Geheim no. 11: Fokus op julle interaksie eerder as julle verskille

’n Paar dekades gelede het die kenners ontdek dat sielkundige berading (díe soort wat net na ’n mens se binnewêreld kyk) nie behoorlik kan verduidelik waarom mense so dikwels sukkel met verhoudings nie. Hulle het mettertyd besef dat die probleem nie noodwendig in die persone self lê nie.

Julle irriteer mekaar bloot omdat julle julleself is

Dit gaan immers in ’n huwelik oor ’n verhouding tussen twee mense en die interaksies wat in hierdie verhouding plaasvind. Daarom word die probleme dikwels geskep deur die manier waarop hulle optredes mekaar beïnvloed, sonder dat hulle dit doelbewus beplan. Dis net deel van die verhouding.

Dis dus duidelik dat daar nie net in een of albei van die huweliksmaats se menswees na die oorsaak van die probleem gesoek moet word nie. Trouens, dis meestal die interaksie tussen hulle wat die probleem skep en waarmee gewerk moet word – nie die persone self nie.

Daarom is dit belangrik om noukeurig te kyk na die interaksies tussen julle twee. Jy moet begin ontdek hoe jou natuurlike funksioneringstyl die lewe vir jou man ongerieflik maak. En omgekeerd.

Wanneer jy dít begin insien, sal jy kan glimlag oor die onnodige spanning wat julle op julleself plaas. Dan sal jy hom beter kan verstaan, sy andersoortigheid beter kan hanteer en julle verhouding beter kan bestuur.

Kom ons kyk na twee voorbeelde:

As jy ’n Motiveerder is, sal jy ’n reis na Mosselbaai heeltemal anders beplan as jou man wat ’n Spesialis is. Jy sal dink oor hoe lekker julle in die motor kan kuier, watter genotvolle dinge julle alles langs die pad kan doen en hoe julle daarvan ’n lekker ervaring kan maak.

Vir hom sal dit anders wees. Hy sal noukeurig beplan wanneer julle waar moet stop, watter spoed hy moet ry om betyds anderkant te kom en hoe julle kan seker maak dat niks langs die pad verkeerd loop nie.

Net omdat julle julle eie self is, gaan julle mekaar dan verkeerd opvryf. Wanneer jy voorstel dat julle by ’n padstalletjie moet stilhou, sal hy beleef dat jy sy skedule omvergooi. Gevolglik sal jy (net deur jouself te wees) hom frustreer.

Die omgekeerde is egter net so waar. Terwyl hy ingestel is om hierdie taak (die reis na Mosselbaai) effektief af te handel, sal hy jou frustreer met sy rigiedheid. Ek bedoel: watter verskil sal dit nou maak as julle 20 minute later in Mosselbaai aankom?

As jy ’n Berader is, sal dit vir jou moeiliker wees om die kinders te dissiplineer. Jy sal hulle kant ook wil hoor. Om te verseker dat hulle nie met jou ontevrede is nie, sal jy makliker toegee aan hulle versoeke. Selfs al maak dit die lewe vir jou ongerieflik.

As jou man ’n Direkteur is, sal dit vir hom heeltemal anders wees. Hy sal weet waarom hy die kinders straf, watter doel hy daarmee wil bereik en dit daarom op ’n manier uitvoer dat hy sy doel bereik. Maak nie saak hoe ongelukkig die kinders oor sy optrede is nie.

Die gevolg sal egter weereens wees dat julle die lewe vir mekaar ongemaklik maak. Jy sal voel dat hy onnodig konflik skep – iets wat vir jou moeilik is om te hanteer! Of jy sal voel dat hy byna onmenslik klinies met die kinders werk en nie hard genoeg probeer om sy verhouding met hulle reg te hou nie. Hy sal weer beleef dat jy nie weet wat jy wil hê nie, dat jy nie streng genoeg is nie en dat die kinders jou manipuleer.

Sien jy? Julle maak die lewe vir mekaar moeilik bloot deur julleself te wees. As julle hierdie werklikheid nie verstaan nie, skep dit genoeg aggressie om mekaar in die hare te vlieg of van mekaar te onttrek.

Wanneer julle mekaar se unieke funksioneringstyle egter leer ken, die effek verstaan wat dit op julle verhouding het en mekaar meer ruimte gee om julleself te wees, sal dit makliker raak om met mekaar se vreemdsoortigheid saam te leef.

Probeer jou bes om jou man te verstaan

Sodra jy erken dat God jou maat op ’n unieke manier gemaak het en jy hom baie graag beter wil verstaan, sal dinge wat jou in die verlede kwaad gemaak het ’n ander betekenis kry. Jy sal skielik, met verligting en begrip, kan sê: “O, dis net omdat hy homself is.” Jy sal kan ontspan en minder geneig wees om sy optrede te evalueer asof dit teen jou gemik is.

Dit sal jou ook help om te verstaan hoe jou eie optrede die lewe vir hom ongerieflik maak. Daarom sal dit vir jou makliker word om sy funksioneringstyl in ag te neem, met die gevolg dat die spanningsvlakke in julle verhouding drasties sal verlaag.

Die probleem met die unieke funksioneringstyle is dat julle mekaar noodwendig verkeerd gaan opvryf. Bloot omdat julle is soos wat julle is – sonder dat julle moedswillig is of die lewe vir mekaar moeilik probeer maak. Daarom is dit nodig om ’n paar geheime te leer wat julle kan help om beter te sinchroniseer. Uiteindelik sal dit jou help om weer jou maat se menswees op ’n nuwe manier te ontdek en te leer om hom te aanvaar soos God jou in Christus aanvaar.

Kliek hier vir ekstra inligting oor geheime wat julle sal help om beter te sinchroniseer.