluk en droog gesuig het. Jess gaan ’n mooi lewe hê. Nie my soort lewe nie. Sy gaan ná skool leer. Geen man gaan kom staan en inmeng nie. Over my dead body!
“Wees versigtig vir jou eie woorde,” fluister die stem weer. Ek gooi die vere op die grond en begin huil. “Wie’s daar?” vra ek, maar die vibrasie is weg. Ek hoor Jess en haar kêrel se voetstappe naderkom. Hulle staan broos voor my, steeds met hulle oë op die grond.
“Jy is nie meer welkom om my dogter te sien nie,” praat ek in ’n vreemde stem … ’n koue stem. “Ma kan dit nie doen nie! Ons is lief vir mekaar,” huil Jessica. Haar hare is steeds nat gesweet en haar wange steeds rooi.
“Nee, Jess. Julle is lus vir mekaar. Liefde is ’n baie groot woord en buitendien is liefde baie gevaarlik,” sê ek. “Ek haat jou!” skree Jessica en hardloop na haar kamer. “Dit help nie jy maak so ’n scene nie, jy gaan nie ’n Oscar wen nie,” hoor ek my eie haatlike woorde in die lang gang af eggo.
Hano staan net en kyk. Stokstyf ge-oog. Die kind haal amper nie eers asem nie. Staan steeds met al twee hande voor sy broek, asof hy ’n besering daar opgedoen het. “Jy kan nou maar gaan, die show is verby. Jy sal nie weer vir Jessica sien nie. Ek hoop ons verstaan mekaar?” vra ek.
“Ek is jammer, Auntie, maar ek hou regtig van Auntie se dogter. Ek is lief vir haar,” sê hy terwyl hy afkyk. Ek voel die groeiende woede in my. Dis ’n tik, tik, tik … ’n tikkende tydbom.
“Ek wens regtig ek kon jou glo. Ek wens ook dat ek in Kersfeesvader, die paashaas en forever afters kon glo. Maar ongelukkig sien ek dinge soos dit regtig is. Romanse is ’n mite.
Liefde is trooskos vir die swakkes en onopgevoede,” braak ek bitter.
“Jess hoef nie so eensaam soos Auntie deur die lewe te gaan nie. Dis nie haar skuld as Auntie seergekry het nie,” sê die seunskind. “Laat jy gaan!” skree ek. Hy draai om en loop vinnig uit. “Wat weet jy in elk geval van my eensaamheid!” skree ek agterna en begin huil.
Ek wil my kind net beskerm teen ’n sonde wat nie soos ’n sonde voel nie. ’n Sonde waarteen die kerk jou waarsku. ’n Sonde wat my kind se toekoms kan vernietig. Ek en Jess gaan nooit kerk toe nie. Dis te oorweldigend. Ek kan nie daar sit nie. Ek kan nie saamsing nie.
Ek het al probeer. Maar ek kan nie. As ek uit daai gebou stap, slaan die skuldsweet soos ’n kouekoors uit oor my lyf. De hel daarmee. Die kerk is nie my plek nie. Hulle almal is dieselfde. Die hele lot.
Oupa was anders. Hy was ’n kerkmens, maar anders as die res. Hy was oop vir die alternatief
– die waarheid se ander kant. Ek wonder of ek nie maar tog vir Jess in ’n tipe kerk moet kry nie. Dalk kan dit haar haar help.
“As jou een emmer sonde in Sy oseaan genade val, weet jy, jy is vry. Ek glo die Here sal jou vrymaak,” het Oupa mos die dag voor hy uitgetrek het vir Ouma gesê. “Die Here gaan vir jou straf!” het Ouma geskree.
“Daar sal altyd ’n kontras tussen my en Hom wees. Sy reine brood, teen my onrein lippe. Sy lig, my donker wil. Sy genade, my pyn. Sy hemelwyn, my dors,” het Oupa met selfvertroue vir Ouma gesê.
“Jy kan nie sulke goed praat en vanaand weer gesuip raak op Vaal Jaap nie!” het Ouma se bitterheid geskree. “Ek drink al vir twee maande nie. Totsiens, Katryn,” het Oupa gegroet.
Oupa was baie lief vir Ouma, maar vir Ouma het die liefde ’n gewoonte geword. ’n
Onbekende êrens. Alhoewel ek nie al Oupa se wyshede verstaan het nie, het dit tog reg geklink. Maar toe gebeur die lewe self met my …
Oupa Pyp het altyd gesê as God kwaad word, kan Hy moeilikheid maak. Daar is sommer baie moeilikheid in my lewe gemaak. Wat het Hom so kwaad gemaak? In die kerkgebou voel ek soos ’n hypocrite. Ek is bang ek maak Hom nog kwater.
