HOOFSTUK 18

“Daisy, het jy al vir ons ’n drink bestel?” vra ek oor die foon terwyl ek die winkel sluit.

“Klink my ek moet sommer ’n paar drinks bestel,” lag sy aan die ander kant. “Ek is nou daar,” sê ek net en klim in my karretjie.

“En nou, tjomma?” vra sy en trek sommer die stoel vir my uit. “Danie was by die winkel,”

antwoord ek en vat ’n groot sluk van die brandy. “Bring asseblief vir ons ’n bottel rooiwyn,” beduie sy vir die kelner.

“Jess se pa?” vra sy saggies. “Ja. Sjt,” antwoord ek saggies en kyk om my rond. “En wat wil hy hê?” vra Daisy en gooi vir ons elkeen ’n glas wyn in. “Miesies Klaskat is glo besig om dood te gaan en wil my sien,” antwoord ek en down die glas wyn so vinnig dat dit in my keel begin opstoot en ek my hand voor my mond hou.

“Hokaai, jy kan nie die hele bottel alleen opdrink nie,” keer Daisy toe ek die glas weer wil op- top. “En … gaan jy gaan?” vra Daisy. “Ek weet nie. Hy het my genooi om vanaand by hom te gaan eet. Hy sê hy is nog lief vir my,” antwoord ek terwyl ek die bottel uit haar hand gryp en my glas weer vol maak.

“Is die mannetjie dan nie getroud nie?” vra Daisy. “Hy is, ja,” antwoord ek en kyk skuldig op. “Maar dan sal jy mos ’n baie stoute meisie wees as jy vanaand na hom toe gaan,” sê Daisy en beduie vir die kelner om nie nog te bring nie. “Bring nog!” skree ek dronk.

“Is jy nog lief vir hom?” vra Daisy. “Ek was nog altyd lief vir hom, Daisy. Ek haat hom!”

praat ek deurmekaar en laat sak my kop in my hande. “Helena, jy moet jou kop laat lees,” sê Daisy. “Ek wil na hom toe gaan,” snik ek dronk.

“Luister na jouself! Jy klink nes ’n stout kind, man. Helena, jy is ’n groot vrou. Jy is ’n ma.

Gedra vir jou!” raas Daisy. “Jy en auntie Koekie is presies dieselfde,” baklei ek en val amper van my stoel af. “Ek gaan jou huis toe vat,” sê Daisy en fluit vir die rekening.

“Is Mamma oukei?” vra Jess terwyl sy my toemaak. “Mamma is fine, net bietjie moeg,” antwoord ek en vryf oor my kind se sagte wangetjie. Ek voel so sleg dat ek myself soos ’n kind gedra het.

“Nag, Mamma,” sê Jess sag en soen my op die voorkop. “Het jy iets geëet?” vra ek. “Auntie Daisy het sommer vir ons Russians en chips gekry,” antwoord sy. “Auntie Daisy sê Mamma is siek. Kan ek vir Mamma medisyne bring?” vra sy.

“Ek moet net ’n bietjie slaap. Dankie, my skat,” sê ek voor my oë weer toeval. Ek kan nie Danie se aantreklike beeld vergeet nie. Dalk sal dit anders wees …

Skielik het ek ’n diep begeerte om plaas toe te ry. Dit sal so lekker wees om in Danie se arms aan die slaap te raak. Om hom toe te laat om my uit te trek en sy hande oor my borste te voel … sy asemhaling in my nek.

Nee! Hoe kan ek sulke goed dink? Danie is ’n getroude man. En al lankal nie meer myne nie.

Dalk moet ek net met hom gesels. Ek wil hom vra hoekom hy so bitter ongelukkig lyk? En hoekom ek dan nie sy briewe gekry het nie? Waarheen het hy dit tog gestuur?

Die manier hoe hy vandag na my gekyk het, het my laat besef dat ek steeds syne wil wees. Ek het hom nooit ophou liefhê nie, al was ons liefde net tydelik. Dalk net een aand in sy arms.

Een laaste aand om vir altyd te onthou.

Wat de hel gaan aan in my kop? Toe hy vandag aan my wang vat, wou ek hom net soen. Ek kon die vuur in my bloed voel brand. Maar die heelal waarsku my. Die drie kosmosse in my voorstoepson het gesê die waarheenwind kom.

