[DENNEBOME] LES 16 – Nog dinge wat denneboompies geleer moet word

Hier volg nog ’n paar lewensbeginsels wat spesiaal aandag moet kry wanneer dit by denneboomkinders kom.

Om reguit te sê wat hulle dink

Denneboompies is meesterskimpers. Wanneer my dogtertjie wil weet of ek lekkergoed gekoop het, neem dit ongeveer vyf minute, want die vrae en opmerkings is al om die bos:

“Mamma was seker by die winkel, want ek sien baie sakkies. Dalk het Mamma net brood en melk en sulke goed gekoop. Nou het Mamma al die koue goed in die yskas gebêre so daar is net goed vir die badkamer of die koskas in die sakkies oor.

“Ek kan nie sien wat daarin is nie – dit is te hoog op die rak. Gee Mamma om as ek loer wat daarin is? Ek sal dit help wegpak, behalwe as daar dalk ’n geheimpie of ’n verrassing in is (ek neem steeds nie die aas nie!) of is daar iets in wat ek en Boeta nie mag sien nie? Iets wat nie baie gesond is nie? Dalk iets wat ’n mens nie voor ete mag kry nie?”

Soms is hierdie lang aanloop snaaks, maar dit maak ’n mens ook ongeduldig met tye. Sy moes leer dat dit veilig is om sommer te sê: “Mamma, het Mamma lekkertjies in daai sakke waarvan ek nou mag eet?”

Om ander mense se tydskedule te respekteer

Omdat dennebome ander mense se gevoelens in ag kan neem – beter as die roos- en palmbome – kan hulle gehelp word om te verstaan hoe belangrik stiptelikheid is vir hulle verhoudings met ander mense. Laatkommery dra ’n boodskap van disrespek, ongeërgdheid of swak selfdissipline oor, en kan mense baie negatief teenoor jou maak.

Om tydbestuur te leer, gaan denneboompies vroeg in hulle lewens wekkers en oorlosies moet kry wat hulle verplig moet word om te gebruik. Laat die denne­boompies raai en dan meet hoe lank take hulle neem sodat hulle hulle tyd meer realisties kan beplan.

Ek spot altyd my denneboomman wat net vyftien minute toelaat, ongeag waarheen hy moet ry. As hy nog ’n kind was, het ek hom gedwing om te meet hoe lank dit regtig in spitsverkeer neem om by al sy bestemmings te kom. Party van hulle is amper ’n halfuur ver.

Ongelukkig vir my is hy 50% palm­boom met die geluk van sewe prinse, en sal hy die dag wat ek hom die tyd laat meet, onge­twyfeld al die verkeersligte groen tref …

Om op te hou om pligte uit te stel

Ons moet ons denneboompies leer hoe om hulleself aan te skakel. Hulle kan nie vir altyd afhanklik wees van ’n hond wat op hulle hakke blaf of ’n polisieman wat oor hulle skouer loer nie. Hulle moet innerlike motivering leer. Dit is ’n uitdaging wat tyd gaan neem, daarom moet ons vroeg begin.

Leer jou denneboompie om die vooruitsig na die plig in die oog te hou: Onthou, hoe gouer jy gaan bad, hoe gouer kan jy aangaan met jou rekenaarspeletjie.

Leer vir denneboompies ’n strategie om die take wat voor hulle lê in kleiner dele op te deel sodat hulle nie so wegskram van daardie eerste tree nie. Laat hulle vir hulle­self belonings kies vir take wat betyds afgehandel is.

Om keuses te maak, en dan aksie te neem

Dennebome is bang vir keuses omdat hulle wonder of hulle nie dalk ’n fout gaan maak of dalk nie aan alle invalshoeke gedink het nie en ’n beter keuse kon gemaak het.

Dit maak outomaties van hulle stadige besluitnemers. Soms maak dit dat hulle hoegenaamd nie kan besluit nie. Ons kan dit vir hulle makliker maak deur hulle nie te veroordeel of te verwyt vir verkeerde keuses nie, want as ons dit sou doen, word hulle al hoe versigtiger.

Wanneer denneboompies ’n besluit geneem het, moet ons hulle aanmoedig om dadelik te begin werk aan die plan. Vra vrae op ’n kalm en belangstellende manier: “Ek hoor jy het besluit jy gaan hierdie kwartaal mik vir ’n B in Wiskunde. Pappa vertel my jy het ’n plan om dit te bereik. Vertel my bietjie, want ek wil jou graag ondersteun.”

Om selfgeldend te wees en respek af te dwing

Om konflik te vermy, gaan lê denneboompies maklik sodat ander oor hulle kan loop. Ons moet ons denneboompies daarop wys dat dit mense respek vir hulle laat verloor.

Hulle mag vriendelik maar ferm aandring om regverdig behandel te word: “Ek hou nie daarvan dat jy my boek leen sonder om te vra nie. Jy sal jou eie werk moet doen, want jy kan nie meer my werk afskryf nie.”

