HOOFSTUK 21

Die sirkusjaar. Ek onthou dit nog soos gister. Nadat Danie se pa my weer seergemaak het, het ek Klaskat forseer om my terug te vat na my ma toe. Dinge was moeilik.

“One day is one day! Het jy darem vir my diamante gebring?” het my ma my gegroet nadat Klaskat my en Jess voor haar en Myner se plekkie afgelaai het. “Hallo, Ma. Ek kan nie meer daar bly nie. Kan ek en Jess asseblief hier kom bly?” het ek gevra en my trots gesluk.

“Het jy vir my diamante gebring?” het Ma weer half mallerig gevra. “Waar sou ek diamante kry?” het ek gevra. “Jou pa, ag jou Oupa, het my belowe. Nou moet jy vir my die diamante kry,” het my ma dronk begin huil.

Ek het nie verstaan waaroor die diamante gaan nie. “Jy skuld my diamante. Ek wou jou nooit gehad het nie, ek soek my diamante!3” het sy aanhou skree. “Ek het nie diamante nie, ek sweer!” het ek ook begin huil.

Jess het begin huil. Ek het geweet sy wou my nooit gehad het nie. Maar dit was die eerste keer wat sy dit gesê het … wat ek dit uit my ma se eie mond gehoor het. Ek het aanhou wonder hoekom my ma dan nie lief was vir my nie.

Die aand was koud … yskoud. My ma se woorde kouer as die nagwind. “Kan ons asseblief inkom?” het ek bewend gevra en vir Jess stywer toegedraai. “Kom tog in,” het sy gesê en dronk voor my uitgeloop.

“En nou?” het Myner gevra toe hy my en Jess sien inloop. “Ek kan hulle nie op straat los nie,” het Ma gesê. Myner het net sy kop geskud en verder TV gekyk, sy vet maag in die lug, sy rooi brandewyn gesig. Hy wou nie eers vir my en Jess kyk nie.

“Jy weet die hele dorp dink ek het jou weggegooi,” het sy gesê. “Maar Ma het!” het ek gesê.

Myner het ’n harde sug gegee, asof ek en Ma hom pla terwyl hy sy skop-skiet-en-donnerstories kyk.

Ma het op die bank langs hom neergeval. “Ek was net kwaad toe jy my vertel dat jy pregnant is. Maar toe maak jy mos self die besluit om eerder daar te gaan bly. Jy’t ons weggegooi,” het Ma vir my gekyk en haar woorde uitgespoeg.

Mense kan ook breek. Die tyd saam met Ma en Myner het my geknak. Elke dag was ’n

bakleiery. Ma’le het die huis verkoop en in ’n ou woonstelblok ingetrek. Ek het weer begin uithelp in die winkel terwyl Jess tussen die winkelrakke leer loop het.

Met Jess op my rug het ons elke middag gaan veldvat. Ons het die reënwind gaan roep. Ek het tussen die blomme probeer bid. Ek wou vir Jess die blomme wys, al was sy nog ’n baba.

Ek kon sien hoe die kleure haar inkleur nadat ’n bietjie reëns geval het.

Sy het nooit in die veld gehuil nie. Daar was ’n stilte om in te droom, te lag en net te wees.

Haar ogies het opgehelder as ons verby die bergbokkies of dassies geloop het. Die veld was my en Jess se gunsteling plek. Die veld … my ghatang.

Maar die reënwind het vir lank nie gekom nie. En as hy gekom het, het hy net ’n paar druppeltjies water gebring of die wind het die reën na ’n ander plek gewaai. Nes die lewe my en Jess na vreemde plekke toe gewaai het. My hart het aan die bome gehang.

Ek onthou … ek onthou hoe die sirkus my uit die veld wou kom haal. “Die sirkus is hier!” het almal opgewonde gesê. Die sirkus kom mos nie sommer Namakwaland toe nie. Ek was verskriklik opgewonde.

Ek wou na die hansworse op die eenwielfietse gaan kyk. Die wilde diere en waaghalse was ’n heel nuwe wêreld vir my, ’n bonatuurlike wêreld wat my wou insluk. Ma het gesê sy sal na baba-Jess kyk. Sy het belowe om nie te drink nie.

