[DENNEBOME] LES 15 – Wat denneboompies by jou moet leer

Hier is van die lewensbeginsels waarin denneboompies hulle ouers se doelgerigte leiding nodig het.

Om luiheid te oorwin wanneer daar belangrike werk is

Denneboompies het soms ’n ferm stootjie nodig wanneer hulle nie hulle regver­dige deel doen nie. Ons moet soms vir hulle verduidelik hoe ander mense voel wanneer iemand in die groep op ander se rug ry en nie sy of haar kant bring nie.

’n Denneboompie is baie soos ’n opwenspeelding – bereid en in staat om te beweeg, maar nie vanself nie!

Denneboompies sien altyd die taak voor hulle as ’n berg. Ons moet hulle leer dat hoe gouer jy die eerste tree gee, hoe gouer kom jy bo uit.

Dit help om hulle te leer om ’n taak in kleiner takies op te deel, ’n tyd aan elkeen toe te ken, en so seker te maak dat die taak nie hulle hele dag bederf, soos hulle vrees dit kan nie. Die bad van die hond voel soos die einde van die wêreld.

Die denneboompie kla dat dit ’n uur gaan neem, totdat dit byvoorbeeld so opgedeel is:

Probeer die emmer, skottel, tuinslang, borsel, sjampoe en ou handdoek binne drie minute op die grasperk uitgepak hê; tap binne drie minute die water in; smeer die poedeltjie seep, en was dit vinnig af in die volgende drie minute; vryf met die handdoek vir 100 tellings, borsel vir 30 tellings en bêre die lysie benodigdhede van vroeër binne drie minute.

As jy dit kan regkry, neem die taak skaars ’n kwartier!

My denneboom-skoonpa sê altyd tong-in-die-kies: “Ek is mal oor werk. Ek kan vir ure kyk hoe ander mense dit doen.” Ek dink daar steek eintlik waarheid oor dennebome in sy woorde. Denneboompies fokus so op die mense dat hulle die werk miskyk.

Hulle moet soms net vriendelik gewys word op maniere om by te dra, en dan sal hulle dit graag doen. Hulle het gewoonlik nie ’n gesindheidpro­bleem wanneer dit by samewerking kom nie, hulle besef maar net nie dat die werkesels om hulle eintlik van hulle verwag om uit hulle eie te help nie.

In ’n konteks waar daar gewerk moet word, word denneboompies se toeskouerrol dikwels baie negatief deur die werkesels beleef. Dink maar aan die realiteitsprogram Survivor. Het jy al opgemerk hoe vinnig die hardwerkendes van die dierbare, rustige dennebome ontslae raak?

Wanneer iemand nie probeer vis vang of help bou aan die skuiling nie, word hulle fakkel gewoonlik eerste geblus, al is hulle ook hoe aangenaam.

Om hulleself te motiveer en klaar te maak

Wanneer ons denneboompies voor ’n taak vassteek, moet ons hulle help om motiveerders te vind wat hulle sal aanmoedig om die taak uit te voer. Ons mag maar openlike vrae oor motiveerders vra: “Wat sal dit vat om jou te motiveer om hierdie tafel klaar af te dek?” of “Wat sal dit kos (nie in rand en sent nie!) om jou betyds te laat opstaan?”

Aanvanklik beteken dit dalk dat ons ’n tasbare beloning gaan moet gee, maar ons kan dan onderneem om dit te doen vir die volgende week of twee, waarna hulle self met ’n ander voorstel moet kom.

Kinders kan ons dikwels verbaas deur oulike voorstelle wat nie duur, ongesond of buitensporig is nie: “Dit sal my help om die tafel af te dek as ek weet ek kan daarna ’n lekker glas melk drink.” (“Deal!”, sê ek!)

Ons mag aanvanklik ’n jong kind moet help deur allerhande voorstelle te maak. Begin baie basies sodat die belonings nie buite beheer raak nie.

As hierdie moti­veerders vir jou onopvoedkundig klink, onthou maar net hoe ons as volwassenes onsself beloon met allerhande bederfies wanneer ons ons belastingvorms ingehan­dig het, tandarts of ginekoloog toe gegaan het, die koskas reggepak het of uit­eindelik die lekkende dak herstel het.

Toe een van my boeke in die deurdrukfase (en ek amper by die opgeefase) was, het ek myself gemotiveer deur een episode van CSI te kyk vir elke vyf uur agter die rekenaar. Om sy eie motiveerders te leer ken, is ’n vaardigheid wat regdeur jou denneboompie se lewe van waarde gaan wees om hom deur sleurwerk te help.

Om emosies en behoeftes te verwoord en verduidelik

Denneboompies se emosionele woordeskat bestaan dikwels uit ’n baie klein repertorium: “Ek voel lekker. Ek voel nie lekker nie.” Meer as die basiese beskrywings soos bly, hartseer, bang en kwaad kry ’n mens nie maklik uit hulle nie.

