Hoe gemaak met negatiewe emosies?

Kyk nou die video: “Verwelkom emosies”.

As ouers trap ons gereeld in die slaggat om dinge vir ons kinders “beter te probeer maak”. Ons wil dit fix. Die probleem van die maatjie wat lelik is, die kosblik wat by die huis vergeet is, die plakkaat wat lyk of dit deur die hond gedoen is, die vulkaan vir die mondeling wat nie ontplof nie …

Ons hang soos helikopters oor ons kinders en is reg om te land, te help en tot hul redding te kom sodra hulle sukkel of iets loop verkeerd of is nie perfek nie. Helikopter-ouerskap help egter niemand nie – nie vir ons nie en beslis nie ons kinders nie. Dit maak almal net angstig en leer kinders dat daar geen plek in die lewe is vir foute, mislukkings en terugslae nie.

Wat ons oefen as ons empatie oefen, is juis dit. Soms is daar nie ’n antwoord of ’n ding wat daardie gevoel van teleurstelling, frustrasie of irritasie nou dadelik gaan beter maak nie. Somtyds moet ons net vir ’n rukkie sit met daardie yucky gevoel, daardie frustrasie, daardie angs, daardie irritasie.

Brene Brown stel dit goed: “Rarely can a response make something better. What makes something better is connection.”

Ek sal nie gou die dag vergeet wat my Cara-kind, toe agt jaar oud, vir my ’n lewensles in empatie gegee het nie. Sy dra ’n voorskrifbril vandat sy drie jaar oud was. Aanvanklik het ons elke ses maande oftalmoloog toe gegaan vir toetse en ’n nuwe bril. Die voorafgaande paar jaar het ons dit een keer ’n jaar gedoen. Sy haat dit. Sy haat die druppels wat ingegooi word en haar oë laat brand. Sy haat die oogtoetse en tydperke wat sy sonder haar bril moet wees en die hele “die aandag is op my”-gedoente. Boonop is sy ’n sensitiewe kind wat daarvan hou as dinge geroetineerd is, voorspelbaar is en dieselfde bly.

Ander kinders sal mal wees daaroor om ’n nuwe bril te kry en ’n funky raam te kies, maar vir Cara is dit aaklig. Die hele ervaring is vir haar angswekkend en stresvol.  Dit was ná een van hierdie oogafsprake dat ek ernstig op die vingers getik is deur is my agtjarige. Sy het haar huil gesluk en alles mooi in bedwang gehou tydens die oogondersoek en die kies van ’n nuwe raam. Maar toe ons in die kar klim, het die trane gespat.  Tussen die trane deur het sy my laat belowe dat as ons by die huis kom, ek sal gaan sit sodat sy vir my ’n oudio-storie kan speel.

By die huis gekom, het ek gaan sit soos ek “beveel” is en na die storie geluister. Teen die tyd wat die storie klaar was, het Cara ook al bedaar en kon sy rustig met my gesels en haar gevoelens deel. “Hoor, Mamma,” het sy gesê en na die storie verwys, “hou op om my probleme te probeer oplos en vir my te sê dis oukei. Vir my is dit nie oukei nie!”  Weereens, soos baie dae voor en na hierdie dag, het ek in die fixing-slaggat getrap. Die ergste is dat ek nogal trots was op myself daardie dag. Ek het gedink dat ek mooi kalm gebly het en haar met begrip en empatie ondersteun het.

Toe ek sien hoe ongelukkig sy raak, het ek haar gou vertel hoe gelukkig sy is dat sy ’n dokter het wat haar oë kan toets, mooi nuwe rame het waaruit sy kan kies en ’n mamma het wat vir ’n nuwe bril sal betaal.  Wat Cara beleef het en waarskynlik tussen die reëls gehoor het, is:

“Sien tog jou seëninge raak, my kind, en hou op om te kla oor alles. Daar is kinders wat nie so bevoorreg is soos jy nie …” Nêrens in my interaksie met haar het sy werklik ervaar dat sy gehoor en aanvaar word en geliefd is nie.

Toe sê sy dit wat ek net weer moes hoor: “Partykeer wil ek hê Mamma moet net luister.”

Met bostaande voorbeeld wil ek nie sê dat ons kinders nie dankbaarheid moet leer nie en dat dit reg is om oor alles te kla nie. Natuurlik nie. Daar is dae dat ek die gekla vinnig stopsit, ons dankbaarheidsjoernaal uithaal en hulle aanmoedig (dalk meer dwing!) om drie goed op te noem of neer te skryf waarvoor hulle dankbaar is.

Maar dan is daar ook dae en tye wat ons moet besef “connection wins”.  Dit is in daardie tye wat dit van baie meer waarde is om ons kinders op ons skoot te tel, om hulle vas te druk of in die oë te kyk en te sê: “Mamma kan sien dit is vir jou swaar”, “Ek is jammer dat dit vir jou sleg is”, “Ek weet nie wat om te sê of hoe om dit beter te  maak nie, maar ek is hier”, “Ek is bly dat jy vir my gesê het”, “Ek sal altyd hier wees” (tipe van ’n “I’ve got your back”- respons). Dit is wanneer ons so reageer dat ons kinders werklik empatie sal ervaar – sal ervaar hoe dit voel om gehoor, geliefd en aanvaar te word.

Empathy is a skill that strengthens with practice and encourages people to both give and receive it often. By receiving empathy, not only do we understand how good it feels to be heard and accepted, we also come to better understand the strength and courage it takes to be vulnerable and share that need for empathy in the first place. – Brene Brown