Die aand van die sirkus het so baie dinge verander … so baie dinge. Die lug was dun. Die dorpie het rumoer. Heimweevoëls het langs die gekraakte woonstelblok gekoer.

Duifheimwee. Ek het dit gehaat. Die duiwe herinner my aan die lang bome langs die begraafplaas. Ek wou dit wegdans – die Namakwalandse heimwee.

En so het ek in geel, blou en rooi neonligte by die sirkus begin dans. Ek wou net vergeet van die rumoer binne in my. Ek was ma, maar niemand se vrou nie. Ek moes werk, elke dag met ’n dronk ma baklei en stry.

Ek wou weer begeer word deur ’n man. Ek wou net weer vasgehou word. Teen iemand se lyf sekel. Soos die maan. Nadat my Danie nie meer myne kon wees nie, het ek na niks meer uitgesien nie.

Die sirkus het my laat besluit dat ek nou onder genoeg mane en sonne gehuil het. Ek moes van hom vergeet. Danie het die tyd van sy lewe op universiteit gehad. Ek moes my jammergathouding afskud en aangaan.

Nadat ek Jess se babalyfie gebad het, het sy my leeg gesuip en aan die slaap geraak. Ma het haar gevat. Ma was nie dronk nie. Sy’t belowe sy gaan nie drink terwyl sy na Jess kyk nie.

Ek het by die gekraakte woonstelblok se trappe afgeloop tot by die oop veld oorkant die woonstelblok. Daar was ’n merry-go-round, jongmense sonder babas, jongmense wat lag, spookasem en ’n atmosfeer om in te dans. Ek het vir my ’n kaartjie gaan koop en op een van die swings geklim.

Die kleurvolle ligte het vinniger en vinniger om my begin draai. ’n Gelag het onverwags uit my geborrel. Ek is ontvang deur ’n magiese wêreld van stomp en skerp liggies, ’n sagte windjie teen die spoed van die swaai wat draai en draai deur die reuk van popcorn.

Ek het afgeklim, my bene dronk onder my lyf van die draaiende swaai steeds in my kop. Ek was dors … dors vir liefde en opwinding. Man-en-vrou-liefde. My dors was gou geles deur ’n plek, ’n tyd en ’n kort fris mannetjie. ’n Leeumannetjie wat ook dors was en dronk wou raak op my lyf.

Danie was ’n peerboompie. Walter, die leeutemmer, was ’n strontboompie. Al wat aan strontboompies groei, is strontblomme, want al wat hulle wortels drink, is strontwater. Dit het ek eers later uitgevind.

Eers moes ek daai stink sirkusvrugte eet en uitkots. Die saagsels het aan my skoene vasgeklou. Die skerp ligte het my net dieper en dieper ingenooi. Ek kon myself nie keer nie.

Ek het gewonder of die towenaar nie my lewe ook reg kon toor nie. Hy kon dan ’n dame middeldeur saag. Ek was so naïef. Die leeutemmer met sy sweep het my asem weggeslaan.

Sulke spiere en waagmoed het ’n mens mos nie sommer in Namakwaland gesien nie.

Al was ek ma, was ek steeds kind. ’n Kinderlike verwondering het in my hart gebrand.

Walter, die leeutemmer het ná die show gesien hoe ek weer alleen op ’n swing klim. Ek het oor en oor na die kaartjiekantoor geloop, soos ’n kind wat nie genoeg kon kry nie.

Ná die sesde swaai het ek genoeg gehad. Ek was reeds besig om myself los te maak, toe voel ek hoe iemand my swaai begin stoot. Hoër en hoër deur die popcorn-lug.

Dit was verskriklik lekker. Ewe skielik was die liggies sonhelder. Ek was jonk. Te jonk vir ’n kind en te jonk vir merry-go-round- liefde. Min het ek geweet dat daardie aand die begin van ’n merry-go-round-hoofstuk in my en Jess se lewe sou wees.

Ek het gedraai en geswaai sonder ’n veiligheidsgordel. Net ’n draai wat my laat opgooi en ’n swaai wat my deur die lug dwing. Die popcorn het opgehou skiet. Ek kon dit nie meer ruik nie.

