Geheime oor kommunikasie

Drie geheime as jy en jou kind gesels:

  1. Wees doelgerig. Stop, luister en reageer elke keer as jou kind vir jou ’n vraag vra. Sit die foon neer, draai jou lyf na jou kind toe en wys dat jy werklik belangstel in dit wat hy vir jou wil sê.
  2. Delf dieper. As jou kind in staat is om die gesprek aan die gang te hou, moenie ophou nadat hy iets gesê het nie. Vra nog ’n vraag. Daar is altyd nog meer om te hoor as jy aanhou luister. Vra vrae soos: “Hoe het jy gevoel toe dit gebeur het?” “Kan jy vir my meer vertel?” “Wow, hoekom dink jy so?”
  3. Moenie ’n oordeel vel nie. Selfs al stem jy nie saam met wat jou kind sê nie, moenie dadelik jou mening gee nie. Daar is niks wat ’n kind so vinnig laat ophou praat soos ’n ma wat hom alewig reghelp nie. Prys jou kind omdat hy die moed gehad het om sy gedagtes en gevoelens te deel.

Aandete is ook ’n heerlike tyd om te gesels oor vandag en die dag van môre. Moenie geslote vrae vra waarop jou kinders net “ja, nee, miskien” kan antwoord nie, soos: “Was dit ’n lekker dag?” Vra eerder oop vrae soos: “Wat het vandag gebeur wat jou gelukkig laat voel het?” Of: “Moes jy vandag ’n moeilike besluit neem?”  Ons kan selfs vir ons kleuters hierdie tipe vrae vra. Al is hulle antwoorde nie realisties nie. Dit gaan oor die konneksie. Die verhouding. Die samesyn. Die gesprek. Die feit dat jou kind veilig genoeg voel om dit wat hulle dink en voel met jou te deel. Hierdie tipe vrae kan in ’n lang, diep gesprek ontwikkel waartydens jy nie net vir jou kind lewenslesse kan leer nie, maar ook ’n kans gegee word om te hoor wat werklik in sy hart omgaan.

In ’n groot langtermynstudie in Amerika oor die tydperk 1981-1997 oor gesinsaktiwiteite (Hofferth, 1999) is bevind dat daar ’n 33% vermindering in gesinsetes was met ’n byna algehele verdwyning van gesprekke in die gesin.

Wanneer dinge moeilik raak om die etenstafel

 

Soms kan tye om die etenstafel uitdagend raak, veral as ons moeg en uitgeput is na ’n lang dag. Almal wil gelyk praat, die een val die ander in die rede en dit raak ’n kompetisie oor wie wanneer kan praat en wie eerste sy sê kan sê. Of die teenoorgestelde kan gebeur – niemand is lus vir praat nie! Wanneer dit gebeur, is die lepeltegniek wonderlik om te gebruik. Gebruik ’n lepel of enige ander voorwerp wat in elk geval op die tafel is en gee dit vir die een wat praat. Terwyl jy die lepel in jou hand het, kan jy praat en dan moet die ander net luister. Sodra jy klaar gepraat het, kan jy die lepel in die middel van die tafel neersit of vir iemand anders gee, wat dan kan praat. So maak ons beurte om te praat en te luister.

Om om verskoning te vra vir iets wat ons verkeerd gedoen het (of dit nou per ongeluk of met opset was), is moeilik, maar broodnodig. Dit is goed vir ons kinders om te sien dat ons ook foute maak en nie perfek is nie. Dit is goed vir ons kinders om te sien hoe ons dan tot insig kom, besef dat ons verkeerd opgetree het en om verskoning vra.  En dan is dit goed vir ons kinders om te leer hoe om te vergewe.

In ons huis oefen ons gereeld die vier stappe van jammer sê:

  1. “Ek is jammer dat …
  2. “Dit was verkeerd omdat …
  3. “Volgende keer sal ek …
  4. “Sal jy my vergewe?”

Hierdie stappe is ontsaglik waardevol, want sodoende is jou “jammer” nie net ’n oppervlakkige woord wat gesê word nie.