Ons moet ons denneboompies leer om meer waarde te heg aan hulle emosies, en om dit meer akkuraat te verwoord, deur hulle emosies te beskryf wanneer ons dit waar­neem:

“Ek sien jy is ongelukkig. Dit lyk vir my jy voel verraai omdat jou maatjie jou geheim vir die hele klas vertel het. Jy was seker baie skaam. Dit laat ’n mens klein voel om so voor almal verneder te word.”

As ons met ons denneboompies konfidensiële gesprekke wil hê, gaan ons moet leer om stadig en geduldig met hulle te gesels. Ons moet min sê, en baie luister, versigtig trap op daardie dun ys.

’n Denneboompie klap die hartdeurtjie blitsig toe wanneer ons veroordelend, te nuuskierig, onsensitief of ondervragend oorkom. Ons moet baiekeer ongesiens by daardie deurtjie inglip om ’n kykie in die hart van ons denneboompie te kry.

Die sleutels wat daardie deurtjie oopsluit is rustigheid, aandag, tyd en ’n oopkop-ingesteld­heid. Ons moet stadig en versigtig reageer wanneer ons iets daar ontdek waarvan ons nie hou nie, anders kom ons môre by dieselfde deur net om te ontdek die slotte is vervang.

Denneboompies beantwoord baie vrae met “ek weet nie”, “nie eintlik nie”, “nogal” en die immergewilde “whatever”. Hulle kan ontwykend en vaag wees wanneer ons probeer uitvind wat hulle behoeftes is.

Toe ons denneboom­pie sewe geword het, was ons op toer oorsee, en sy kon geen maatjies na haar partytjie toe nooi nie. Sy was doodtevrede met die agt volwasse “partytjie­maatjies”.

Ons wou daarvoor opmaak deur baie spesiale geskenke te koop, maar ons kon geen wenslysie uit haar kry nie, want sy was so tevrede dat daar van haar gunstelinglekkergoed gaan wees, dat sy net skielik geen ander behoeftes kon identifiseer nie.

Ons moes haar deur die speelgoedafdelings van die een winkel na die ander neem sodat sy kon kyk en kyk tot iets haar belang­stelling prikkel.

Soms moet ons ons denneboompie so “deur die winkel neem” deur sleutelvrae oor hulle behoeftes te vra, want wanneer ons vra: “Het jy iets nodig?” gaan ons bes moont­lik hoor: “Nie eintlik nie.” of “Niks waaraan ek nou kan dink nie.”

Om by hulle waardes te staan of te val

Ons denneboompies heg soveel waarde aan vrede dat hulle ter wille daarvan sal stilbly wanneer ’n groep kinders iets doen wat teen hulle waardes indruis. Denne­boompies gee nie so maklik onder groepsdruk in as die palmboompies nie, maar hulle staan ook nie openlik daarteen op nie.

Hulle maak gewoonlik of hulle niks agterkom nie. Hulle staan net twee treë verder van die aksie af, maar hulle is ook te bang om heeltemal weg te loop, ingeval iemand hulle konfronteer.

So word hulle ongelukkig onskuldige slagoffers van die gevolge van ander kinders se stoutigheid. Denneboompies word saam met die kwaaddoeners gevang en raak dan baie ontsteld wanneer niemand wil glo hulle was regtig heeltemal on­skuldig nie!

Ons moet hulle van kleins af leer dat die heel belangrikste aanvaarding die Here s’n is. Ons moet vir Hom aanvaarbaar wees. Dit is ons, danksy die genade van Jesus se verlossingswerk vir ons.

Tweedens moet ons onsself aanvaar – iets wat ons net kan doen as ons ons waardes uitleef. Derdens kom die aanvaarding van mense. Diegene wat ons aanvaar op voorwaarde dat ons alles wat hulle doen, moet goedkeur of saamdoen, se aanvaarding is niks werd nie.

Om konflik en bakleiery met selfgelding te hanteer

Denneboompies vlug weg van bakleiery, verdedig nie hulleself nie, tree nie selfgeldend op nie en bly dikwels tjoepstil al gebeur lelike dinge met hulle. Dit is alles die resultaat van hulle vrees vir konflik of hulle onvermoë om konflik te kanteer. Ons moet hulle die waarde van konflik leer. Dit het baie positiewe aspekte.

Verduidelik vir hulle hoe ’n gloeidraad in ’n gloeilampie werk: Die draad bied weerstand teen die vloei van die elektirisiteit, daarom begin die draad gloei. As die draad nie so teen die elektriese stroom “veg” nie, kan daar geen lig wees nie.

So moet ons baiekeer teen iets of iemand opstaan sodat ’n goeie ding kan gebeur. Vertel vir hulle van kere wat jy moes veg vir jouself en ander se beswil. Lees vir hulle verhale van aktiviste en sosiale hervormers soos Martin Luther King en Nelson Mandela. Hulle was vegters sonder wie die wêreld vandag juis minder vrede sou gehad het.