“Die liefde bly steeds ’n wonderwerk,” hoor ek Pietertjie se stem langs my in die kar.
“Verdomp man, jy sal laat ek die kar rol,” sê ek geskok vir Pietertjie. My lyf voel steeds bewerig soos ek die donker plaaspad terug huis toe neem.
“En hartstog? Is dit dan ook liefde?” vra ek. “Ek weet nie, Sussa. Ek het nooit die voorreg gehad om soos jy en Danie my begeertes uit te leef nie. My gedagtes was net myne, my begeertes ook.
“Jou siek spook! Het jy ons dopgehou?” raas ek. “Nee, glad nie. Ek praat van die verlede. Jy het altyd met bloedrooi wange by die huis gekom nadat jy en Danie in die veld was. Ek kon dalk nou nie praat nie, maar ek was nie stupid nie, Helena,” sê hy.
’n Vreemde skaamgevoel neem nou beheer oor my en ek is lus om te huil. Het ek dan vergeet dat seks ’n emosionele ding is? ’n Bitter persoonlike ding … “Danie gaan nooit weer joune wees nie, Helena. Jy moet asseblief versigtig wees,” waarsku Pietertjie.
“Hoekom sê jy dit? Wat weet jy wat ek nie weet nie?” hoor ek die desperaatheid in my eie stem. “Niks en alles,” sê hy. Ek sug moedeloos.
“Julle gaan niks wees nie. Die wolke gaan weer oor jou hart kom hang en die sielskoors gaan jou van voor af siek maak. Jy kan hom nie weer sien nie. Tensy jy hom die waarheid wil vertel,” sê Pietertjie.
“Hy is ’n geskeide man. Hy is lief vir my. Ek kan dit in sy oë sien,” stry ek teen Pietertjie se mening. “Ek sê maar net vir jou wat ek sien. Doen daarmee wat jy wil,” sê hy. “Jy het gesien jy gaan gehang word, hoekom het jy niks omtrent dit gedoen nie?” vra ek.
“Dis nie dieselfde nie,” praat hy al hoe sagter. “Hoekom het jy jouself gehang?” vra ek. “Ek het nie myself gehang nie,” sê hy. “Wie het jou dan opgehang?” vra ek met groot oë.
“Jy het. Jy en Danie het. Ma en Pa het. Al die kinders by die skool het. Niemand wou my hê nie. Jy en Danie het net oë vir mekaar gehad. Jy het vergeet van my. My eie ma wou my nie eers hê nie. My pa het nooit vir my opgestaan nie. En ons al twee weet hoe jou ma oor my gevoel het.
“Dit was beter so,” sê Pietertjie. “Ek is so jammer,” is al wat ek kan sê. Die seer breek los in my. “Hoekom het jy nie vir my gewys hoe jy voel nie?” vra ek. “Dis nie asof ek kon praat nie. En jy het nie meer na my prentjies gekyk nie,” sê hy.
“Sal jy my ooit kan vergewe?” vra ek en gaan stop onder ’n lamppaal in die dorp. “Ek het jou klaar vergewe, Helena,” sê hy. “Hoekom beweeg jy nie aan nie? Hoekom is jy nog hier?” wil ek weet.
“Glo my, ek wil aanbeweeg, maar ek sukkel. Ek is nog kwaad … nie vir jou nie, maar daar is nog ’n paar dinge wat my hier hou,” sê hy amper boos. “Soos wat? Kan ek jou nie help nie?” vra ek.
“Deur my dood het ek by jou waarheid uitgekom – die enigste waarheid. As my lewe geen doel gehad het nie, moes my dood seker ’n doel gehad het. Ek moet jou help,” sê Pietertjie terwyl sy beeld al dowwer en sy stemmetjie al sagter word.
Ek lê my kop op die stuurwiel terwyl die snikke uit my losbreek. “Ek is so jammer, Pietertjie,” snik ek. Danie se liefde het my totaal en al blind gemaak. Ek kon nie meer Pietertjie se seer sien nie. Ek kon niks anders sien en voel as ons liefde vir mekaar nie.