“The Lord is loving, but wild, jy moes hom hoor toe hy die Fariseërs slegsê, jy moes hom sien toe die dollars in die tempel rol. En as iemand die kindertjies seergemaak het, was daar rêrig moeilikheid … jare se moeilikheid,” het Oupa Pyp my banggepraat.
Oupa het die Bybel goed geken. Homself so ingeleef asof hy self daar was. Ek was … is steeds te bang vir die kerk. Ek kyk na die vere op die grond, buk en tel dit weer op. Is ek dan besig om heeltemal mal te word? Ek sit die vere weer op die tafel en loop na Jess se kamer.
“Jess, Mamma wil net die beste vir jou hê,” pleit ek voor haar kamerdeur. “Los my uit!”
skree sy. Sy sal nou-nou uit daai kamer kom. Sy doen altyd nadat ons baklei het. Maar dié keer is anders. Sy het nog nooit gesê dat sy my haat nie.
Ek gaan haar maar net weer moet vertel. Die liefde is soos hierdie plek. Jy sit alles in, en vir wat? Niks! Jy gooi tien sakke saad en kry dalk een sak terug.
Wat sien sy in elk geval in daai kanariekuite? Die mannetjie is dan nog besig om te groei. Hy lyk soos ’n orangoetang met sy lang arms. Sy bene moet nog in sy arms ingroei. Ag nee, man.
Sy is sommer simpel. Ek was ook sommer simpel. Die liefde maak ’n mens simpel.
“Jess, wat wil jy eet?” roep ek uit die kombuis. Sy antwoord nie. Ek maak die kombuiskas oop. My waarheid lê ook in my leë koskaste. Dis net sardienblikkos. Kerrievisblikkos. My lippe krul. Ek’s so lus vir ’n ordentlike slagding.
“Kerrievis of sardiens?” skree ek weer. Jess antwoord steeds nie. Sy is soms so taai soos goue stroop op ’n koue oggend. Die winter is hoeka al hier. “Jess!” skree ek weer. Hierdie keer half mal.
Ek loop tot voor haar deur en begin huil. “Asseblief, Sussa. Mamma wil net met jou gesels.
Asseblief, my skat,” smeek ek. “Los my net alleen!” skree Jess. “Ons kan soos grootmense hieroor praat,” sê ek versigtig. “Nie nou nie,” sê Jess snik-snik.
My hart breek met elke snik wat sy huil. “Dis oukei, Mamma verstaan jy is nou ’n groot meisie. En dat jou lyf snaakse goed ervaar. Maar daar is ander maniere … veiliger maniere,”
waag ek.
“Regtig, Ma? Gaan Ma nou weer begin met sex can wait, masterbate ? ” skree sy verbitterd aan die ander kant van die deur. “Nee. Ek wil net nie hê jy moet seerkry nie. Dis al,” antwoord ek.
“Hou dan op, want Ma maak my seerder,” sê sy woorde wat ek nog nooit gehoor het nie. Ek sal nooit my kind wil seermaak nie. “Ek is jammer,” is al wat ek kan sê. Ek loop met ’n swaar gemoed na buite.
Ek gaan staan onder die donkermaan. Hy verstaan. Ek voel oor my hart, maar dit is nie meer daar nie. Dit voel of my hart arms en bene gekry het en buite my lyf rondhardloop.
My ma het nooit oor my gehuil nie … net oor Pa.
Jess het te gou grootgeword. Die donkermaan hang soos ’n silwer sekeltjie langs die aandster.
Ek praat al weer met die maan. Ek hoor engele en fluisterstemme. Auntie Koekie is seker reg.
Mense met pers hare is seker mal.
Dit voel asof al my pogings om ’n goeie ma te probeer wees, na die maan toe is.
“Donkermaan, wat moet ek met hierdie trane doen? Ek wil saam met Jess huil, haar vashou en sê dis oukei,” fluister ek.
Die paddas hou partytjie in die plaasdam langs die huis. Die naggoggas raas. En die maan se silwer glimlag kyk af – amper onheilspellend … asof hy iets weet wat ek nie weet nie.
Ek dwing my lyf maar bed toe. My oë val toe, maar skrik dan weer oop! ’n Sagte stem
fluister: “Die afkopman in die maan sal verstaan.”
Ouma en Oupa kom sit op die kant van my bed. Dis ’n somersaand in die tagtigs. Die aand is windstil terwyl die volmaan versadig buite my venster hang. “Ouma, dit lyk soos ’n man op
’n perd,” wys ek na die maan.
Oupa kyk verbaas na my: “Het jy dan nog nooit die storie van die man in die maan gehoor nie?” vra hy. “Nee, vertel my asseblief,” smeek my dogtertjiestemmetjie.
