HOOFSTUK 12

Ek bevind myself weer terug op die sementbankie buite die hospitaal. Raulene se lyf kom aangeloop. Maar sy loop swaar, asof sy haar seer op haar rug dra. Sy lyk moeg. Ons oë val verlig op mekaar. Raulene staan ’n oomblik en kyk net na my, dan gooi sy haar arms om my.

“Aai, my liewe mens,” is al wat sy sê. Maar haar oë praat dieper dinge. Haar oë … so nostalgies soos Namakwaland self. “Dankie dat jy gekom het,” snik ek. “Of course, jy weet mos,” sê sy sag. Ek vind troos in haar glimlag.

“Nou vir wat vang ons Jess sulke dinge aan?” vra Raulene en kom sit plomp langs my. Sy is nie meer die klein vroutjie saam met wie ek in Klaskat se cottage gebly het nie. Sy is rond en geplooi om die wilde kykers.

“Ek is nie seker nie, dink dit het iets te doen met ’n boytjie,” sug ek. “Ag nee, vader, help die kind,” skud Raulene haar kop moedeloos. “Ek’t hulle saam in die kooi gevang,” sê ek met ’n trek oor my mond. “Ons Jess? Sy is dan nog kind,” sê Raulene verbaas. “Sy is nie meer té kind nie. Sy het die hartstog geproe. Dis te laat,” kry ek my kind jammer.

“De hel daarmee. Sy kan hom proe en weer uitspoeg en sommer van hom vergeet. Maar dis nou makliker gesê as gedaan, want as daai knoppie aangesit is, is dit maar moeilik om hom weer af te sit. Vandag se mensekinders dink mos as die hoendervleis op jou vel begin uitslaan dat jy nou lief is. Kate het ook mos nou gaan staan en verlief raak. Darem haar studies eers klaargemaak,” sê Raulene trots.

“Dis wonderlik, Raulene. Jy kan baie trots wees,” sê ek met verwondering. “Op haar of op myself?” vra Raulene tergend. Maar onder die terg kruip die seer weg. Raulene moes haar trots sluk en hard werk vir Klaskat en baas Herman. Die lewe het haar ook maar verneuk.

Ons twee, ek en Raulene, was ook twee mooi blommetjies hier in Namakwaland, maar toe word ons twee blerrie steekplante. Ons is hard gemaak. Op ’n baie eiesoortige aand het Raulene my alles vertel …

Raulene was my engel. As niemand verstaan het nie, het Raulene. Maar ek het haar nie altyd verstaan nie. “Maar hoekom laat jy dit toe?” wou ek kinderlik weet. Ek was amper sewentien en Raulene al nege-en-twintig. Sy was slimmer as ek. Altans slimmer oor die lewe.

Steeds het ek nooit verstaan hoekom sy Danie se pa toegelaat het om haar te verniel nie. Dit kon tog nie lekker wees as so ’n swaar gewig vleis op haar skraal lyfie neergeval het nie.

Hoekom hy dit nie by sy miesies Klaskat gekry het nie, weet ek steeds nie.

Elke Sondag het Klaskat en Danie se pa in die Merc geklim en kerk toe gery. Hy’t op die kerkraad gedien. Ek haat kerkmense. Al die kerkmense wat ek ken, is die grootste sondaars.

Ons is almal sondaars, maar hulle is blatant. As die vloek iemand moes tref, was dit vir daai twee mense.

“Jy weet, mensie, ek moet jou eintlik bedank,” het sy die eerste aand vir my in die cottage gesê. “Hoe so?” wou ek weet. “Jou en Danie se jagsgeit, die baby, jy wat nou skelm hier bly, is mos nou ’n groot secret.

Die madam weet ek hou van praat. Nou betaal sy my nog meer om my mond te hou. So kry ek nou nog meer pay,” het Raulene blatant gesê. Ek het net hartseer afgekyk. “Sorry, mensie, dit was nou nie sensitive van my nie,” het sy dadelik gesê.

Ek het net onseker geglimlag. Later het ek Raulene se seer leer ken. Die houvas wat Klaskat en die baas ook op haar gehad het, was net so wreed soos my en Danie se sandkasteelliefde – ’n weggespoelde sandkasteel. Daai verdomde man het haar seergemaak.

“Hoekom soek jy nie ander werk nie?” wou ek weet nadat sy my vertel het van die baas se gulsige streke, se vatterige hande en swaar lyf.