En Oupa het my hoeveel keer gewaarsku. “Die liefde neem ’n mens se hele liggaam, gees, lewe … ganse wese oor. ’n Mens voel dit soos die warmte van die bloed wat in jou vloei. Jy dra dit in jou soos jou kop jou gedagtes dra,” het Oupa gesê terwyl ons in die veld loop blomme soek het vir Ouma.
“Is dit dan hoe lief Oupa vir Ouma het?” wou ek weet. Ek was nie heeltemal oortuig daarvan nie. Hulle kon dan nie eers vir mekaar kyk nie. “My kind, die liefde is ’n straf. Dis oud en astrant en doen soms meer skade as goed,” het Oupa geantwoord.
“Ek verstaan nie. Is Oupa se liefde vir Ouma dan ’n straf?” het ek weer gevra. “Nee, my liefde vir Ouma is nie ’n straf nie. Maar die liefde verander, nes die winter en die somer die bome en die blomme verander. So verander die liefde,” het Oupa gesê terwyl ons deur die plate kleurvolle blomme geloop het.
“Die blomme is ’n seëning vir al ’n mens se sintuie,” het Oupa die soetswaar blommereuk ingeasem. Ek het uitgeasem en die oomblik saam met Oupa ingeneem.
“Het jy geweet dat geur ook baie belangrik vir die Here is? In Genesis staan daar dat die Here die lieflike geur van Noag se offer geruik het,” het Oupa half ingedagte gesê. Ek het geglimlag en oor die blomplate wat soos ’n sagte blomkussing lyk waarop ek net wou lê, gestaar.
Oupa het gebuk, ’n blomknop gepluk en dit vir my gegee. “Dis ’n blomknop, Oupa,” het ek skepties gesê. “Die blomknop dra die belofte van die blom – die belofte van ’n nuwe lewe in hom,” het Oupa geglimlag.
“Gaan Oupa vir Ouma ’n bos blomknoppe pluk?” het ek gevra. “Nee, o aarde, wil jy hê daai ouvrou moet my vloek?” het Oupa gelag. “Dalk sal sy daarvan hou as Oupa die belofte van die blom vir haar verduidelik,” het ek probeer.
“Jou ouma verstaan nie sulke goed nie. Die belofte sal nie genoeg wees vir haar nie. Sy wil die skoonheid wat binne-in die blom is sien,” het Oupa gesê. Ons het rustig oor die blomkombers geloop. Oupa het blomme gepluk. Ek het blomknoppe gepluk.
“Mense is soos blomme. Ons is soos die blomme in die veld, Helenatjie,” het Oupa gesê.
“Nooit, Oupa. Ons is nie so mooi nie en ons ruik ook nie so lekker nie,” het ek met skrefiesoë gesê. Oupa het gelag.
“Wanneer die Here sy wind oor die blomme en gras laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Ons is ook so. Ons gaan ook dood. Niks hou vir altyd nie … Maar wat die Here sê, hou vir altyd,” het Oupa ernstig gesê.
“Dis nie fair nie,” het ek kwaai gesê. Oupa het nie geantwoord nie en vooruit na ’n bos laventel geloop. Ouma was mal oor laventel. “Oupa praat sulke mooi woorde van beloftes en dan praat Oupa van die dood?” sê-vra ek terwyl ek agter Oupa aanhardloop.
“Die dood is ook ’n belofte,” het Oupa gesê. “Seker die enigste regte belofte,” het ek gesê en die bos blomknop-beloftes neergegooi. “Die dood is ook ’n belofte van ’n nuwe lewe,” het Oupa versigtig gesê. Hy het die blomknoppe opgetel en weer vir my gegee.
“Ek dink ons moet huis toe gaan,” raak Oupa se stem in my kop al dowwer … die straatlig se lig al skerper. Ek kyk af na my horlosie en skakel die kar haastig aan. Ek dink weer aan my en Danie se aand saam. Aan Pietertjie se waarskuwing. Aan my lewe … my blomknop-lewe.