Ek het nie vir nog ’n kaartjie betaal nie, maar aanhou swaai tot Jess drie jaar oud was. Die opwindende sirkusliedjies het in ’n geblikte deuntjie verander. Die rooi-en-wit tent het verbleik. Die olifantmis het al hoe meer begin stink.

Die nar met die traan het te lank na my gestaar. Ek moes nooit gegaan het nie, die leeutemmer toegelaat het om my swing hoër en hoër die lug in te stoot nie …

’n Week later toe die sirkustrein vertrek, was ek en Jess sak en pak saam met hulle op daardie trein. Ek het nie lekker geweet waarheen nie. Maar ek wou in enige ander plek wees as hierdie plek – die plek van herinneringe het my ondergekry.

Ek en Jess moes uit. Uit Klaskat se kloue. Uit die klein woonstelkamertjie. Uit die velde van herinneringe. Dit was die vreemdste gevoel, die vreemdste mense. Elke aand ’n vreemde kamer.

Oupa Pyp het altyd gesê: “Gee die gevoel van die oomblik ’n naam, sodat jy dit kan verwerk.” Wat as mens nie weet wat die naam van die gevoel is nie? Wat noem jy dit as jy nie meer jou gevoelens kan voel nie?

Walter, die leeutemmer, was permanent honger vir my lyf en vir geld. My lyf het vir hom baie geldgemaak. Lady Barbara, die fortuinverteller, het my gewaarsku, maar ek wou nie luister nie.

Gert en Patrys het drie woelwaters gehad. Hulle het my baie welkom laat voel. Johan, die sirkusnar met die verspotte plaatjies, bobbelneus en gegrimeerde gesig, was net so verlore soos ek.

Altyd die groot rooigeverfde glimlag, maar die traan onder sy linkeroog. Die versteekte verdriet. Die hansworsfiguur. ’n Lewendige mensverskrikker.

Ek het bly wonder hoekom hulle almal dié lewe gekies het. “Ons wou vry wees. Vry van al die druk van die samelewing. Ons pas in elk geval nêrens in nie,” het Johan, die sirkusnar, gesê.

“Ons kan net sowel ons vreemdheid gebruik om geld te maak. Ons vier ons vryheid elke dag,” het Lady Barbara gesê. Ek het daarvan gehou om vry te wees, maar ’n mens is nooit regtig vry nie. Ek was vry van my dronk ma en van Klaskat, maar ek was nie vry van die leeutemmer se sweep nie.

Vir die eerste ruk was dit great. Amper soos ’n fairy tale. Maar elke fairy tale het mos ’n verdomde evil spirit wat als net wil opneuk. Oupa Pyp het altyd gesê die mens sal nooit regtig vry wees nie. Ek het baie dae gewonder wat hy sou sê van my en Jess se sirkusjaar.

Vandag, ná soveel jare, is die sirkus weer in die dorp. Jess wil graag sirkus toe gaan. Net ek en sy. Ek hoop tog nie auntie Koekie wil saamkom nie. Tyd saam met my kind sal goed wees. Alleentyd.

Jess was nog altyd mal oor die sirkus. Ek wonder steeds of sy die hansworse, sirkustente en die reuk van saagsels onthou. Hier staan ek en Jess weer voor die verbleikte wit-en-rooi sirkustent.

Dié keer is dit meer aangenaam, al hol die sirkusherinneringe deur my kop. Die reuk van fireball s pookasem en vars popcorn kontrasteer met die skerp reuk van wierook in die gypsy se tent.

Die mengelmoesreuk van blom-aroma’s, bubblegum and strawberry  hang in die lug. Pure sirkus! Die nostalgie, die mistieke verlange na my kinderdrome, toe die sirkus nog ’n opwindende geselskap van ’n klomp interessante karakters was, is weereens deur die waarheid bederf.

“Mamma kan ons na die fortune teller se tent toe gaan,” vra Jess terwyl ons in die ry staan om spookasem te koop. “Hoekom?” vra ek. “Ek wil haar vra wat sy sien?” sê Jess. “Nee, Jess, dis beter om nie te sien nie. Sulke dinge krap ’n mens net om en dan is dit nie eers altyd die waarheid nie,” antwoord ek.