“Ek gaan nêrens anders dieselfde pay kry nie. Jy weet die miesies betaal my drie keer wat die vorige miesies my betaal het. Dan het ek genoeg geld om elke maand huis toe te stuur vir Kate,” het sy geantwoord.

“Kate?” het ek gevra. “Sy is in ’n goeie skool, want sy is slim. Sy dra nuwe skoolklere. Kate gaan ’n dokter word. Ek spaar nou al daai baie geld. Kate gaan beter wees,” het Raulene my oortuig, haarself probeer oortuig …

“Jess ook,” het ek gesê terwyl ek oor my maag gevryf het. “Kate lyk wit, sy het gladde hare en blou oë,” het Raulene bygevoeg. “Het sy dan ’n wit pa?” het ek nuuskierig gevra.

“Herman se kind,” het Raulene skaam geantwoord en afgekyk.

“Weet hy Kate is sy kind?” wou ek weet. “Nee, hy mag nooit weet nie,” het sy grootoog gesmeek. “Is jy dan lief vir baas Herman?” vra ek. “Nee, nooit! Moet seblief nie uitpraat nie,” het sy weer gesmeek.

Ek het besef ons is almal vervloek. Oupa wat sy droom vir pennies verkoop het. Pa wat onverwags deur die aarde ingesluk is. Ma wat die verkeerde man gaan staan en vat het ná Pa se dood.

En Ouma … so mal soos hondsdolheid self in die dorp se ouetehuis. Roep glo elke dag na Oupa. Maar Oupa se bakkie was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Die mense het drie dae gesukkel om daardie stuk krans en klippe van Oupa se bakkie af te haal.

Raulene wou van Alexanderbaai se vloek vlug. Sy het tot by Pella gevlug, en toe Springbok toe. Maar die vloek het haar gevolg tot hier.

Ek wou glo dit gaan beter raak. Dit raak nie beter nie. ’n Mens dink so, maar dit gebeur nie.

’n Mens raak maar net gewoond aan die hopelose gevoel.

Dit was ’n droë winderige dag. Miesies Klaskat het saam met die ander styfgesnaarde kattemaai dorp toe gegaan. Ek was besig om die paleis skoon te maak. Jess het in haar pram langs my geslaap. Sy was net een maandjie oud.

Ek was steeds seer. My borste was teer. Dit was tyd om te tap, maar ek wou nie vir Jess wakker maak nie. En, besides, ek moes klaarmaak met die huis voor Klaskat terugkom. Ek moes nog al die langhaarmatte suig, die Brasso blinkvryf en haar hoop panties opvou.

“Ek gaan net gou die laaste wasgoed ophang,” het Raulene gesê en met die wasgoedmandjie uitgeloop. Ek het net geknik. Ek was rustig, maar wat volgende gebeur het, het my geknak …

Danie se pa het my van agter skrikgemaak. “Haai nee, Oom. Oom gaan vir Jess wakker maak,” het ek geraas. “Ek bewonder jou. Jy lyk so goed vir iemand wat nou net ’n baba gehad het,” het hy met ’n krapperigheid in sy keel gesê.

Hy het toe tot voor Jess se pram geloop en vir haar gekyk. Ek het niks daarvan gehou nie. Die manier waarop hy na my kind gekyk het … dit het my gewalg. “Los haar, sy gaan wakker word. Ek het nog baie werk om te doen voor die tannie terugkom,” het ek gesê.

“Ek kan sien hoekom Danie so baie van jou gehou het,” het hy gesê en reguit op my afgestap.

Ek het instinktief my rug op hom gedraai. Dit het hom steeds nie gekeer nie. Hy het sy lyf honger teen myne gedruk, my rokkie opgelig en my pantie afgeruk.

Ek het probeer baklei. My hele lyf probeer loswikkel. Gedraai en gekrul soos ’n shongololo wat vloek. “Los my!” het ek geskree. Hy wou nie stop nie. Hy het soos ’n honger vark in my nek gesnork, geblaas, geraas.

“Nee!” het ek geskree en begin tjank soos ’n hond. Jess het verwoed begin skree. Dit was so seer. “As jy my aanhou keer, gaan ek vir Danie die waarheid vertel,” het oom Herman in my oor geblaas.

My borste het gelek en deur die materiaal van my rokkie begin slaan. Jess het steeds geskree.

“Ek gee nie meer om nie!” het ek geskree. “Jy weet Danie gaan dadelik terugkom en sy hele toekoms weggooi. Ek sal hom nie ’n sent gee nie,” het hy woedend gesê.

