Denneboompies het soos ons almal spesifieke dinge nodig om te floreer.
’n Rustige atmosfeer en vrede in die gesin
Denneboompies word verlam deur spanning en konflik. Wanneer daar onafwendbare spanning in die huis is of egskeiding, konflik en finansiële druk, moet denneboompies so min moontlik aan gevegte, gesprekke oor die probleme en die emosies van die persone in konflik blootgestel word.
Hulle moet gereeld gerusgestel word dat dinge uitgewerk word en sal verbygaan.
Tradisies, stabiliteit en basiese dinge wat nooit verander nie
Denneboompies se wortels wil onverstoord in die grond rus. Hulle geniet daarom alles wat gerusstellend stabiel en konstant is.
Vakansies op dieselfde plek elke jaar, hulle eie plekkie aan tafel en in die kar waar niemand anders mag sit nie, gesinsaande op dieselfde aand van die week, elke week en ander soortgelyke bewyse dat hulle wêreld nie onnodig onder hulle gaan rondskuif nie.
Verhuising – of selfs net ’n verskuiwing na ’n ander slaapkamer! – moet baie versigtig hanteer word, en hulle moet lank voor die tyd gewaarsku word en voorberei word op al die veranderinge. Van al die boomsoorte is verplanting vir hulle dikwels die moeilikste omdat hulle stadig nuwe maats maak en lank neem om weer wortel te skiet.
Doen moeite met julle gesinslewe. Maak seker julle het ryk tradisies en spesiale tye saam. Die gesin is jou denneboompie se hawe. Maak seker dat sy nie daar seerkry nie, maar gekoester word.
Baie tyd met ouers sodat ’n vertrouensverhouding ontwikkel
Denneboompies praat minder as ander kinders en maak nie maklik hulle harte oop nie. Hulle kom stil en tevrede voor en stel min eise. Gevolglik is dit maklik om maar net te aanvaar hulle is gelukkig en het niks nodig nie.
Ongelukkig vereensaam hulle daarom maklik. Hulle het hulle eie mense nodiger as wat dit lyk. Hulle wil rustig saam met hulle ouers wees, selfs al praat niemand nie; iemand hê wat langs hulle sit, al doen elkeen iets anders; jou stem in die agtergrond hoor waneer hulle in hulle beddens lê, net om te weet jy is daar.
Hulle vertrou net iemand met hulle hart as daardie persoon bewys het dat hy of sy bereid is om langs hulle te gaan stilstaan en werklik te luister.
Denneboompies gaan nie vir ons vertel hoe dit by die skool gaan of watter probleme hulle kwel tensy ons baie tyd saam met hulle deurbring nie. Dit is die outjies wat ons nie tien minute voor slaaptyd met ’n soen en ’n druk in die bed kan prop nie. Ons moet saans tyd maak om rustig by hulle te sit of te lê.
Ons hele liggaam en stemtoon moet ontspanne wees sodat die boodskap duidelik oorkom: “Hier is ek nou by jou. Ek gaan dit geniet om ’n bietjie by jou te wees. Praat met my as jy wil. Wees net rustig hier langs my as jy wil. Daar is geen druk of verwagtings nie.”
Dis onder sulke omstandighede wat denneboompies se harte vir ons oopgaan – nie terwyl ons van die skool af huis toe jaag, en via die tru-spieëltjie probeer verhouding bou nie.
Hulle laat die haastige ouers onder ons in ’n sweet van ongeduld uitslaan, want hulle kan baie langdradig raak wanneer hulle uiteindelik besluit om te praat. Ons kan egter langs geen ander roete regtig by hierdie kosbare boompies se siele uitkom nie. Ons koop daardie voorreg deur tyd te belê!
’n Groep om aan te behoort sonder druk
Denneboompies is dikwels randeiertjies en toeskouers wat ons laat dink dat hulle geen sosiale behoeftes het nie. Hulle is egter baie sensitief vir verwerping deur hulle portuurgroep of gesin.
Hulle hoef nie die middelpunt van al die aandag te wees nie – hulle hou eintlik glad nie van die kollig nie – hulle wil maar net ook daar wees. Soos ’n denneboom in ’n plantasie, wil hulle nie noodwendig uitstaan nie, maar hulle wil ook nie alleen staan nie.
Ons kan hulle hiermee help deur gereeld hulle plek en waarde in ons huis te bevestig: “Ons is so bly jy is deel van ons gesin, want jy is so ____________, en bring soveel _____________ in ons huis.”
Ons moet hulle ook toelaat om in groepe te sosialiseer al lyk dit vir ons asof hulle net sit en tande tel. Hulle is eintlik baie gelukkig daar. My denneboompie het al twee uur lank op my skoot gesit en kyk hoe ander kinders speel en agterna vertel hoe lekker die partytjie was!
