“Mamma, wanneer kan ek huis toe gaan?” vra Jess. “Amper, my skat,” antwoord ek. “Is Mamma kwaad vir my? Oor Hano?” vra sy. “Ek wil net hê jy moet jouself oppas. Ek wil nie hê jy moet seerkry nie,” antwoord ek sag.
“Ek gaan seerkry. Ek gaan my eie lesse moet leer,” antwoord sy. “Ja, slimmie, maar nie nou al nie. Geniet net eers jou lewe,” sê ek. “Ons het ’n kondoom gebruik. Ek is nie dom nie,” sê Jess skaamteloos. Ek sug …
“Dis goed, maar dit gaan oor baie meer as dit. Wanneer jy iets eet wat nog nie ryp is nie, proe dit nie soos dit veronderstel is om te proe nie. Maar wanneer jy wag tot dit ryp is, sal niks ooit beter as dit proe nie. Mamma wil net hê jy moet wag tot jy reg is, tot die tyd ryp is,” verduidelik ek.
Jess glimlag skaam. “Jy weet, vir mans is dit net in en uit. Vir vroumense is dit baie anders. Dis emosioneel. Hoe meer ’n vrou dit met ’n man doen, hoe liewer raak sy vir hom. Hoe meer ’n man dit met ’n vrou doen, hoe vinniger raak hy moeg vir haar,” sê ek.
“Nie alle mans is dieselfde nie, Ma,” antwoord Jess hartseer. “Die meeste is,” antwoord ek koud. Ek wonder vir ’n oomblik. “Was dit jou eerste keer?” vra ek. “Ma!” roep Jess uit.
“Ek’s jammer. Maak net seker hy gebruik jou nie net nie,” probeer ek kalm bly.
“Moenie te veel oor my worry nie. Ek is dapperder as wat jy glo, sterker as wat ek lyk en slimmer as wat jy dink. I got this,” sê sy. “Ek weet,” sê ek. “Ek is lief vir Ma,” sê Jess. “Ek lief jou meer,” antwoord ek.
Ek het Jess liewer as die lewe self. Soms maak dit my bang. Ek wil haar nie met my liefde versmoor nie. Ek is jammer dat ek haar nie in beter omstandighede kon grootmaak nie, maar oor haar sal ek nooit jammer wees nie.
“Sê dit! Sê jy is jammer!” het Klaskat geskree. “Ek is jammer dat ek en Jess nou Tannie se verantwoordelikheid is, maar ek is nie jammer oor Jess nie!” het ek teruggeskree. “En Danie!
Sê jy is jammer dat jy jou bene vir my kind oopgemaak het,” het sy met vuur in haar oë gepraat.
“Ek is jammer, Tannie,” het ek sag geantwoord. “Oor wat? Oor wat is jy jammer?” het sy aanhou skree. “Dat ek lief is vir Danie … ” het ek begin. Klaskat se oë het wild na my gekyk.
“Dat ek my bene vir hom oopgemaak het, Tannie,” het ek my trots gesluk.
“Ek kan sien hoe jy na sy foto’s kyk. Jy mag nie vir hom kyk nie. Jy praat nie met hom as hy die vakansie kom kuier nie. Jy bly in jou kamer. Ek sal vir jou sê as jy en die baba kan uitkom,” het sy elke keer gesê voor Danie in Namakwaland kom kuier het. “Dis reg, Tannie,” het ek dan geantwoord.
Jess was amper twee maande oud. Klaskat het my kliniek toe gevat om my steke uit te haal.
Daardie dag het ek verskriklik na Oupa verlang. Ek het uitgeklim en die eerste plaashek oopgemaak. Maar ek het hom nie weer toegemaak nie. Ek het na Ouma en Oupa se ou
plaashuis geloop.
“Waar gaan jy, Helena?” het Klaskat agterna geskree. Ek het haar nie geantwoord nie en net aangehou loop. Oupa wou my nooit in die ou vervalle plaashuisie vat nie. “Ag toe, Oupa,” het ek gesmeek. “Nee, ek sien nie kans vir daardie deel van die verlede nie,” is al wat hy gesê het.
Klaskat het tot voor die huisie gery en die toeter geblaas. Ek het die ou houtdeur versigtig oopgestoot. Die huis was swart en verweer teen die wit sand. ’n Ou matras het hartseer in die hoek geslaap, die klapperhaar het uitgepeul.