“Het Ma al ’n fortune teller gesien?” vra Jess. “Ek het, ja. Eintlik het sy my kom sien,” dink ek weer aan Lady Barbara. “Hoe werk dit, Mamma?” vra Jess met ’n frons. “Ag, Mamma was maar net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd,” is al wat ek sê.

“Twee bubblegum, asseblief?” vra Jess toe ons voor in die ry staan. “En … wat het die fortune teller vir Ma gesê?” vra Jess terwyl sy die plastieksakkie stukkend kou. “Ek kan nie onthou nie. Dis te lank terug,” jok ek.

“Hallo, julle,” groet Jess ’n groepie meisies. Hulle druk mekaar en lag oor iets. “Kom saam,” sê die een meisie. “Ma, hulle gaan gou op die swings ry,” sê Jess. “Gaan saam,” sê ek voordat sy vra. Jess glimlag en loop vol selfvertroue saam met die meisies na die swings.

Die fortuinverteller se tentjie lyk aanloklik. Sonder om daaroor te dink, loop ek reguit in die rigting van die sterk wierook. “Kom in,” hoor ek. “Helena?” sê Barbara verbaas toe haar ou gesig opkyk.

Ons oë word sag in mekaar se staar. Lady Barbara lyk stokoud. Sy staan stadig op en omhels my. “Helena, kyk nou net. Ek kan nie glo jy is steeds hier nie,” sê sy. “Waar anders moet ek wees?” vra ek. “Waar die wind jou waai, waar die blomme groei en waar die maan jou lei,” sê sy.

“Ek ken jou toekoms, jou lewenslyn,” sê Lady Barbara terwyl sy nog wierook aansteek. Haar heupe dans al om die kristalbal. Die kling-kling van haar juwele maak my nog meer op my senuwees. “Vandag wil ek nie my toekoms sien nie, maar eerder my verlede,” sê ek.

“Jou ma en pa is oorlede, maar is hulle vry?” vra sy. “My ma leef nog,” sê ek. Lady Barbara skud haar kop. “Jy kom van die veld, Helena. Die veld is in jou bloed,” sê sy. “Ek is baie lief vir die veld,” sê ek.

“Aai, Helena, weet jy dan nie?” kyk sy hartseer na my. “Weet ek nie wat nie?” vra ek. “Jou verlede is net so duister soos jou toekoms,” sê sy en kyk op. “Ag, sê net iets wat sin maak,” smeek ek.

“Dis goed om die verlede te vergeet, maar wat as die verlede jou nie vergeet nie? Wat as die verlede jou nodig het om jou ma en pa vry te maak?” sê sy. “Ek verstaan nie wat jy sê nie,” sê ek. Ek begin bang raak.

“Dis dalk beter as jy nie verstaan nie. Die vloek het in jou familie begin nadat die man met die pyp die sneller getrek het,” sê sy. Ek raak yskoud. “Oupa?” vra ek. “Die man met die pyp is dan jou pa?” sê-vra sy.

“Nee, my pa het nie pyp gerook nie. En Oupa was ’n man van God. Hy sou nooit iemand seermaak nie,” sê ek. “Ek sê maar net vir jou wat ek sien,” sê Lady Barbara. “Jy sien nie reg nie. Jy weet niks!” skree ek en staan op.

“Wag, Helena,” keer sy. “Ek is op soek na die waarheid, nie na klomp bog wat my meer deurmekaar maak nie,” sê ek. Lady Barbara gaan sit weer met haar hande op die kristalbal.

“Ek sien ’n boom, ’n herfsboom. ’n Bruin vrou sit langs die man met die pyp. Hulle wil vir jou iets sê,” sê sy en beduie met haar hand dat ek weer moet sit. “Wat sê hy?” vra ek en gaan sit versigtig oorkant haar.

“Hy sê dat al vier seisoene belangrik is vir ’n boom om te groei,” sê sy. “Dit klink soos iets wat Oupa sou sê,” glimlag ek. “Hy sê ook hy is jammer,” sê Lady Barbara en daar loop ’n traan oor haar gesig.