Denneboompies word maklik geboelie. Die rede daarvoor is ondere andere dat die boelie weet dat hulle waarskynlik nooit sal terugveg nie vanweë hulle verdraag­same passiwiteit, behalwe wanneer hulle tot by hulle berugte breekpunt gedryf word, natuurlik.

Hulle huil makliker as die roosboompies, hulle het nie gewoonlik ’n groot groep maatjies by hulle soos ’n palmboompie nie, wat van hulle ’n mak­liker teiken maak, en hulle praat nie so graag nie sodat hulle dalk nooit vir iemand van die geboelie gaan vertel nie.

As ons uitvind dat ons denneboompies deurloop, kan ons hulle op ander maniere leer selfgeldend wees:

  • Kies mense wat jou kan en wil bystaan teen die boelie – ’n onderwyser, jou maats of ander slagoffers wat te bang is om alleen teen die boelie op te staan.
  • Staan altyd stewig regop en kyk die boelie in die oë. Moenie huil of weghardloop as jy dit kan help nie – dit gee vir die boelie rede om jou weer as sy slagoffer te kies.
  • Sê baie duidelik van watter optrede jy nie hou nie, en nie gaan toelaat nie: “Jy mag nie my snoepiegeld vat nie. Hou op om dit te doen. Ek gaan nie meer net huil of weghardloop nie.”
  • Vra die ander maats of volwassenes om te help, as die boelie voortgaan met sy gedrag. Vertel altyd vir iemand, totdat iets aan die boelie gedoen word.
  • Moet nooit voel jy is skuldig nie. As niks anders werk nie, skree baie hard en kwaai (dis anders as huil)! Dit bring gewoonlik die regte mense nader om jou te help en dit vestig die aandag op jou in plaas van op die boelie. Dit is nie wat hy wil hê nie en sal hom volgende keer twee keer laat dink.

Om leiding te neem wanneer dit nodig is

Denneboompies sê graag agterna dat hulle kon sien iets gaan nie werk nie, maar wou nie betrokke raak nie. Hulle dink dalk leierskap beteken altyd om jou kop in die bynes te druk.

Leer hulle dat leierskap verskillend kan lyk in verskillende situasies. Ons tipiese beeld van ’n leiertjie wat almal met ’n harde stemme­tjie rondstuur en aanhits, is maar net een beeld.

Verduidelik vir jou denneboompie haar unieke leierskapstyl, naamlik dat sy mense kan laat saam­werk en die groter prentjie kan sien, kalm kan bly en nie in die klein dingetjies bly vaskyk nie. Moedig haar aan om op daardie manier betrokke te raak wan­neer sy iets waardevols kan bydra.

Om te waag, verandering aan te gryp en nuwe dinge te probeer

Ons moet dit leer doen sonder om te druk. Dit beteken dat ons al ons kinders se pogings moet aanvaar, al misluk hulle. As hulle ooit voel dat ons hulle verwerp of teleurgesteld is wanneer hulle faal, wil hulle nie weer iets waag nie.

Help hulle om te verstaan waarom veranderinge en risiko’s hulle so bang maak sodat hulle beheer kan neem oor daardie emosies. Elke keer wanneer hulle in iets nuuts slaag, ’n verandering of risiko oorleef, en die beste daarvan maak, moet ons hulle daarvoor prys.

Om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle geluk

Denneboompies kan soms sit en wag dat die lewe met hulle gebeur, en wanneer hulle dan nie hou van wat gebeur nie, raak hulle baie morbied. Hulle voel gou dat die lewe hulle iets skuld, en neem dan ’n slagofferhouding in.

Ek dink Jona was ’n denneboom. Te bang vir die konflik met die Assiriërs in Ninevé, en toe maar al te gou om homself in die see te laat gooi.

Toe hy later onverdiend die skadu van die komkommerplant geniet, het dit maar net reg gevoel, maar toe die wurm die plant laat verwelk, was hy baie onvergenoegd. Die Here moes hom daarop wys dat hy niks gedoen het om die plant te laat groei nie, en daarom nie die reg het om daaroor te kla toe dit wegge­neem word nie (Jona 4:3-11).

Op dieselfde manier moet denne­boompies verstaan dat niemand hulle iets skuld net omdat hulle “daar” is nie. As hulle sukses wil behaal, gaan hulle hard daarvoor moet werk.

Ons denneboompies leer die beste wanneer …

  • hulle kan kyk hoe ander iets doen
  • daar tyd en ruimte vir foute en tweede kanse is
  • hulle saam met iemand die taak uitvoer
  • ons op die proses eerder as die eindresultate fokus
  • ’n groot taak in realistiese kleiner stappe verdeel is
  • hulle goeie verhoudinge met al die betrokkenes het
  • die ouer bereid is om ondersteuning sonder kritiek te gee
  • die ouer of onderwyser kalm en rustig is
  • hulle nie voor ander hoef te waag nie
  • hulle alleen kan werk indien hulle dit verkies
  • hulle ’n rolmodel het in wie hulle absolute vertroue het.