Denneboompies kan baie genot uit ander mense se plesier put sonder om daaraan deel te neem.
Iets of iemand om te versorg en help
Denneboompies is natuurlike versorgers. Hulle moet minstens plantjies of troeteldiere hê. Dit gee ook sommer geleentheid vir die aanleer van verantwoordelikheid.
Wanneer hulle oud genoeg is, behoort hulle aangemoedig te word om oumense, siekes of armes te help versorg. Hulle maak ook goeie kinderoppassers.
Geleenthede om hulleself en belangstellings te leer ken
Die meeste denneboompies se toeskouertemperament maak hulle ouers bekommerd. Party wil niks nuuts probeer nie, aan niks deelneem nie en geen buitemuurse aktiwiteite uittoets nie.
Ons moet onthou dat die meeste dennebome een passie in die lewe gaan hê, en oor bitter min ander dinge opgewonde gaan raak. Ons moet dus nie druk uitoefen nie, maar ons denneboompie blootstel aan soveel moontlikhede moontlik totdat iets die passie in ons kind wakker maak.
Dit beteken dat ons hulle nie inskryf vir balletklasse nie – ons gaan kyk na ’n balletkonsert, gaan pas balletklere aan, besoek ’n balletklas en kyk of iets gebeur … Niks? Dan gaan stap ons deur ’n Wetenskapekspo en laat hulle so lank of kort by elke stalletjie stilstaan as wat hulle wil en kyk of iets gebeur.
Ons por nie aan nie, vra nie te veel vrae nie, en druk nie ons eie belangstellings in hulle kele af nie. Hoe meer druk ons uitoefen, hoe moeiliker is dit vir ’n denneboompie om keuses te maak.
Denneboompies kan van ver af sien of hulle iets gaan geniet. Hulle het ’n goeie aanvoeling vir wat hulle kan doen, en nie kan doen nie. Dit is waarom hulle net weier om sekere dinge selfs een keer te probeer.
Respekteer dit. Dit kan selfs wees dat hulle passie iets baie passiefs gaan wees. Hulle word dalk Formule 1-fanatici, versamel handtekeninge en beroemde jaers se foto’s, koerantberigte en DVD’s van al die groot oomblikke, sonder om ooit agter die stuur van ’n renmotor in te skuif!
Denneboompies se belangstellings en talente stem ook nie altyd ooreen nie, wat vir ons ’n groot doring in die vlees kan wees. Die kind wil niks anders as rekenaars voor hom sien nie, maar ons wens hy wil sy engelstem gebruik en sing …
Hoe ongewoon of onaanvaarbaar hierdie een of twee passies van ons denneboompie ook al mag wees, ons taak is om dit te aanvaar en hulle daarin aan te moedig. Dit mag die grootste bewys van liefde wees wat ons ooit aan ons denneboompie kan gee.
’n Denneboompie wat sy een passie in die lewe ontsê word, kan vir die res van sy lewe geknak wees. So ’n boompie is so ellendig dat dit ’n sierboompie (wat geneig is om altyd die negatiewe raak te sien) na ’n uitbundige beaugainvilla laat lyk!
Mense dink dis die baie emosionele, soms depressiewe sierboompies wat die grootste kans staan om in hulle tienerjare selfmoord te pleeg, maar ek glo denneboompies is baie meer geneig daartoe as hulle.
Die selfmoordnotas het gewoonlik die strekking dat niemand hulle verstaan het nie of dat hulle nie meer die druk om iemand anders te wees, kon hanteer nie. Wanneer ons hulle belangstellings misken, is dít hoe eensaam en waardeloos ons hulle kan laat voel.
Tyd om te reageer (hulle dink versigtig en stadig)
Denneboompies is rustige siele. Hulle is soos ’n bootjie op ’n windstil dag. Die seile is nie gespan nie. Ons kan nie net opdragte en vrae oor hulle blaas en verwag hulle moet dadelik oor die water begin vaar nie. Hulle moet darem net tyd gegun word om die seile te span.
Hulle is gewillig en inskiklik van geaardheid, behalwe wanneer ons tydsdruk op hulle toepas. As hulle kan dink, en tot verhaal kom, kry ons gewoonlik ’n goeie reaksie of antwoord.
Geduld is die wagwoord. Soms moet ons iets sê soos: “Dink ’n bietjie wat jy graag volgende maand vir jou verjaarsdag sal wil hê of môre wil inpak wanneer ons vir die naweek weggaan of in Ouma se verjaarsdagkaartjie wil skryf, dan gesels ons vanaand aan tafel daaroor.”