“Lank, lank gelede het die mense in vrede gelewe,” vertel Oupa. “Maar toe het die Nama- en Boesman-gemeenskap oorlog gemaak. Die oorlog het op ’n windlose vlakte in die Kalahari plaasgevind.”
“Daardie spesifieke dag het die wind erg gewaai,” verduidelik Ouma en maak die wind se gehuil na. “Jy gaan die kind bangmaak,” raas Oupa toe Ouma aanhou met die hoo-hoo-hoo.
“Die mense was verbaas en het aanhou wonder hoekom die wind dan so waai.”
Die groep Nama-mense se wyse man, Ga-ai, was met die helm gebore. Hy kon die toekoms sien. Hy het gesê iets verskrikliks gaan gebeur.” Oupa maak sy oë groot. Ouma maak die wind weer na, hoo-hoo-hoo. “Die wind het nog nooit soos daardie aand gewaai nie,” sê Ouma in ’n ysige stem.
“Min mense het geweet wat voorlê. Dit was nie lank nie en die Nama-groep sien toe dat ’n groep Boesmans met pyl en boog aangestap kom,” sê Oupa. “En toe, Oupa? Was die Nama-mense reg vir die Boesmans?” vra ek half angstig.
“Niemand is ooit reg vir ’n oorlog nie,” sug Oupa diep. “My kind, die geveg het net daar plaasgevind. Dit was ’n keuse tussen lewe en dood. Terwyl die twee groepe mekaar skiet en slaan, kom daar toe ’n vreemde Nama-man met die naam van Kam-aob op sy perd aan.”
Ek kyk nuuskierig na die maan en wys weer met my vingertjie na die man in die maan,
“Kam-aob?” vra ek. Ouma en Oupa knik net. “En toe, wat gebeur toe?” vra ek nuuskierig.
“Kam-aob het net na die bakleiery gekyk. Hy was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek,” sê Ouma half hartseer. “Skielik skiet ’n Boesman sy kop af met ’n pyl en boog, maar Kam-aob se lyf bly toe op die perd sit.”
“Die perd het soos ’n mal dier begin rondhardloop,” sê Oupa met verwilderde oë. “Arme Kam-aob, arme perd,” breek my hart vir die man in die maan.
“Daar was ’n groepie stil Nama-mense wat nie van bakleiery en oorlog gehou het nie. Hulle het die perd agtervolg. Toe hulle uiteindelik die afkopman en sy perd inhaal, sien hulle dat hulle die man ken!”
“Die vredevolle groepie mense was baie hartseer toe hulle die arme onskuldige, bebloede man met ’n afkop sien. Hulle het soos uile op die plek gehuil en gehuil,” vertel Ouma verder.
’n Traan rol oor my wang …
“Van daardie oomblik af, tot vandag toe, hoor die mense nog steeds die geluide van ’n oorlog in die kontrei. Die man nog steeds ligweg sigbaar. Die mense moes toe ’n plan maak. Hoe kon hulle hierdie gees rustig maak … hom laat verdwyn?” vra Oupa met ’n vraagteken tussen sy bossies wenkbroue.
“Hulle besluit toe om ’n offering te maak. Elke keer wanneer hulle die afkopman en sy perd in die nag sien ronddwaal, het die mense ’n spierwit bok geslag en uitgebrand. Dan het die rustelose afkopman en sy perd verdwyn.
Die rook van die afgeslagte wit bok het deur die lug gewaai en het hoog in die lug tot by die maan gesweef. Hier het die rook dan die vorm van ’n man op ’n perd aangeneem,” vertel Ouma.
“Fluit-fluit, my storie is uit,” sê Ouma. “Bok-bok, ons het lekker vir jou gejok,” lag Oupa.
Maar ek dink glad nie dis snaaks nie. Die arme man … “Blaar-blaar, dis waar. Wanneer jy jouself op die verkeerde tyd op die verkeerde plek bevind, is dit alles waar,” raak hulle stemme al sagter.
Oupa en Ouma verkrummel in twee hopies sand. En al wat ek hoor, is die gehuil van die uile … die gehuil van die wind … die gehuil van die kind diep binne my.
Ek ruk wakker uit die vreemde droom en sit kiertsregop in my bed. Ek kyk af na my ouer hande. My hart voel steeds so kinderlik soos in die droom. Ek staan op om die venster toe te maak. Dis beslis nie ’n windstil somersaand nie. Dit was net ’n droom.
My voete loop na Jess se kamer. Ek wil haar gaan toemaak, haar ’n soen op die wang gee, dalk net vir so ’n rukkie agter haar rug inkruip. Maar haar deur is steeds gesluit …