Die komsbuisware is net so gelos. Koffiekanne het op verweerde kassies gestaan. Roes het patrone op die kanne geteken. Op die kombuiskas het ’n leë wynbottel gestaan. Die son het ’n geel-groen vlammetjie in die leë bottel laat brand. Die groen glas was dowwer as die middaghitte wat oor die pad gedans het.
Klaskat se lyf het aangestorm gekom. “Helena, wat maak jy? Niemand mag hier inkom nie.
Die plek is vervloek,” het sy bang gesê. “Ons is almal vervloek, Tannie,” het ek amper boosaardig gesê.
“Kom tog hier uit. Die plek staan al jare leeg. Dit spook glo hier binne,” het sy gesê en rondgekyk. Ek het my oë gerol. “Nee, régtig. Die oumense soek steeds na hulle fortuin,” het sy voortgegaan.
“Het julle dan hulle fortuin gevat?” het ek gevra. “Nee, Helena, ons het nie. Die gesin het baie swaargekry en het geld nodig gehad om te oorleef. Toe het Danie se ouma en oupa vir hulle ’n aanbod gemaak,” het sy geantwoord. “Soos jy vir my ook ’n aanbod gemaak het,” het ek stil gesê.
’n Koppie het onverwags van die kombuiskas afgeval. “Wat was dit?” het ek gevra. “Ek sê mos vir jou die plek spook,” het Klaskat gesê. Ek kon die vrees in haar oë sien. Dit was vreemd. Ek het ’n bekende teenwoordigheid gevoel. Amper soos ek in Vlooi se huis gevoel het. Donker, maar tog bekend.
My oë het ’n bloedkol teen die muur gesien. ’n Spatsel. “Wat het hier gebeur?” wou ek weet.
“Hoekom wil jy weet?” het sy gevra. “Ek moet weet. My ouma en oupa het jare terug hier gewoon,” het ek gesê. Ek wou dit al so lankal sê.
Klaskat het haar asem vir ’n oomblik ingetrek, asof sy wou duik. “Helena, wat was jou pa se naam?” het sy gevra. “Hendrik. Wat maak dit nou saak wat my pa se naam is?” wou ek weet.
“Ek moet weet wat hier gebeur het,” het ek weer gesê, die keer harder … meer dringend.
Amper te desperaat.
“Ek weet nie,” het sy gesê. “Tannie lieg vir my!” het ek geskree. Klaskat het ingekom en my aan die arm gegryp. “Kom nou uit hierdie verdomde plek!” het sy geskree en my aan my arm geruk.
“Het julle regtig ’n hoed vol diamante hier gekry? Suikersakke vol langs die boord? En nie eers een vir my oupa en ouma gegee nie?” het ek gevra. “Ek weet nie, Helena. Dit was my skoonouers wat die plek gekoop het,” het sy geantwoord.
“Waar is hulle nou?” het ek gevra. Klaskat het met haar vinger na die heuwel langs die huis gewys. Twee grafte het hartseer op die heuwel gestaan. “O,” is al wat ek kon sê.
“Jy gaan laat wees vir jou doktersafspraak, en ek gaan jou nie weer vat nie. Jy sal dan daardie steke self uithaal,” het sy net gesê. Ek het kar toe geloop en die deur hard toegeslaan. Dit was asof Oupa daardie dag vir my iets wou sê.
Dit was nog altyd ongemaklik om saam met Klaskat te ry. As ons die dorp binnery, moes ek my kop onder die dashboard indruk. Die mense mag nie geweet het nie. Maar hulle hét geweet. As hulle ons wel bymekaar gesien het, het Klaskat gemaak asof sy my aangeneem het en vreeslik lief is vir my.
Ma het steeds by die kêffie gewerk. Ek het ’n paar keer gaan probeer oë wys, maar sy’t teen my gedraai. My hart was seer. Ons het seker lankal teen mekaar gedraai. Ek was in haar pad.
Veral toe Myner ingetrek het. Die baba was net ’n manier vir haar om my heeltemal weg te wys.
Maar soms kon ek die hartseer in haar oë sien, regte hartseer. Asof sy spyt is oor iets. Tot vandag toe sien ek nog haar dronk lyf en kwaai oë in die kêffie – soos elke keer as Danie kom kuier het. Sy het my gewaarsku, maar ek het nie geluister nie.
“Ma, kan ek maar gaan? Het Ma my nog nodig?” het ek gevra voordat ek saam met Danie veld toe gevlug het. Ek wou net vlug – weg van haar trane wat my elke dag meer na Pa laat verlang het. Elke liewe dag was vasgevang in ’n traan. En toe Oupa dood is, was niks ooit weer dieselfde nie. Niks.
