Breinwetenskap – Jou kind se brein in jou hande

Die band wat jy met jou kind het, ontwikkel en word sterker met elke betekenisvolle interaksie wat jy met hom of haar het. Verder, betekenisvolle interaksies bou nie net julle verhouding nie, maar ook jou kind se brein.

As ouers in die 21ste eeu weet ons meer as ooit tevore oor die ontwikkeling van die brein. Dit is ’n vinnig groeiende wetenskap, veral noudat ons deur middel van funksionele skanderings kan sien watter faktore bydra tot ’n brein wat gesond groei en watter faktore gesonde breinontwikkeling kan belemmer. Dit is verstommend om te lees hoe ongelooflik hierdie orgaan van 1.5 kg funksioneer.

Maar waarom het ouerskap en jou ouer-kind-verhouding so ’n groot invloed op jou kind se breinontwikkeling? Omdat jou baba met ’n onvolwasse brein gebore word. Jou baba se brein is so ontwerp dat dit ná geboorte nog groei en ontwikkel.

Gedurende die eerste paar jaar van jou kind se lewe vorm die brein een miljoen selverbindings elke sekonde. Sjoe, dit is fantasties om te dink hoe ons Skepper ons gemaak het. Jou kind se brein is veral gedurende die eerste vyf jaar broos en buigsaam. Ongunstige toestande en gebeure soos trauma en stres kan die fisiese struktuur en funksionering van die brein verander. Daarom het die interaksies wat jy met jou kind het, sowel as die omgewing en aktiwiteite waaraan jy jou kind blootstel, ’n geweldige uitwerking op jou kind se ontwikkelende brein.

Jare lank het geleerdes geargumenteer oor of oorerflikheid of die omgewing waarin kinders grootword die grootste rol in hul breinontwikkeling speel – die nature vs nurture-debat. Maar nou, in die 21ste eeu, weet ons dat dit nie so eenvoudig is nie.

Epigenetika (die studieveld wat handel oor die verband tussen die omgewing en die individu se gene) leer ons dat gene in werklikheid “aan-” en “afgeskakel” kan word deur middel van omgewingsfaktore. Dit sluit ons ouerskapstyl in. Jou kind mag dalk gebore word met ’n geen wat haar kwesbaar maak vir angs en spanning, maar ons as ouers kan die geen “afskakel” deur hoe ons haar hanteer, die tipe verhouding wat ons met haar het en die vaardighede wat ons haar leer.

Ons as ouers speel dus ’n bepalende rol in hoe ons kinders gaan wees. As jy nou skuldig voel of bekommerd is oor die feit dat jy dalk nie genoeg in jou verhouding met jou kind belê het nie, of as julle band tans ongemaklik is, hou moed. Die goeie nuus is dit: Jou kind se brein (en jou brein) is buigsaam. Dit kan verander. Nuwe bane kan gevorm word, wat beteken dat ons nuwe vaardighede kan aanleer. Neuro¬wetenskaplikes noem dit neuroplastisiteit.

Ons brein het die potensiaal om nuwe senuweenetwerke te vorm. Ons kan verkeerde gewoontes afleer en nuwes vestig. Maar dalk nog belangriker: Ons kan kinders help om weer genot en genesing te ervaar na ’n traumatiese belewenis en ons kan angstige kinders minder angstig laat voel. Ons kan sterk bande met ons kinders vorm wat vantevore nie daar was nie en ons kan kinders help om hulle volle potensiaal te bereik.

Kyk nou die video: “Wees kreatief met uitdagings”.