“Waaroor?” vra ek. “Oor alles. Hy het die vloek wakker gemaak met die reuk van vars bloed,” antwoord sy. Daar loop ’n bloedtraan oor Lady Barbara se wang. Ek skrik.

“Jy weet nie wat jy sê nie!” skree ek en hardloop by die tent uit. Ek hardloop rond en soek na my kind. Ek hoor haar lag. Sy kuier saam met haar vriendinne. Ek kan nie glo dat Lady Barbara soveel twak kwytgeraak het nie.

Is dit dan hoe dit voel as niks meer sin maak nie? Die omgewing begin draai, al hoe vinniger en vinniger. Ek word weer in die verlede uitgespoeg.

“Kom, Blondie, dis jou tyd om te shine!” skree Walter vir my. Jess slaap langs die verhoog in haar pram. Sy’s al te groot vir die pram. Haar beentjies hang soos slaptjips uit. Gelukkig kan ek die dakkie oortrek, sodat sy nie kan sien wat haar mamma doen nie.

Ek het halsoorkop op daai sirkustrein geklim. Tot my bittere spyt. Ek kon nie net teruggaan Namakwaland toe nie. “Roer jou, die mense wag!” skree ’n dronk Walter. Jess begin huil.

“Kom nou, ons kan nie heel aand vir jou wag nie,” skree Walter weer.

“Toemaar, ek sal na haar kyk,” sê Lady Barbara en tel vir Jess op. Ek sluk my trots en stoot my borste uit. “Ja, ek kom,” skree ek en gryp vir Goldie, die geel luislang. Met my sensuele heupbewegings dans ek die wit-en-rooi streeptent binne.

Elke show was dieselfde, die alewige saagsels. My asma-asemhaling wat versnel. Die kinders wat lag en die ouers se suur gesigte. Ouers wat dink die sirkus is overated.  En te duur! Te duur, my ass!

Hulle het g’n clue vir hoeveel peanuts ons gewerk het nie. So het ek maar deur die déjà vu met my skraal lyfie en met Goldie om my nek gedans.

Lank, lank gelede was dit glo ’n voortreflike sirkus. Drie reuse-olifante, een wit leeu, ’n titaniese leeutemmer, vyf soepel akrobate, ’n wêreldbekende towenaar en ’n baie aantreklike danseres. ’n Harlekyn wat lag en nie huil nie.

Maar ons was ’n arm sirkus met een maer olifant, een verwaarloosde grasgeel leeuwyfie, ’n mislike dronk leeutemmer, vier spastiese akrobate, ’n amateur magic-girl  en ek … die onwillige danseres.

“Blondie, wat de hel gaan met jou aan? Jy dans soos ’n non en jy stink!” snou Walter my toe, toe ek ná my danspassies die arena verlaat. Elke aand moes ek onder sy sweep perform. Ek het dit gehaat. Elke oomblik.

“Ek wil terug Springbok toe gaan. Ek wil nie vir Jess so grootmaak nie,” het ek gepleit.

“Waag dit net,” het Walter gewaarsku. “Die manne wag vir jou! Gaan trek uit!” het hy my beveel.

As ek klaar by die family show  gedans het, moes ek vir Walter en besigheidsmanne in die gypsy-tent dans – kaal, en steeds met die haatlike slang om my nek. Ek het die private shows nog meer gehaat!

Ek het die geroeste karavaan gehaat. En, ja, Walter was reg. Ek het gestink. Ons het selde by wasgeriewe gestop. Ons almal het gestink! Die hele sirkus het gestink. Geen wonder ons het so min kaartjies verkoop nie. “Blondie, my customers   wag vir jou!” het hy aanhou skree.

Net daar het ek genoeg gehad. Ek het my klere aangetrek, die slang in die veld vrygelaat, my kind gegryp en onder ’n brug met haar gaan wegkruip. Die volgende dag het ek en Jess ná ’n jaar in die sirkus, weer op die trein geklim. Terug Namakwaland toe.

Ek het die reuk van pietsnot, gousblom, sporrie en taaibos gemis. Ek het die maan gemis, die veld. Ek is ’n veldmens. Ma en Pa was nooit. Waarom was ek dan nog altyd? Wie is ek? Wat het Lady Barbara bedoel?