Oupa se dronk liedjies het in my kop begin sing, “O, jirlikheid, slaan my dood met genade. Jirre, ruk my wakker met die Woord … was my met die bloed. Tel my net op, o ewigheid. Los my uit, jou bose mag. O, Here gee my krag,” het ek Oupa se liedjie eendag geneurie terwyl Danie agter my in die winkel gestaan het. Ek het hom nie gesien nie.
“En nou, Meisiekind, vir wat sing jy sulke mismoedige liedjies?” het hy geglimlag. Ek het skaam omgekyk. My hart het dadelik opgevlam. Ek het die blikkies kos wat ek besig was om uit te pak dadelik neergesit en hom omhels.
“Ek het jou gemis … so baie,” het sy oë geblink. “En ek vir jou,” het ek gefluister. Ma was steeds in die stoorkamer besig met haar bottel en trane. “Ma, ek het die blikkies klaar gepak. Kan ek maar gaan asseblief?” het ek weer gevra. “Doen wat jy wil,” het sy gesê.
Ek het gehuiwer, maar Danie het my aan die hand gevat. “Kom,” het hy gesê. “Ek wil jou myne maak,” het hy in my oor gefluister. Ons het skelm agter die treintrokke inbeweeg. Hy het my tot op die rand van die treintrok gelig en toe homself met sy arms opgetrek.
My bloed het vinniger begin pomp. My asemhaling het versnel. My lyf het geweet wat Danie bedoel het as hy gesê het hy wou my syne maak.
“My meisiekind, jy is so mooi,” het hy gesê en my slierte uit my oë gevee. Hy het my gesig in al twee hande gevat en saggies begin soen. Stadig, maar al hoe dringender het sy hand onder my skoolhemp inbeweeg om my bra los te maak.
“Ek is so lief vir jou,” het ek gesê en sy oor saggies gebyt van lekkerkry. Hy het my hemp versigtig oor my kop getrek en my skoolromp opgelig. My hande was bewerig. Hy het my gehelp om sy broek se knope los te maak. Hy het sy broek uitgetrek.
Ek was kaal teen sy warm lyf. Dis waar ek wou wees. Sy asemhaling het versnel, al hoe dringender … vinniger. Selfs sy soen het bewerig teen my nek, oor my borste gevoel … asof hy die bloed wat al hoe vinniger en vinniger deur sy are pomp, nie kon beheer nie. Nie kan stop nie.
My kop het teruggesak terwyl ons saam begin sweet en beweeg op die ritme van begeerte. Op die ritme van jong liefde. Op die ritme van ons doodsondes. Teen daardie tyd was ons al so gemaklik met mekaar se lywe. Ek het elke deel van sy lyf geken en hy elke deel van myne.
“Ek wil nie terug huis toe gaan nie,” het ek gesê terwyl ek in sy arms gelê het. “Ek ook nie.
Ek wil vir ewig hier met jou teen my lê. Jy weet jy gaan eendag my vrou word,” het hy so baie keer gesê. Dan het ek net geglimlag, asof iets diep binne-in my geweet het …
“Mamma?” ruk Jess my terug na die hede. “Wat dink Mamma?” vra sy. “Mamma dink
sommer net baie dinge,” antwoord ek. “Ek wil so graag nou huis toe kom,” sê Jess. “Dis maar baie alleen so sonder jou. Ek weet nie wat gaan ek volgende jaar doen as jy universiteit toe gaan nie,” sê ek.
“Oor dit … Mamma, ek … toemaar, ons kan later daaroor praat,” sê sy. “Waaroor? Praat met my. Ek luister,” wil ek weet. “Die tyd is nie reg nie,” sê sy. Die besoektydklokkie lui. Ag, dammit. “Sê gou vir Mamma,” wil ek weet wat my kind wil sê.
“Ek kan dit nie gou sê nie, maar sodra ek terug by die huis is, gaan ek en Mamma bietjie oor die toekoms gesels,” sê sy. “Die toekoms?”
Ek is bekommerd. Wil sy nie meer gaan studeer nie? Ek soen haar saggies op haar voorkop.
Dan val my oë bekommerd op haar gesig. “Moenie worry nie, Mamma,” lag sy nes Danie.
In die skadu van tyd gebeur so baie dinge. Die afgelope week voel nie soos my lewe nie. Ek het nie een glasie troos saam met Daisy gedrink nie. Ek was nie eers by die winkel nie. Ek het meer gehuil as ooit.
Ek het Vlooi ontmoet en haar weer gegroet. Dit was so vinnig. Nes ’n hoofstuk uit ’n boek.