Ek het weggeruk net voordat hy sy saad in my kon stort. Dit was so seer. My lyf was nog besig om te herstel ná Jess se geboorte. “Jy’s ’n vark!” het ek geskree toe ek losbreek. Ek het Jess uit die pram opgetel en na ons kamer gehardloop.

Bloed het teen my bene afgeloop, melk het uit my borste gedrup, trane het gestort. Ek het gestink. Ek het al my klere uitgetrek en kaal op die enkelbedjie gaan sit. Jess was aan my bors. Sy het so gulsig soos die liefde self begin drink.

“Helena, wat’s fout?” het Raulene bekommerd ingehardloop gekom. “Alles! Alles is fout!”

het ek self soos ’n mal vark geskree. Jess se ogies was groot en benoud. Haar rustige mamma was ewe skielik ’n mal vark.

My een bors was halfpad in Jess se mond. My ander bors het skaamteloos uitgehang. Jess het net aanhou drink. “Ag, Helenatjie. Dalk het jy baby blues,” het Raulene gesê. “As dit als tog net in my kop was,” het ek gehuil.

“Ek het baas Herman se kar gesien … ” Raulene wou haar eie vermoede nie glo nie, maar toe sy die bloed teen my bene sien afloop, het sy geweet. “Baas Herman! Nee!” het sy geskree.

Die weerloosheid het my oorspoel. Alles was seer.

“Agge nee, moenie vir my sê hy het … ?” wou Raulene dringend weet. Ek kon nie praat nie, net huil. Jess het opgehou drink, ek het te veel geruk. “Genoeg is nou genoeg! Vandag gaan die hel losbreek. Almal hier gaan verdomp brand!” het sy geskree.

My seer het Raulene se seer geword. Sy het op en af geloop en gedink. “Eers moet jy by ’n dokter uitkom,” het sy moederlik gesê. Raulene het my help skoon aantrek. Haar vriendin van Fonteintjie het my kom optel en dokter toe gevat. Raulene het met ’n huilende Jess in haar arms in die gang gaan gesit en wag.

“Het jou dokter dan nie vir jou gesê om ses weke te wag voor seksuele omgang nie?” het die dokter gevra. Sy mond was mislik getrek, terwyl hy my bene verder uitmekaar stoot. “Nee, dokter verstaan nie,” het ek amper my mond verbygepraat.

Ek kon nie praat nie, daar was te veel op die spel. Kate … Jess … Danie … En die struggle om te survive het my mond toegesluit. My gedwing om onselfsugtig in stilte te sit en wag totdat hierdie vreemde krag, hierdie dief in die nag my klaar beroof het.

“Eina!” het ek geskree terwyl die dokter se handskoenhand my ondersoek het. “Ontspan,” het hy gesê. Ek kon nie ontspan nie. Jess se geskree in die gang het my gehinder.

“Jammer, Helena, ons sal jou terug teater toe moet vat. Wie was jou dokter tydens die bevalling?” het die dokter gevra. “Dokter van der Westhuizen,” het ek geantwoord.

Die huisdokter het sy foon opgetel, die klein staatshospitaaltjie op Springbok gebel en ’n kamer bespreek. Dit was ’n vinnige prosedure, maar baie seer. Maar niks het nog ooit so seergemaak soos dit wat vir my by Klaskat se paleis gewag het nie.

“Jy moenie swaar goed optel as jy skoonmaak nie. Word nou maar eers gesond daar onder.

Ek soek nie weer bloedspatsels op my vloer nie,” het Klaskat gesê terwyl ons van die hospitaal af terug huis toe gery het. “Dis reg,” is al wat ek gesê het.

“Daar is ’n paartjie van die Wes-Kaap wat vreeslik graag ’n babatjie wil hê. En ek dink jy is regtig te jonk om ’n ma te wees,” het sy begin. “Wat bedoel jy?” het ek benoud gevra. “Die papierwerk is reg, jy moet net teken. Hulle is mal oor haar,” het sy net voortgegaan.

“Watse papiere? Ek verstaan nie,” het ek angstig gevra. “Helena, die papierwerk vir Jessica se aanneming. Die mense is baie oulik en sal baie mooi na haar kyk,” het Klaskat ongeduldig geantwoord.