“Dankie, Auntie,” groet ek auntie Koekie en gooi die kombers oor my Jess wat op die bank aan die slaap geraak het. “Jy gaan moet regmaak, Helena. Hierdie kind verdien die waarheid,” sê auntie Koekie voor sy in die kar klim.
“Almal verdien die waarheid. Maar die waarheid kan verhoudings vernietig,” sê ek vir auntie Koekie voordat sy ry.
Teen die yskas is ’n uitnodiging na die skool se kunsuitstalling. My oog vang Jess se naam onder die lys kunstenaars. Ek frons. Ek hoop nou wragtig nie sy spandeer al haar energie hierop nie. Sy moet nou op haar akademie fokus.
Dis Maandagoggend. Die bekende voel ewe skielik onbekend. Ek dink en dink. Oor my lewe … oor my dood.
“Die Here moet my help!” sê auntie Koekie heftig toe sy die winkel binnestorm. “Sorry jou auntie is weer laat. Ek moes eers vir Doepie met ’n piepiepan en ’n bord kos in die kamer toesluit,” sê sy.
“Doepie?” vra ek. “Ek het jou mos vertel van my skoonseun se pa. Hy hou net aan met sy moeilikheid tussen die vroumense,” sê sy. “Is dit regtig nodig om hom toe te sluit?” vra ek.
“Ja, Helena, dit is. Ek moet hom teen homself beskerm,” sê sy.
“Goed dan. Ons moet vandag bietjie die rakke afvee,” sê ek. Auntie Koekie hoor nie ’n woord wat ek sê nie. Haar lyf praat rateltaal. Ek wonder hoekom ontstel hierdie Doepie se vryery haar so.
“Hy sou glo Vrydagmiddag vir Dominee gaan sien het om sy sondes te bely en om hulp te kry. Maar raai waar kry ek hom toe? By die dokter,” sê sy moedeloos en gooi haar hande in die lug.
“Is hy siek?” vra ek. “Siek in sy kop! Hy wou ander bloeddrukpille gaan kry, want sy vlaggie wapper nou net halfmas. Hy meen dis sy medikasie se skuld,” antwoord sy. “Sy vlaggie?” vra ek.
“Sy pille maak dat hy nie ’n langpad-driver in die slaapkamer kan wees nie,” sê auntie Koekie sonder om ’n oog te knip. “O aarde,” sê ek.
“Hy wil sy engine weer behoorlik aan die rev kry, want die aunties staan glo al tou. Hy wil mos nou nie die opportunity deur sy vingers laat glip nie,” sê sy en laat val haar gesig moedeloos.
“Hoekom gaan staan Auntie nie ook in die ry nie?” spot ek. “Ek is ’n vrou van God. Ek hou my nie op met sulke goed nie,” sê sy. Ek begin lag, maar dan verander my lag in trane. “En nou, my kind?” vra sy en kom sit langs my.
“Ek het gesien toe ek hier instap, jy’s vandag weer vasgevang in jou gedagtes,” sê auntie Koekie. “Ek dink maar net,” sê ek kortaf. “Jy moet leef, Helena. Al wat jy doen, is dink. Jy gaan nog versuip in jou verlede,” sê auntie Koekie en begin die stof uit die winkel vee.
“As jy so aanhou klou aan die verlede, gaan jy nooit waarlik leef nie,” gaan sy voort. Ek is bang. Hoe sê ek vir haar dat ’n rukwind my Vrydagaand terug in Danie se arms geruk het?
“Hulle sê ’n mens moet bely en aanbeweeg. Dis tyd om aan te beweeg, my kind,” sê auntie Koekie.
“Hulle? Hulle sê ook dat die sekelmaan water skep en dat kinders donker tye vergeet. Maar daar’s nie water in die maan nie en kinders onthou. Auntie moenie glo wat hulle sê nie,” sê ek.