Pietertjie het nuwe vrae by my wakker gemaak en vir my ’n boodskap gebring. Dan die
blerrie hoogheilige non met haar toffies van die natuur. En Oupa se woorde bly by my spook.
Ek wil weet waaroor die bloedoorbelle gaan. En Danie. Jess lyk al hoe meer soos haar pa …
Ek begin hom al weer mis. Eintlik het ek nog nooit opgehou om hom te mis nie.
Ek draai af winkel toe. Ek wonder hoe cope auntie Koekie regtig by die winkel. “Wat in die wêreld?” kyk ek verbaas na ’n winkel waar my winkel altyd was. Die naam hang in nuwe letters bo die deur. Die gekraakte venster is vervang.
Twee vrolike potte met plante staan aan weerskante van die ingang. My oë verstaan nie wat hulle sien nie. Die trappies is geverf. Ek loop haastig die winkel binne. Die rakke is nuut en geverf. Die koue en praktiese gevoel is weg.
“En dit?” vra ek verbaas. “Jy mag maar dankie sê,” sê auntie Koekie. Dis oorweldigend. My dankbaarheid bars los in trane. “Ag nee, kindjie, moenie huil nie. Onse ou mensies het gesien jy gaan deur ’n moeilike tyd en ons wou jou bietjie op-cheer,” huil auntie Koekie saam.
“Ek weet nie wat om te sê nie,” snik ek. “Dankie. Jy kan dankie sê. Ag, en moenie so ’n drama queen met jou pers hare wees nie. Jy doen nooit iets vir jouself nie. Spaar net al jou sente vir Jess se studies. Wag, voor ek vergeet. Ek het vir jou ietsie gekoop,” krap auntie Koekie in haar handsak en haal ’n boksie haarkleursel uit.
“Asseblief tog, kind, gaan kleur jou hare weer reg. Daai pers hare maak vir jou mal. Ek het stories oor jou gehoor. Ja, daar in Fonteintjie loop die stories oor die winkelvroutjie wat na dooies op soek is en met dooies praat. Ek sê maar net. Ek is nie bietjie bekommerd oor jou se kop nie,” raas sy.
Ek vat die boksie kleursel, kyk skaam af en wonder self of ek mal is. “Dankie, Auntie,” sê ek.
“Hoe gaan dit met ons Jess-kind vandag?” vra sy. “Sy behoort môre huis toe te kom,” sê ek terwyl ek na die kreatiewe verfpatrone op die mure kyk.
“Dis so mooi! Ek wonder wat gaan Jess van die winkel sê,” sê ek en kyk verder om my rond.
“Dankie, Auntie,” sê ek weer en my arms val om auntie Koekie se nek. “Dis ’n plesier, my kind,” sê sy met ’n breë glimlag.
“Ek het gehelp verf, kan sommer in my lyf voel dat ek rus nodig het,” sê auntie Koekie. “Aai, Auntie is mos nie meer vandag se kind nie. Vir wat verf Auntie self?” vra ek.
“Ek sweer my skouer is ook besig om te vrot. Hierdie arms het nie bloed, water of olie meer in nie,” sê sy terwyl sy aan haar skouer vat en haar arms strek. “Die jongetjies kon mos gehelp het. Auntie verniel mos daai ou lyf,” sê ek.
“Ou lyf se ma, man. Ek kan werk! Sommer baie hard,” stry sy. “Ons almal weet Auntie kan hard werk. Maar ons almal weet ook hoe hardkoppig Auntie is,” antwoord ek. Ek voel
skuldig dat sy haarself so ooreis.
“Dis ’n ding wat jongetjies nooit sal verstaan nie. My hart voel voller en my hande beter as hulle iets doen en begin werk. As hierdie hande stil raak, raak hulle sommer foolish. Jy kan gerus ’n bietjie meer met jou hande werk, dalk jou kop dan ook ’n bietjie rus gee,” sê sy terwyl sy haar gekromde vingers uitstrek en na haar hande kyk.
“Die pyn begin hier agter my kop en skiet dan af tot in my blaas,” kla sy weer. “Moet ek Auntie dokter toe vat?” vra ek. Ek is bekommerd oor haar.
“Die dokters hier kan nie tot ’n dinges kom nie, ek was al daar. Hulle gee net ’n klomp pille. Ek weet nie eers watse pille dit alles is nie. Ek glo net in my R10-pille as die pyn oneindig raak. Maar as daar nou een ding is waarmee ek moes vrede maak, is dit dat die skouerprobleem for life is,” kla sy voort.