Vryheid om passief te wees en te ontspan
Denneboompies is reeds as babatjies rustiger as die ander boompies en slaap gewoonlik die meeste. Hulle energie bereik natuurlik in hulle vroeë kinderjare ’n piek, maar daarna neem dit stadig af en tel nie weer maklik op nie. Hulle het eenvoudig baie rus en af tye nodig.
Dikwels moet hulle so passief wees dat ons dink hulle gaan muf as hulle langer op een plek lê, veral wanneer hulle tieners is! Ons moet verlief neem hiermee, want ons kan dit nie verander nie. Hulle is heelwat vroliker en vriendeliker daarna.
Ons kan hulle wel help met gesonder keuses as ons sien dat al die ontspanning voor die TV of op die Internet plaasvind.
Aanmoediging sonder kritiek – onvoorwaardelike ondersteuning
Denneboompies wys dit nie, maar is baie sensitief vir kritiek. Hulle hou eenvoudig op met probeer wanneer hulle die indruk kry dat iemand nie tevrede is nie.
Ons moet besef dat elke nuwe ding baie waagmoed van hulle verg, en dat alles wat hulle aanpak vir hulle na inspanning voel. Ons moet hulle pogings waardeer, en hulle daarvoor stilweg op die skouer klop, sonder om te hoë verwagtinge te stel.
Ons moet al die pad langs hulle probeer loop met liefdevolle ondersteuning en begrip. Hulle mislukkings moet kalm hanteer word sodat hulle weer kan opstaan en weer kan waag.
As ons ons denneboompies van jongs af vriendelik aanmoedig om nuwe dinge te probeer – klein dingetjies – soos om self te probeer staan, om iets te proe wat hulle nog nooit geëet het nie of om hulle eie navorsing vir ’n skooltaak te doen, kan ons hulle voorberei op groter risiko’s wat in hulle toekoms wag.
Gereedheid is een van die dinge wat ’n baie groot rol speel in denneboompies se waagmoed. Hulle kan nie gereed gedruk word nie, maar op ’n mooi dag besluit hulle self dat hulle vir ’n nuwe uitdaging kans sien, en dan verras hulle ons.
As ons ’n keer of wat gevra en aangemoedig het, en die outjie steek nog viervoetig vas, moet ons besef dat die outjie eenvoudig net nie gereed is nie. As ons dan terugtree en ruimte en tyd toelaat, sal hy self weet wanneer die goue oomblik gekom het om in die swembad in te duik of in te skryf vir ’n musiekeksamen.
Blootstelling aan mense met integriteit en onwrikbare oortuigings
Denneboompies kan deur mense se maskers sien. Hulle word nie maklik beïndruk of meegesleur nie. My denneboompie was so min geïnteresseerd in mense wat oor haar bababedjie gestaan en koer het dat haar oupa stilweg gewonder het of sy dalk outisties is.
Dit beteken dat denneboompies nie sommer iemand anders se passie aansteek nie. Daar is wel een uitsondering: Wanneer ’n denneboompie ’n rolmodel het wat integriteit, opregtheid en standvastigheid uitstraal, trek so ’n persoon ’n denneboompie soos ’n magneet aan.
Dit is amper die enigste soort mens wat ’n denneboom aan die beweeg kan kry!
Denneboompies sal so iemand volg en idealiseer – iets wat baie nodig kan wees as hulle nog op soek is na hulle skeppingsdoel. Hulle kan onder hierdie persoon se mentorskap pragtig ontwikkel.
Mag die Here gee dat ons as ouers hierdie mentorskaprol ten minste gedeeltelik kan speel. As ons kind egter ’n mentor buite ons huis kies, moet ons weet dat dit glad nie ongewoon of ’n aanklag teen ons is nie. Dis net vir hulle ’n “veiliger” keuse.
Soms is hulle mentor of rolmodel ’n karakter uit ’n storie of iemand wie se outobiografie hulle gelees het. Denneboompies moet almal aangemoedig word om bekendes en helde se verhale te lees – hulle word daardeur geïnspireer soos deur geen woorde wat ons vir hulle kan sê nie.
Geleentheid om vrede te maak na konflik
Denneboompies is banger vir konflik as vir enige iets anders (keuses onder druk en kritiek is ook hoog op die lysie), daarom moet ons na elke konfliksituasie seker maak hulle weet dit is verby.
As ons met hulle moes raas of hulle moes straf, moet hulle agterna in soveel woorde hoor dat alles afgehandel is, dat ons nie meer kwaad is nie – alles is weer reg. As hulle nog onopgeloste emosies daaroor het, moet ons hulle toelaat om op hulle manier die saak af te sluit.
Wanneer spanning aanhou voortduur na ’n bietjie konflik, is dit vir hulle verskriklik sleg. Ons moet pasop om nie sulke spanning in die lug te laat hang deur steeds afsydig te wees, oogkontak te vermy of oor die verlede te praat nie.