Die sterre hier buite my venster is besig om te gil, koud en kil. Dis hoe die liefde is. Die wind sê as ’n mens iemand anders se huwelik opbreek, sal jy nooit weer geluk in die liefde vind nie. Maar sal ek ooit weer vir iemand so lief kan raak?

Die maan verstaan. Hy sien mos alles. Net dié wat die hele prentjie sien, sal verstaan, het Oupa gesê. En dan wonder ek oor Klaskat. Hoekom sal sy my tog wil sien? Op haar sterfbed.

En Raulene … Raulene se oë bly dwaal. Sy wil nie vir my kyk nie. En Jess … Jess, my sonneblom-kind het oornag ’n vrou geword.

“Ag Vader, help my,” smeek ek huilend op my eensame bed. Ek is besig om mal te word. As ek net soos die maan die hele prentjie kon sien. Ja maan, met die afkopman. Wat is besig om te gebeur?

Ek voel hoe die voorkant van my bed sak, asof iemand op my bed kom sit. “Pietertjie?” vra ek en sit die bedlampie aan. Pietertjie se kinderlike gesiggie glimlag. Hy het ’n verehoed op sy kop. Dis vol gekleurde vere. “Wat wil jy vir my sê?” vra ek.

“Naand, Sussa. Ek kan nie vir jou sê wat jy wil hoor nie, maar ek wil jou waarsku,” sê hy.

“Pas op dat die donker jou nie vang nie,” sê Pietertjie terwyl hy opstaan en die bedlampie weer afsit. “Pietertjie! Pietertjie?” vra ek en sit die liggie weer aan.

“Dammit, man, jy kan nie elke keer net kom en gaan soos jy wil nie. En moenie weer my lig afsit nie. Ek weet nie of jy my kan hoor nie, maar jy is nie ’n baie oulike spook nie,” sê ek terwyl ek opstaan en die kamervenster toemaak.

Ek het ’n dringende honger in my – ’n honger na antwoorde wat niemand vir my wil gee nie.

My kop is seer gedink. “Aai, Oupa, ek wens jy was nou hier met jou mondfluitjie se rustige klanke … jou trooswoorde wat alles laat sin maak,” sê ek sag.

Ek lê my kop op die kussing neer en sit weer die bedlampie af. Oupa is nou ’n vergeelde boek wat ek peinsend weer wil oopslaan. Verdomp man, in Oupa se oë het soveel geheime weggekruip.

“Aai, Oupa, gee my net ’n woord, ’n sin … enige iets sodat ek ook kan verstaan waaroor die lewe gaan,” vra ek en draai op my ander sy. “Uit die donkerte neig alles na die lig,” het Oupa gesê en sy Bybel onder die skerp lig van die lamp oopgemaak.

Ek sien Oupa se werkkamer, wat ook sy bidkamer was. Tussen boekrakke en sy hamers in die hoek. Die benoude opgehoopte ou Castrol-dromme en beitels blink. Op Oupa se klein ronde tafeltjie het sy gebreekte brilrame, notas en klein Bybeltjies gelê.

In nat winters en harde somers het ek en Oupa in sy agterplaas-sinkdakhuisie vir die wind weggekruip. Pyprook – soet en benoud. Daar het Oupa onder ’n kolletjie kerslig vir my Bybel gelees en die bitter krag uit my uit gebid.

Onder kettings met toue en grawe het ons twee op uitgerafelde matstoele gesit. En Pikkie, Oupa se kat, het altyd sy lêplek langs die ou voorhuisklok reggekrap. Die bekende pyn-snik het gereeld uit sy bidhuisie gehuil.

“En nou, Oupa?” het ek gevra en die stukke opgerolde doringdraad misgetrap. Oupa het geskrik en sy vingers oor sy oë gevee, daarna oor sy dik wenkbroue. “Kom sit hier by Oupa.

Ek wil vir my kind iets uit die Bybel lees,” het hy gesê en ’n stoel tot langs syne getrek.

“Hoekom huil Oupa?” het ek gevra en langs hom gaan sit. “Ag, Oupas raak ook soms

hartseer,” het hy sag geantwoord en deur die Bybel geblaai. “As Oupa eendag nie meer hier is nie, moet jy dit onthou,” het hy gesê.

“Moet ek altyd onthou dat Oupas ook hartseer word?” het ek deurmekaar gevra. “Nee, my kind,” het Oupa saggies gelag. “Ek gaan nou vir jou lees,” het hy gesê en sy bril reggeskuif.

