Na gelang van die oorsaak van jou depressie, sal dit nooit heeltemal verdwyn nie. Behandeling help om die siekte beter te bestuur, nie om jou heeltemal gesond te maak nie. Die depressievegter moet weer toepaslike emosies ervaar. As slegte dinge gebeur, moet jy kan sleg voel; as goeie dinge gebeur, moet jy kan goed voel.
Wat is die moontlike redes?
’n Hele paar ander mediese toestande kan met depressie verwar word. Jy en jou sielkundige moet weer versigtig en volledig deur al jou simptome gaan om seker te maak of dit wel major
depressiewe siekte is.
Depressievegters wil nie graag pille gebruik nie, daarom neem hulle die antidepressant-medikasie ongereeld of verlaag self die dosis. Sê vir jou dokter as iets omtrent die behandeling jou pla sodat hy ’n alternatief kan aanbeveel indien nodig. Optimaliseer of verander die medikasie, maar slégs onder toesig van jou mediese dokter of psigiater.
Wanneer die behandeling nie die gewenste uitwerking het nie, moet jy en jou dokter of psigiater dit oorweeg om die dosis tot die daaglikse maksimum te verhoog.
Dit kan ’n paar weke duur voordat die medikasie behoorlik begin werk. ’n Pasiënt moet soms tot ses weke lank ’n bepaalde dosis medikasie gebruik voordat daar met sekerheid gesê kan word dit werk nie.
Daar is ander medikasie wat vir ander toestande gebruik word wat vir die gemoed nadelig kan wees. Medikasie vir hoë bloeddruk is ’n voorbeeld hiervan. Kortisoon moet verkieslik deur depressievegters vermy word. Jy en jou dokter of psigiater moet saam deur die lys gaan van alle medikasie wat jy gebruik (waaronder voedingsaanvullings en oor-die-toonbank-medisyne) om seker te maak dit het nie ’n nadelige invloed nie.
Middelmisbruik soos alkohol en ander (dwelm)middels
Depressievegters is meer geneig om alkohol en ander middels te misbruik. As jy enige middel soos alkohol, dagga, pynpille, eetlusdempers of iets anders gebruik, móét jy dit met jou dokter bespreek. Die gebruik van sulke middels sal jou behandeling benadeel en dit kan selfs met die antidepressant wat vir jou voorgeskryf word in wisselwerking tree. Jou dokter of psigiater moet jou dan bystaan om by die regte hulp uit te kom.
Hou leefstylfaktore die siekte in stand?
Slaap jy genoeg? Oefen jy gereeld? Werk jy hanteerbare ure? Antidepressante is ’n baie belangrike deel van die behandeling van depressie, maar dis nie ál wat nodig is nie. Maak seker dat jy die siekte op alle vlakke die stryd aansê.
Kyk nou die video: “Snellers wat my depressie weer laat opvlam”
In die praktyk:
Wees versigtig om te oorreageer wanneer jy weer van die depressiesimptome begin ervaar. Die pluspunt is dat jy vroeg genoeg van die simptome bewus raak en vinniger aandag daaraan kan gee voordat jy weer dieper in die swart gat wegsak. Hoe frustrerend dit ook al is, moenie moed opgee nie. Die oplossing is daar. Wees net geduldig en moenie dit alleen probeer hanteer nie.
Kliek hier vir jou selfdoen-werkbladsye: “Ek bly depressief”