Kyk nou die video: “Wees Beskikbaar”.
Elke keer as jy met jou kind connect, gebeur die volgende:
Interaksies is belangrik, maar hoe doen ons dit? Hoe bou ons verhoudings as ons tyd min is, as ons energie uitgeput is, as ons stresvlak hoog is, as ons geld min is en as almal in die huis verskillende temperamente, opinies en ouderdomme het? Sterk verhoudings kom nie vanself nie en word nie oornag gevorm nie. Dit alles neem tyd. Die verhouding met ons neem tyd, doelgerigtheid en die regte bestanddele. In ons interaksies met ons kinders is dit goed om die 3 B’s in gedagte te hou:
Streef na ’n balans tussen oorbeskikbaarheid en onder-beskikbaarheid. Somtyds trap ons in die lokval en is ons té beskikbaar, amper versmorend, en ontneem ons ons kinders die kans om self besluite te neem, self probleme op te los en dalk self foute te maak. Tog moet ons daarteen waak om afgestomp en onbetrokke te wees. In albei gevalle is dit nadelig vir jou kind se ontwikkeling en benadeel dit julle ouer-kind-verhouding. Kinders ondervind meer stres wanneer ouers konstant nie beskikbaar is nie of versmorend is. Dit is belangrik om beskikbaar te wees in wat jy doen, wat jy voel en wat jy dink. Sit jou foon neer en skuif fisies nader aan jou kind. Maak seker dat jy hom kan sien en hoor. Wees doelgerig en vergeet vir eers van jou doenlysie. Ons praat hier net van ’n oomblik, daardie paar minute voor skool, wanneer julle ná skool in die kar ry, die tyd saam om die etenstafel en geselstyd voor jy jou kind ’n nagsoentjie gee. Jy kan nou-nou weer aandag gee aan die dinge wat op jou lysie staan, maar nou is dit jou konneksie met jou kind wat die belangrikste is.
Kyk nou die video: “Maak beurte”.
Oor-en-weer interaksies tussen jou en jou kind is ’n belangrike manier waarop sy brein ontwikkel. Navorsers het bevind dat interaksies met ons kinders die argitektuur van hulle brein verander. Gedurende ons interaksies met ons kinders maak ons beurte – dan doen jou kind iets, dan doen jy iets, dan sê jou kind iets, dan sê jy iets. Dit is ’n heen-en-weer dans van gebare, gesigsuitdrukkings en woorde wat nuwe breinkonneksies vorm. Maar wees bedag op wat jy doen. Ons is somtyds gou om ’n speelding (of ’n skerm) in ons kind se hand te stop, of om ’n voorstel te maak van wat hy moet doen of waarmee hy moet speel, in plaas van om terug te sit en te kyk waarmee hy in elk geval besig is, waarin hy belangstel. As ons dit doen, ontneem ons ons kinders belangrike breinbou-oomblikke, soos om self die probleem op te los deur aan iets te dink om te doen. Wag ’n bietjie, staan terug, kyk en luister. Nog lank voor jou baba kan praat, wys hy vir jou waarin hy belangstel. Wat vang sy oog? Waarna wys hy? Wat geniet hy om te doen? Sommige kinders is geïnteresseerd in hoe goed werk en sal aandagtig na iets kyk wat draai of beweeg of ’n geluid maak in ’n poging om te kyk hoe dit werk. Ander kinders geniet beweging en is op hulle gelukkigste as hulle buite op die trampolien of ’n swaai of ’n fiets is, terwyl ander kinders minder beweeg en meer geïnteresseerd is in die grassies, plante, blomme en bome. Deur jou kind dop te hou en te kyk wat hy geniet om te doen, leer jy hom ken en kan jy daardie belangstellings en aktiwiteite gebruik om ’n konneksie te vorm en julle verhouding te bou. Wanneer ons beurte maak en interaksies met ons kinders het, begin deur eers ’n bietjie terug te hou. Kyk en wag en luister. Gee jou kind die eerste beurt. Jy volg deur te reageer op dit wat jou kind sê en doen. As jou kind hande klap, dan klap jy hande; as jou kind lag, dan lag jy. Of dalk spring jou kind op die trampolien. Dit is moeilik, want nie almal van ons wil of kan saam met ons kinders spring nie. Gaan staan dan langs die trampolien, sit jou hande op die trampolien en hop, hop, hop met jou hande op die trampolien. Die blote feit dat jy naby die kind is, na hom kyk en op een of ander manier deel raak van sy spel, is genoeg om sy breinontwikkeling te stimuleer en julle verhouding te bou.
Kinders se breine word gebou en ons verhouding met hulle word versterk wanneer ons dit wat ons kinders alreeds doen, uitbrei. Ons kan dit doen deur die interaksie langer uit te rek, deur vrae te vra wat hulle moet laat dink of uit te brei op wat hulle sê of doen. Vra vrae soos: Wat? Waarom? Wat? Hoe? en Hoekom? As jy vra: “Hoekom dink jy so?” of “Hoe laat dit jou voel?” bou en versterk jy jou kind se brein en julle verhouding. “Ek wonder …?” vrae is ook ’n wonderlike tegniek om te bou en te versterk.
Vra vir jou kind: “Ek wonder wat ons moet aantrek as dit skielik nou vriesend koud buite raak?” “Ek wonder wat ons sal doen as ons geen speelgoed het om mee te speel nie?” Bou en versterk deur jou dom te hou. As jou kind vra hy wil die boek lees wat bo op die boekrak staan, dan sê jy: “Sjoe, dis hoog. Ek kan nie daar bykom nie. Hoe moet ons nou maak?” Natuurlik kan jy dit bykom, maar deur jou dom te hou, rek jy die interaksie ’n bietjie langer uit en bou jy jou kind se probleemoplossingvaardighede.
Met jou daaglikse konneksie-oomblikke vra jou af:
Kliek hier vir ekstra inligting oor: “‘Vertel my …’ vrae om te vra”.