“Prediker 11, vers 7. Die lig is aangenaam. Dit is goed vir die oë om die son te sien. Dít moet jy altyd onthou,” het Oupa gesê en sy bril weer afgehaal. “Oupa, ek wil nou nie slim klink nie, maar die son maak my oë seer wanneer ek te lank daarna kyk,” het ek gesê.

“Jy sal eendag verstaan, Helenatjie. Hou net aan om na die lig te kyk,” het Oupa met ’n glimlag gesê. Ek het onseker geglimlag. “Jy is mos my blommekind en blomme kyk altyd na die son,” het Oupa met trane in sy oë gesê.

“Gaan Oupa doodgaan?” het ek gevra met trane wat in my gedagtes gebrand het. “Almal gaan doodgaan, Helenatjie,” het Oupa met erns in sy oë geantwoord. Aai, hoe wens ek vanaand in my dronkheid en verlange dat Oupa my kon vashou.

Ek draai die natgehuilde kussing om. Ek het nooit die warm gansdons-liefde van ’n ma geken nie. Maar ek het ’n Oupa se spoggerige sakdoek wat my trane afgevee het, geken. Pa was daar, maar hy het altyd op die bus geklim om te gaan werk – altyd net gewerk.

Oupa was my pa. Ek wens Oupa kon my nou raadgee. “Die lewe gaan jou skeur. Die lewe

gaan jou wil breek. Maar bly net na die lig soek, my kind. In elke skeur is daar ’n vegter.

Kyk, Helena,” het Oupa gesê en na die stuk geeldons wat in die vloerskeur voor die sinkdakhuisie groei gewys.

“Kap maar haar geelkoppie af, die seidissel-ding kom elke jaar weer terug … in daai einste skeur. Solank as wat daar ’n son is waarna sy kan kyk, sal sy groei. Het jy al gesien hoeveel bome hier in Namakwaland op die afgronde groei? Want in daai rotsbars kry hulle wortels vashouplek,” het Oupa verduidelik.

“Hoekom is Oupa so slim?” het ek gevra. Oupa het gelag en sy pyp aangesteek. “Het jy geweet dat daar ’n tent vir die son in die hemel opgeslaan is?” het Oupa gevra. “Ag nee, nou praat Oupa sommer weer snaaks,” het ek gesê en Pikkie se lyf wat teen my bene skuur, gevryf.

“Nee, regtig. Die Bybel self sê so. Dis hoe belangrik die lig is, dat daar nou sommer ’n tent vir hom in die hemel opgeslaan moet word,” het Oupa gesê. “Wys my waar staan dit in die Bybel,” het ek gestry-vra.

“Psalm 10, vers 10. Vir die son is daar ’n tent in die hemel opgeslaan,” het Oupa met sy krom vinger na die Bybelvers gewys en gelees. “Wragtig!” het ek, verstom deur Oupa se Bybelkennis, uitgeroep.

Ek kyk na die streep maanlig teen my muur terwyl ek aan Oupa se lig dink. Klaskat bly in my kop. Gaan ek haar die voorreg gee om jammer te sê? Dalk het sy verander … ek twyfel.

Dalk, as sy vir Danie die regte waarheid vertel het. Dalk moet ek vir Danie die waarheid vertel. Maar ek kan nie. Die leuens beskerm nie net vir Klaskat nie, dit moes Danie beskerm het. Dit beskerm Jess teen …

“Teen wat?” vra Pietertjie en kom sit weer op my bed. “Verdomp!” roep ek uit van die skrik.

Pietertjie se spook lag. “Kan spoke nou mense se gedagtes ook lees?” vra ek en sit weer regop. “Net as hulle so verskriklik hard dink,” terg hy. “Dis baie ongeskik om ander se gedagtes te lees,” raas ek.

“Helena, teen wat beskerm die leuens vir Jess?” vra hy ernstig. “Teen die waarheid,” antwoord ek. “En wat is die waarheid dan, Helena?” vra hy. “Ek is moeg. Gaan doen bietjie wat spoke doen. Ek wil nou slaap,” sê ek en trek die kombers oor my gesig.

“Ek sal jou sê wat die waarheid is. Jy was te lief vir Danie en daarom het jy hom gespaar van die vloek. Jy was bang vir Danie se sukkel-bestaan wat hom sou vang. Jy was bang dat Danie se toekomsdrome sou doodgaan. En dat hy nes ons almal sou sukkel. Vertel vir Jess die waarheid,” sê hy.

“Ek kan nie … ” sê ek voor my oë toeval.