“Dalk moet Auntie net ’n tweede opinie kry en mooier na Auntie self kyk,” sê ek. “Ek was al by baie dokters. Hulle kan my eerder die doodsinspuiting gee en langbome toe stuur voor hulle aan my sny,” sê sy.
“Haai nee, Auntie kan mos nie sulke goed praat nie,” sê ek. “Ek gaan oukei wees, Helena.
Daar’s pille vir my pyn. Maar vir jou pyn kan ek net bid,” sê sy. Ek kry sommer ’n knop in my keel.
“Aai, die simpel pyn. Die Here weet ek was nooit ’n wulpse danser, vreeslike drinker of roker nie. Hoekom sukkel ek dan so met die ouderdom?” vra sy haarself. “Ek kan vir Auntie sê hoekom. Dis omdat Auntie alles self wil doen en niemand om hulp wil vra nie,” sê ek sommer vies.
Niemand het gesê sy moes die winkel oordoen nie, maar ek kan sien sy is bitterlik trots. Sy kon seker nie wag tot ek hier opdaag nie. Hoe kan ek nou met haar goedheid, wat so flippen hardkoppig voorkom, baklei? Sy is te goed vir hierdie lewe.
“Maak nou nie saak wat jy dink en of jy nou weer maak of jy alles weet nie. Partykeer dink ek jy is net te blerrie slim vir jouself. Maar nou ja. Ons is regtig bekommerd oor jou,” sê auntie Koekie.
“Auntie sal dalk nie nou verstaan nie, maar die afgelope week was vir my soos ’n journey in
’n ander tyd. Dinge gaan beter raak. Ek weet dit,” sê ek. “Solank dit net beter gaan word,”
versag haar hardkoppige ogies.
“Voor ek vergeet. Vanoggend toe ek voor die winkel stop, toe wag hier ’n lang skraal man vir jou,” sê auntie Koekie. “Wat het hy gesoek?” wil ek weet. “Helena, dit was Danie wat vanoggend hier by die winkel vir jou kom soek het,” tref haar woorde my.
Ek raak yskoud. “Hy moet maar lekker soek. Ek wil hom nie sien nie,” draai ek om en loop kar toe.
Danie? Wat op aarde doen hy hier in Namakwaland en vir wat soek hy na my? Ek wil hom nie sien nie. Ek hoop nie hy weet van Jess nie, dat sy … Hy beter nie naby haar kom nie. Sy sal my nooit weer vertrou nie.
“Die waarheid sal jou vrymaak,” eggo Vlooi se woorde in my kop. Ek ry huis toe om als reg te kry vir my kind wat môre terug huis toe kom. Ek kan nie meer wag nie. Ek wil haar net styf teen my vashou. Haar met my lewe beskerm. Soos toe sy nog my baba was.
Ek mis daai klein sagte lyfie. Teen skemer het baba-Jess reeds geslaap. Sommer aan my bors aan die slaap geraak. Dit was eers teen middernag wat die vark weer in my nek kom snork het.
Jess het aan my gedrink toe Danie se pa die deur oopskuif. Raulene was die naweek weg.
“Aai, Helena. Jy is so mooi vir my,” het hy gesê. Hy het Jess van my afgehaal en haar op Raulene se bed neergesit. Jess het verskriklik begin skree.
“Jy gaan my nie weer seermaak nie,” het ek hom gewaarsku. “Ek sal jou seermaak as jy my nie toelaat om jou … ” Het hy sy sin probeer klaarmaak, maar ek het hom geknie … daar waar dit mos saak maak.
Ek het Jess gegryp en na Klaskat se kamer gehardloop. Die agterdeur was oop. Ek het reguit na haar slaapkamer gehardloop, haar wakker geskud, haar wakker gehuil. Haar wakker geskree.
“Jy vat my nou huis toe! Na my ma se huis toe,” het ek beveel. “Helena, is jy mal?” het sy deur die blare gevra. “As jy my nie vat nie, vertel ek die hele dorp die waarheid. En vir Danie!” het ek geskree. Klaskat het haar japon aangetrek en my huis toe gevat.
Dit was ’n bitter moeilike tyd. Seker die langste drie maande ooit. Ma en Myner het elke dag my laat verstaan ek is nie welkom nie. Maar ek het daar gebly … tot die sirkus my en Jess kom haal het.
Aai, my kind moes die pad saam met my stap. Die Klaskatpad, die sirkuspad, die bitter pad en nou die waarheidpad. Sy verdien die waarheid. Elke mens doen. Wat gaan ek doen?