“Aai, Helena. Jy is al weer te slim. Glo dan ten minste net wat in jou hart is,” sê auntie Koekie. Sy loop kombuis toe en skud haar kop moedeloos. “Helena, jy kan jou boom maar gaan begrawe! Kyk hoe lyk die ding,” raas sy uit die kombuis.
“Ek het skoon vergeet van die ding,” bieg ek. “Jy kon ten minste vir hom water gegee het!”
raas sy verder. “Ek dog dat slegs genade ons twee kan red,” sê ek en rol my oë.
“Helena, luister nou mooi vir my. Ek is nou net mooi moeg vir jou. Dis nou genoeg, man!
Breek daai muur af! Breek jou hart oop. Droog jou trane af. Besef bietjie jou worth. Appreciate jou lewe. Lééf net ’n bietjie,” sê auntie Koekie en ’n traan loop oor haar gesig.
Sy loop tot voor my en vat aan my gesig. “En los vir Danie uit. Jy is nie, en was nog nooit ’n halwe mens sonder hom nie,” sê auntie Koekie.
Ek draai om en loop by die winkel uit. Ek het net vars lug nodig. Vrydagaand moes nooit gebeur het nie. “Ek gaan ’n draai ry,” sê ek vir auntie Koekie. Sy knik net haar kop. “Onthou Jess se kunsuitstalling vanaand!” skree sy agterna.
Dis seweuur. Stiptelik neem die skoolhoof sy plek in. “Welkom ouers en kunstenaars. Dis ons skool se derde kunsuitstalling. Ons is ongelooflik trots op elkeen se werk. Hierdie jaar se inspirasie-kunstenaar is Rembrandt. Hy het die uitstekende vermoë gehad om mense se gevoelens uit te beeld. Daarom is ons tema, gevoelens,” verwelkom die skoolhoof die ouers en kinders.
Hy beklemtoon ook die vorige jaar se sukses. My gedagtes begin dwaal. Almal kry nou ’n geleentheid om na die kunswerke te kyk. Auntie Koekie kom ingestap. “Is ek laat?” vra sy.
“Nee wat. Auntie het net die speech gemis,” sê ek.
“Liewe hemel, wat gaan in die kinders se koppe aan? Kan hulle nie maar net windpompe en blomme verf nie?” vra sy en staar na die ontstellende kunsstuk van ’n seun. Hy kyk vir homself in die spieël. ’n Monster kyk terug uit die spieël se beeld.
Ek kyk net so verstom na die omstrede uitbeeldings van emosies. “Toe ek op skool was, het ons mooi goed geteken. Landskappe en bakke vol vrugte,” sê auntie Koekie. Die mense om ons voer diep gesprekke oor die verskillende tegnieke wat hulle gebruik het.
In die hoek staan my kind trots voor haar kunswerke. Haar gesiggie lyk benoud soos wat ek en auntie Koekie nader stap. “Mamma, Auntie … ” groet sy en gee ons elkeen ’n drukkie.
“Goeie genade, Sussie, wat is dié?” wys auntie Koekie na my kind se kunswerke. Ek verstaan nie lekker waarna ek kyk nie. Die potloodskets van ’n meisie wat in ’n bad sit en huil, ruk my. Dan die selfportret van Jess se gesig in legkaartstukke. ’n Paar legkaartstukke is weg.
Die derde kunsstuk is … ek. Die een helfte van my gesig is in die donker en die ander helfte in die lig. In die agtergrond dans blomlyfies en harlekyne. Jess suig haar onderlip en kyk hartseer na my. Haar ogies blink, maar sy sluk haar trane. Ek sê nie ’n woord nie. My kind se talent skok my.
“Hou Mamma nie daarvan nie?” vra sy. “Ek hou baie daarvan. Dis net … anders,” antwoord ek. “Kuns is boos, as ek nou iets mag sê,” sê auntie Koekie. “Kuns is ’n wonderlike uitlaatklep vir ons kinders,” kom staan Jess se kunsonderwyseres langs ons.