“Nee! Jessica bly by my. Sy is myne. Sy gaan nêrens nie!” het ek benoud begin praat. Die pyn in my onderlyf was skielik vervang met ’n seer wat my asem wou wegslaan. “Die paartjie het klaar deurgery. Moet nou nie vir my sê hulle het al die pad verniet gery nie?” het sy kwaad gevra.

“Ek gee nie om of hulle van die Noordpool af deurgevlieg het nie. Dis my kind. Hoe kan jy?

Jy’t my belowe ons kan by jou bly as ek stilbly en jou seun uitlos. Ek los jou seun uit. Ek doen alles wat jy my gevra het,” het ek begin snik.

“Jy is net so jonk, Helena. Ek sal vir jou matriek betaal en dan ook vir jou verdere studies. Jy is nie ’n dom kind nie. Jy kan enige iets word wat jy wil. Ek sal betaal. Teken net daardie papiere,” het sy gesê. “Ek weier,” het ek ferm gesê.

Die onbekende kar het voor die paleis gestaan. Ek het uitgespring, steeds seer, maar die dringendheid om my kind te sien en teen my bors te hou, het oorgeneem. Met ’n hol rug en my hand oor my maag het ek na die voordeur gehardloop.

“Helena, dankie tog jy is hier,” het Raulene verlig gesê. Jess was veilig in haar arms. Ek het Jess saggies gevat. “Mamma is terug,” het ek gehuil. “Sy is pragtig,” het die skraal vroutjie op die bank langs haar rooikopman gesê.

“Sy is myne. Sy is my kind,” is al wat ek gesê het. Soos ek deur die kombuis na die agterdeur geloop het, het ek Raulene se stem in die agtergrond gehoor. “Sy gaan nie daai papiere teken nie. Julle kan dit maar op julle voorkoppe skryf.”

“Moenie worry nie, ek’t mos vir jou gesê ek sal mooi na Jess kyk. Sy was heel happy by auntie Raulene,” het Raulene gesê en Jess se blonde haartjies gestreel. “Ek was so bang vanaand. Ek was so bang iemand vat my kind,” het die huil weer in my losgebreek.

“Niemand gaan jou kind vat nie,” het Raulene my verseker. Daardie aand het ek en Raulene langs mekaar op ’n enkelbed aan die slaap geraak met Jessica veilig tussen ons twee.

“Hoe was dit in Pella?” ruk Raulene my terug na die sementbankie. “Dit was goed,” is al wat ek sê terwyl my gedagtes steeds terug in die skadu van tyd beweeg. “Goed? Kon jy vir suster Felisa kry?” vra sy.

“Ja, ek het haar gekry. Maar sy is … nie Vlooi nie,” antwoord ek. “Vlooi?” vra Raulene.

“Vlooi het my baie geleer. Meer as suster Felisa se kloosterkoek-wyshede,” sê ek.

“Wie is Vlooi?” vra Raulene. “Ek weet self nie, Raulene. Ek dink sy was ’n spook. Sy is glo al ’n maand terug oorlede, maar ek het vanoggend nog met haar gepraat. Sy het vanoggend nog aan my geraak. Sy was yskoud. Sy was …” sluk ek my woorde terwyl ’n traan oor my gesig loop.

“Helena, jy praat nie sense nie,” frons Raulene. “Niks maak sense nie, Raulene. Ek wou jou nog vra oor Klaskat se oorbelle,” sê ek. Raulene se oë gaan staan stokstyf in haar kop. Dit lyk of sy ’n spook gesien het. “Wat van haar oorbelle?” maak Raulene haar keel skoon.

“Wag, ek wil jou iets wys,” sê ek en haal die opgevoude prentjie uit my handsak. “Wie het dit gemaak?” vra sy. “Pietertjie. Jy onthou mos van Pietertjie?” vra ek. “Die kokerboom-outjie?” vra Raulene onseker. “Ja, my kokerboomboetie,” antwoord ek.

Raulene kyk na die prentjie tot ’n traan oor haar wang loop. “Helena, kan ek wanneer al hierdie dinge met Jess nou beter is, by jou kom kuier? Dan vertel ek jou alles wat ek kan onthou,” vra sy.

“Nee, sê my nou,” smeek ek. “Ek moet gaan. Maar ek sien jou gou weer. Ek is lief vir jou, vriendin. Moenie van die ander mense vertel van hierdie Vlooi-mens nie. Ek glo jou. Maar die ander mense mag jou dalk in ’n crazy-huis gooi,” sê sy voor sy loop.