“Naand, Mevrou. Jess het baie talent. Jy kan baie trots wees op haar,” sê sy. “Ek wil net weet wat leer julle die kinders? Die wêreld is alreeds so siek. Hoekom leer julle hulle nie om mooier kunswerke te maak nie?” vra auntie Koekie.
“Ons leer hulle slegs die tegniek. Die uitbeelding van hulle gedagtes is hulle eie. Kuns is eerlik,” sê sy en loop na die volgende ouerpaar.
Jess se kunswerke het my onkant betrap. Ek probeer so normaal as moontlik optree, maar my binnegoed draai. “Auntie gaan nou nie vir jou jok nie, my skat, maar ek hou nie daarvan nie,” sê auntie Koekie.
“Skilderkuns is die taal van die hart. Nie almal gaan daarvan hou of dit verstaan nie. Solank die kunstenaar beter voel nadat die kunswerk voltooi is,” sê my kind. “Laat dit jou beter voel?” vra ek. “Ja, dit doen, Mamma,” sê sy. “Dan is dit goed. Mamma is trots op jou,” sê ek.
Ek staar na die harlekyn agter my beeld. Onthou Jess dan die sirkuslewe? Ek hoop wragtig nie so nie. ’n Akoestiese klank begin in die agtergrond speel terwyl die mense lag en kuier.
Verstaan hulle dan nie dat ons kinders hulle seer op lap verf sodat almal dit kan sien nie?
“Ek het vir jou gesê ons moet die kind in die kerk kry,” fluister auntie Koekie in my oor. Die musiek raak al hoe harder. My oog vang Hano wat sy kitaar op die verhoog speel. Jess glimlag vir hom, hy blaas vir haar ’n soentjie.
My kind is groot. My kind is vrou. My kind is ’n kunstenaar, ’n dromer … ’n mens wat ek nie meer ken nie. Ek wens ek kon haar beter verstaan.
“Ek wil lewe in jou skaduwee, ek wil jou blik oor alles voel. Elke oggend as die son opkom, oor my bed en kas en stoel. Ek wil weet net wie en wat jy is, ek wil jou fyn maal op die wal.
Ek wil jou rook soos goeie kruie uit die diepste, diepste dal. Ek wil jou dophou as jy luister na die woorde van matrose. Ek wil saamgaan op jou strooptog, ek wil deel in jou psigose.
Kuns is edel, kuns is boos, kuns is nogtans skadeloos. Kind van sonde, kind van troos, kind van Liefde uit die Oudedoos,” sing Hano ’n ou Koos Kombuis-liedjie.
Sy oë is net op Jess terwyl Jess elke woord saamsing. Ek kan die intimiteit tussen my dogter en haar kêrel aanvoel. “Die mannetjie het ’n mooi stem,” sê auntie Koekie. “Ek gaan ’n bietjie buite staan,” sê ek.
“Wat het jy gedink? Het jy gedink sy gaan nooit grootword nie?” vra Pietertjie. Die maan hang ewe boos bo die skoolsaal se dak. “Wat soek jy hier?” vra ek. “Ek wil jou help vind,” sê hy en loop na die rugbyveld se kant toe.
“Wat soek jý? Dis die eintlike vraag,” sê Pietertjie. “Jy weet presies wat ek soek,” sê ek. “Is jy seker jy soek die waarheid? Die waarheid gaan jou breek,” stop hy in die middel van die rugbyveld.
“Ek is klaar gebreek. Ek wil nie meer so voel nie,” sê ek. “Die waarheid gaan dit nie beter maak nie. Vergeet net van alles,” sê Pietertjie. “Ek wil nie meer so voel nie. Verstaan jy dan nie?” vra ek.
“Daar is krag in gevoelens. Dit bring jou nader aan jouself. Jy mag voel soos jy voel,” sê Pietertjie en verdwyn weer net so. Ek wens hy kon my net uitlos. Jess se dansende harlekyne spook by my terwyl ek terugloop na die skoolsaal …